Amerika moet eerder probeer herleef as oorheers

Argieffoto

Argieffoto

’n Kwarteeu gelede het die kommunisme met ’n magtige dreuning ingeplof. Daarmee saam het die demokratiese kapitaliste, met die VSA vooraan, die oorwinning in die Koue Oorlog gevier met die belofte van ’n era van blywende vrede en voorspoed.

Maar dit blyk al meer dat die partytjie van die finale oorwinning van die goue tweeling van liberale demokrasie en vrye kapitalisme té gou gevier is. Die kommunisme het verloor, ja, maar die demokratiese kapitalisme het nie gewen nie. Inteendeel, dit lyk of van die grootste konflikte, soos in die Oekraïne en Irak, juis spruit uit die Weste se projek om die Ooste en die Suide te probeer verwesters. Hoewel Westerse oorheersing van die wêreld vir Westerlinge so normaal geword het dat die meerderwaardigheid van Westerse stelsels vanselfsprekend voel, ervaar ander kulture soos die Chinese, Russe en Moslems dit as bedreigend.

Die VSA het as die enigste oorblywende supermoondheid ná die Koue Oorlog die rol van “Wêreldpolisieman” op hom geneem. Maar die probleem het gekom toe hierdie “Polisieman” sy eie reëls van liberale Westerse demokrasie op die res van die wêreld wou probeer afdwing. Dit het gespruit uit die VSA se politieke verwaandheid ná die Koue Oorlog, toe hy geglo het sý stelsel is die toppunt van menslike politieke en ekonomiese ontwikkeling. Die VSA se politici het geglo die liberale demokrasie is nou die blywende wêreldstandaard wat met Amerika se politieke, ekonomiese en selfs militêre mag op alle lande afgedwing moet word. Hierdie “uitvoer” van die Amerikaanse stelsel lei tot groot weerstand in die res van die wêreld, en verdeel die “Weste teen die Reste” – in die woorde van prof. Samuel Huntington van Harvard Universiteit.

Dit lyk selfs of die internasionale magsbalans nou die eerste keer in eeue teen die Weste begin draai, met die nouer bande wat stadigaan tussen Rusland, China en Indië vorm. Hoewel die Amerikaners steeds oorweldigend sterk is, raak dit polities, ekonomies en militêr al duurder om hul oorheersende rol te handhaaf. Maar hulle glo steeds onwrikbaar hulle weet die beste wat goed vir die res van die wêreld is. Die Amerikaanse oortuiging dat hul stelsels oral kan en moet werk, word deur lande soos China selfs as ’n bedreiging vir wêreldvrede ervaar. Dis nie so buitengewoon vreemd as wat dit dalk klink nie. Die Amerikaanse staatsman Henry Kissinger het al vroeg in die 1970’s gesê om demokrasie op China te probeer afdwing, sou in die jare sewentig belaglik wees, in die jare tagtig onmoontlik en in die jare negentig gevaarlik.

Militêre besteding

Om die wêreld “veilig vir demokrasie” te maak, is glad nie so maklik soos Amerikaanse presidente soos George W. Bush, Bill Clinton en Barack Obama gedink het nie. Die eerste probleem is die verband tussen welvaart en militêre mag. Henry Kissinger het tereg gesê militêre mag is nodig om welvaart te beskerm, maar die koste daarvan verorber terselfdertyd die welvaart. Die VSA se ekonomie is vandag sowat ’n kwart van die wêreldekonomie en groei tans weer teen ’n hoë groeikoers. Maar die land gaan in 2015 ’n verbysterende 555 biljoen dollar aan sy militêre begroting bestee. Dit is sowat 37% van die hele wêreld se gesamentlike militêre begroting, oftewel gelyk aan die volgende nege lande se totale besteding aan verdediging! Dit beteken dat Amerika meer geld aan sy wapens en weermag bestee as China, Rusland, Indië, Brittanje, Duitsland en Japan saam.

Ondanks hierdie magtige besteding voel die Amerikaners steeds nie veilig nie, en beplan selfs groter besteding! Kissinger het egter daarteen ook gewaarsku. Hy het gesê die VSA se strewe na totale veiligheid lei terselfdertyd daartoe dat ander lande totaal onveilig voel. Dit veroorsaak dat ander lande weer húl militêre besteding verhoog, en sodoende word ’n konflikspiraal deur so ’n wapenwedloop aan die gang gesit.

Die Britse historikus, Paul Kennedy, het in sy monumentale werk oor die opkoms en val van groot beskawings juis tot die slotsom gekom dat hierdie “imperiale oorstrekking” tot die val van groot moondhede lei. Hy het gewaarsku dat die VSA dit nie polities, ekonomies, militêr en demografies kan bekostig om sy mag wêreldwyd te projekteer nie.

Die probleem is soos volg: Anders as ander lande is die VSA se buitelandse beleid nie bloot op die bevordering van nasionale belang gegrond nie, maar ook op die uitvoer van sy ideologie en kultuur. Dit bring die Amerikaners in voortdurende konflik met ander lande, omdat ander kultuurblokgroepe soos die Chinese, Russe, Indiërs en Moslems nie wil verwesters nie. Ongeag die VSA se huidige militêre krag is die land se nasionale skuldlas besig om ’n onlosmaaklike blok aan die been te word. Die Amerikaners het bloot net nie meer die geld, mannekrag en wil om die hele wêreld te beheer nie. Die oplossing lê volgens Huntington daarin dat die VSA nie die wêreld verder moet probeer oorheers nie, maar eerder homself moet laat herleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

jacques ·

Ek praat van die USA gelukkig het hulle teenstand van die Brick lande waarvan ons ook deel is anders het hulle al alles oorgevat.

Herman Toerien ·

Op Google is heelwat meer as ‘n miljoen inskrywings oor die weste wat vanaf die staanspoor oor die Oekraïne te naïef was vir die Russe, en Poetin in besonder. Ek het ook al sulke artikels in Nederlands en Duits bemerk. Met die onlangse vredesamesprekings in Minsk, wat eintlik deur Angela Merkel gedryf is, het Rusland te midde van die onderhandelinge steeds wapentuig die land ingeneem, en waarskynlik ook soldate. Die rebelle het ook die skietstaking geskend deur na dit in werking getree het ‘n dorp in die noorde te herower. Op die oomblik word weer oor ‘n saamtrek van rebelle en Russiese soldate in die suide berig.
Kortom, moet nie omdat Poetin en sy voedingsnetwerk, soos bv die Russies-Ortodokse Kerk, nie verstaan word ook naïef wees nie. Dit kan lande soos Estland, Letland en Litaue hul vryheid kos.

jacques ·

Herman moenie alles glo wat jy lees nie.Puten het egte christlike waardes nie aangeplakte waardes nie.Ek glo hy het wapens aan die rebele magte gegee ja,maar hy het omgesien na sy mense daar waarvan meer as 90% russe is.Vir 300 jaar het hulle in vrede saamgeleef tot die USA gehelp het om goverment omver te werp.Wat soek America daar wat 1000de km ver is van daar.Is dit dan nie die UN se werk om vrede te probeer handhaaf nie.Maar nou stuur hulle eerder wapens na Oekraine toe.Lyk vir my of die US net n vastrap plek soek om Rusland aan te val.

Chris ·

Alles in die wereld wat tans aangekoop word dws invoere, het ‘n dollar waarde.Die USA druk net dollars soos hulle dit benodig.Nuwe oorlog gaan se maar 100 dollar kos hulle druk 100 dollar en siedaar die oorlog kos eientlik niks.Die res van die wereld betaal egter vir die dollar se waarde aangesien die waarde daarvan op ‘n aanname geskroei is.

jacques ·

Dis waar wat jy se Chris dis die Fed wat die geld druk en hulle is prevaat hulle druk vir die goverment geld teen n rente,wat die publiek weer moet terug betaal.Dis hoekom die gewone mens alhoe armer raak en rykes ryker.Hulle beinvloed die hele wereld se economy.

Anoniem ·

Jacques weet jy dat Poetin ‘n kommunis is. Nou weet ek ni waar kom jy daaraan dat hy christelike waardes het nie. Hy soek wereld oorheersing en ek wonder of jy weet wat aangaan met di inval in Oekraine?

Nico ·

Ek stem saam met PJ. Ek weet nie waar kom julle daaraan dat Rusland hierdie “goeie” regeerders is nie. Rusland word deur die Mafia beheer. Ek hoop nie dit is wat julle graag wil hê nie. Ek verstaan dat almal teen die VSA is omdat hy magtig is, en hy is nie heilig nie, maar ek verkies “Westerse” maatreels soos demokrasie en kapitalisme bo enige ander stelsel. En nie omdat dit “Westers” is nie, bloot omdat dit regverdig is. Die Moslem samelewing is nie een waarin ek wil leef nie.

Bruno Stef ·

Zuma is ook christelik hy is eintlik deur Mc Cauley as n ere Pastoor n paar jaar terug benoem. Die probleem is dat ons eintlik onsself tussen die duiwel en die diep blou see bevind.Ek was n jaar of twee terug in Australie en n mens wil eintlik siek word van al die liberale sienings waarmee die ouens mekaar daar warmbroei.

jacques ·

Nico dit is reeds wat hulle besig is om te doen om die die christine kwaad te maak vir die moslems en die moslems is is klaar kwaad vir ons deur die gebomery.Hoekom wil ISIS nou twee eng skole oopmaak as hulle moslems is?.Nou kan jy dink wie agter hulle is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.