Amerikaners uit hul politieke koma geruk

Pres. Joe Biden. (Foto: Nicholas Kamm/AFP)

President Joe Biden is die beste president nóg in die geskiedenis van Amerika.

Is hy? Dit is die konsensus van die Woke-hoofstroommedia (MSM) en die jongste meningspeiling van die AP-NORC-sentrum (Associated Press-National Opinion Research Centre) wat van 29 April tot 3 Mei 2021 gedoen is.

Onder sy leierskap is vulstasies landwyd gesluit; gaspypleidings wat groot dele van die land bedien, is deur kuberkrakers geteiken; oliepryse styg; pryse van verbruikersprodukte skiet die hoogte in; inflasie is aan die toeneem; onwettige immigrante (aangehelp deur dwelmkartelle en mensehandelaars) stroom die land binne; die arbeidsmark het ‘n slegs ’n beskeie 266 000 poste gevul ondanks 1 miljoen poste wat nog nie gevul is nie; en oorlog in die Midde-Ooste woed voort.

Dog, gebaseer op dié peiling was Biden se algehele goedkeuringsgradering 63%, 71% vir sy hantering van die Covid-19-pandemie, 62% vir gesondheidsorg en 57% wat die ekonomie betref. Ten opsigte van immigrasie daal sy goedkeuringskoers egter skerp tot 43% en 48% betreffende wapenregte. Maar laat ons nie afwyk nie…

Niemand sal jou vertel dat Biden se hoë graderings afgelei is van Trump se prestasies nie. Dink maar aan Operasie Warp Speed ​​wat drie entstowwe in ‘n rekordtyd gelewer het; ‘n lewendige ekonomie te danke aan belastingvermindering en die verslapping van regulasies. Alhoewel die ekonomie (heel verstaanbaar) ’n daling getoon het met die uitbreek van die koronavirus, het dit ook vinnig teruggebons.

(Foto: Patrick T. FALLON/AFP)

Wat immigrasie betref, is Biden allermins gewild weens die skouspelagtige krisis wat hy binne enkele dae ná hy president geword het, geskep het. Min mense sal jou vertel dat van die 1 842 mense wat aan die opname deelgeneem het en Biden goedgekeur het, die Demokrate ’n voorspelbare 96% gehaal het, die Onafhanklikes 62% en die Republikeine ’n skokkende 23%. Ondanks beloftes om die land te verenig, toon hierdie peiling hoe breed die kloof tussen hierdie twee partye is… dit, ondanks ‘n naelskraapverkiesing. Openbare vertroue in die media is tans laer as vertroue in die kongres. Volgens die Edelman Trust Barometer se jaarlikse verslag vertrou slegs 25% van die publiek hul regeringsleiers, 21% vertrou joernaliste, 61% glo dat die media nie objektief berig nie, en 59% glo dat nuusagentskappe partydige politiek bo objektiewe nuus verkies en verkondig.

Die futlose media se voortdurende gedwepery oor alles en enigiets wat Biden sê en doen, is om van naar te word. Sy flou staatsrede op 28 April het lofbetuigings ontlok, soos Churchill nie eens gekry het nie. Die man wat meer as 83 miljoen stemme gekry het, kon skaars 11 miljoen kykers werf vir sy veelgeprese toespraak, wat toon dat die gunssoekerige media vir Joe doen wat hy nie in staat is om vir homself te doen nie. Selfs sy perssekretaris het onlangs op ‘n Withuis-perskonferensie erken dat “hulle” die president gereeld aanraai om geen vrae te neem nie. Biden, self, sê herhaaldelik vir sy gehore dat hy nie vrae mag beantwoord nie, tensy hy “in die moeilikheid” wil kom. Toe hy op ’n keer sy masker ná ‘n toespraak op die podium verloor, het hy paniekerig geword en gesê dat hy dit móét vind, “anders kom hy in die moeilikheid.”

Wie, as ons mag vra, kan die president in die moeilikheid laat beland as hy fouteer? Is dit dalk personeel na aan hom? Sy vrou? Sy Party?

Sy karige daaglikse rooster getuig van ‘n president wat óf traag is óf nie in staat is om sy werk te bestuur nie – daarom die bynaam Comatose Joe. Sy grootste prestasie sedert sy presidentskap tot dusver, was om meer as 60 uitvoerende bevele te onderteken – almal ten doel om die suksesse van die Trump-regime omver te werp. Dié omverwerping het, helaas, reeds met ‘n onstuitbare felheid geboemerang.

(Foto: Francois PICARD/AFP)

Op Maandag 10 Mei, toe die goedkeuringsgradering van Biden die hoogte ingeskiet het, het daar op die voorblad van die Daily Mail die volgende (vry vertaal) gestaan: “Brandstofpompe loop leeg ná Colonial Pipeline-kuberaanval: Noord-Carolina verklaar noodtoestand soos motors by vulstasies in Virginia, Atlanta en Florida ophoop en American Airlines se vliegtuie moet tydens langafstandvlugte land om brandstof aan te vul.”

Die sluiting van die Keystone XL-pyplyn op sy eerste dag in die presidensiële kantoor was waarskynlik die domste ding wat Biden gedoen het. Hy het energie-onafhanklikheid met een slag gekelder wat binne enkele maande tot tienduisende werkverliese en stygende oliepryse gelei het. Dié pypleiding van 5 500 kilometer wat “die helfte van die brandstofvoorraad van die Ooskus dra” (ongeveer 45% van al hul brandstofbehoeftes), wat brandstof aan die lughawe van Atlanta voorsien en 90 Amerikaanse militêre installasies en meer as ‘n 1 000 vulstasies bedien asook 26 olieraffinaderye, is op Vrydag 7 Mei gesluit.

Maar dis het einde niet… Op dieselfde dag verskyn Biden se teleurstellende werkverslag. In teenstelling met Biden en ekonome se voorspelling van een miljoen vakante poste, het werkgewers slegs 266 000 poste bygevoeg. Dié lae telling is te wyte aan Biden se multitriljoen stimuluspakkette (tot $500 per week werkloosheidsversekering plus $300 bonus = $800 per week) en sit geld in die sakke van mense wat, ondanks die 8,1 miljoen werkgeleenthede, dus nie werk hoef te soek nie. Hierdie stimuluspakkette, gedoop “Biden’s Declaration of Dependence” na aanleiding van geld wat sommer links en regs aan werkloses uitgedeel word, is ’n direkte ondermyning van Trump se sukses om werkende en onafhanklike burgers op rekordvlak te skep. Volgens die hoofartikel van The Wall Street Journal van 12 Mei is berig dat, om hul mense weer aan die werk te kry, “die goewerneurs van Alabama, Arkansas, Mississippi en Suid-Carolina aangekondig het dat hulle van federale befondsing sal afsien vir die aanvulling van $300 per week tot werkloosheidsversekering. Met hierdie besluit het hulle die voorbeeld van goewerneur Greg Gianforte van Montana, wat dieselfde verlede week gedoen het, gevolg.”

Pres. Joe Biden (Foto: Getty Images via AFP)

Biden, duidelik geskok oor die werkverslag van April, het op 10 Mei gewaarsku: “Die Wet is duidelik. Sou u ’n geskikte werk aangebied word terwyl u werkloosheidsvoordele ontvang, mag u nie daardie werk weier en net aanhou om werkloosheidsvoordele te ontvang nie.”

Die arbeidsekonoom Julia Pollak het lig op die ware toedrag van sake gewerp en reken die kalf is reeds in die put:

“Ek was vandag en verlede Vrydag verbaas om te hoor @POTUS & @PressSec sê die Wet vereis dat begunstigdes van werkloosheidsversekering wel werk moet soek. Hierdie vereistes is weens Covid opgeskort, maar slegs ongeveer die helfte van die state het dit sedertdien weer ingestel.”

Selfs Biden se bondgenoot, Goldman Sachs, het gekla dat Biden se hulppakkette beslis nie aansporings is nie, maar ’n verkwisting van geld met negatiewe gevolge: “Die arbeidsaanbod blyk minder te wees as wat die werkloosheidsyfer aandui, waarskynlik as gevolg van die impak van ongewoon ruim werkloosheidsvoordele.”

Om ’n aanspraak op iets te hê, lei gewoonlik net tot meer eise en dit is wat hier aan die gebeur is.

Die slinkse plan van die Demokrate om belasting te gebruik om die publiek om te koop om vir hulle te stem, is net so skandalig soos die aankondiging van die Demokratiese goewerneur Gavin Newsom dat hy $38 miljard se diskresionêre surplus gehad het om twee derdes van Kaliforniërs ‘n stimulustjek te bied – en sodoende sy weg uit sy droewe ongewildheid en sy naderende herroeping as goewerneur gekoop. Net so het die Demokratiese goewerneur van New Jersey, Phil Murphy, stimulustjeks van $1 000 elk vir onwettige immigrante beloof.

Wat ons sien, is ’n vlaag van onbesonne besteding om die ekonomie wat Trump pligsgetrou opgebou het, te verswak. Onthou, die geld uit dié bankrekening wat Biden so roekeloos verkwis, het Trump opgebou. Biden se voorstel om $6 biljoen (Engelse trillion) aan infrastruktuurontwikkeling af te staan, laat selfs sommige Demokrate bloos. Varkvleis vir makkers bevat meer as die twyfelagtige hulppakket by name die Covid Relief Bill and Infrastructure Proposal. Om kiesers te koop deur eindeloos dollarnote te druk, is bedoel om die “For the People Act of 2021” te verstewig, en om die verkiesingswette van 50 state te herskryf met die doel om die Demokrate vir ewig aan bewind te hou. Dit sal state se jurisdiksies oor verkiesings uitskakel; dit laat uitgebreide posstem-opsies toe; verslap wette op kiesersidentiteit; gee voorkeur aan federale regeringsbeheer bo politieke toesprake en aanlyn kommunikasie; en dit sal toelaat dat inligting oor donateurs aan politieke partye geopenbaar mag word.

Mike Pence. (Foto: Toru Hanai, AP)

Republikeinse leiers is woedend oor dié blatante pogings om verkiesings te manipuleer en, volgens die voormalige visepresident Pence, sal dit die weg baan vir “die mees twyfelagtige en misbruikgeneigde verkiesingsuitslae, terwyl hulle terselfdertyd logiese maatreëls verban om verkiesingsbedrog op te spoor, af te weer en te vervolg.” Dit sal, het Pence verder gesê, “geleenthede vir verkiesingsbedrog verhoog, die eerste wysiging onder die mat invee, die vertroue in ons verkiesing verder verswak en moet deur elke lid van die kongres verwerp word en deur elke patriotiese Amerikaner teengestaan word.”

Biden se eerste honderd dae was ‘n ramp. Die Amerikaanse publiek, wat deur die hoofstroommedia in onkunde gehou word, is uit hul politieke koma geruk deur die skielike tekort aan brandstof. Toenemende frustrasies het gelei tot gevegte by vulstasies en plekke waar brandstof geberg is – selfs in plastieksakke. Een so ’n sak het in ‘n vrou se motor wat in ’n ongeluk betrokke was, ontplof.

Daarom is Facebook en Twitter aan die brand met kommentaar: “Ek sal enige tyd ‘n gemene twiet neem, solank die brandstofprys $1,79 bly!”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

James ·

Twee opmerkings: 1.) Diegenes wat so lief is om te verwys na aanhangers van Trump as die Trompie bende, moet asseblief verduidelik; en 2.) Ek wag en wag, respekvol, vir die eerbare Dr Leopoldt Scholtz se opsomming van Biden se eerste 3 maande in die Withuis.

James ·

Rhoda – stuur asseblief vir Leopoldt Scholtz ‘n e-pos -en vra hom waarom hy so stil is? Vir 4 jaar was hy weekliks uitgesproke – en nou: Krieke.

Tubac ·

Biden en sy makkers gaan maar net voort wat vorige Demokrate gedoen het. Geld is nie n probleem nie want dit groei op bome. Werkloosheid gaan viervoudig toeneem. Dit is wat jy kry wanneer iemand geen benul het hom om n besigheid te bestuur nie.Trump het dit so toegepas en het begin resultate kry. Maar nou ja as jy dom is moet jy bloei. Net jammer dat dit duisende affekteer. Wonder by wie het hulle afgekyk?

Jaco ·

Nou met Amerika se nuwe oop immigrasiebeleid, moet mishandelde wit mense en ramaphosa en joe Biden eintlik almal die volgende oorweeg:
Ramaphosa kan die wit mense van SA wat glo soveel “ongelykheid” veroorsaak na die “oop” Amerika deporteer. As Biden ons dan invat, sal sy verbintenis tot “human rights irrespective of race, colour or creed” dan ook sommer mooi in praktyk gewys kan word

Anna-marie ·

Biden het in die 1970’s in ‘n toespraak sy haat teenoor “those Afrikaners” uitgespreek. Dit is nog op Youtube. So vergeet maar daarvan.

Rian ·

Biden is die grootste mislukking in die geskiedenis van die VSA. Ons wag vir Trump se terugkeer.

Jack ·

Jimmy Carter was die mees onbeholpe VSA president van die 20ste eeu. Clinton die skelmste. Biden oortref albei, elkeen op sy eie gebied.

Maar kom ons wees eerlik. Elke volk kry die regering wat hy verdien. Amerikaners het hulle aan die neus laat lei deur al die linkse haat propaganda teen Trump. Hulle sal die prys betaal. Hier plaaslik het ons ook ons ore uitgeleen aan ons verligte politici wat ons aan die ANC uitverkoop het. Almal kla nou steen en been daaroor, maar die hardste klaers is ons voormalige linkse verligtes.

Rupert Ashford ·

As daar nie so baie mense buite die VSA was wat ook onder hierdie man en sy hanteerders se gebrek aan bekwaamheid gaan deurloop nie (Midde Ooste, Taiwan, Hong Kong, South China Sea), het ek my verlekker in die VSA se lot want hulle het immers (by hook or by crook) hierdie bewerkstellig. Ou Jimmy Carter moet lekker slaap want hy gaan sy kroon as die vrotste moderne President verseker moet prysgee soos sake nou staan.

Anna-marie ·

Biden is nie in beheer nie. Hy het hanteerders. Vermoedelik oa : Obama, Susan Rice, Pelosi, Soros.

Objektief ·

Rhoda wees versigtig; die liberale pers in die VSA EN Suid Afrika gaan jou stenig en jy sal nooit weer in SA toegelaat word nie.

Dirk Mostert ·

Gedurende die “primaries” was Biden omtrent in die 4de plek toe sy mede aspirant-kandidate skielik soos een persoon terugstaan en hul steun aan Biden toese. Dis duidelik dat hulle instruksies gekry het van die magte agter die skerms. Biden is net ‘n spreekbuis. Sy teenkanting teen normale vereistes vir registrasie van kiesers wys dat die presidentsverkiesing gekook is.

Anna-marie ·

‘n Swak spreekbuis daarby. Hy moet van ‘n teleprompter (spelling?) gebruik maak. Dit is aan hom voorsien omdat hy dikwels vergeet wat hy wou sê.

Vrijburger ·

“Volgens die Edelman Trust Barometer se jaarlikse verslag vertrou slegs 25% van die publiek hul regeringsleiers, 21% vertrou joernaliste………”

LMGA! Die publiek vertrou joernaliste nog minder as politici! (Nou verstaan ek waarom Leopoldt genoop voel om meeste van sy artikel eers te begin met ‘n futiele beleidenis van joernalistieke integriteit, onafhanlikheid ens.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.