Amerikaanse verkiesing 2016: Waarom het Trump gewen?

Donald Trump

Donald Trump is die VSA se nuwe president. Foto: AP Photo/Paul Sancya.

Die groot vraag op almal se lippe die afgelope tyd is: Waarom het Donald Trump die Amerikaanse verkiesing gewen, ten spyte daarvan dat byna alle voorspellings daarvan verskil het?

Die media en kommentators het allerhande bewerings oor die rede vir Trump se oorwinning gemaak. Daar word onder andere beweer hy het gewen weens ʼn groot opkoms in landelike gebiede en onder armblankes.

Hier is tien interessante feite oor die verkiesing:

  • 25% van Trump-ondersteuners woon in stede en 53% in voorstedelike gebiede.
  • Slegs 22% van sy ondersteuners woon in landelike gebiede.
  • Trump het beter as John McCain en Mitt Romney onder swart en Hispanic-kiesers gevaar. Hy het 8% van die swart stemme (12% van swart mans) en 29% van die Hispanic-stemme gekry.
  • Trump het 48% van wit kiesers tussen 18 en 29 jaar oud se stemme gekry en Clinton slegs 43%.
  • 52% van wit kiesers met ʼn universiteitskwalifikasie het vir Trump gestem. 54% van wit mans met ʼn universiteitskwalifikasie en 45% van vroue met ʼn universiteitskwalifikasie het vir hom gestem.
  • 21% van swart kiesers het vir Trump gestem, die beste sedert Bush in 2004.
  • 64% van Amerikaners, wat jaarliks meer as 50 000 dollar verdien, het vir Trump gestem. ʼn Meerderheid van diegene wat minder as 50 000 dollar verdien, het vir Clinton gestem.
  • 67% van wittes sonder ʼn naskoolse kwalifikasie het vir Trump gestem.
  • 63% van wit mans en 53% van wit vroue het vir Trump gestem.
  • Clinton het byna 5 miljoen stemme minder gekry as Obama in 2012.

Nou waarom het almal voorspel Clinton sou die verkiesing wen? Hier is tien moontlike redes:

  • Wittes as persentasie van die Amerikaanse bevolking neem af en daarom sou ʼn mens verwag dit sal moeiliker raak vir Republikeine om verkiesings te wen.
  • Sy persoonlike verhaal. Trump se persoonlike lewe is kleurvol, met heelwat skandes wat konserwatiewe kiesers kon ontmoedig om vir hom te stem.
  • Sy sakerekord. Trump se misbruik van wetgewing wat bankrotskappe reguleer en sy verskeie twyfelagtige saketransaksies oor die afgelope paar dekades het heelwat vraagtekens oor sy vermoë om op ʼn morele wyse as bestuurder op te tree, laat ontstaan.
  • Omstredenheid tydens voorverkiesings. Die Republikeine se voorverkiesings was ʼn lelike geveg en Trump het homself onderskei as die kandidaat wat sy teenstanders die meeste aangeval het en soms uiters persoonlike aanvalle op mededingers en selfs hul vroue geloods het.
  • Wanorde in die veldtog. Trump se verkiesingsveldtog is deur wanorde en interne struweling gekenmerk en hy moes gereeld nuwe senior bestuurslede afdank en ander aanstel.
  • Breuk met gematigde en konserwatiewe Republikeine. In die maande voor die verkiesing het talle bekende leiers uit die gematigde en meer konserwatiewe strominge van die Republikeinse Party hulle van Trump gedistansieer. Die verwagting het bestaan dat heelwat kiesers uit hierdie twee groepe tuis sou bly en nie aan die verkiesing sou deelneem nie, maar dit het nie gebeur nie.
  • Obama se gewildheid. President Obama se gewildheid het voor die verkiesing toegeneem en ʼn mens sou verwag dit sou momentum aan Clinton se veldtog verleen, veral omdat hy haar baie sterk ondersteun het.
  • Die Amerikaanse media. Nog nooit in die geskiedenis van Amerikaanse verkiesings het die media een kandidaat soveel ondersteun soos wat hulle vanjaar vir Clinton ondersteun het nie.
  • Swak grondvlak-organisasie. Die vermoede het by baie kommentators bestaan dat die Trump-veldtog nie ʼn goeie grondvlakveldtog gevoer het nie. Die vermoë van die Republikeinse Party om strukture regoor die land te vestig, is egter onderskat.
  • Kiesers wat kort voor ʼn verkiesing onseker is vir wie hulle gaan stem, is gewoonlik geneig om uiteindelik vir die kandidaat wat die minste risiko inhou te stem. In vanjaar se verkiesing sou die persepsie wees dat hierdie kiesers dus vir Hillary Clinton sou stem, maar die teenoorgestelde het gebeur.

Waarom het Trump gewen?

  • Laer stempersentasie as in vorige vier verkiesings.
  • Groot geografiese verskuiwing in wit stem.
  • Verrassende prestasie onder minderheidsgroepe en jongmense.
  • Kieskollege waar Demokrate se stemme tot enkele groot state aan die kus beperk is.
  • Lae stempersentasie onder studente, minderhede en liberale stedelike kiesers.
  • Werkersklas in die ‘rustbelt’, wat net genoeg gehad het van die leë beloftes van gevestigde politici.
  • Clinton se onvermoë om Obama-ondersteuners te inspireer.
  • Stille organisasie van die Republikeinse Party.
  • Inval van Republikeinse kiesers agter Trump.
  • Die behoefte vir werklike verandering.

Hoe gaan ʼn Trump-presidentskap lyk?

Grens met Mexiko, immigrasie en onwettige immigrante:
Die een of ander heining sal opgerig word. Heelwat onwettige immigrante sal gedeporteer word en nuwe wetgewing, wat wettige immigrasie aanmoedig en onwettige immigrasie bestraf, sal aangeneem word.

Vryhandelsooreenkomste en algemene proteksionisme:
Die meeste vryhandelsooreenkomste waarby Amerika betrokke is, sal hersien en plaaslike industrieë toenemend beskerm word.

Obamacare:
Obama se vlagskip mediese hervormingswetgewing sal herroep en deur ʼn meer vryemarkgerigte wet vervang word.

Verhouding met Europa:
Trump wil die verhouding tussen Amerika en Europa herbedink en dit sal veral op die terrein van verdediging plaasvind, waar Amerika nie meer so ʼn groot rol in die beskerming van Europese lande sal speel nie.

Verhouding met Rusland:
Trump sal waarskynlik ʼn groot poging aanwend om die gespanne verhouding met Rusland te ontlont.

Verhouding met China:
Trump is baie krities teenoor China se handelspraktyke en ʼn meer gespanne verhouding kan hier verwag word.

Betrokkenheid in internasionale konflik:
Die Trump Withuis sal waarskynlik daarvan wegskram om by nuwe internasionale konfliksones betrokke te raak en huidige betrokkenheid in die Midde-Ooste sal waarskynlik uitgefaseer word.

Hooggeregshofaanstelling:
ʼn Konserwatiewe regter sal reeds in Januarie tot die hooggeregshof benoem word. Met heelwat regters wat reeds ouer as 75 is, kan Trump oor die volgende vier jaar nog een of twee regters aanwys wat die ideologiese samestelling van die hof vir dekades na regs kan laat swaai.

Begroting:
Belasting en waar gaan hy sny is belangrik? Trump sal gedurende 2017 ʼn begroting wil voorlê wat ekonomiese groei aanmoedig, aan sy verkiesingsbeloftes van laer belasting voldoen en nie die staatskuld verder laat toeneem nie. Voorts het Trump ook onderneem om ʼn groot infrastruktuurprojek te loods wat op een of ander manier gefinansier sal moet word. Die vraag is: Waar kan die regering sny? Mediese sorg en die weermag is die twee moeilike opsies.

Algemene konserwatiewe, gedentraliseerde agenda:
Trump en sy kabinet sal waarskynlik ʼn breedweg konserwatiewe regeringsmodel volg, met die vermindering van regulasies, desentralisering van magte na die state en ʼn verkleining van die burokrasie en invloed van steunwerwers in Washington D.C.

Die volgende vier jaar gaan ʼn interessante tyd in die Amerikaanse politiek wees, met heelwat veranderinge wat sal plaasvind. Dit hou ʼn groot geleentheid vir die konserwatiewe beweging in Amerika in.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

poot ·

En probeer nou dieselfde statistiek in Suid_Afrika bekend maak. Ek wil nie die naskoolse kwalifikasies sien nie, om nie eers te praat van wit vs swart stemme nie. Dit sal seker rassisties of diskrminerend wees. StatsSA sal hof toe gesleep word.

Pietman ·

Die DRC se komplot teen Bernie Sanders het sy ondersteuners motiveer om vir Trump te stem of het glad nie gestem nie. Die sleutelstate waar Trump onverwags gewen het was Sanders areas.

Bruno Stef ·

Jaco jy was die persoon wat baie krities was teenoor Donald Trump in aanloop tot die verkiesing. Die liberale media het Clinton probeer inpraat en skryf as die wenner en die kiesers so probeer beinvloed en tot Bon Jovi en Lady Gagga ingespan. My mening as dit enigiets werd is het die teenwoordigheid van ou Bill en Brak tot haar mislukking bygedra .

Ivor ·

Trump het gewen vir een rede en een rede alleen… Hy is God se man… Trump sal 70jaar, 7maand en 7 dae oud wees op die 28ste Januarie, die dag wat hy as Amerika se president ingesweer word. Trump het gese hy gaan die Amerikaanse ambasade na God se stad, Jerusalem toe skuif. Trump is pro-Jood. In sy besighede werk baie Joode. Al sy kinders is getroud met Joode of gaan met Joode uit. 777 is God se getal, nie 666 die mens se getal nie. Dink net as Trump die ambasade Jerusalem toe skuif. Die palasteine / filisteine van ouds kan maar gaan slaap. God is in beheer. Maranata! Jesus kom! Halaluja!

Johan II ·

Net so Bruno..en mense kyk beter verby die hoofstroom media as voorheen. Hul lig hulself beter in en die ou massa media kitaarspelers verloor hul greep op die wêreld.

vermeende ·

Dink mooi daar oor, wat is fout daar mee om knserwatief te wees, waarvoor vrees almal so.

In die geskiedenis staan dit swart op wit, nog altyd was en is dit die liberales (die bevryders) wat die eem oorlog na die amder dryf en soos nou in die VSA geweld gebruik om hulle opjektief te beryk……. nie die konserwatiewes nie.

Ada ·

Dankie tog vir Trump, die mense het wakker geskrik en besef wat belangrik in hulle lewens is en het daarom vir Trump gestem. Hy het moraliteit en maak nie oorlog soos Clinton om geld daaruit te maak nie. Clinton is gif tot in haar diepste weefsel in.

Hendrik ·

Ada en Ivor, ek sal graag meer van Trump se goeie moraliteit by julle wil hoor. Sovêr ek weet het hy:
1) Sy siening oor aborsie en vuurwapeneienaarskap kort voor sy verkiesingsveldtog verander omdat hy geweet het hy sou baie stemme daardeur wen.
2) Van sy vorige vrou geskei omdat hy ‘n vrou wat kinders gehad het nie meer seksueel aantreklik vind nie.
3) Minstens 4 keer bankrot gespeel en mense nie betaal nie. Hy is nou ‘n multimiljoenêr en het hulle nog steeds nie betaal nie.
4) ‘n Skikking met al die Trump-University studente aangegaan wat hom gedagvaar het omdat dit nooit ‘n geskikte opleidingsprogram was nie.
5) Sy eie Trump handelsmerk ware in onder ander Sjina vervaardig, terwyl hy self op sy verkiessingsveldtog teen Sjina uitgevaar het.
6) Hy ontken die mens se invloed op klimaatsverandering in teenstelling met 90% van die wetenskaplike menings.
7) Sy walglike aanmerkings oor vroue, bespotting van gebreklike persone en openlike rassisme teen ‘n regter van Meksikaanse afkoms, gebore in die VSA.
8) Sy eie hotelle met ongedokumenteerde Poolse immigrante gebrou, met Sjinese staal.
9) Hy beroep hom daarop dat die Bybel sy gunsteling boek is, maar kan nie een versie daaruit aanhaal nie.
10) 10 Vroue hom van seksuele teistering aangekla het.
ek kan nog bylas, maar ek dink nie dat sal jou opinie verander nie …

Johan II ·

Beste Hendrik, som gou v Clinton wat net daans na haar meesters so op…begin by die oorloë wat hulle (haar meesters, waarvan Trump nie deel is nie) veroorsaak het te lys…die oorlog wat hul met al Rusland se vriende stook…ens. Jy praat van n paar persoonlikke probleempies, Clinton en haar NWO gespuis vernietig letterlik wêreld vrede.

Merkur ·

Hendrik. Ek dink jy gaan uiters min Afrikaans sprekendes oortuig dat Clinton ‘n hoër moraal het as Trump. En dit is goed so. Vir my, en ek glo en hoop vir die meeste Afrikaans sprekendes, het die perspoon wat onwettiglik teen ander lande oorlog voer en vir duisende of meer as ‘n miljoen mense se dood verantwoordelik is, ‘n laer moraal. Dink jy Clinton gebruik geen vuiltaal nie?
Die enorm hoë donasies wat Clinton aanvaar van Qatar en Saudi-Arabië terwyl sy weet dat hulle op hoogste vlak die IS ondersteun. En dat hierdie lande hulle vrouens en minderhede onderdruk. Dis ‘n voorbeeld van hoë moraliteit? Die wapens wat Clinton aan Saudi-Arabië verkoop het terwyl sy minister van buitenlandse sake was en waarmee Jemen nou geterroriseer word? Om nie eers van die wapens aan die sogenaamde gematigde (en nou IS) “rebelle” in Libië te praat nie.
En is dit nie voorbarig om voor te gee om te weet waarom die Trumps geskei het nie? Dit het net mooi niks met enige iemand anders behalwe die Trumps te doen nie.
Dankie Ada, ek sou ook sê dat Trump moraliteit het. Ten minste is hy nie soos Clinton en haar Wallstreet vriende verantwoordelik dat die middelklas krimp en die rykes op onmorele wyse al hoe ryker word nie.

gerbrandt ·

Clinton is ‘n baie gevaarlike persoon en gee vir niemand anders om as vir haarself nie,. Die ego is baie groot en jy word ook aan jou vriende geken en haar grootste vriend is Obama. Dit spreek vanself.

skorra ·

Na my beskeie mening is hierdie ontleding van waarom Trump gewen het (nes Mnr. Kleynhans se vooruitskouings op die verkiesing), eenvoudig naief en te praxis-georienteerd. Die werklike rede vir sy oorwinning is (nes Brexit) veeleer te vinde in ‘n onontkenbare, wereldwye paradigmaskuif ten opsigte van heersende ideologie.

Willeman ·

Skorra, ek dink jou siening kom die naaste aan die waarheid. Die hoofstroom media het eenvoudig opgehou om die hekwagters te wees van publieke opinie, en die Trump verkiesingsuitslag bewys dit.

Vetkoek ·

Gedink Jaco sal langer laaglè na sy vooruitskattings wat so mis was.

Nico ·

Geen hertelling gaan hond haaraf maak nie. Trump gaan President bly.

Bruno Stef ·

Dit is soos n ou Rugby man altyd gese het in die verlede “look at the score board’ en gaan nie die feit dat Donald Trump die liberaliste behoorlik uitgelooi het kan verander nie. Kom julle ou s—-rgatte gee n besigheidsman n kans net soos Ronald Reagan as filmster uitgestaan het as een van Amerika se beste presidente sal Donald Trump dit ook kan doen maar soos die Afrikaanse gesegde se” Gee die maer hond wind” is van toepassing hier

Danie ·

Jaco en baie ander het op universiteit geleer dat jy die hoofstroom media moet ontleed en dan jou afleidings daaruit formuleer. Hierdie siening en met verloop van tyd outyds en uit voeling met die werklikheid geraak. Hierdie media hou ongelukkig net hulle weergawe van die werklikheid voor as die waarheid. Uit persoonlike ondervinding het ek geleer hoe eensydig dit is: “Ek was daar (ek het dit self ondervind). Ek en die verslaggewer was verseker nie op dieselfde plek nie. ” Daar het verseker ‘n skuif na eie navorsing en afleiding mak plaasgevind. Dalk om dieselfde rede as wat ek hierbo genoem het. Mense raadpleeg deesdae verskeie bronne regoor die hele spektrum en bou dan ‘n dalk meer volledige (en baie nader aan die waarheid) beeld vir hulle self.

John ·

Dit sal insiggewend wees as Hendrik Hillary se planne vir haar ampstermyn aan ons uitstippel, dis nou buiten dat sy almal van orals burgerskap sal gee en gratis laat doen wat hul wil en om WW3 op die eerste dag op kantoor te aktiveer. Wat nog? Dit het nie duidelik oorgekom nie ten spyte van haar oorheersing van die westerse media. Niemand sal egter kan stry dat sy haar tandarts wel deeglik geadverteer het nie. Die ouma en die Green Party wil nou tot in lengte van dae stemme oortel om die datum vir bekragtiging deur die kieskollege te oorskry en bearbei konserwatiewe lede om die uitslag te swaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.