ANC katrol die Engelse pers in

Argieffoto

Argieffoto

Asof die ANC die rand en die land nie genoeg skade berokken het nie, het hy sy tande ook diep in die Engelse pers ingeslaan met die ietwat bedekte oorname van Independent Media se 18 koerante deur Iqbal Survé se Sekunjalo-konsortium, grotendeels met regeringsgeld.

Dit vorm deel van die regering se “goeie nuus”-veldtog, met die bankrot SAUK wat die kitaar van die groot verhoog af slaan. In die proses word met belastingbetalers se geld gewoeker, terwyl daar ook miljoene rand uit staatspensioene vir die doel aangewend is.

ʼn Mens moet nie juis verwag dat hierdie koerante krities sal rapporteer oor die feit dat Nommer Een nou kind Nommer 20 by moeder Nommer Sewe verwek het nie. Hulle is ook nie geneig om die DA se verslagkaart oor die ANC se kabinet te publiseer nie.

En dan is daar ook allerlei muilbandwetsontwerpe teen vryheid van spraak op die horison. Dit kan onder meer bepaal dat elke individu of organisasie wat digitale inhoud op die internet plaas, hom eers by die Rolprent-en-Publikasieraad moet registeer. Dit sal ook geld as jy ʼn foto van jou middagete op Instagram plaas of kommentaar lewer op Facebook.

Soos sake nou staan, is dit nog net Engelse koerante soos die Sunday Times, Mail & Guardian, Business Day, City Press, The Citizen en die internetnuusdiensdienste soos Politics Web en Rand Daily Mail wat Engelse lesers min of meer onbevange met kritiek jeens die ANC se ergste wandade inlig. Tot tyd en wyl….

Die ANC se eerste mediabelegging was in 2012 met die stigting van The New Age, ʼn pro-regeringskoerant wat deur die Guptas besit word. In sy eerste jaar is sowat R125 miljoen se advertensiegeld ingesamel, waarvan R75 miljoen vanuit die regering, semi-staatsinstellings en organisasies met regeringsbande afkomstig was.

Ter wille van balans moet daar ook vermeld word dat die Nasionale Party van John Vorster in wat as die Inligtingskandaal onthul is en tot sy bedanking as president gelei het, aan dieselfde soort vergrype skuldig was.

Die New Age-sirkus kos steeds miljoene terwyl niemand weet wat die sirkulasie van die koerant is nie aangesien hy weier om, soos alle ander koerante, deur die Ouditburo vir Sirkulasie (ABC) geoudit te word. Die koerant sê hy druk en versprei daagliks 100 000 eksemplare en maak aanspraak op verkope van 84 000 – dieselfde as die lank gevestigde hoofstroomkoerante The Star en Sowetan.

Twee jaar gelede het Mail & Guardian berig dat die bankrot SAL onderneem het om daagliks 63 000 eksemplare van die koerant te koop, terwyl daar ook onoopgemaakte pakke van The New Age in staatskantore lê. ʼn Gewese werknemer van die koerant gesê duisende eksemplare van die onverkoopte oplaag word daagliks vir herwinning na Indië verskeep om te verhoed dat die verneukspul met sirkulasie (soos destyds met die Perskor-skandaal) in Suid-Afrika uitlek.

Sekunjalo en Independent Media

Maar verreweg die grootste rimpelings in die plaaslike koerantbedryf het gebeur toe Iqbal Survé se Sekunjalo-mediakonsortium in 2013 die beherende aandeel (55%) van Independent Media bekom het met opdragte oor hoe daar oor politiek berig moet word.

Die Independent-groep is deur Sekunjalo vir R2 miljard van sy Ierse eienaars gekoop nadat Tony O’Reilly se groep Independent leeg gemelk het om sy Britse titels aan die gang te hou.

Survé het erken dat van die meeste beleggingsgeld afkomstig is van ʼn lening van die Staatspensioenfonds (R791 miljoen, tans R896 miljoen). Die Public Investment Corporation (PIC) wat ten volle in staatsbesit is, het 62,5% van die oorspronklike kooprys verskaf.

ʼn Hele paar redakteurs van Independent se koerante het uit protes teen die oorname bedank.

Geen koerant is so hard getref as die Cape Times nie – ʼn koerant wat sedert 1876 al bekend is vir sy gehalte. Hier is – as deel van Survé se regstellingsaksie – ruimskoots vuur gemaak onder die koerant se personeel en is daar ook ontslae geraak van vooraanstaande rubriekskrywers (wat almal ʼn nuwe tuiste by Media24 gevind het). Die vryskutmeningsvormer Max du Preez het ook sy bande met die groep verbreek en daar is van dosyne ervare joernaliste ontslae geraak. (Die koerant se jongste sirkulasie is 30 000 teenoor Die Burger se 54 000.)

Die redakteur, Alide Desnois, is ook uit haar pos onthef, iets wat tot groot protes in veral Kaapse koerantkringe gelei het. Haar ongewildheid was skynbaar gegrond op haar onthulling van korrupsie deur die eertydse ANC-leier Ebrahim Rasool en ʼn voorbladberig waarin Survé en Sekunjalo in ‘n swak lig gestel is rakende die Openbare Beskermer se bevinding oor visvangkonsessies. Daar was ʼn bedrag van R800 miljoen ter sprake.

Die koerant se hantering van Nelson Mandela se dood was moontlik die laaste strooi (of verskoning) vir Survé. Die nuus het ná die aand se spertyd gebeur en die Cape Times het dit – soos Die Burger – metʼn baadjie rondom die hoofkoerant aangekondig. Survé het dit as ʼn politiek geïnspireerde belediging vir Mandela beskou.

Amerikaanse media

Beskouings van Survé se swak joernalistieke oordeel blyk uit twee kommentare deur gerespekteerde Amerikaanse media.

Time het die koerant geloof vir sy deeglike grafskrif ná die dood van Mandela en dit een van die bestes genoem. Twintig maande later – ná Sekunjalo se oorname – het The Economist ʼn artikel gepubliseer oor hoe die ANC ʼn aansienlike deel van die Suid-Afrikaanse koerantmark bekom het. Die opskrif was “Happy, patriotic news – Freedom of the press is being chipped away under an embattled ANC”.

Intussen loop die koerant gereeld deur oor die swak gehalte van beriggewing (daar was ook voorbeelde van plagiaat), die swak versorging van die Engelse taal, sensorskap deur weglatings, partydige rapportering, sinistere en manipulerende redigering en die ignoreer van die beginsel van audi alteram partem (laat die ander kant ook gehoor word). Dit is ook wat gebeur het toe die Mbeki-faksie die SAUK oorgeneem het met onder meer die aanstelling van Snuki Zikalala as hoof van nuus.

Dit is geen geheim nie dat die ANC niks ontsien om die Wes-Kaap – die enigste juweel onder die nege provinsies – van die DA weg te rokkel. Allerlei vorms van destabilisasie en propaganda word aangewend en die Cape Times word ingespan om alles wat die DA-regering doen, verdag te maak. Hiervoor het hy in Sekunjalo met sy basis van belastinggeld ʼn ideale vennoot. The Star is nou tot dieselfde mate die ANC se handperd in Gauteng, waar ʼn kwaai politieke stryd verwag word.

Waar staan die ANC self? Die regerende party vereis nie net “transformasie” van die koerante nie – meer vroue en meer swart mense – maar ook dat die media meer “patrioties” moet wees. Faith Muthambi, die minister van kommunikasie wat so pateties kommunikeer, het ook gesê haar departement streef na die stigting van ʼn mediahuis wat deur swart mense besit word (en sonder twyfel na die ANC se poppe sal moet dans).

Daar kan gewonder word wanneer, hoe en of Sekunjalo in die huidige ekonomiese klimaat en met koerante wat sukkel om finansieel staande te bly sy lenings gaan terugbetaal, en of die skuld maar net deur die ANC afgeskryf sal word.

ʼn Minderwaardige produk lei meestal tot groot verliese.

*Sekunjalo kan letterlik vertaal word as “die tyd het aangebreek”.

Die Inligtingskandaal

PW Botha se strengste vorms van sensuur in die 1980’s is voorafgegaan deur die Inligtingskandaal. Premier BJ Vorster, dr. Connie Mulder (Minister van inligting) en dr. Eschel Rhoodie (sekretaris in dieselfde departement) is geïmpliseer in planne om staatsgeld te bestee teen die propagandaoorlog teen die apartheidsregering.

Vorster het in 1973 ingestem tot Mulder se plan om sowat R64 miljoen van die verdedigingsbegroting vir ʼn reeks propagandaveldtogte te gebruik. Die planne was om internasionale nuusagentskappe om te koop vir positiewe beriggewing en die aankoop van die Washington Star.

Vorster is ook geïmpliseer in die gebruik van ʼn geheime politieke omkoopfonds om The Citizen mee te stig. Hiervoor is R12 miljoen aan die sakeman dr. Louis Luyt “geleen”. Die nuustydskrif To the Point – losweg geskoei op die Amerikaanse Time – is ook as propagandamiddel met Otto Krause as redakteur en ʼn Nederlandse uitgewer op die been gebring.

Die Erasmus-kommissie het middel 1979 bevind dat Vorster “alles” van die korrupsie geweet en dit goedgekeur het. Vorster is in Oktober 1978 as premier deur Botha opgevolg en het die amp van staatspresident aanvaar voordat hy in Januarie 1979 finaal uit die politiek getree het.

Botha se streng sensuur in die 1980’s was die NP-regering se bolwerk teen wat deur hom as die “totale aanslag” beskryf is. Hy het ook die verwagte verloop daarvan geskets:

  1. ʼn Revolusionêre klimaat word gekweek.
  2. Terreurstryd.
  3. Internasionale isolasie.
  4. Neutralisering van die weermag.
  5. Militêre magsoorname.

Koerante het begin deur oop spasies te laat waar berigte gesensor was, maar is later ook verbied om dit te doen.

Bron: Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 1 Maart 2009

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: In diepte, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Peet Schabort ·

Gerusstellend blyk te wees dat wanneer die toiletpapier opraak in SA daar genoeg koerantpapier sal wees . . .

Johann ·

En pas het Nommer Een die Wetsontwerp op pensioenfondse/annüiteite geteken! Nou “sien ek die lig”! Dit is ‘n kwaai terugslag vir dié van ons wat wéét hoe om ons finansies te hanteer… Ai tog! Wat is volgende?

Rynhardt ·

Talle media-instellings onder die Anc gee afgewaterde, gemors nuus vir die publiek! SABC2 afrikaanse nuus dien as klassieke voorbeeld, veral as jy nie die goeie oordeel kan handhaaf nie.Baie koerante is pro-liberaal en Anc gesind.Hulle funksioneer volgens polities korrekte draaiboeke.Die New Age is in die hande van die Guptas wat na Zuma se pype dans.Die Rand Daily Mail en die Sunday Times is mondstukke van Brittanje! Nou kan jy verstaan hoekom ons met n vyandige media teenoor die Afrikaner/Boervolk sit!Elke dag word n groot gedeelte van ons mense gebreinspoel deur bogenoemde, vyandige media.Jou afrikaanse dagblaaie, soos die Burger, Beeld en Rapport is liberaal en Anc gesind.Daar is tans geen afrikaanse dagblad wat tans ons Afrikaner/Boervolk se taal praat nie.Media24 het niks om te spog oor n 100jaar nie, want saam met die NP het hul ons mense van hul land en toekoms beroof op n bedrieglike maniwr.Die amerikaanse skrywer, Steve Quayle het ip 28Desember2015 bekend gemaak dat alle opregte omroepers by radiostasies vervang word met liberale, sodat verxer breinspoeling gehandhaaf kan word.As jy verstaan wie die wereldmedia beheer, dan is dit nie moeilik om te sien hoekom die liberale oral hul kloue inslaan nie!

GES ·

Ek hoop nie Zapiro gaan stil gemaak word nie. Hy het nogal die vloer gevee met die libberales en die korruptes.

Pieter ·

Org, dis mos alles baie ou nuus! Ek sien geen nuwe feite of nuwe analise nie. Ai tog.

Frans ·

So word dinge stadig maar seker op die Russiese model geskoei, waar die konstitusie ook vryheid van spraak en pers insluit,maar omdat Russiese wetgewing ‘n breë definisie van
ekstrimisme insluit is dit ‘n gerieflike manier om mense ,veral joernaliste wat krities is, oor die regering se monde te snoer deur gebruikmaking van ‘n verdagte regstelsel.

Is dit waarheen Suid Afrika onder die ANC op pad is?

Chicks ·

Meeste Suid Afrikaners was verheug dat Clem Sunter se “High Road” opsie gevolg was ipv die alternatief. Maar met Numba Wun aan die stuur ,ry ons vandag op ‘n pad wat deur Noord Korea gebou en deur Robert Mugabe ingehuldig was . Die bestemming sal ongelukkig meer rampspoedig uitdraai as wat die Dorslandtrekkers beleef het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.