Anargisme – sê nee

Foto: Skermskoot uit die video

Foto: Skermskoot uit die video

“Fees must fall” het ʼn plaasvervanger geword vir alles wat moet val. Die Westerse konsep van wetenskap moet val, biblioteke moet val, Afrikaans moet val, die universiteitswese soos ons dit ken moet val en die jongste geluide, is dat die bestaande regeringsorde ook moet val. Soos prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria sê, die probleem is egter dat dit nie die orde is wat val nie, maar orde.

Die konsep van val is nie vreemd in die revolusionêre omgewing nie. Volgens professor Malan wil die revolusionêr in ʼn permanente staat van revolusie wees. Geen toegewings van enige aard word gemaak nie. Die doel is om die magsewewig te versteur.

Die naïewe reaksie daarop is om van een basis na die volgende te retireer. Revolusionêre val aan van een basis na die volgende en vul die vakuum wat deur retirering gelaat word. Hulle doel is om terrein te beset – “occupy campuses”.

Professor Danie Goosen van Unisa skryf die belangrikste kenmerk van die revolusionêre universiteitsideaal is dat dit nie deur histories-werkbare voorbeelde gemotiveer word nie. Die revolusionêre ideale hou nie verband met die werklikheid nie. Hoe meer die revolusionêre in gebreke bly om te verduidelik wat hul drome beteken, des te meer val hulle op ongenaakbare moralisme terug. Onderliggend aan die revolusionêre opvattings lê die gewelddadige metafoor van die skoon “lei”, aldus Goosen.

Die vraag is, hoe reageer ʼn mens dan op die huidige vlaag van geweld en anargie op die kampusse? Die anargie het handuit geruk. Dit gaan geensins meer oor ʼn edele saak nie; dit het in ʼn revolusie met ʼn oop einde ontwikkel. ʼn Stuk wanorde.

Ek hoor “die land het ‘n Zimbabwe geword” by mense, maar Suid-Afrika is nie ʼn Zimbabwe nie. In Zimbabwe is die mag in Mugabe gesentraliseer. Daar is net een magsentrum – Mugabe.

In Suid-Afrika het ons verskillende magsentrums, sommige kleiner en ander groter. Ons het die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag, die burgerlike samelewing, die media, ʼn sterk privaatsektor en vele meer. Ons het universiteite en rondom universiteite is weer kleiner magsentrums wat die sektor in balans hou. ʼn Demokrasie is in balans indien die magsentrums hul terreine opneem. Wigte en teenwigte lê nie bloot in ʼn Grondwet gesetel nie, maar in sentrums van mag, wat hul terreine met selfvertroue beskerm.

Een van die grootste uitdagings waarmee ons te kampe het, is dat die staat, met al sy organe, as magsentrum verswak. Ons het ʼn afwesige president en dit skep ʼn vakuum wat gevul moet word. Die liberale demokrasie sou redeneer dat die vakuum, wat deur ʼn swak staat geskep word, in ʼn volgende verkiesing deur die kiesers gevul sal word. Die revolusionêr wil nie vir die volgende ordelike verkiesing wag nie. Die teenoorgestelde is waar. Die revolusionêr verkies wanorde en nie die dissipline van die demokrasie nie. Universiteite is sagte teikens met groot simboliese waarde.

Die universiteit moet sy terrein opneem. Dit is nie bloot ʼn verlengstuk van die staat nie. Die universiteit moet kan sê: “Ons is ʼn universiteit en dit is hoe ons ons terrein sal beskerm.” ʼn Universiteit is nie anargisme nie. ʼn Universiteit is nie ʼn plek waar daar deur monumente te breek, karre te brand en studente en dosente te intimideer, idees gevorm word nie. Universiteite vorm idees deur die akademie. Die Afrika-tradisies word nie gevestig deur ʼn klassieke biblioteek af te brand nie en Westerse wetenskap word nie vernietig deur ʼn laboratorium af te brand nie.

Dit beteken nie universiteite moet wegskram van nuwe idees nie. Hulle pak nuwe idees deur middel van kritiese gesprek. Miskien is universiteite juis in ʼn krisis omdat hulle hul sin vir idees en opvoeding verloor het en net begin oplei het. As ʼn universiteit nie meer ʼn raamwerk het nie, gaan hy sukkel om homself teen ʼn nuwe raamwerk te verdedig.

Professor Goosen staan ook krities teenoor die huidige model van sake-universiteite wat nie meer tot die ou universitêre ideaal van opvoeding (Bildung), dit wil sê ʼn verbintenis aan die idee dat universiteite studente oplewer wat volwasse, gebalanseerd en deelnemend lewe, verbind is nie. Studente word eerder met die oog op die beroepslewe opgelei. Die gesprek oor die toekoms moet gaan oor die alternatiewe universiteit. Volgens Goosen beteken dekolonisering nie om een meesterverhaal (die Westerse verhaal) met ʼn ander meesterverhaal (dié van Afrika) te vervang nie. Universiteite in Suid-Afrika behoort plekke te wees waar egte dialoog tussen die Westerse en Afrika intellektuele tradisies gevoer word.

Dit wat ons nou sien, is nie universiteit nie. Anargisme sal ek nie eens in die definisie van die revolusionêre universiteitsideaal insluit nie. Dit is nie wetenskapbeoefening nie. Die huidige vlaag van anargisme breek af sonder om enige iets in die plek van die leemte wat geskep word, te stel. Om die een of ander rede tree universiteite in interaksie hiermee en reageer deur te retireer.

Hoe gebeur dit dat universiteite hul selfvertroue verloor? Hoe gebeur dit dat ʼn eeue-oue tradisie en instelling homself nie kan verdedig nie? Wat gebeur as mense met goeie waardes hul selfvertoue verloor het? Wat gebeur as ʼn klein groepie anargiste te veel selfvertroue kry? Wanneer “breek” die oorhand oor “bou” kry; wanneer “brand” die oorhand oor “leer” kry; wanneer “eis” die oorhand oor “rede” kry; wanneer intimidasie sterker raak as kritiese gesprek; wanneer wanorde die oorhand oor orde kry; wanneer klippe die oorhand oor wetstoepassers kry; wanneer “toe” die oorhand oor “oop” kry. Dan word universiteite vernietig.

Gesonde waardes moet weer selfvertroue kry. Bloemfontein, Pretoria, Kaapstad, Durban, Stellenbosch en meer moet dit uitroep: Ons wil ʼn universiteit hê. Dosente moet sê: Ons wil kennis ontsluit. Studente moet sê: Ons is hier om te leer. Die meerderheid moet hul stem terugkry. Nie onkrities teen die huidige universiteitmodel nie, maar wel vir die idee van ʼn ordelike universiteit.

Wat as universiteitbesture aan die anargiste sê: “Nee, ons is ʼn universiteit?” Wat as die staat met al sy organe sê: “Nee, ons wil hê universiteite moet universiteite wees?” Nie “nee maar”, “nee dalk,” “nee miskien” nie. Die anargiste wil nie ʼn universiteit hê nie; hulle wil ʼn revolusie hê. Hulle wil nie skik nie; hulle val van die een eis na die volgende eis aan. Hou op om te retireer. Die meerderheid sê nee. Die meerderheid dosente sê nee, die meerderheid studente, ouers en Suid-Afrikaners sê “Nee!”. Verskillende sentrums van mag en nie net ʼn stembus nie, is die krag van demokrasie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
PW Growee

Nee.

Krappie

Beslis NEE!!!!!

Piet

DEFINITIEF NEE!!

Johann

As die regte mense nie hul voet neersit en daadwerklik iets aan die situasie doen nie, gaan die anargiste hul sin kry, dit moes lankal gebeur het. Die boodskap moet by die regte mense uitkom. Ek dink dit is reeds daar, maar hulle doen niks, dan wonder mens hoekom. En die universiteite, waar klop hulle aan, hulle het mos ‘n oorkoepelende raad, waarvan, as ek reg is, Habib, die voorsitter is, waarlangs hulle met mekaar kan kommunikeer, die minister, die regering. Dit is asof hulle tans dink dat hulle soos hulle nou die situasie met verdraagsaamheid hanteer, die anargiste se… Lees meer »

Therese van Schalkwyk

‘n Uitstekende stuk, maar … “Hoe gebeur dit dat ‘n eeue-oue tradisie en instelling homself nie kan verdedig nie?” Die antwoord is heel eenvoudig: politieke korrektheid. Onmiddellike en oordadige politieke onderdanigheid het elke voorheen Afrikaanse universiteit ‘n stadige dood laat sterf. Die trotse PUK lê baie dapper in die laaste loopgraaf. Die onderskeie rektors, aangestel na die nuwe bedeling SA getref het, is nie gekies vir ruggraat en murg in die pype nie. Om nie te praat van ‘n liefde vir Afrikaans nie, inteendeel. Ongelukkig te laat om “nee” te sê noudat die ‘regte mense’ uiteindelik wakker skrik. Mense soos… Lees meer »