ANC is vissers van die skatkis

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

In Maart belowe Cyril Ramaphosa daar sal nie bedrog gepleeg word met Covid-19-fondse nie. In Julie stel hy ’n kommissie van ondersoek aan om die bedrog te ondersoek. Op 28 Julie onthul die Sunday Times bedrog van R2,2 miljard wat in drie provinsies met Covid-geld gepleeg is.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sê in ’n onderhoud met Newzroom Africa: “Die mense weet die ANC sal nooit korrupsie duld nie.” En dan vaar hy oudergewoonte uit teen witmonopoliekapitaal: “As swart mense uitstyg, word dit korrupsie genoem.”

Hy sê voorts die ANC het “die gemors” in munisipaliteite geërf. Verskoon my, maar dit het nie voor 1994 bestaan nie en is deur die ANC geskep!

Hy ontken ook dat die vrot munisipale ouditverslae spruit uit die swak ontplooiing van ANC-kaders (net 20 uit die 257 munisipaliteite kry skoon verslae, die ander is onredbaar.) Intussen is Bloemfontein en Pietermaritzburg onder administrasie, Durban is so te sê bankrot, Pretoria is ’n gemors en Port Elizabeth is ’n mesdikte weg van ineenstorting.

Magashule word self by korrupsie betrek, onder meer in Gangster State, ’n bekroonde boek deur Pieter-Louis Myburgh.

Ongebreidelde aanwas

(Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

In Kaapstad was daar dae lank geweld, brandstigting, padbesettings en protesaksies van die Gatvol Capetonians oor behuising. Van die protesaksies gaan ook oor krag wat afwesig is omdat lede van dieselfde gemeenskap die kabels gesteel het.

Die Kaap het weens die ongebreidelde aanwas en instroming uit die Oos-Kaap geweldige probleme. Gebiede wat in die winter oorstroom word, ondanks die DA se pogings om dit te keer, deur plakkers beset en dan ontstaan ’n plakkerskamp by Dunoon soos op die onlangse foto.

As jy ’n nuusbron oopmaak, is daar hoofsaaklik twee stories: Een oor Covid se syfers – mank soos hulle is – en een oor ANC-bedrog met Covid-verwante fondse.

En intussen sleep die Zondo-kommissie, wat belastingbetalers reeds R700 miljoen uit die sak gejaag het, voort terwyl dit lankal duidelik is dat daar niks van gaan kom nie. Jy is mos onskuldig totdat die teendeel bewys is. En ons hele regstelsel funksioneer nie eintlik meer nie – dis hoekom 68 verhoorafwagtendes uit Malmesbury se tronk ontsnap. Van hulle kla dat hulle al sewe jaar op ’n verhoor wag en dat hulle nou al hul vonnisse uitgedien het.

Ek kan getuig van die situasie in ’n groot tronk in die Wes-Kaap. Bewaarders sit in hul kantore die tyd en verwyl. Baie van hulle is lede van misdaadsindikate en smokkel goed in vir die gevangenes wat siviele skoene en broeke met sakke dra en van rehabilitasie kom daar dadels.

ANC se sleepnet

Argieffoto

In die Nuwe Testament word Jesus aangehaal dat ons vissers van mense moet wees. Die ANC se weergawe is om vissers van die skatkis te wees, of om mense aan te stel wat dit vir die party en hulself doen. En hy is nie kieskeurig nie, daar word sommer ’n sleepnet uitgegooi en almal beland in die groot see van korrupsie.

In die jongste nuus oor grondonteiening wil die ANC geen ruimte laat vir hofsake oor geen vergoeding nie – die politici sal besluit, klaar en gedaan. Dis mos kommunisme en ontoerekenbaarheid in sy suiwerste vorm!

Word daar begin deur plase wat kos vir ’n ontploffende bevolking produseer af te neem? Of met die wynplase, waarvan sommige al geslagte lank aan families behoort? Die bedryf het in 14 weke reeds R4,5 miljard aan inkomste verloor – R300 miljoen per week. 18 000 werknemers is al sonder werk. Vermenigvuldig met vyf gee dit jou 90 000 afhanklikes. Die SAB het reeds ’n dekade gelede gesê die maatskappy en sy affiliasie van bottelmakers het in 2009 werk aan 350 000 mense verskaf. En die boere sit met ’n oorskot van 300 miljoen liter wyn.

Hoeveel van hierdie plase sal gaan aan mense wat wil en kan kos produseer en hoeveel aan kaders wat dit vir eie gewin vir die hoogste bod verkoop?

Uit die mislukte staat op ons noordgrens word berig dat Zimbabwe VSA$3,5 miljard gaan vergoed aan boere wie se plase hulle ontneem is. Klink of daar ’n lig opgegaan het. Maar Zimbabwe het nog nie die geld nie en ons sal maar kyk waarvoor dit aangewend word ás hy dit kry. Gaan dit hier anders wees?

Nou gaan daar $4,3 miljard by die IMF en $1 miljard van die Nuwe Ontwikkelingsbank geleen word. R10 miljard is nodig om die SAL in die lug te hou en ons is besig om af te stuur op ’n 81%-tekort op die BBP.

Koronapandemie

(Argieffoto)

Die geskiedenis sal seker eendag uitspraak gee oor die ANC se hantering van die koronapandemie. Tot op hede is daar, volgens Sakeliga se berekeninge, al 1 613 bladsye met regulasies en regstellende besluite uitgereik omdat die regulasies so onduidelik en onvolledig was.

Die BBC het beeldmateriaal vertoon van die Livingston-hospitaal in die Oos-Kaap waar rotte aas op die bloed en ander gemors op die vloere. Die menslike ekskrement teen die mure en plafon is net in die kommentaar genoem. Die skoonmakers staak omdat dit nie hul werk is om dit op te ruim nie.

Panyaza Lesufi, een van die grootste vyande van Afrikaans, maak die erkenning: “Die wantroue tussen die leierskap en ons mense groei daagliks. Nog nooit in ons geskiedenis het hebsug en wantroue ons mense se gedagtes so oorheers nie.”

ʼn Verkiesing moet volgende jaar plaasvind, maar daar is praatjies van selfs drie jaar se uitstel. Sou daar wel ’n verkiesing kom – Afrika is nie juis bekend vir regverdige verkiesings nie – is die vraag: Wie gaan die ANC wat straks ’n samewerkingsooreenkoms met die EFF kan sluit, probeer stuit? ’n Meer demokratiese alliansie? Maar alliansies werk in Europa, maar nie juis in ons munisipaliteite nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Die ongenaakbaarste spul verorberaars in die geskiedenis van die wereld .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.