Amerika se grenskrisis ‘n onstuitbare tsoenami

Lede van die grenspolisie patrolleer op die oewer van die Rio Grande-rivier tussen die stede van Brownsville, Texas en Matamoros, Tamaulipas, Mexiko. (Foto: CHANDAN KHANNA/AFP)

In laat Maart het ‘n Texas Ranger ‘n ses maande oue baba op die grens met Texas gevind – alleen en verlate. In ‘n ander voorval het die grenspolisie ‘n video vertoon waarin twee kinders (slegs drie en vyf jaar oud) deur smokkelaars oor die 14 meter hoë suidelike grensmuur gegooi word. Dit wys ook hoe die smokkelaars daarna so vinnig as moontlik laat spaander. Kort daarna word ‘n verdwaalde tienjarige Nicaraguaanse seun in die woestyn op die grens tussen Texas en Mexiko, wat gedurende die nag deur ‘n groep migrante agtergelaat is, gevind. Maar nog erger: enkele dae later, in April, word daar in ’n nuusberig beweer dat die grenspolisie die drywende lyke van ‘n vrou en haar man in die Rio Grande-rivier gevind het – die vrou was swanger met ‘n tweeling.

Hierdie is maar slegs die oortjies van die seekoei in ’n grenskatastrofe waarvan die meeste deur die hoofstroommedia verberg word – alles om die arme president Joe Biden te beskerm.

Onder die Trump-administrasie het sen. Kamala Harris nie eens ’n oog geknip met haar veroordelende twiets teen die president dat hy ‘n humanitêre krisis by die grens geskep het nie, en ICE (immigrasie- en doeanebeheer) selfs met die KKK (Ku-Klux Klan) vergelyk, terwyl Trump dié ramp eintlik van Barack Obama geërf het.

Kamala Harris. (Foto: AP Photo/John Locher, File)

30 Junie 2018.
“Hierdie administrasie se oplossing vir die humanitêre krisis wat hulle doelbewus geskep het, kan beteken dat kinders onbepaald in gevangenisagtige omstandighede aangehou moet word. Dit is onaanvaarbaar.”

27 Maart 2019.
“Wat tans aan ons grens in El Paso aan die gebeur is, is ongetwyfeld ‘n humanitêre krisis. Om gesinne buite en in die oopte in beknopte en onhigiëniese omstandighede te laat met min of geen toegang tot warm kos en stortgeriewe nie, is wreed en skend hul menseregte.”

8 April 2020.
“Ons moet vinnig optree om die aantal immigrante-aangehoudenes te verminder en alternatiewe vir aanhouding te implementeer. Met sommige immigrante en personeel wat simptome van die koronavirus begin toon, is dit ‘n humanitêre krisis op die rand van uitbarsting.”

4 Mei 2020.
“Gevaarlike lewensomstandighede. Onvoldoende mediese sorg.

“Hierdie humanitêre krisis langs ons grens hoef nie te gebeur nie – dit is geskep deur Trump se xenofobiese optrede.”

Pres. Joe Biden en adj.pres. Kamala Harris. (Foto: Brendan SMIALOWSKI/AFP)

Dog, Harris, wat nooit ‘n kans sou laat verbygaan om ’n krisis tot voordeel in te span nie, is nou nêrens te vinde nie, ondanks die opdrag van president Biden dat sy die leiding neem en die vloed van onwettige immigrasie aan die suidelike grens en die Noordelike Driehoek (Guatemala, El Salvador en Honduras) moet stuit. Sy het botweg geweier om te gaan, onwillig om uit dié gifbeker wat Biden so doelbewus geskink het, te drink. Afvaardigings van Republikeine en mediapersoonlikhede het die grens besoek en het sigbaar geskok teruggekeer oor wat hulle gesien het.

Voormalige president Trump is gejag, gegesel en bespot omdat hy ‘n grensmuur wou hê. Die kongres het fondse weerhou en só elke poging om ‘n uiters kommerwekkende probleem die hoof te bied, gestuit. Met regsgeding ná regsgeding is Trump se lewe hel gemaak, dit net omdat hy ‘n immigrasiebeleid wou implementeer wat sowel Amerika as immigrante tot voordeel sou wees. Uiteindelik het hy die stryd met sy grensmuur gewen en teen die tyd dat Biden die leisels oorgeneem het, moes net ‘n klein gaping in die bykans 500 myl-muur (sowat 805 km) voltooi word. Deur uitvoerende magtiging het Biden egter alle konstruksiewerk aan die grensmuur gestaak en hierdeur al die positiewe maatreëls van Trump wat onwettige immigrasie aansienlik sou verminder, op sy kop gekeer.

‘n Helikopter word deur die grenspolisie ingespan om by die grens in Sunland Park, Nieu-Mexiko te patrolleer. (Foto: Herika Martinez/AFP)

Soos ‘n onstuitbare tsoenami het mensemassas uit Sentraal-Amerika ingestroom in reaksie op Biden se beloftes van oneindige gunste en gawes, wetende dat Amerika oop is vir sake. Dwelmkartelle, smokkelaars en mensehandelaars het oorgegaan tot aksie, soos deur Jillian Melchior, joernalis van The Wall Street Journal bevestig: “In Maart alleen het die Amerikaanse doeane en grensbeskermingseenheid ongeveer 172 300 gevalle aan die suidelike grens gerapporteer, onder meer 18 890 onbegeleide kinders en meer as 53 600 gesinseenhede.” Die Maart-syfers (vanaf Februarie) toon ‘n 72%-toename in die instroming van onwettige immigrante.

Terwyl sommige state weens Covid-19 nog onder streng inperking is, is die grense wawyd oop om mense van oor die wêreld heen te verwelkom – mense met allerlei infeksies en/of  kriminele geskiedenis, MS-13-bendelede, terroriste en enkele wettige vlugtelinge. Grenskampe het sonder twyfel superverspreiders geword, terwyl Amerikaanse burgers belet word om hul normale lewe te hervat.

Jan Psaki, perssekretaris van die Withuis, beweer herhaaldelik dat kinders nie van hul ouers geskei kan word nie, tog spreek die meeste berigte van “onvergeselde minderjarige kinders”, en niemand weet of sommige volwassenes wat hulle vergesel, wel ouers is nie. Kinders word in groot getalle verhandel in die hoop dat hulle die land binnegelaat sal word, met ouers en/of familielede wat beplan om iewers in die toekoms weer by hulle aan te sluit. Foto’s van onwettige vreemdelinge in grenskampe lewer skokkende bewyse van ‘n vinnige ommekeer van Trump se beleid en sy Migrant Protection Protocol wat die ICE en grensagentskappe met groot sukses geïmplementeer het. Die onwettige oorsteek van die grens het dramaties gedaal, wat bewys dat ‘n muur die mees menslike manier was om dit te verhoed.

Twee migrante loop bo-op die grensstruktuur wat Mexiko en die VSA in Tijuana, Mexiko, skei. (Foto: Gregory Bull, AP)

Waarom hierdie chaos selfs geduld word terwyl diegene wat om burgerskap aansoek doen, gedwing word om streng wettige vereistes na te kom, gaan nie net die verstand te bowe nie, maar is ook ‘n duidelike aanduiding van groot ongelykheid.

Die vraag bly: Waarom waag onwettige immigrante hul lewens om in die VSA te wees? En waarom moedig Demokrate dit selfs aan?

In die eerste plek het die Demokratiese kandidate vir die 2020- verkiesing oop en bloot gratis gesondheidsorg, gratis toegang tot skole en kolleges, maatskaplike welsyn, werkgeleenthede en stimuluspakkette belowe – vandaar die groot toename.

Tweedens paai die Demokrate hul korporatiewe donateurs wat goedkoop en uitbuitbare arbeid uit Latyns-Amerika benodig, en verhoed só werkgeleenthede vir Amerika se eie werkloses. Daarbenewens is baie vakbonde kop in een mus met dié bedrogspul.

Derdens is die Demokrate toenemend bekommerd oor die veranderende demografie van kiesers – beslis ’n bedreiging vir hul magsvergrype. Deur massas Latyns-Amerikaners in die land toe te laat en hulle met gratis welsynsdienste te oorlaai, verseker hulle ’n inskiklike stembasis op ’n tydstip waar Amerikaners toenemend polities oordeelkundig optree deur teen linkse sosialistiese beleide te stem, soos in die 2020-verkiesing gesien is. Wettige immigrante en die Spaanse bevolking het, byvoorbeeld, met meer as 30% vir Trump gestem en swart stemme het van 6% tot 12% gestyg. Dit krap ongetwyfeld aan die Demokrate wat al hoe meer fondse in linkse NRO’s gepomp het as lokaas om Sentraal-Amerikaners in groot getalle die land binne te lok, in die hoop dat hulle vir die Demokrate sal stem. Die feit dat oudpresident Trump 74 miljoen stemme in die afgelope verkiesing gekry het – met meer minderheidstemme as enige Republikeinse kandidaat voor hom – maak hulle doodsbenoud.

Vierdens, ’n meer ernstige kwessie: Waarom sal die Demokrate – wat veronderstel is om die party van die MeToo-beweging, van menseregte, kinder- en vroueregte te wees – ‘n beleid voorstaan wat inderwaarheid dwelmkartelle, mense- en dwelmhandel, die seksuele aanranding van vroue en meisies op groot skaal, asook die toetrede van MS-13-bendelede aanmoedig? Die kort antwoord hierop: die pad na mag vereis morele blindheid.

Greg Abbott. (Foto: POOL/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Miranda Devine, joernalis van die New York Post, berig dat die goewerneur van Texas, Greg Abbott, ná ‘n besoek aan die grens “onthutsende bewerings” gemaak het oor die seksuele mishandeling van kinders by ‘n migrantekamp in San Antonio waar meer as 1 300 migrerende kinders gehou word. Hy het verlede week aan Fox News gesê dat bewerings van seksuele aanranding van kinders by twee staatsinstansies in Texas ingedien is: “[Dit] was ‘n baie spesifieke beskrywing oor die manier waarop kinders seksueel aangerand word, waar dit gebeur het, wie dit gedoen het… die afgryslike dade wat gepleeg is, kan ek nie met u op TV deel nie. Die Biden-regering weet hiervan … en tog word daar steeds niks daaraan gedoen nie.”

Slawerny in die VSA is wel in 1865 afgeskaf, maar die Demokratiese party sit die verknegting van kiesers voort met hul gedurige klem op ras, met die gevolg dat die land weens ras, klas en geslag verdeel word – alles sodat hulle kan oorwin en regeer. Deur die welsynstaat te laat groei, is ‘n poging om die armes “vasgeketting” te hou aan die regering – met ander woorde afhanklik – ter versekering van hul heerskappy. Hierdie benadering is in teenstelling met Trump se robuuste markbeleid wat belastingverlagings bewerkstellig het, massiewe deregulering geïnspireer het wat tot ’n rekorddaling in werkloosheid gelei het met die doel om ‘n outonome, werkende en vry burgerskap te skep. Biden se skrapping van meer as 60 uitvoerende bevele was nie net om Trump se suksesse te wreek en om te keer nie maar ook om ‘n meer gehoorsame en afhanklike burgerskap te skep, ongeag die feit dat dit hul benadeel.

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/various sources/AFP)

Biden se gewildheidsgradering is ongeveer 50%, nie omdat hy ‘n uitstekende president is nie, maar weens die triljoene dollars wat aan werkloses as stimuluspakkette bestee word, waarmee hy hulle aan die regering vasstrik. Andy Kessler, ’n joernalis van The Wall Street Journal herinner ons: “Die ontmoediging van welsynsinisiatiewe was veronderstel om te verdwyn met Bill Clinton se uitlating: ‘Welsyn, soos ons dit ken.’ Wel, dis terug. Die stimuluspakkette het die gewone werkloosheidsvoordele nou verhoog met ’n addisionele $300 per week vir elke werklose en $300 per maand vir kindertoelae. Dus, hoekom moet daar gewerk word?”

Dit is geen wonder dat ondernemings beweer dat hulle nie genoeg werkers kan vind nie, ondanks die Maart-verslag oor werkgeleenthede rapporteer dat 1,07 miljoen werkgeleenthede beskikbaar is. Ongelukkig subsidieer Biden se biljoen dollar-stimuluspakkette mense sodat hulle glad nie hoef te werk nie.

Intussen duur die krisis aan die grens ongekontroleerd voort. Grensagentskappe is oorweldig en oorwerk en beide die president en visepresident weier om aandag aan dié krisis (wat hulle self geskep het) te gee.

As dit Trump was, sou hy waarskynlik nóg ‘n keer aangekla word weens dwelmhandel, mensehandel en kindermishandeling.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Heinrich ·

En later wanneer die staatsgeld nie meer genoeg is nie dan begin die misdaad, soos ons hier sien. Klink my hulle het reeds die regte vaardighede oor die grens gebring, soos ons ook hier gesien het. En dan word die sosialistiese masjien in volle vaart na die minderheid se uitwerk uit die samelewing uit, ook soos ons hier gesien het. Kry maar vir julle, BLM sal mooi na almal se belange daar by julle omsien.

Vrijburger ·

Ons is trekarbeiders, tans sowat twee jaar in Texas. En het dus meer toegang tot inligting oor die situasie, ten spyte van die hoofstroom media se ‘moratorium’.

Die krisis op die Mexico grens is nog meer skrikwekkend as in die artikel beskryf, en kan net voor die deur van die sogenaamde Demokrate gele word. Die’ (s)linkes is lief daarvoor om die term “a crime against humanity” te gebruik om hul oposisie mee by te kom. Wat nou op die grens gebeur, en die redes daarvoor, is wel ‘n ‘misdaad teen die mensdom’.

Rhoda se mening dat die situasie: “….. vereis morele blindheid”, maar ek dink ook ‘n skeut boosheid.

Chris ·

Ek is beslis nie ‘n waarsêer nie. Een ding weet ek vir ‘n feit soos ‘n koei, hier kom groot pret en moeilikheid in die VSA onder die Harris bewind. Osama bin Biden is soos ‘n slaapwandelaar. Hy weet nie of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie. Die stille meerderheid is gewoonlik op die agtergrond totdat die een druppeltjie die emmer gaan laat oorloop. Ek mag nie iemand veroordeel nie, maar glo aan die blinde sambok. Die grootbek Yanks wat met almal wil oorlog maak en boelie sal hul magte uit die ander wêreld dele moet onttrek en die oorlog in hul eie grense moet beveg. Dit is al oorlog wat die Yanks in elk gewen het was die vryheidsoorlog

Boris ·

Daar is geen ommekeer meer vir Amerika nie – die Demokrate sorg daarvoor. Dit is nou net afdraande, soos Suid-Afrika. Kort voor lank gaan Amerika wat eens ’n wêreldleier was in totaliteit verval tot ’n nuttelose moondheid en ’n bespotting van die nasies. Tekens van die liberale tye.

MakersMark ·

En die gespuis trek soos vlieë na ‘n karkas. Selfde in Afrika en Europa. Snaaks toe die voortrekkers uit die oosgrens getrek het was dit nie terug na die vleispotte van Europa nie maar die wildernes waar niks was en hul ‘n eie realiteit geskep het. Nie op ander gaan aas nie. Al is daar nie veel van oor nie die mentaliteit is nog in baie van hul nageslag.

Kokerboom ·

Sosialisme werk net totdat die ander person se geld wat jy so vryelik gratis weggee op is. Amerika is in vir ‘n “rough ride” onder Biden en Harris. Soos in SA gaan dit my verstand te bowe dat buitelanders toegelaat word om vryelik in te stroom en sodoende swaar las op die reeds sukkelende ekonomie plaas. Hier sluit ek uit gekwalifiseerde persone in disciplines waar ‘n skaarsheid is. Sodoende kondoneer die regering van die ontvangerland ooglopend wanfunksionele korrupte landsbestuur in lande van oorsprong aan!!Praat baie maar doen NIKS aan oorsake van sulke emigrasie! Zimbabwe lokaal is ‘n sprekende voorbeeld!!

Rian ·

Ek het geen simpatie met die Amerikaners nie. Hulle het vir sosialisme en ondergang gestem.

Vrijburger ·

Mmm net ‘n bietjie meer as die helfte van Amerikaners het hiervoor gestem. Die res daarteen.

Therese ·

Vrijburger,
Dit is wel so, maar die onwilligheid van die Republikeinse Party om president Trump voluit en met alles in hul vermoë te ondersteun in sy stryd om die blatante verkiesingsbedrog te ontbloot, was verbysterend om te aanskou. Die ooggetuie bewyse het gewemel!
Sal myself nooit weer so inleef in ‘n Amerikaanse presidentsverkiesing nie. Dis ‘n uitmergelende klugspel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.