Amerikaanse verkiesing in die pylvak

Amerikaanse-vlag

Foto: pixabay.com

Oor net meer as 10 weke van nou af sal tussen 120 en 150 miljoen Amerikaners na ’n paar honderdduisend stemlokale oor die hele VSA se 50 state stroom om ’n volgende president te verkies.

Hier is vyf dinge wat ons tans weet oor die stand van die stryd tussen Hillary Clinton en Donald Trump en ook vyf dinge wat die uitslag op 8 November gaan bepaal.

Vyf dinge oor die stand van die Amerikaanse verkiesing:

  1. Clinton loop voor in peilings

Hillary Clinton loop in bykans elke nasionale peiling voor en is ook gemaklik voor in belangrike state soos Ohio, Pennsilvanië, Florida en Colorado. Indien die verkiesing vandag moet plaasvind, sal sy gemaklik tot president verkies word.

  1. Clinton loop voor in geldinsameling

Hillary Clinton het saam met instellings wat haar steun reeds sowat 500 miljoen dollar vir haar veldtog ingesamel. Sy gaan waarskynlik voor die verkiesing die 1 miljard-kerf verbysteek, wat sal verseker dat sy oorgenoeg geld gaan hê om baie advertensies te koop, personeel aan te stel en die nodige te doen om geteikende kiesers op stemdag by die stembus te kry.

  1. Clinton het beter veldtogstrukture

Clinton het teen einde Julie reeds 700 personeel in haar diens gehad teenoor Trump se 200. Die Clinton-veldtog het kantore oor die hele Amerika met honderdduisende vrywilligers wat reeds geregistreer het om met haar veldtog te help. Trump se strukture op grondvlak is nog baie swak en die Republikeinse Party probeer dit nou beredder deur self kantore te open en personeel aan te stel.

  1. Albei kandidate kom nie naby 50%-steun nie

Daar is min dinge so lekker vir ’n kandidaat om te sien dat sy steun in peilings naby aan 50% begin kom. In die meeste peilings wat die afgelope twee weke geplaas is, is Trump se steun tussen 35% en 45% en Clinton se steun tussen 40% en 46%. Dit beteken dat albei kandidate nog heelwat stemme weg van die goue 50%-merk is.

  1. Kleiner partye gaan ’n rol speel

In 1992 is Bill Clinton met 43% van die stemme tot president van Amerika verkies. Die rede hiervoor was dat Ross Perot daarin kon slaag om 19% van die stemme op hom te verenig. Vanjaar probeer die Libertariese Party en die Groenparty albei munt slaan uit die ongewildheid van Donald Trump en Hillary Clinton. Die twee partye geniet tans saam tussen 8% en 14% van die steun in peilings. ʼn Kandidaat moet in peilings meer as 15% van die steun geniet om toegelaat te word om in September en Oktober aan die nasionale televisiedebatte deel te neem. Dit is onwaarskynlik dat die Libertariërs of Groenes hierin sal slaag en omdat baie Amerikaners die debatte as ’n laaste maatstaf gebruik om hul keuse vir presidentskandidaat uit te oefen kan ons verwag dat kleiner partye gaan sukkel om saam meer as 10% van die stemme op hulle te verenig. Wanneer steun vir die twee leidende kandidate egter met minder as 5% verskil, kan ’n 10%-steun aan kandidate van kleiner partye ’n wesenlike impak op die uitslag hê. In 2000 het Ralph Nader van die Groenparty 1,6% van die stemme in Florida op hom verenig. George W Bush het 48,847% van die stemme gekry en Al Gore 48,838%. Bush moes Florida wen om te verkiesing te kon wen. Die 97 000 mense wat in Florida vir Nader gestem het, het dus ’n wesenlike invloed op die uitslag van die verkiesing gehad en gegewe die feit dat die meeste van hulle linksgesind was, het hulle waarskynlik meer stemme by Gore as by Bush weggeneem.

Vyf dinge wat die uitslag op 8 November gaan bepaal:

  1. Gaan die transformasie van Trump se veldtog slaag?

Donald Trump se veldtog het die afgelope paar weke deur die een krisis ná die ander gegaan. Heelwat senior veldtogbestuurders is afgedank en byna ’n heeltemal nuwe span is oor die afgelope paar dae aangestel. Dit is duidelik dat Trump se veldtog van rat verwissel het met nuwe woordvoerders op televisie en die kandidaat self wat meer gedissiplineerde toesprake begin lewer. Sal die transformasie van die Trump-veldtog genoeg op so ’n laat tydstip wees om hom steeds ’n kans op 8 November te gee? Dit is tans onduidelik, maar wat duidelik is, is dat daar te min tyd en geld beskikbaar is om die strukturele agterstand met die Clinton-veldtog in te haal.

  1. Wat gaan die uitslag van die vier debatte wees?

Op 26 September en 9 en 19 Oktober sal die drie debatte tussen Clinton en Trump plaasvind. Die twee kandidate vir adjunkpresident sal op 4 Oktober aan ’n debat deelneem. Hierdie debatte wat regdeur Amerika op televisie uitgesaai word en deur miljoene mense gekyk word, het al in die verlede ’n wesenlike invloed op verkiesings gehad. Clinton is sonder twyfel die meer gedissiplineerde en meer ervare debatvoerder, maar kan Trump met ’n harde aanvalslyn haar op die verkeerde voet vang?

  1. Wie gaan stem?

Verkiesings word in groot mate bepaal deur die demografie van die mense wat wel besluit om op stemdag te gaan stem. Verkiesingsdag in Amerika is nie ’n vakansiedag nie en met ’n stempersentasie van tussen 50% en 55% wat verwag word, staan die kandidaat wat die regte profiel kiesers by die stembus kry ’n baie groter kans om te wen. In 2008 en 2012 het Barack Obama daarin geslaag om ’n baie hoë stempersentasie onder jongmense en minderheidsgroepe daar te stel. Dit het sonder twyfel meegebring dat hy die verkiesing gewen het. Is daar genoeg middeljarige en ouer wit kiesers wat ernstig gemotiveer is om vir Trump te gaan stem? Gaan die stempersentasie onder swart kiesers laer as in 2012 wees? Hoeveel mense uit ander minderheidsgroepe gaan stem? Gaan Clinton se vaal veldtog jongmense afsit om die moeite te doen om vir haar te gaan stem? Dit is die vrae wat op stemdag beantwoord sal word en wat waarskynlik die uitslag sal bepaal.

  1. Is daar ’n groot bom wat nog moet bars?

Amerikaners praat van die sogenaamde “Oktoberverrassing” wanneer hulle bespiegel oor of daar nog ’n groot skandaal is wat oor een van die kandidate ontbloot moet word. In talle vorige verkiesings het die bekendmaking van so ’n skandaal ’n wesenlike invloed op die uitslag van die verkiesing gehad. Net tyd sal leer of een van die kandidate iets wesenliks wegsteek wat dalk net wag om kort voor die verkiesing gelek te word.

  1. Die stand van sake in die ekonomie en Obama se gewildheid

Die gewildheid van die sittende president, veranderinge in die land se ekonomie en die algemene gevoel van kiesers oor sake soos veiligheid, regeringsdienste en internasionale verhoudinge kan ’n belangrike invloed op die verkiesingsuitslag hê. Die finansiële krisis wat kort voor die 2008-verkiesing uitgebreek het, het in die hand van Obama gespeel en het dit vir John McCain, ’n bondgenoot van die sittende president Bush, moeilik gemaak om aan kiesers te verduidelik waarom hy beter geskik is om die land se ekonomie in die regte rigting te stuur.

Amerikaanse verkiesings is meestal vol verrassings. Die volgende paar weke gaan gekenmerk word deur harde politiek, wisselende peilings, eksterne faktore wat kiesers se denke beïnvloed, maar bowenal deur kandidate wat goeie en slegte oomblikke gaan beleef. Hoewel Clinton voorloop, is sy nog nie die wenner nie en ’n gedissiplineerde poging deur Trump om van agter in te haal kan die verkiesing nog in ’n opwindende stryd omskep.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Knikkebollen ·

‘Under modern conditions of political advertising and manipulation, it has become possible to talk of the engineering of consent by an elite of experts and professional politicians. Consent that is thus engineered is difficult to distinguish in any fundamental way from the consent that supports modern totalitarian governments. Were the manipulated voter to become the normal voter, the government he supports could hardly be said to rest on his consent in any traditional sense of that word’ -Edward Bernays 1947

Grap ·

Ek stem Trump beste ding wat na die onbeholpe Bush jnr en die onpartydige Obama kan gebeur in die VSA

Victor ·

Hoekom?

Vol praatjies, niks anders nie. Wag en kyk hoeveel van die dinge hy regkry. Hy is ‘n loose cannon

gatiep ·

Een groot skelm storie besig in USA om die heks in te kry.

John ·

Wil mans nou amasone-leiers instoot wanneer die aardbol begin rook? Kyk bv hoe lyk Duitsland nou onder Merkel se moederlike aanslag. Wat meer kommerwekkend is, is dat erge karakters met eie agendas altyd onder die gemoedelike voorskooie skuil. Vroulike leiers staan nooit selfstandig nie, al gee hulle so voor. Ouma Clinton se gesondheid is glo ook verdag en sy moet ondersteun word wanneer sy trappe klim. Sy weet sy gaan nie nog ‘n kans kry nie en beloof almal die son, maan en sterre. Bederf, le ten gronde van haar hele aanslag. Die ‘ou slang’ bak altyd mooi versierde (maar onverteerbare) groot koeke vir die honger massas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.