ANC-beleidskonferensie moet na korrupsie kyk

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Die ANC se beleidskonferensie vind eerskomende Vrydag by Nasrec in Johannesburg plaas. Dit is belangrik om in ag te neem dat die beleidskonferensie nie oor die bevoegdheid beskik om ANC-beleid te wysig nie. Daar word na bestaande beleid gekyk en wysigings word voorgestel. Slegs by die ANC se nasionale konferensie word hierdie voorstelle in oorweging geneem en wysigings aan bestaande beleid aanvaar of afgekeur.

Mediaberigte dui daarop dat die ANC homself daarmee getaak het om die uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid te ondersoek.

Dit is duidelik dat die komende beleidskonferensie baie sterk daarop gaan fokus om eenheid binne die party te bewerkstellig. Op die voorblad van elke besprekingsdokument staan daar: “Kom ons verdiep eenheid.”

Maar waarom is dit so belangrik om eenheid te bevorder terwyl daar duidelike teenkanting teen pres. Jacob Zuma is? Die antwoord is “mag”. Die vrees binne die ANC is nie dat Zuma se gewildheid gaan taan nie, maar eerder dat dit daartoe lei dat die ANC in die proses sy mag verloor.

Hoewel armoede en werkloosheid ongetwyfeld aandag moet geniet, behoort die ANC se beleidskonferensie veel eerder voorstelle te formuleer om korrupsie aan te spreek.

Pres. Zuma se ongesonde verhouding met eers die Schaik- en later die Guptafamilie maak dit duidelik dat korrupsie ʼn reuseprobleem binne die ANC is. Eintlik is die groter probleem die ANC se onvermoë om dit aan te pak. Ná twee termyne is Zuma steeds nie, soos sy voorganger Thabo Mbeki, herroep nie. In die parlement staan die speaker, Baleka Mbete, soos ʼn wafferse hekwagter tussen die president en opposisiepartye. Geen vrae oor korrupsieaantygings word in die nasionale vergadering geduld nie.

Intussen slaag die Zuma-faksie binne die ANC meesterlik daarin om Zuma se kritici binne die party as verraaiers uit te kryt wat die ANC probeer ontsetel. En die enigste manier waarop die anti-Zumafaksie buite die ANC die politieke terrein kan betree, is as hulle bereid is om soos hulle voorgangers in COPE, die UDM en die EFF in die opposisiebanke te sit. Dus kom daardie klein woordjie weer ter sprake – “mag”.

Te oordeel na die uitslae van die afgelope munisipale verkiesing lê die beskerming van mag en die keuse om die ANC as die regerende party te behou nie by die Zuma- of die anti-Zumafaksie nie. Die kiesers sal besluit of hulle bereid is om vir ʼn party te stem wat nie die bereidwilligheid toon om korrupsie aan te pak nie.

In die afgelope munisipale verkiesing is daardie protesstem uitgebring deur weg te bly van die stembus – nie deur vir ʼn ander party te stem nie. En tensy die ANC daarin slaag om sy kiesers te oortuig dat hulle korrupsie kan takel en skuldiges tot verantwoording roep, kan hy dieselfde uitslag in 2019 te wagte wees.

Dit is goed dat die ANC se beleidskomitee armoede en werkloosheid by die komende beleidskonferensie bespreek. Dit is egter baie belangriker om ʼn beleid te formuleer oor die hantering van korrupsie binne die party.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

?.. korrupsie… eenheid… ? Wat ons sien is die ANC vanaf dag een… Niks het verander nie buiten dat dit die buitewereld ‘n rat voor die oe gedraai het… en nou ons land beheer… en die haat en nyd en misdrywe in eie geledere woed voort en so ook die erge vergrype wat deel is van sulke glo bevrydingsgroepe. Wie in beheer is ook baas oor die buit.

Nico ·

Herroep hulle zuma moet die hele top struktuur gaan want zuma gaan nie alleen val nie hulle almal het n hand daarin

Johannes van Staden ·

Hulle gaan eerder gesels oor hoe hulle gaan oorleef. Hulle praat reeds meer as 23 jaar hoe om korrupsie te pleeg en was hulle uiters suksevol soos ons reeds weet. Nou is alles stukkend niks werk en die geldtjie is op …nou wat nou !

Magda ·

Die ANC moet die mense wat in hulle geledere is – eers vervolg en korrupsie uitroei, dan sal daar miskien eenheid weer kom – maar die kans dat dit gaan gebeur is 100% NUL – wie gaan nou die person wat jou sakke vul verwyder – so ANTI ANC – Skaam my dood vir zuma en kie en dan kry hulle nie eers skaam met wat hulle aan SA doen nie – maar wat verwag jy van iemand wat nie skool toe gegaan het nie !!

Eugene ·

Die ANC se beleid is reeds lank voor 1960 goedgekeur. Daarvan sal nooit afgewyk word nie. Die beleid is in sement gegiet. Hierdie konferensies gaan daaroor om maniere te vind om die beleid uit te voer!

Martin de Beer ·

Ons sit met n masiewe probleem en dit gaan ons absoluut vernuutig as n land en as n ras. Ons probleem is dat ons glad nie kyk na so bietjie geskiedenis nie, waar ons vandaan kom wie is nou die rol spelers en wat druif hierdie haat op die oomblik? ek was stom geslaan toe ek begin kyk na hierdie basiese maar brood nodige inligting. As ons nie kyk na die foute wat gemaak is in die verlede nie gaan ons moontlik dieselfde foute weer maak? Besef julle dat die eerste “Holocaust” hier in SA gebeur het toe die Engelse ons vrouens en kinders in konsetrasie kampe laat sterf het van honger terwyl hulle ALLE plaase af gebrand het? niks minders as 26 500 vrouens en kinders. Dieselfde groep wat nou amok maak deer ras verbante propogande in Amerika veroorsaak is dieslefde group wat alles hier in SA veroorsaak. Vanaf 1933, die fondse, die planne alles speel af net soos hierdie Luciferian groep dit beplan het. Ek sal probeer om nou n paar links hier te laai maar is nie seker of dit gaan toegelaat word nie. Rassisme is n tool van die duiwel en die Televisie is die ander tool. ek is 32 jaar oud so moet asb nie die sien as oudtydse opinie nie. Jesus Christus het my so 24 maande terug gered en ek was nog nooit dieselfde nie. Alle Glorie aan Jesus en ALLE mense wat hom ken. Amen

Rynhardt ·

Ek het net een vraag.Hoe wil die Anc korrupsie uitroei as hy Zuma nie eens wil vervolg vir 783klagtes nie?? Dit het te lekker geword om die korrupte soustrein te ry, want jy kan oornag n miljoener word, sonder om n vinger te verroer!

Afrikaanse Knaap ·

Die ANC se beleid van dieftal is so eenvouding ‘n kleuter kan dit raak sien.
Die ANC is gekaap deur ‘n kriminele kartel.

MH ·

Natuurlik kyk die ANC na korrupsie. Hulle soek na maniere om nog meer korrup te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.