ANC-beleid kragteloos wanneer boere saamwerk

  • Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA sê kleiner boere kan oorleef as daar slim saamgewerk word. (Foto: Daleen Gouws)

    Deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA

Landbou gedy op die lang duur as daar ʼn gesonde beleidsomgewing geld en die vraag ontstaan dus of landbou die ANC se destruktiewe beleid gaan oorleef.

Die belangrike punt waar hierdie vraag beantwoord moet word, is: Wat is die beskouing van alle rolspelers oor landbou in Suid-Afrika? Ongeveer 68% van ons land se inwoners is verstedelik. Met alle faktore in ag genome en vergeleke met ander voedselproduserende lande, word Suid-Afrika as ʼn marginale landbouland beskou. Om dan steeds voldoende gesonde kos te produseer vir Suid-Afrika se inwoners, kan ons nie anders as om die produserende kommersiële boere baie hoog in hul vermoë te ag nie.

Landbou gaan oor die winsgewende produksie van voedsel, gegewe die korrekte volhoubare benutting van die hulpbronne. Dit beteken dat elke plaas uit eie reg deurlopend deur die markkragte geëvalueer word. Indien dit dus korrek bestuur en daar wins gemaak word, kan daar volhoubare produksie wees.

Ons het in Suid-Afrika minder as 30 000 kommersiële boere wat grootliks die kos produseer vir die ongeveer 60 miljoen inwoners binne ons landsgrense. Dan is daar ʼn beduidende aantal sogenaamde bestaansboere wat op landbougrond woonagtig is en van wie weinig voldoende kos produseer om selfs net in hul eie behoeftes te voldoen. Baie van hulle is afhanklik van maatskaplike toelae om te kan bestaan. Dit is ʼn werklikheid en moet eerder beskou word as ʼn sosio-maatskaplike werklikheid waarvoor daar ʼn oplossing gevind moet word.

Daar behoort ʼn onderskeid getref te word oor wie is ʼn boer en wie nie. ʼn Eenvoudige kriterium kan wees dat diegene wat vir ʼn mark produseer as ʼn boer beskou kan word. Dit is dus diegene wat ʼn surplus produseer en sodoende help om die ekonomie te stimuleer en die bevolking te voed. Daar behoort ander kriteria toegepas te word om diegene wat in werklikheid nie boere is nie ook te lei oor hoe om wel winsgewend te produseer. ʼn Groot dilemma is egter beperkings op ekonomie van skaal deur die hulpbronne, waarvan beskikbare water ʼn groot faktor is.

Gedurende die inperkings tydens Covid-19 het ons landbouprodusente telkens die knoop deurgehak vir ons ekonomie deur ʼn bydrae te lewer. Daarbenewens is die kos op die tafel seker die grootste stabiliserende faktor wat landbou die afgelope twee jaar teweeggebring het. Indien enigiemand nog nie besef dat produserende kommersiële landbouers die grootste bate van ons land is nie, kan sodanige mense net as uiters kortsigtig of moedswillig beskou word.

Die vraag kom dan na vore oor waarom die beleidsomgewing wat die ANC-regering vestig in baie gevalle, maar spesifiek ook in die landbou-omgewing, uiters ongunstig is om sekerheid te vestig. Die mees kortsigtige benadering waaraan vasgehou word, is byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding. Geen belegger wat nugter die risiko’s verreken oor die veiligheid van sy kapitaal sal ongekwalifiseerd belê in ʼn land waar hetsy die grondwet, of selfs net wetgewing bepaal dat die staat jou bates kan vat sonder om daarvoor te betaal nie. Beleggings is juis een van die noodsaaklike vertrekpunte wat noodsaaklik is om ekonomiese groei te kan kry.

Breedweg beskou, is ons land tans onder die ANC se beleidsomgewing op ʼn negatiewe glybaan. Ons ekonomiese groeikoers laat veel te wense oor. Werkloosheid en die gepaardgaande armoede styg jaarliks en die oplossing bly steeds om net meer maatskaplike toelae aan te kondig. Op geen wyse is hierdie benadering volhoubaar nie.

Suid-Afrika het omvangryke sosio-maatskaplike werklikhede wat heeltyd toeneem. Die oorsaak van hierdie probleme moet duidelik blootgelê en op gefokus word om die oorsake op te los. Te veel energie word afgestaan om die simptome te probeer aanpak, in plaas daarvan om die oorsaak op te los. Die enigste volhoubare oplossing bly steeds om beduidende ekonomiese groei te verkry. Dit bly ʼn uitdaging om besluitnemers te laat verstaan wat is nodig om juis die nodige groei te kan bereik.

Hierdie induiestorting van onder meer dienste, infrastruktuur, insetmiddele, ʼn onstabiele arbeidsmag en swak veiligheidsdienste bring mee dat die huidige stabiliseerder van ons land, naamlik ons kommersiële boere, ook onder verkeerde onnodige druk geplaas word. Dit bring mee dat boere se winsgewendheid onder druk kom en dus ervaar ons dat al hoe meer boere gedwing word om handdoek in te gooi.

Van die plase gaan wel voort met produksie deurdat dit opgeneem word in megaboerderye, maar dit is nie die enigste bydrae wat elke familieboerdery, oftewel boerderye wat TLU SA sedert 1897 verteenwoordig, in ʼn gemeenskap teweegbring nie. Die feit dat daar familieboere in produksie bly, is die hoofrede hoekom die platteland voortleef. Die familieboerderye se rol word baie wyer erken as net die voedsel wat geproduseer word. Die landelike dorpies het grootliks hul voortbestaan te danke aan die boere van die distrik, werksgeleenthede wat geskep word, ekonomiese volhoubaarheid, asook ʼn sosiale en kultuurlewe. Dit is die bydrae van die boere en hul werkers, wat ʼn noodsaaklike hoeksteen vir die voortbestaan van plattelandse dorpies is.

Die afgelope tien jaar het TLU SA dit aan kommersiële boere in ʼn gemeenskap genoem om die moontlikheid te ondersoek of hulle nie binne ʼn sake-entiteit moet saamwerk nie. Die grootste hekkie om te oorbrug is of boere wel sal kan saamwerk. Met die regte bestuursmodel en ʼn baie goed opgestelde voorafkontrak waarbinne die voorwaardes vir die funksionering van so ʼn groter boerdery-eenheid (soos die bestuur en uitklimklousules) sal geld, is daar ʼn moontlikheid van sukses. Dit kan dalk net die model wees om die boer van daardie boerderyeenhede, wat nie meer die pyp alleen kan rook nie, steeds as die eienaar op die plaas te behou.

Die voordele van saamwerk is omvangryk en boere behoort dit ernstig te ondersoek. Sodoende word al die boere op hul plase behou en word dit nie uiteindelik ʼn geval van ʼn megaboer nie, maar wel ʼn megaboerdery met die voordeel dat die familieboere steeds op hul plase kan aanhou boer.

In die meeste gevalle is dit nie die boer se skuld dat hy in ʼn situasie beland waar daar nie voortgegaan kan word nie. Dit is vir geen instansie moontlik wanneer die skrif reeds aan die muur is om in daardie stadium dinge om te draai nie. Boere moet betyds hul reg posisioneer en nie wag dat dit te laat is nie.

Wêreldwyd is dit die tendens dat die kleiner boere deur omstandighede ingehaal word en mettertyd hul grond verlaat en megaboere die grond oorneem. Kollektiewe bedinging in gemeenskappe en hande vat met ander rolspelers, bring mee dat oorlewing moontlik is te midde van die onrealistiese beleidsomgewing wat tans ervaar word.

Dit is vir TLU SA belangrik om elke kommersiële boer in produksie op sy plase te behou en ook om winsgewend te wees. Dit gaan van boere self afhang watter keuses hulle maak vir hul toekoms.

Vir ʼn boer is dit belangrik dat die buurman ook volhoubaar en suksesvol sal wees. Indien ʼn plaas uit produksie gaan, is die kans groot dat dit ʼn plakkerskamp of deel van ʼn megaboer se onderneming word. Boere moet betyds hulself posisioneer vir volhoubaarheid en nie te lank wag om geleenthede te benut wat nog beskikbaar kan wees nie.

Boere het deur die jare hulself gevestig as rentmeesters van hul grond. Die vaste geloofsbegronding wat boere rig, is die rigsnoer wat as basis dien vir besluitneming. Vir ʼn Christen is dit juis deel daarvan om ons kultuuropdrag uit te leef in alles wat ons doen. Dit is ook ons primêre doel hier op aarde om eerstens alle eer te gee aan God vir die groot genade wat ons daagliks ontvang.

Gebou op die regte grondslag deur mekaar te ondersteun en saam hande te vat en planne te maak, kan ons die ANC se beleidsomgewing, wat vir niemand iets goeds inhou nie, betekenisloos maak terwyl ons oplossings vind.

Laat ons bid vir wysheid – dan sal ons die regte antwoorde op die regte tyd kry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Die IOL en news 24 netwerke is te lief om die twee mandjie stad boer to verhelde en skep n totale wanpersepsie van wat dit vat om te boer en verantwoordelik te wees vir honderde mense en hulle gesinne.

André ·

Ek hoop hierdie sal eendag werk. My pa het gesê dat as 3 boere ‘n dorp stig, dan is daar 4 politieke partye en 5 kerke. Onthou ons is ‘n land vol hardekoppe. Die hardekoppe wat nie onder die konings in Europa kon leef nie en die hardekoppe wat nie onder die konings in noord Afrika kon leef nie – almal sit nou hier, ‘n klomp hardekoppe wat moet saam leef en werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.