Amptelike skrywe van die AP Kerk aan die president

Nota: Die brief is in Engels aan die president gestuur. Hieronder volg ‘n Afrikaanse weergawe van die brief.

Die President van Suid-Afrika
Mnr. Cyril Ramaphosa
Tuynhuys
Kaapstad

Geagte mnr. President, kabinetsministers, premiers, burgemeesters en gemeenskapsleiers van Suid-Afrika.

Ons rig hierdie skrywe aan u namens ’n kerklike denominasie wat 30 000 Christene verteenwoordig, maar ook, so glo ons, namens ’n groot groep ander kerke in ons land.

Gedurende hierdie krisistyd van die Covid-19 pandemie, het ons vir elkeen van u gebid en ons doen dit steeds. Ons bid dat die Here aan u wysheid sal gee in al u besluite – besluite wat daagliks geëvalueer en gerevalueer word namate nuwe inligting oor die virus, en die reaksie daarop, beskikbaar word. Dit is juis hierdie inkomende inligting wat dit al hoe meer duidelik maak dat die aanvanklike inligting wat die ramptoestand gemotiveer het, onvolledig was.

Ons waardeer die president se stelling in die persverklaring van 20 April 2020 in verband met die uitdagings wat hy moes hanteer in die besluit om ’n nasionale afsondering in te stel en dat hy verkies het om eerder na die kant van versigtigheid oor te hel. Omdat ons doel steeds is om dit te doen wat die beste in die openbare belang van die burgers is, is nuwe besluite en ’n koerswysiging nou noodsaaklik – hoe gouer, hoe beter. Die blote verbetering van maatskaplike voorsiening om huishoudings wat in armoede leef, te ondersteun, sal ongelukkig nie naastenby voldoende wees nie.

As ons met die huidige toestand van algehele afsondering volhard, sal dinge volgens ons oortuiging waarskynlik baie versleg. Ons beleef nou die situasie waar dit al duideliker word dat die instel van verdere voorsorg (afsondering) nadeliger gevolge sal hê as die siekte self. Die inligting oor die pandemie regverdig nie dat miljoene mense hul werk verloor en besighede, en veral kerke, vir ’n onbepaalde tydperk gesluit word nie.

Die president het talle nieregeringsorganisasies, godsdienstige groepe en gewone burgers wat geld gee en hulp aanbied om honger en behoeftiges te help, bedank, maar u afsonderingsmaatreëls maak dit onmoontlik vir ons om hiermee voort te gaan. Hiermee verwys ons na baie boere en familiebesighede wat nie vir hulp uit die regering se Solidarity Fund kwalifiseer nie, selfs al dra hulle daartoe by.

Dit is nou tyd om vir besigheid oop te maak, werk toe te gaan en veral om onbeskaamd terug te keer tot die openbare aanbidding van die drie-enige God deur die gemeenskap van die heiliges, alhoewel sommige voorkomende maatreëls steeds nodig mag wees.

Hoewel Covid-19 ’n werklikheid is en meer as 3 300 burgers al die siekte opgedoen het, kan ons die baie groter skade wat aan ons samelewing aangerig word deurdat inkomste vir die onderhouding van gesinne afgesny word, nie langer ignoreer nie. In ons kerke kom min gevalle van die koronavirus, hospitalisasie of sterftes voor. Daarteenoor het ons talle mense wie se vermoë om hul gesinne te onderhou, grootliks skade ly weens die verlies aan inkomste en skade aan hul besighede. Vir ons sal die afsonderingsmaatreëls die huidige stand van sake baie vererger.

Sonder om die feite waarmee u rekening moet hou, buite rekening te laat, moedig ons u aan om baie mooi na te dink oor die geweldige skade wat deur die volharding met ’n geslote ekonomie aangerig word. In ons gemeentes het ons reeds die verlies aan lewensonderhoud, besighede wat hul deure moes sluit en die isolasie van ons lidmate ervaar en dit is ’n geweldige verlies vir die welwese en welsyn van die hele samelewing. Die skade sal net vererger as ons op die huidige koers van afsondering volhard en die ekonomie, ons huise en kerke gesluit hou. Vergun ons om sonder skroom daarop te wys dat as daar ooit ’n noodsaaklike diens was, is dit die openbare aanbidding deur die gemeenskap van die heiliges van die lewende God. Hy is die belangrikste aspek in elke oorweging. Dit is nie vir ons nodig om u daaraan te herinner dat gevaarlike (en waarskynlik onbeheerbare) sosiale onrus die noodwendige gevolg van die huidige koers sal wees nie. Die plundering van informele handelaars en drankwinkels is net die begin.

Ons is ook erg bedroef deur die blatante rassisme deur sommige regeringsdepartemente wat verligting en hulp in die pandemie betref. Ons is voorts baie verontrus oor die stygende golf van misdaad gedurende die inperking. Ons beskou dit ook as ons roeping om daarop te wys dat daar baie meer onrus en rampspoedige gevolge kan voorkom omdat gemeenskapsveiligheidsgroepe nie toegelaat word om op te tree nie.

As kerke is ons baie besorg oor die lewens en gesondheid van ons lidmate asook ander in die gemeenskappe wat ons bedien – veral omdat talle in ons kerke bejaardes of hoërisikogevalle vir Covid-19 is. Hul gesondheid is egter nie die verantwoordelikheid van die staat alleen nie. Daardie persone en hul gesinne, predikante, leiers en dokters is die beste geposisioneer om vir hulself te besluit oor hoe hulle gedurende die verspreiding van die siekte moet leef. As hierdie ’n groot plaag, ’n direkte gesondheids- en lewensbedreiging vir al ons lidmate was, soos baie van ons aanvanklik gedink het dit was, sou ons met graagte gewillig wees om ons neer te lê by billike maatreëls om die verspreiding te voorkom – soos ons die afgelope maand gedoen het.

Dit is egter nou duidelik dat die krisis nie op die vlak is soos dit aanvanklik beskou was nie. Al meer van ons kerke dui daagliks aan dat hulle nie bereid is om voort te gaan om die uiterste afsonderingsmaatreëls na te kom nie. Ons begeerte is om gehoorsaam te wees aan die burgerlike owerheid. Ons moet egter ook doen wat God van ons verwag en wat die beste is vir ons mense en gemeenskappe en soos ons gewete ons voorskryf.

Ons erken dat die grondwetlike regte van vryheid van beweging, spraak, godsdiens en assosiasie beperk mag word kragtens afdeling 36 van die Grondwet, maar sulke “beperkings moet redelik en regverdigbaar wees in ’n oop en demokratiese samelewing wat gebaseer is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid”.

As ons die aard van hierdie regte in aanmerking neem; die belangrikheid van die beperkinge, die aard en omvang daarvan, asook die verhouding tussen die beperkings en die doel daarvan, en minder beperkende maniere om die doel te bereik, blyk dit dat ons as kerkleiers nou die morele verpligting het om ons aanvanklike steun vir die huidige afsonderingsmaatreëls in die lig van die jongste feite oor die pandemie te heroorweeg.

Meer nog, ons het nie net hierdie regte omdat die Grondwet dit vergun nie, maar omdat dit van God self af kom. Ons glo dat die tyd ryp is vir ons leiers om af te sien van die ekstreme afsonderingsmaatreëls.

Tot dusver was die reaksie in die kerk een van verootmoediging en sondebelydenis – die sondes van die kerk en die sonde van ons burgers en regering. Met hierdie brief nooi ons die regering om hulle asseblief by ons, in verootmoediging voor die Here Jesus Christus, aan te sluit. Ons pleit om die genade en barmhartigheid van God, sodat Hy aan ons verlossing en wysheid vir die toekoms sal gee. Die dood is ’n vyand, die laaste vyand wat deur die heerskappy van Christus vernietig is. Ons bely dit met ons hele hart en hoewel ons die dood verag, vrees ons nie die dood nie, want vir ons is die lewe Christus en die sterwe wins. Mag God opregte berou in ons bewerk en wanneer ons ons sondes erken en bely, glo ons dat Hy ons genadig sal wees en ons land sal herstel.

In diens van die ewige Koning, Jesus Christus.

Ds. J.L. Schütte
Direkteur van kerkadministrasie

Hierdie brief is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Seker so maar dis ‘n plig wat nie nagelaat behoort te word nie.

Kattebol ·

Asseblief ABBA Vader, net U kan ons help. Die virus is van die bose en U het dit reeds oorwin. Versterk ons geloof en geduld om op U redding te wag.

Alleen Wolf ·

Hy laat hom lei deur raadgewers wat almal dik in die geld is en nie die lyding van die burgery ervaar nie, ek stem saam, hy gaan hom nie steur aan die brief nie, maar GOD slaap nie, nooit nie, sy dag sal kom.

Jaco ·

Die AP Kerk is oop net vir wit mense. Hoe kom hulle by die menseregtekommissie verby?

Oros Soros ·

Genade maar jy is eng. Lyk my jy weet niks van die APK nie. Ek het moeite gedoen en gaan naslaan. Ek kry volkskerk en nerens iets van ras nie.

Jaco ·

ok, vat iemand wat nie wit is nie na ‘n diens van die AP Kerk en kyk wat gebeur. Almal in die diens sal aanstoot neem en iemand sal die nie-wit persoon vra om te loop. ek weet van sulke gevalle.

Jaco ·

Die AP Kerk is net oop vir wit mense, maar dan kla hulle by Cyril oor diskriminasie. Dubbele standaarde?

Willem ·

Julle mors julle tyd my vried al is dit vir n goeie doel. Hierdie regering luister net vir China en sy simpel onopgeleide ministers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.