ANC gee net lippediens sewentig jaar na verklaring van menseregte

menseregte

Argieffoto.

Maandag 10 Desember is die 70ste herdenking van die aanvaarding van die Universele Verklaring van Menseregte.

Die Verklaring is op 10 Desember 1948 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in Parys aanvaar (Algemene Vergadering Resolusie 217 A) as ’n gemeenskaplike standaard vir alle mense en alle nasies. Dit verklaar dat die fundamentele menseregte vir die eerste keer universeel beskerm word.

Een van die hoekstene van die Universele Verklaring van Menseregte handel oor eiendomsregte soos in artikel 17 vervat:

  1. Elkeen het die reg om individueel en in assosiasie met ander eiendom te besit.
  2. Niemand se eiendom sal arbitrêr afgeneem word nie.  

Hoofstuk twee van die SA Grondwet, ook bekend as die Handves van Regte soos ons dit vandag ken, is gegrond op twee belangrike dokumente in die geskiedenis van die stryd vir menslike geregtigheid: “die Universele Verklaring van Menseregte en die Vryheidsmanifes”.

Selfs die Suid-Afrikaanse parlement wat 20 jaar van demokrasie gevier het, het in ʼn dokument om menseregte te bevorder, in die openbaar verklaar dat “die Universele Verklaring van Menseregte ‘n voorganger van ons Handves van Regte is”. Hulle verklaar voorts dat “die Handves van Regte ‘n hoeksteen van demokrasie in Suid-Afrika is en ons regte beskerm”, en meld dan 27 regte waarvan die reg op eiendom as die sewentiende reg gelys word. Is dit toevallig aangesien eiendom ook onder artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte gelys word?

Nou dring dieselfde parlement, op die aandrang van beide die ANC en die EFF, aan op ’n wysiging van die Grondwet van 1996 en veral artikel 25 van die Handves van Regte, om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Hierdeur verwerp veral die ANC die bepalings van die Universele Verklaring van Menseregte en begeef hulle op gevaarlike en gladde ys met die voldoening aan ander fundamentele regte.

’n Paar dae gelede het president Ramaphosa, as hoofspreker ter geleentheid van die 70ste viering van die Universele Verklaring van Menseregte, by Constitution Hill gesê:

“Dit was die Universele Verklaring van Menseregte, miskien meer as enige ander internasionale regsinstrument, wat die meeste bygedra het om menseregtebeginsels in ons wetgewing te vestig”. Hy het onderneem dat “die Grondwet ons verbintenis demonstreer aan die Universele Verklaring van Menseregte”.

Dit was ook Ramaphosa wat laataand op 31 Julie 2018 aangekondig het dat die Grondwet gewysig moet word “om eksplisiet te wees oor onteiening van grond sonder vergoeding, soos deur die openbare verhore gedemonstreer”.

Dit het sedertdien duidelik geword uit die parlementêre proses dat die ANC baie min of geen aptyt het vir enige nakoming aan die Universele Verklaring van Menseregte nie. Hulle is eerder besig om hul eie vertolking van die Vryheidsmanifes te bevorder en tweedens, het ’n onomkeerbare proses begin met politieke herskikking ten gunste van die EFF en die nuwe rassisme van Julius Malema.

Met die algemene verkiesing van 2019 voor oë is dit duidelik dat kortsigtige politieke winste belangriker is as grondwetlike regte en waardes, en die Universele Verklaring van Menseregte is bloot ’n irritasie. Hierdie tipe politieke herskikking sal beslis nou diegene wat die Vryheidsmanifes vooropstel (die Charteriste) skei van diegene wat grondwetlike waardes bevorder en die Universele Verklaring van Menseregte onderskryf. Dit is klinkklaar dat die ANC toenemend al hoe meer slegs lippediens bewys aan die beskerming van fundamentele menseregte soos sewentig jaar gelede beoog is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B ·

Maar op die vorige bladsy (by wyse van spreke) predik Herman Toerien gedagtelike oorgawe aan die onderdrukkers?

Hmmm, bly JB bring weer perspektief :)

Gert ·

Hier glo hulle net aan swart menseregte. Swartes het ‘n reg op grond, en hulle mag dit dus vat by wittes. Soos Malema gese het: Geen witte het ‘n reg op grond nie. So ook glo die MRK dat dit aanvaarbaar is om enige haatspraak te maak teen wittes, maar as ‘n witte net die k-woord gebruik, moet hy toegesluit en die sleutel weggegooi word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.