Amerikaanse sterftesyfers toon nasie in krisis

wêreldfoto's

ʼn Betoger verbrand ʼn Amerikaanse vlag tydens ʼn optog in Philadelphia, in die VSA, gedurende die tweede dag van die Demokratiese Nasionale Konvensie. Foto: AP Photo/Matt Slocum/ wire.africannewsagency.com

Die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming, ʼn regeringsinstelling, maak jaarliks sy volledige ontleding van sterftes bekend. Die sterftesyfer vir 2015 is pas bekend gemaak en toon kommerwekkende tendense in die Amerikaanse samelewing.

Meer as 2,7 miljoen Amerikaners is gedurende 2015 oorlede, 1,2% meer mense as in 2014. Amerikaners se lewensverwagting gedurende 2015 vir die eerste keer sedert 1993 gedaal. Onder die tien hoofredes waarom Amerikaners sterf, het die voorkoms per 100 000 mense in agt van die tien kategorieë gestyg. Slegs kanker en longsiektes het ʼn baie klein afname getoon.

Wanneer ʼn mens die redes vir sterftes in Amerika en die verspreiding daarvan demografies ontleed, toon dit ʼn kommerwekkende prentjie van ʼn Westerse samelewing in krisis.

Die hoofoorsaak van sterftes in Amerika is steeds hartsiektes. Die voorkoms van hartsiektes in Amerika is besonder hoog vir ʼn Westerse land en het heelwat te make met die swak lewenstyl van ʼn groot deel van die Amerikaanse bevolking. Sterftes weens diabetes het ook toegeneem en dit is duidelik Amerikaners se eetgewoontes, onaktiewe lewenstyl en hoë spanningsvlakke eis sy tol.

Daar was egter veral ʼn groot styging weens dwelmverwante siektes. Sterftes, weens ʼn oordosis van opioïed-verwante dwelmmiddels, het vir die eerste keer ooit tot meer as 30 000 gestyg. Dwelmverwante sterftes het onder alle rassegroepe gestyg, maar is steeds by verre die hoogste onder wittes en inheemse volke.

Selfmoorde het ook gedurende 2015 skerp gestyg en dit is veral onder middeljarige wit mans waar die hoogste styging in selfmoorde waargeneem word.

Die interessantste deel van die sterfte-ontleding vir 2015, is egter die styging in moorde. Die Amerikaanse moordsyfer het verder gestyg en hoewel daar ʼn klein styging onder wittes, mense van Latyns-Amerikaanse afkoms en Asiërs was, was die styging onder swart Amerikaners besonder hoog.

Die Amerikaanse skrywer, Robert Verbruggen, skryf hierdie styging toe aan die sogenaamde Ferguson-effek. Dit verwys na die opstande in die stad, Ferguson, in die deelstaat Missouri, in Augustus 2014 nadat ʼn wit polisieman, Darren Wilson, ʼn swart man, Michael Brown, doodgeskiet het. Opstande het in die maande daarna gevolg in talle Amerikaanse stede en polisiekantore regoor Amerika het hul misdaadbekampingstrategie hersien.

Waar potensiële misdadigers, baie keer jong swart mans, voorheen pro-aktief voorgekeer en ondervra is, het die polisie in baie gevalle nou ʼn meer reaktiewe misdaadbekampingstrategie begin volg.

Moorde in Amerika kom disproporsioneele hoë voorkoms in swart binne-stedelike gebiede. Met die polisie wat uit vrees vir vergeldingsaanvalle nie meer so pro-aktief potensiële misdadigers in swart woongebiede identifiseer nie, het swart-op-swart moorde in stede soos Chicago, New York, Houston en Detroit skerp toegeneem. Die sogenaamde “Black Lives Matter”-veldtog het dus indirek tot ’n styging in moorde op swart mense aanleiding gegee.

Dit is nie net die prentjie vir swart Amerikaners wat sleg lyk nie. Onder blanke Amerikaners is daar toenemende probleme met uitsigloosheid, depressie, ’n swak lewenstyl en spanning wat tot hoër sterftes weens hartsiektes, diabetes, dwelmmisbruik en selfmoord lei.

Amerika is toenemend ’n land in krisis en sy mense ’n nasie sonder hoop. Die land se sterftesyfers vir 2015 bevestig hierdie krisis.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Gesondheid, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Jane ·

Ons het ‘n baie groter krisis in Afrika en Suid Afrika. As Amerikaners nie meer hoop het nie wat van ons in Suid Afrika? Wat se hoop moet ons he? Ten minste bekommer die Amerikaanse regering hulle oor hierdie syfers,in SA word dit ontken, en net aandag aan sekere sterftes gegee soos bv Vigs .. Die wereld is aan die brand.

Jan ·

Ek sê weer, ek het voorheen ‘n derglike kommentaar geplaas, ek het net bygevoeg, ek sou graag die uitslag wou sien as ‘n soortgelyke studie in ons land gedoen word, met uitslag. Dit is nou al twee maal verwyder.

Denise ·

Hulle sterf asgevolg van n hartaanval ons mense sterf asgevolg van moorde !!!! Without prejudice

Joe ·

Ek stel voor dat Mnr Kleynhans ‘n slaggie die VSA besoek, voordat hy sulke nonsens kwytraak.

Kaufman ·

Joe, glo my Jaco is reg. Miskien moet jy volgende keer self n draai maak in regte amerikaanse woongebiede, nie net in toeriste en koop areas nie.

Andre vander bank ·

Ek stem. Wat n klomp bog! Hy het sekerlik die tonne fake berigte alewig op die Net, ernstig opgeneem. Wonder waar woon hierdie ou.

DG ·

Amerika is ‘n voorbeeld van ‘n – eers sterk Christelike nasie – wat tot ‘n groot mate sekuler geraak het. Die land wat die wereld gelei het op moreel etiese gebied, en die middelpunt van innovasie en ekonomiese groei was, sak terug na ‘n verkrampte, doellose groep mense wat sin vir die lewe veroor het. Die waarde sisteem skuif meer en meer na wat “wat die mense he”, en die “wil van God” word totaal verontagsaam. Ons sien dit natuurlik in ons land ook.
In kort as jou Christelike waarde sisteem by die deur uit is, kom daar ‘n geweldadige ongenaakbare wereldse sisteem by die deur in, met ‘n vals dun lagie aangeplakte humanistiese etopia om die wat wil verblind word, te verblind.
Daar sal ‘n grootskaalse verandering van binne moet plaasvind, met ‘n herlewing terug na dit wat Amerika groot gemaak het, en dit is die groot God wat hulle aanbid het. Dieselfde geld vir ons land.

Danie ·

Dit is nie regtig nodig om in Amerika te gaan kuier nie. Al vereiste is om te kan lees en met syfers te kan werk. Google/Bing gerus USA Deaths and Mortality. Daar is ook vergelykende grafieke ensovoorts om ander plekke.

Andre vander bank ·

Ja Danie, so lees ek ook berigte dat Suid Afrika die tweede beste land ter Wereld is om n kind groot te maak. Lees en glo wat jy wil.

Lance ·

Alles natuurlike oorsake waaroor n mens goeie of slegte keuses kan maak wat ding kan die uitkoms kan verander …..en in SA word 50 mense elke liewe dag vermoor en ek dink dis 4 verkragtings per minuut …wonder wie het die grootste krisis ?

John ·

Die krisis het dalk meer te make met die veranderende demografie. Daar is skynbaar nou meer anderskleuriges in die skole in die VSA as voorheen vandaar dat daar nou gekla word oor die wyse waarop stemmery geskied. Hillary Clinton het hierdie ander groep geteiken in die hoop op ‘n oorwinning. Dit sal heel moontlik die laaste wit president wees.

Waarheid ·

Vir eie behoud geestelike oorlewing sal ons dié Vrydag 16 DESEMBER die GELOFDE moet gaan bevestig sodat ons in dié land weereens VORENTOE KAN BEWEEG alleenlik in GELOOF HOOP en LIEFDE. Só en alleen dan sal ons ook vir ander van hulp kan wees. Dit is elkeen …jul weet wie!!! se P L I G ..plus jou geliefdes. Die KRAG van GELOFTE lê in die NAKOMMING EN HERNUWING daarvan.

Engela de Klerk ·

Dit is nou ‘n pot vol snert. My verhouding met Amerika is al oor die 30 jaar lank. My man het daar gestudeer en ons het daar gewoon. Beide my kinders woon in Amerika – een in NYCity en die ander een in Seattle en ek en my man hou vakansie in Florida. Suid-Afrika is omtrent die grootte van Texas en Texas sit Suid-Afrika ore aan, by uitstek!

Verduidelik asb ·

Waarmee sit Texas Suid Afrika ore aan? Meer crime of wat?

Hugo D ·

Snert, ek bly in Amerika en na 48 jaar in Suid Afrika kan ek net se, dank Vader ek is uit daai plek, alles werk hier en ek slaap met altwee oe toe!

Jakkie ·

Lyk asof julle AMERIKAANSE SENTRUM VIR SIEKTEBEHEER Se somme dan nie lekker is nie? Dis nie Suid Afrikaners wat die opname gedoen het nie, dit is AMERIKANERS. Dalk moet julle bietjie gaan navraag doen.

Basson ·

Suiker en koolhidraat inname.
VK is volgende, hulle bereken die NHS sal nie meer al die siekes ook agv hiervan kan bekostig oor ‘n paar jaar nie.
SA is nie ver agter.
In Engels noem hulle dit ‘Natural Selection’…

Disselboom ·

Dit wil lyk of daar ‘n feit van stygende sterftekoers in die VSA is, maar of dit nou ‘n “nasie in krisis” is, is sensasioneel gestel. Dit is natuurlik kenmerkend van politici wat sukkel om probleme in hulle eie land aan te spreek om die aandag op die buiteland te vestig. En dis uit hierdie oogpunt wat Jacotjie Kleyntjie Hans se wyse ontledings mens laat wonder oor wat in Suid-Afrika aangaan en meer belangrik, wie met wat besig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.