Amerika moet nuut dink oor Koreane

Suid-Koreane vertoon plakkate en ʼn landsvlag tydens ʼn samekoms ter ondersteuning van die plan om die VSA se missiel-afweerstelsel THAAD (Terminal High-Altitude Area Defense) te installeer in Seoel, Suid-Korea. Seoel-amptenare het Woensdag afgekondig dat die gevorderde missiel-afweerstelsel in ʼn afgeleë plaasdorpie in die suidoostelike deel van Suid-Korea ontplooi sal word. Die aankondiging het woedende reaksies van Noord-Korea én China ontlok, asook van die inwoners van die dorp waar die stelsel ontplooi gaan word. Hulle vrees dat die stelsel potensiële gesondheidsgevare inhou. Die plakkate lui: “NEE, Noord-Korea se kernwapens; JA, THAAD!” Foto: AP Photo/Lee Jin-man/wire.africannewsagency.com

Suid-Koreane vertoon plakkate en ʼn landsvlag tydens ʼn samekoms ter ondersteuning van die plan om die VSA se missiel-afweerstelsel THAAD (Terminal High-Altitude Area Defense) te installeer in Seoel, Suid-Korea. Seoel-amptenare het onlangs afgekondig dat die gevorderde missiel-afweerstelsel in ʼn afgeleë plaasdorpie in die suidoostelike deel van Suid-Korea ontplooi sal word. Die aankondiging het woedende reaksies van Noord-Korea én China ontlok, asook van die inwoners van die dorp waar die stelsel ontplooi gaan word. Hulle vrees dat die stelsel potensiële gesondheidsgevare inhou. Die plakkate lui: “NEE, Noord-Korea se kernwapens; JA, THAAD!” Foto: AP Photo/Lee Jin-man/wire.africannewsagency.com

Vanaf 1950 tot 1953 het tussen 2 en 3 miljoen soldate en burgerlikes hul lewe in die Koreaanse Oorlog verloor. Die oorlog was veral ’n toets vir Amerika wat ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog sy nuwe rol as bewaarder van internasionale vrede en as die hoofaanvegter teen kommunisme ingeneem het.

Hoewel die Verenigde Nasies leiding geneem het in die konflik nadat meer as 130 000 soldate uit Noord-Korea die suide op 25 Junie 1950 ingeval het, was dit die Verenigde State wat meer as 90% van die soldate vir die stryd teen die Noorde, ondersteun deur China en die Sowjetunie, gelewer het.

Nadat meer as 36 000 Amerikaners hul lewe in die oorlog verloor het en die twee Koreas en China selfs veel groter lewensverlies moes verduur, is ’n skietstilstand in 1953 onderteken. ’n Vredesverdrag is egter tot vandag toe nog nie gesluit nie en teoreties is Noord-Korea en Suid-Korea steeds in ’n staat van oorlog gewikkel.

Sedert die vroeë 1950’s het heelwat dinge in die wêreld egter verander. Amerika het ná die Koreaanse Oorlog ook ’n bloedneus in Viëtnam, gepaardgaande met selfs groter lewensverlies, gekry. Oor die afgelope paar jaar het die land grootliks met oorloë in Afganistan en Irak misluk. Amerika se weermag is steeds enorm groot en die land se besteding aan verdediging styg steeds. Byna 40 000 Amerikaanse soldate is permanent in Suid-Korea gesetel om dié land teen sy noordelike aggressor te help beskerm. Grootskaalse, peperduur oorlogoefeninge word tans weer deur Suid-Korea en Amerika uitgevoer. Albei lande is reg vir oorlog met Noord-Korea.

Suid-Korea se bevolking is vandag dubbel dié van Noord-Korea terwyl die land se ekonomie 40 keer groter as dié van sy kommunistiese vyand is. Suid-Korea is die land in die wêreld wat die 10de meeste geld aan verdediging bestee. Sy weermag troon uit bo die vermoëns van sy armsalige vyand, Noord-Korea. Ten spyte van groot militêre vertoon, die voortdurende afskiet van missiele en die 33-jarige diktator, Kim Jong-un, se oorloglustige praatjies, beskik Noord-Korea eenvoudig nie oor die vermoë om Suid-Korea soos in die 1950’s storm te loop en te oorwin nie.

Met China wat weens sy goeie, veral ekonomiese, betrekkinge met die Weste nie meer in ’n oorlog aan die kant van Noord-Korea sal staan nie, die afwesigheid van die Sowjetunie wat in die 1950’s Noord-Korea van wapentuig voorsien het en die militêre en ekonomiese posisie van die twee Koreas wat totaal verander het, is dit sinneloos om te dink dat Noord-Korea enige kans staan om ’n oorlog teen Suid-Korea of ander lande in die streek, soos Japan, te wen.

Het Amerika dan regtig nog ’n rol om in Suid-Korea te speel? Indien dié land deur die Noorde aangeval word, kan die Amerikaners mos steeds met wapentuig en selfs lugaanvalle bystand verleen. Daar is egter geen rede waarom Amerika meer soldate in Suid-Korea moet hê en in ’n oorlog tussen die Noorde en Suide lewensverlies moet verduur nie. Die Amerikaners is egter steeds in die 1950’s vasgevang en kan steeds nie hul rol as internasionale bewaarder van vrede in ’n veranderende wêreld herbedink nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Martin ·

Ek vermoed at Amerika dit as n strategiese posiesie gebruik vir enige veranderige wat in die toekoms kan gebeur.

Gerhard ·

Noord-Korea met kernwapens is egter militer baie sterker as Suid-Korea militer.

gatiep ·

Dankie Jaco ek het ook gewonder oor baie van dictators waarvan die US altyd praat wat moet uitgehaal word.
Want lyk my na die verskriklikke dicctators uit is is die hele land in gahos.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.