Amerika kan sterker uit krisis tree

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Amerikaanse doemprofete voorspel die afgelope weke die finale ondergang van die VSA as die voorste ekonomiese, militêre en politieke moondheid in die wêreld. Verlede jaar was nie ʼn maklike jaar vir die VSA nie. Meer as 350 000 Amerikaners is die afgelope paar maande aan Covid-19 dood terwyl die virus steeds voortwoed en lewens en die Amerikaanse ekonomie aan flarde probeer ruk.

Intussen het die Amerikaanse staatskuld tot sowat 100% van die land se bruto binnelandse produk gestyg en word verwag dat dit oor die volgende dekade tot 109% kan styg. Die Amerikaners spandeer eenvoudig baie meer as wat hulle inkry. Intussen is daar steeds ʼn tekort aan besteding op mediese dienste, infrastruktuurontwikkeling, onderwys en ander kritieke areas. Die skuldlas van verskeie deelstate en plaaslike owerhede het in 2020 ook skerp gestyg en verskeie vlakke van regering ervaar kontantvloeiprobleme en onvolhoubare skuldvlakke.

Die verkiesing in November het die geweldige politieke polarisasie in die VSA beklemtoon en die nadraai van die verkiesing met ernstige bewerings van bedrog en die misbruik van posstembriewe het die geloofwaardigheid van die VSA se demokratiese verkiesings verder benadeel.

Die VSA is ook onlangs hard getref deur die ergste kuberkraakaanval op federale staatsdepartemente nóg. Terwyl Rusland hiervan beskuldig word, is dit ook duidelik dat China alles in sy vermoë doen om die VSA as die grootste ekonomie met die sterkste weermag en die land met die meeste globale invloed te onttroon.

Ten spyte van al die binnelandse en buitelandse uitdagings is daar steeds hope rede om te glo dat die VSA binne die volgende paar maande uit die huidige gesondheid-, ekonomiese en politieke krisisse kan tree en steeds as globale moondheid homself kan laat geld. Die vraag is egter of ʼn politieke bedeling vanjaar kan ontwikkel waaruit oplossings vinnig en doeltreffend geskep kan word.

(Foto: J. Scott Applewhite, AP)

Die Covid-19-pandemie is tans ʼn meerderheid van Amerikaanse burgers se grootste bron van kommer. Meer as 50% van Amerikaners sê dat hulle iemand ken wat weens die siekte in ʼn hospitaal opgeneem of selfs dood is. Sowat 40% van Amerikaners sê dat iemand in hul gesin weens die pandemie sy/haar werk verloor het of ʼn afname in inkomste beleef het. Volgens die Pew-navorsingsinstituut woon meer as 50% van jong mense tussen die ouderdomme van 18 en 29 vir die eerste keer sedert die Groot Depressie weer by hulle ouers. Die ekonomiese krisis is net soos die gesondheidskrisis ʼn lelike werklikheid.

Amerikaners wil dus sien dat die pandemie beëindig moet word, dat die ekonomie moet herstel en dat beter ekonomiese geleenthede vinnig geskep moet word. Die probleem is egter dat politieke polarisasie in die VSA oor meer as politieke prioriteite en standpunte gaan. In ʼn peiling wat in Oktober 2020 gedoen is, het 77% van Trump-ondersteuners en 80% van Biden-ondersteuners gesê dat hulle nie net wat politieke standpunte betref van ondersteuners van die opponerende party verskil nie, maar dat hulle grondliggende verskille oor die mees wesenlike waardes en doelwitte van die VSA met ondersteuners van die ander party het. Die breuklyn in die Amerikaanse politiek is dus dieper as net politieke standpunte, maar gaan oor grondliggende waardes en die toekomsvisie vir die VSA.

Wanneer Joe Biden op 20 Januarie die 46ste president van die VSA sal word, behoort die eerste vraag te wees op watter wyse hy daarin kan slaag om Demokrate en Republikeine te laat saamwerk om dringende binnelandse kwessies soos die pandemie en die ekonomiese krisis te hanteer, terwyl minstens ʼn tydelike vlak van sosiale stabiliteit ná die gewelddadige opstande van 2020 daargestel moet word.

Foto:. (AP Photo/Brynn Anderson)

Dinsdag se belangrike verkiesing in die deelstaat Georgia gaan hier van groot belang wees. In ʼn baie ongewone gebeurtenis moet albei senatore van dié deelstaat Dinsdag in ʼn opvolgverkiesing verkies word. Die Republikeine beheer tans albei setels maar hoef net een te wen om beheer oor die Amerikaanse senaat te behou. Sou dit gebeur sal dit die eerste keer in dekades wees dat ʼn Amerikaanse president ná sy inhuldiging nie met ʼn senaat en huis van verteenwoordigers wat deur sy eie party beheer word, te doen sal kry nie. Hoewel die Demokrate wel die huis van verteenwoordigers beheer, sal dit vanjaar met ʼn baie klein meerderheid wees en met heelwat interne verdeeldheid in die party sal onderhandelinge en toegewings nodig wees vir ʼn meerderheid van lede in albei kamers van die Amerikaanse kongres om nuwe wetgewing en ander belangrike besluite goed te keur.

Joe Biden en die Demokrate se argument is dat hulle makliker en vinniger sal kan optree om aandag te gee aan die pandemie, die ekonomiese krisis en ander ernstige probleme wat volgens hulle sosiale spanning in die VSA, klimaatsverandering, transatlantiese verhoudinge, sogenaamde bedreigings uit Rusland en ander plaaslike en globale knelpunte insluit. Die probleem met hierdie argument is egter dat die VSA nie bloot ʼn sentralistiese staat is waar die nasionale regering sy vinger kan klap en dinge kan laat gebeur nie. Vir enige krisis om opgelos te word moet daar goeie samewerking tussen die federale regering en deelstate wees. Die beste oplossings vir probleme in die VSA is gewoonlik dié wat tussen Demokrate en Republikeine onderhandel word.

Sou die Republikeine hierdie week daarin slaag om beheer oor die senaat te behou sal Biden gedwing word om oor die meeste, veral binnelandse, beleidsaksies wat hy wil onderneem met hulle te onderhandel. Onderhandelde politieke skikkings in die VSA is meestal meer matig, minder drasties en sal sonder twyfel minder weerstand van verskillende politieke betrokkenes ervaar. Dit is dalk net wat die VSA tans nodig het.

Biden se uitdagings

Joe Biden (Photo by JIM WATSON / AFP)

ʼn Titel waaraan ons almal binnekort gewoond sal moet raak is president Biden. Terwyl die politieke toneel die afgelope vier jaar in die VSA dramaties deur Donald Trump oorheers is en die 2020-verkiesing 99% oor Trump en dalk 1% oor Biden gegaan het, sal Biden leiding moet neem om Amerika op ʼn pad van herstel ná die pandemie te stuur. Daar is baie rede om te glo dat hy kan en gaan misluk. Daar is egter ook rede om te glo dat Amerika sterker aan die ander kant kan uitkom.

Terwyl Biden na alle waarskynlikheid binne sy eerste paar dae in die Withuis weer die VSA deel van die Parys-klimaatsooreenkoms sal maak en die VSA se lidmaatskap van die Wêreldgesondheidsorganisasie sal herstel, sal hy ook ʼn reeks stappe doen om progressiewe groepe tevrede te stel. Dit sluit in stappe om onwettige immigrante te beskerm, aborsieregte uit te brei, die privatisering van onderwys teen te werk, mynbou-aktiwiteite en die ontginning van olie- en gasbronne in sensitiewe natuurgebiede te verbied en Trump se reisverbod van veral Moslemlande op te hef.

Terwyl hierdie stappe progressiewe drukgroepe en kiesers gelukkig sal maak, is dit nie die sake waaroor ʼn meerderheid van Amerikaners tans bekommerd is nie. Amerikaners wil sien dat die Covid-19-pandemie beëindig word en Amerika se ekonomie herstel sodat werkgeleenthede geskep kan word en inkomstevlakke kan herstel.

Dit is hier waar progressiewe voorstelle, en Biden se eie beloftes, van hoër belastingkoerse, meer regulasies en ʼn duidelike breuk met Trump se Amerika Eerste-benadering ʼn fout gaan wees. Die pandemie kan beëindig word deur ʼn kombinasie van die natuurlike verspreiding van die virus en die inenting van ʼn wesenlike deel van die Amerikaanse bevolking. Ten spyte daarvan dat die VSA die derde grootste bevolking in die wêreld het, kan dié land een van die eerstes word om kudde-immuniteit te bereik. Dit behoort teen die middel van 2021 of kort daarna te gebeur. Sodra die VSA kudde-immuniteit bereik sal die land se ekonomie baie vinnig kan herstel en sal veral uitvoergedrewe bedrywe soos vervaardiging en toerisme vinnig sterk groei kan toon.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Biden se dreigemente oor ʼn nasionale verpligting om maskers te dra en ander drakoniese stappe is gedoem tot mislukking juis omdat baie Amerikaners nie gemaklik is met reëls wat deur die federale regering op hulle afgedwing word nie. Om die pandemie te beveg is samewerking tussen Demokrate en Republikeine op federale regeringsvlak en tussen die federale regering en die 50 deelstate nodig.

Sou Biden egter onder druk van die raserige linkse vleuel van sy party swig, kan dit tot verdere politieke stryd in Washington en regoor die VSA aanleiding gee en kan die vind van oplossings vertraag word. Erger egter is die gevolge van die moontlike voorstelle van die progressiewe vleuel van die Demokratiese Party. Voorstelle oor hoër belasting en meer regulasies sal ekonomiese herstel eerder teenwerk.

Op die terrein van buitelandse sake sal Biden ʼn groot fout maak om drasties van die Trump-benadering af te wyk. Terwyl dit reeds duidelik is dat Biden in sy verhoudinge met Europa na die era voor Trump wil terugkeer, bestaan daar groot onduidelikheid oor hoe hy die spanning met China, verwikkelinge in die VSA, onderhandelinge met Brittanje vir ʼn handelsooreenkoms en die swak verhouding met Rusland gaan benader. Sou Noord-Korea weer begin om langafstandmissiele te toets kan dit Biden se buitelandse uitdagings verder vergroot.

Waarom die VSA nie te vinnig afgeskryf moet word nie

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Wat Trump egter gewys het, en wat Biden behoort te weet, is dat die VSA steeds die sleutels tot die meeste oplossings vir internasionale vraagstukke inhou. Sonder die VSA kan die nuwe koue oorlog tussen die Weste en Rusland nie opgelos word nie. Dit is in almal se belang dat hierdie strydbyl, wat na die anneksasie van die Krims-kiereiland in 2014 vererger het, opgelos moet word.

Trump het bewys dat die VSA met pragmatiese optrede Noord-Korea se ontwikkeling van langafstandmissiele en kernwapens minstens kan vertraag, Israel se verhoudinge met Arabiese lande kan normaliseer en ʼn breë koalisie wat Chinese aggressie in Asië kan teenwerk, daar kan stel. Biden behoort hierop voort te bou.

Die George W. Bush- en Barack Obama-administrasie het groot foute in die Midde-Ooste begaan wat tot oorloë, hernude konflik en die ontwikkeling van ʼn komplekse netwerk van fundamentalistiese terreurgroepe aanleiding gegee het. Biden moet daarteen waak om soos Bush en Obama konflik in die Midde-Ooste aan te vuur. Verder moet Biden saamwerk met lande soos Frankryk om terreurgroepe in Afrika op slim wyse teen te werk en om Turkye se invloed en rol in die oostelike Middellandse See-gebied en die Midde-Ooste te beperk.

Sou die VSA teen die middel van 2021 die pandemie onder beheer kry, ekonomiese herstel versnel en Amerika herbevestig sy posisie as belangrikste en magtigste moondheid in die wêreld kan die land ʼn belangrike rol speel om globale herstel na die pandemie te dryf, konflik in verskeie wêrelddele teen te werk en ʼn veiliger en voorspoediger wêreld te help skep.

Die VSA beskik ten spyte van die huidige krisisse steeds oor die politieke en ekonomiese veerkragtigheid om vinnig te herstel en die land se internasionale invloed en morele kompas is steeds van so ʼn aard dat die land die beste geposisioneer is om die wêreld uit die huidige krisis te help lei. Politieke wilskrag en leierskap sal egter die deurslag moet gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.