Amerikaanse oorlog teen Iran sal groot fout wees

iran-vlag

Foto: Etereuti/Pixabay.com

Heelwat verwikkelinge oor die afgelope paar dae, insluitende uitsprake van Donald Trump en sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, laat die kommer toeneem dat Amerika besig is om vir ’n oorlog teen Iran voor te berei.

Toe Donald Trump in Januarie 2017 president van die VSA geword het, was hy die eerste Republikeinse president in byna ’n eeu wat uitgesproke was teen Amerika se voortslepende oorlogvoering. Trump het tydens die verkiesingsveldtog in 2016 harde kritiek op George W. Bush se mislukte oorloë in Afganistan en Irak gelewer.

Terwyl baie kommentators teen die einde van 2017 sover gegaan het om te sê dat Trump ’n oorlog nodig sou hê om in 2020 tot ’n tweede termyn as president verkies te word, het dinge oor die afgelope paar maande soveel verander, dat ’n oorlog nou eerder die ding kan wees wat Trump se presidentskap kan sink.

Oor die afgelope weke het Trump se gewildheid begin toeneem, veral weens sterk ekonomiese groei, byna geen werkloosheid nie en oor die algemeen goeie ekonomiese omstandighede. Trump se belastinghervormings lewer ook positiewe resultate.

Tog is Donald Trump en sy oorloglustige minister van buitelandse sake besig om die oorlogsvure aan te steek. Volgens Pompeo moet Iran onmiddellik ophou met die slegte behandeling van die land se inwoners. Iran moet ook sy betrokkenheid in Sirië en Libanon staak.

Die afgelope week het Pompeo beweer dat Iran by terreurdade in Europa betrokke is. Die rede hiervoor is natuurlik dat Amerika Europese lande wil oortuig om van die kernooreenkoms met Iran te onttrek. Hierdie optrede van Pompeo herinner nogal aan Colin Powell, president Bush se minister van buitelandse sake, se poging om in 2003 lede van die Verenigde Nasies daarvan te oortuig dat Irak oor chemiese wapens beskik.

Die waarheid oor Iran is dat die land ná die teken van die kernooreenkoms in 2015 groter welvaart begin beleef het, wat ook tot liberalisering van verskeie aspekte van die Irannese samelewing aanleiding gegee het. Hoewel die demokrasie in Iran nie juis ’n spieëlbeeld van Westerse demokrasieë is nie, geniet vroue en minderhede soos Christene en Jode meer regte in Iran as byvoorbeeld in ’n land soos Saoedi-Arabië.

Amerika se onttrekking aan die kernooreenkoms het Iran se ekonomie reeds groot skade berokken wat skietgoed gee aan ekstremistiese groepe in Iran wat voel dat president Hassan Rouhani te gematig is. ’n Oorlog teen Iran sal eerder ekstremiste in Iran versterk as dat dit tot die opkoms van ’n Westerse demokrasie aanleiding sal gee.

Nou waarom sal Amerika oorlog teen Iran wil maak? Alles gaan oor Amerika se vriende. Israel verpes Iran en die Irannese betrokkenheid in buurlande van Israel soos Sirië en Libanon.

Verder beskou Amerika se groot bondgenoot in die Midde-Ooste, Saoedi-Arabië, Iran ook as ’n vyand. Iran verteenwoordig die Sjiïtiese minderheid in die Moslemwêreld en Saoedi-Arabië voer al vir lank ’n stryd teen die Sjiïete. Beide Israel en Saoedi-Arabië sal graag wil sien dat Amerika Iran aanval.

’n Oorlog met Iran sal moeiliker en duurder as die oorloë in Irak en Afganistan wees. Min Amerikaners sien kans hiervoor. Indien Trump oorlog teen Iran verklaar, kan dit sy presidentskap vernietig en die wêreld in ’n nuwe resessie dompel.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Pompeo is ‘n agent in Trump se binnekamer, gestuur deur die CIA, Pentagon en Navo om sake te bestuur in die rigting van ‘n wereldoorlog en om Hillary se troonbestyging te verseker wat sal help om Rusland binne te val. Hierdie planne is reeds gereed, net toe word Trump verkies. Aai, aai… maar CNN en Soros en soveel ander laat die EU en Brittanje soos domino’s in gelid val om die planne weer stukrag te gee. Sake is baie meer ingewikkeld as Iran en die VSA se gekibbel. Erge onderstrominge woed altyd soos in die diep blou see.

JMC ·

Net verlede week het ek ‘n artikel gelees oor die top 5 lande wat jy vir verskeie redes nie sal kan oorwin as jy hulle militêr sou binneval nie . Hulle is Amerika, Rusland, Sjina, Indië en… Iran. Goed wat in Iran se guns tel is dat hulle militêr redelik sterk is, die omherbergsame landskap, dat 11 van die 13 klimaatstoestande daar voorkom en les bes, tot my verbasing, die land staan finansieel sterk . So as dié twee van die vyf mekaar sou pak gaan Iran die tuisveld voordeel hê. Kyk mens na ou Trompie se biografie was hy van kleins af ‘n boelie tot op ouderdom 13 toe sy pa besluit het genoeg is genoeg en hom summier in ‘n militêre kosskool gesit het waar hy vinnig dissipline geleer het vir sy eie beswil. Mens neig mos maar om jou vorige lewenslessies te vergeet.

Frans C ·

Dit is mi te betwyfel dat Amerika Iran sal binneval.Wat wel duidelik is dat Hamas
deur weereens 150 vuurpyle op Israel af te vuur,hoop dat Israel weereens vergelding
sal neem en so hoop dat Iran en ander by die konflik betrokke sal raak.

Die” Iranian Supreme Leader Ayatollah Ali Khamenei called over the weekend for the destruction of Israel, stating that the “barbaric” Jewish state “has no cure but to be annihilated.” 2014.
Hoever die nege punt plan al gevorder is,weet niemand nie.Wat wel seker is as Iran
toetree tot die Hamas/Israel konflik,Amerika noodgedwonge sal optree om Israel te beskerm.

Hamas bly steeds jong kinders oplei as terroriste en solank dit voortduur sal daar nooit vrede wees tussen die groepe nie.Laat ons hoop dat gesonde verstand sal seëvier.

Lena Jonk ·

Stem saam met Vennessa, alweer n verdraaide storie. Die arme pres Trump lyk my kan niks goed doen in die verslaggewers se oe nie.

Ernst Marais ·

Israel por die VSA aan tot oorlog teen Iran
Soos teen Irak

BenaYaHU ·

@Ernst
Die meerderheid ‘Westerlinge’ verkeer onder absoluut die verkeerde indrukke aangaande die WARE ‘Israel’ en sy militêre vleuel, die VSA.
Indien enige persoon nie verby die meestal vooropgestelde idees & persepsies kan verby beweeg, sal die kabaal al te maklik met hul onderduimshede voortgaan..
Die meerderheid lewer maklik kommentaar oor ‘vuurpyle afgevuur op Israel’ & ‘Israel se reg tot selfbeskikking & selfverdediging’, terwyl hul lekker maklik sluk aan die hoostroom-media se daaglikse leuens & valshede.. en geensins enige navorsing vir hulself gedoen het om die WARE geskiedenis & feite oor die stigting van die ‘Joodse’ (Rothschild/Bauer/ster van Remphan ens.) nasiestaat..
Daar is ‘n prys vir ‘onkunde’ .. soos daar tereg geskryf staan “as onkunde hom gelukkig maak, is hy ’n dwaas wat wys wil raak”.
Shalom!

Gerhard ·

Dit is net in die koppe van mense wat paranoïes is waar daar gedink word Trump beplan om Korea en Iran aan te val. Wat eerder waar is is dat hy nie so simpel is om te dink dat jy werklik iets van waarde uit hulle sal kry as jy sagkens met hulle te werk gaan nie.

Gerhard ·

Ek gaan so fopnuusblad met allerhande snert begin en vrek ryk raak uit advertensie. ;-)

Gerhard ·

Ja ek glo die maanlanding het gebeur omdat die “tegniese redes” waarom dit glo nie kon gebeur nie al oor en oor bewys is as twak.

Richard ·

Dat die kommentaar hier vanaf Irak tot die maanlandings kan gaan in minder as een dag is eintlik iets wonderbaarliks opsigself.
In elk geval, ek twyfel of dit jou sal oortuig, Jan, want gewoonlik wil mense wat in sogenaamde samesweringsteoriee glo, nie oortuig word nie, maar laat ek maar probeer om vir jou te “wys”. Binne die spasie van ‘n kommentaar of twee, die basiese fisika, wat al in die 17de eeu bereken is, is eintlik relatief eenvoudig.
Jou vraag oor kom neer op massa. Die impuls van krag, of energie nodig om versnelling of snelheidvermindering (vertraging) te bewerkstellig hang af van hoeveel massa versnel of vertraag moet word. Dis deels hoekom, selfs op aarde, ‘n groot goederetrein ‘n baie kragtiger enjin nodig het om 80 km/h te behaal as wat jou kar nodig het om dieselfde te doen. Ander redes op aarde is natuurlik wrywing en lugweerstand, wat nie in die ruimte ‘n faktor is nie. Vir ‘n ruimteskip maak die afstand vanaf hemelliggaame met massa (planete, mane, sterre, ens.) ook saak.
Dis hoekom ‘n massiewe Saturn V vuurpyl nodig was om al die gewig vanaf die aarde te versnel tot byna 39000 km/h om genoeg te kon wegbreek van die aarde se swaartekrag om by die maan te kon uitkom. (vervolg in ‘n tweede kommentaar)

Richard ·

(Vervolg vanaf vorige kommentaar)
Die massa van die finale deel van die Apollo-tuig wat om die maan gewentel het, was sowat 43 ton. Om 43 ton van die aarde af maan toe versnel, vat ‘n massiewe hoeveelheid energie, veral aangesien die ongeveer 2600 ton brandstof in die eerste en twede dele van die vuurpyl om die energie te behaal, se gewig ook ingereken moet word.
Om egter 43 ton in die ruimte, naby die maan, te vertraag, vat baie minder energie. Daar is geen lugweerstand nie en minder swaartekrag, en die massa is baie, baie minder. Die tuig het reeds van 39000 km/h tot sowat 8000 km/h vertraag naby die maan. Nog nader aan die maan moes die enjin van die diensmodule 6 minute afvuur om die sowat 4800 km/h vir ‘n elliptiese maan-wentelbaan te bereik. Dis weer later 17 sekondes afgevuur om die wentelbaan ‘n sirkel (nog laer snelheid) te maak. Die 15-ton landingsmodule het dus teen minder as 4800 km/h beweeg toe dit af na die maanoppervlak gestuur is. Dit het meer as ‘n uur lank geneem om vanuit daardie baan tot 0 km/h op die maanoppervlak te land, nie 5 minute nie. Die tuig wat opgestyg het vanaf die maan was slegs sowat 4.7 ton (alle onnodige gewig is op die maan agtergelaat) en het byna 4 ure geneem om weer die snelheid van die wentelende tuig te bereik om te kan “dock”.
As jy regtig fisika ken, kan jy dit alles op papier bereken.

Henry ·

Dankie Richard!
Verstommend dat daar steeds siele is wat eenvoudig wil GLO dat die Illuminati, Bilderberger’s, Morgan’s en die verskeidenheid narre van die Komplotsirkus die kitaar slaan wat Trump, Putin en die res van die planeet se doen en late vanuit hul donker spelonke in Manhattan en waar ookal bestuur.
Wonder wat gaan die aanhangers van die Rotchild sprokie te sê hê oor NASA se ruimtevlug in die son se rigting.
:-)

BenaYaHU ·

@Henry
Richard mag dalk klink of (dink dat) hy ‘n moontlike antwoord het vir die vraag van Jan.. maar sien, myns-insiens is jou kommentaar sommer pleinweg naïef!
My reaksie daarop – Droom gerus voort in jou veilige koekon, en moenie jou steur aan die WARE toedrag van sake.. want, SOU jy werklik weet wat die eintlike dryfveer is agter die kabaal, sou jy die heel moontlik nie kon hanteer/verwerk.. Verder is NIEMAND so blind soos een wat nie WIL sien/weet.. en, aangesien geen een iemand anders sal ‘oortuig’, hang dit dus van jou self af wat jy wil glo en dus waar jy uiteindelik sal opeindig.. Gevolgtrekking – Beste vir die pad, besef egter dat die realiteit reuse ontnugtering tot gevolg mag hê. Berei gerus voor daarop!
Shalom!

Gerhard ·

Ag nee regtig BenaYahu. Die meeste samesweringsteorieë is so idioties selfs ‘n kind kan sien dis twak. Jy hoef nie oortuig te word deur die groot linkse media dat dit twak is nie, jy kan sien dit is twak.

Henry ·

BenaYahu.

Wanneer ‘n sprokie soos twak lyk, soos twak ruik, soos twak proe, dan is dit inderdaad TWAK.

:-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.