ANC-lyste en minderhede

Argieffoto

Bruin, Indiër en wit ANC-kandidate vir die 2019-verkiesing is die slagoffers van die stryd tussen die Ramaphosa- en Zuma-faksies in die ANC. Meeste van hierdie kandidate, insluitende ministers en voorsitters van portefeuljekomitees, is so laag op die ANC-kandidaatlyste geplaas dat dit die einde van hul parlementêre loopbane is. Hulle sal nie tot die parlement herkies word nie.

Wantroue teenoor bruin, Indiër en wit lede is niks nuuts in die ANC nie. Dit is ’n stryd wat oor jare kom tussen swart nasionaliste in die ANC en meer gematigde ANC-lede. Selfs Nelson Mandela was as jong ANC-jeuglid daarteen gekant dat Indiër, bruin en wit lede van die ANC saam aan betogings deelneem. Later jare het hy sy siening dat die ANC net suiwer swart moet bly, verander.

Met die stigting van die ANC-jeugliga in 1944 het jeugleiers soos Anton Lembede en AP Mda skaamteloos hul wantroue teenoor bruin, Asiër en wit individue wat deel van die ANC stryd was, uitgespreek. “It is only African Nationalism or Africanism that can save the African people”, was Lembede se standpunt.

Die aanvaarding van die ANC se Vryheidsmanifes in 1955 was ’n ernstige terugslag vir hierdie swart nasionaliste. In die Vryheidsmanifes se inleiding word gestel dat Suid-Afrika aan almal behoort wat hier bly, swart en wit. Die swart nasionaliste se beswaar teen hierdie sin is met ’n groot meerderheid deur die afgevaardigdes by die Kliptown-kongres verwerp.

Midde-in die huidige 2019-magstryd tussen die Zuma- en Ramaphosa-faksies in die ANC, lyk dit of hierdie veelrassige ideale vir eers op die agtergrond geskuif is.

Pravin Gordhan is een van die mees senior ANC-ministers met ’n lang kabinetrekord. Die 34 huidige ministers is almal in gunstige posisies op die ANC-kandidatelys geplaas. As jy na Pravin Gordhan op die ANC se kandidatelys soek, moet jy aflees tot by nommer 73. Dit moet vir hom ’n belediging wees om so laag op die lys te wees ná alles wat hy reeds in sy loopbaan vir die ANC opgeoffer het.

Om die belediging te kan beoordeel, moet Pravin Gordhan se posisie op die lys met van die ander ministers se posisies vergelyk word. Vergelyk byvoorbeeld die goeie posisies op die ANC-kandidatelys van die omstrede Gupta-ministers:

Nomvula Mokonyane: Sy word betrek by verskeie skandale waaronder die toekenning van kontrakte vir die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Angelo Agrizzi beweer dat Mokonyane maandeliks R50 000 deur Bosasa betaal is om te help keer dat Bosasa deur die regsinstansies ondersoek word asook dat daar op haar versoek vier kaste whisky, 12 kaste hoender en ander kruideniersware elke Kersfees by haar huis afgelaai is. Sy is nommer 10 op die ANC-kandidatelys vir die parlement.

Bathabile Dlamini: Die grondwethof bevind dat haar dom besluite verantwoordelik was daarvoor dat die staat se betaling van 17 miljoen welsynstoelae byna tot stilstand gekom het. Die hof het ook bevind dat sy onder eed gejok het en onbevoeg is vir haar werk. Vroeër in haar loopbaan is sy skuldig bevind aan bedrog ter waarde van R245 000 in die Travelgate-skandaal. Sy is nommer 14 op die lys.

Malusi Gigaba: Die portefeuljekomitee oor binnelandse sake het bevind dat Gigaba onwettig opgetree het toe hy gehelp het om Suid-Afrikaanse burgerskap aan lede van die Gupta-familie toe te ken. Behalwe vir sy berugte seksvideo het die Openbare Beskermer ook bevind dat Gigaba die Grondwet oortree het asook die uitvoerende gesag se etiese kode deur onder eed te jok oor die Fireblade Aviation-saak. Hy is nommer 23.

David Mahlobo: ’n Kommissie van ondersoek het bevind dat hy die Grondwet, wetgewing en ander beleidsvoorskrifte oor staatsveiligheid geïgnoreer het en die land se intelligensiediens misbruik het om die belange van sekere individue en faksies in die ANC te dien. Hy is nommer 28.

Bongani Bonga: As ’n vurige ondersteuner van Zuma word hy as ’n onbekende agterbanker ná drie jaar in die parlement minister van staatsveiligheid. Ná net vier maande verlaat hy die pos terwyl die parlement bewerings teen hom ondersoek. Die bewerings is dat hy met omkoop probeer het om die parlement se ondersoek na Eskom te kelder. Hy is nommer 41.

Collen Maine: As ANC-jeugleier en vurige Zuma-ondersteuner erken hy sy verbintenis met die Guptas. Na bewering het die Guptas R140 000 per maand betaal aan Maine se huis. Hy is nommer 47.

Supra Mahumapelo: Die omstrede premier van Noordwes is uit sy pos onthef ná die chaos in Noordwes waardeur meeste dienste in die provinsie in duie gestort het. Hy is nommer 58.

In vergelyking met hierdie kandidate is Pravin Gordhan 73ste op die lys geplaas.

Dalk is dit Gordhan se ernstige uitsprake ten gunste van finansiële dissipline en teen korrupsie wat hom minder gewild by die algemene ANC-lede maak, kan geredeneer word.

As dit waar is, behoort Tito Mboweni, minister van finansies, baie verder af as Gordhan op die lys te wees. Tito Mboweni se uitsprake oor finansiële dissipline is baie ernstiger en selfs wilder as Gordhan s’n. Tog is Mboweni nommer 22 op die lys.

Wat van die ander ministers van minderheidsgroepe soos die wit en bruin ministers in die kabinet? Tans is daar naas Pravin Gordhan net drie: Derek Hanekom, minister van toerisme; Rob Davis, minister van handel en nywerheid en Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling.

Derek Hanekom het ook rede om gegrief te wees. Hy is ’n senior minister wat reeds in 1994 in Mandela se tyd minister van landbou was. Hy is nou nommer 95 op die lys.

In die 2014-verkiesing het die ANC 62% steun gekry. Dit het beteken dat van die 200 kandidate op die ANC se nasionale lys tot by kandidaat nommer 127 op die lys tot die parlement verkies is. As nommer 95 op die lys mag Hanekom gegrief wees, maar hy behoort verkies te word indien die ANC tussen 55% en 60% steun kry soos die meningspeilings tans aandui.

Ebrahim Patel is nommer 137 op die lys wat hom onverkiesbaar maak terwyl Rob Davis glad nie die lys gehaal het nie.

Wat adjunkministers betref, is Andries Nel, adjunkminister van samewerkende regering, nommer 117. As die ANC nie naby aan 60% steun in hierdie verkiesing kry nie, sal hy dit nie maak nie.

Enver Surty, adjunkminister van basiese onderwys; Fatima Chohan, adjunkminister van binnelandse sake; Gert Oosthuizen, adjunkminister van sport en Luwellyn Landers, adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, het nie een die ANC se kandidatelyste gehaal nie.  Hulle is almal lede van minderheidsgroepe binne die ANC en gaan nie een terug parlement toe nie.

Dieselfde geld vir ANC-voorsitters van portefeuljekomitees wat as lede van minderheidsgroepe beskryf kan word.

Yunus Carrim is ’n voormalige adjunkminister en voorsitter van die Parlement se staande komitee oor finansies. Hy is nommer 148 wat beteken dat hy nie teruggaan parlement toe nie.

Dieselfde geld vir Francois Beukman. Hy is tans die ANC-voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie en word as hardwerkend gesien. Van die 200 kandidate op die ANC se nasionale lys is hy nommer 198. Dit is ’n onverkiesbare posisie.

Beteken dit die veelrassige reënboogdroom van die ANC was net ’n oppervlakkige siening van die ANC wat onder druk verdwyn? Gaan Ramaphosa dit ná die verkiesing probeer herstel of is die Malema-tipe swart nasionalistiese benadering ons voorland?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nico K ·

Ja dit lyk beslis so. Kom ons kyk maar na al die blankes wat na 1994 by die ANC aangesluit het. (Waar is Kortbroek vandag?) ‘n Minder bekende is Barry Gilder wat reeds in die 70’s SA verlaat het om militêre opleiding in Rusland te kry, prominet in die ANC se militêre stryd gewees, getroud met ‘n swart vrou, ens. Hy was DG van Binnelandse Sake en is uitgewerk deur ‘n swart vrou as minister. Ek dink die meerderheid van hulle besef vandag hulle het ‘n fout gemaak.

Henry Welman ·

Dis so jammer dat ons in so ‘n siek situasie in dié land beland het. Dankie vir die inligting doktor Mulder. Die meerderheid mense wat aanhou stem vir die ANC weet natuurlik nie van hierdie goed nie en dink ook seker nie daaraan nie. Dit voorspel niks goed nie. So bitter jammer!

Judge Dredd ·

Mense met ‘n bietjie logika weet lankal al dat die reenboog nasie beskrywing maar net ‘n manier was om die internasionale gemeenskap, libleke en gematigdes te flous/ gelukkig te hou.

As jy een van die is wat geflous is – dan weet jy in watter kategorie jy val en dis tyd om jul ogies oop te maak en jul verstandjies te gebruik.

Deon ·

Blankes word al lankal gemarginaliseer. My vraag is wat gaan Afrikaners nou doen. Wat is ons opsies. Die tyd het aangebreek dat belangegroepe die strydbyl begrawe en begin werk aan ‘n plan wat ons voortbestaan sal verseker. Tans boer ons agteruit en staar uitwissing in die gesig.

RJW ·

Ek het al met die eerste verkiesing in 1994 gesien dat dit beter is om vir ander party te stem en ek is kleurling.

Jerry ·

SA se groot moeilikheid is nie agv n ANC met n swart nasionalistiese benadering masker op of n masker met n meer diverse benadering nie. Die feit dat die opposisiepartye geen byt het nie en magteloos gestaan en toekyk het hoe die ANC staat, BEE, regstellende aksie, kaderontplooiing, staatskaping, dubbele standaarde ens geimplementeer het, is die probleem in SA. Die ANC kan doodeenvoudig maak en breek soos wat hulle wil en daar is absoluut niks wat opposisie partye tot nou toe kon doen om die ANC te stop nie. Nie eers wetstoepassing, die MRK of howe is meer onafhanklik van ANC ideologiee nie. Dit is kommerwekkend dat kiesers vir opposisiepartye gaan stem met die wete dat die partye baie praat en baie doen, maar niks kan uitrig om die ANC te stop om nie ten koste van belastingbetalers te “misluk” nie. Nog meer kommerwekkend, is dat opposisiepartye die “blame game” speel en roem op die ANC se mislukkings as n mislukte staat, maar nie tot die besef kan kom dat dit kaderontplooide georkestreerde doelbewuste mislukkings is en wat inderwaarheid deur die ANC bestuur word as revolusionere suksesse wat die revolusioneres al nader bring aan n revolusionere oorwinning oor kolonialisme en teenrevolusionere denke. SA is dus nie in die moeilikheid oor die ANC nie, maar oor die magtelose opposisiepartye wie se leiers nie n idee het van hoe om n bevrydingsorganisasie in n Afrika demokrasie die stryd aan te se en te oorwin nie! Minderheidsgroepe se jeug moet dus emigreer!

Jammer ·

Mooi man, so kwotas is nie van toepassing op die ANC nie? Ek dog hulle moet die samelewing weerspieël en dit is nie 100% swart nie. Maar nou ja, dan moet die wittes, indiërs en kleurlinge maar saam staan jong. Dit bly maar net ‘n druppel in die emer maar darem beter as niks nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.