ANC maai wat hy saai in Vuwani

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Die gebeure in die Vuwani-streek in Limpopo is ’n uitstekende mikrokosmos van SA se probleme en foute. Dit is ook ’n harde ironiese eggo van die verlede in die hede.

Vewani, wat in die Makhado-plaaslike munisipaliteit geleë is, se gemeenskap is woedend omdat hulle moontlik saam met ’n naburige munisipaliteit gaan smelt om deel van ’n nuwe munisipaliteit te word. Wydverspreide chaos het uitgebreek en meer as 20 skole is afgebrand of gevandaliseer. Onderrig het heeltemal tot ’n stilstand gekom en Angie Motshekga, minister van basiese onderrig, raam dat dit R750 miljoen sal kos om die skade aan die skole te herstel.

Lankal ’n ramp

Die Vhembe-distriksmunisipaliteit het Vuwani na dese tot ’n rampgebied verklaar voordat ’n nuwe vlaag van geweld weer losgebars het. Die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, en sy span het skaars die strate Woensdag weer oopgestel en die betogers het weer klippe gegooi en die strate met brandende motorbande versper. Die polisie het met traangas en rubberkoeëls geantwoord.

Luidens die premier en die provinsiale regering – wat vir onderwys verantwoordelik is – het die rampsverklaring bykomende finansiering losgemaak om die skade te begin herstel en mobiele klaskamers te voorsien. Aanvanklike ramings van die skade was R400 miljoen voordat dit tot ’n meer konserwatiewe R250 miljoen afgeskaal is.

Ewenwel, strydig met die provinsiale regering se ongeërgde houding en eenvoudige oplossing, sê Motshekga daar is nie beweegruimte in haar begroting om die skade te herstel nie en nou sal daar fondse vanaf ander departemente verkry moet word – dus, geld wat vir ander doeleindes gebruik moet word. Daarbenewens is baie leerlinge se akademiese rekords – wat steeds op papier gestoor is en nie in ’n digitale formaat nie – nou verlore.

Hierdie situasie is inderdaad en letterlik ’n ramp, maar daar is ander eienskappe van die munisipaliteit en Vuwani wat dit eintlik lankal ’n ramp gemaak het.

Die werkloosheidskoers in die Makhado-munisipaliteit is sowat 37% en die jeugwerkloosheidskoers is nagenoeg 50%. Dit is onrusbarend aangesien bykans 60% van die bevolking in die munisipaliteit tussen 15 en 64 jaar oud is en teoreties dus moet werk. As mens ook die dorp Louis Trichardt uit die prentjie weglaat, sal die werkloosheidsyfer veel hoër wees. Slegs 9.5% van die huishoudings se vullis word weekliks deur die munisipaliteit verwyder. Slegs 22% van die inwoners ouer as 20 het al matriek voltooi en net 15% van die huishoudings het toegang tot kraanwater in hul wonings. Die Limpopo-onderwysdepartement was juis een van vele provinsiale departemente wat in 2011 onder administrasie geplaas en eers weer in 2014 onder provinsiale beheer gebring is.

Hierdie aanwysers het wel mettertyd effens verbeter, maar Vuwani bly ’n plek met groot uitdagings en sommige van hulle groei eerder as kwyn. Dit is ’n dorp wat die toonbeeld is van die bose en aaneenlopende kringloop van armoede, maatskaplike euwels en agterstande in moderne Suid-Afrika.

Die regering se reaksie

Vuwani, Makhado en die Limpopo-provinsie is sterk ANC-bastions. In 2011 se plaaslike verkiesing het die party bykans 86% van die stemme in Makhado op hom verenig. Die naasgrootste party was die DA met nagenoeg 7%.

Dit was derhalwe interessant om te sien wat die ANC en verskeie vlakke van regering – wat deur die ANC beheer word – se reaksie op die gebeure in Vuyani is. Eers het Zizi Kodwa, die ANC se nasionale woordvoerder, gesê die inwoners kan maar als tot op die grond afbrand want dit gaan geen verskil maak daaraan dat hulle nie by die nuwe munisipaliteit ingelyf word nie. Die betogers het toe bloot gedoen wat hy gevra het.

Later het Kodwa ’n ommekeer gemaak en die chaos in ’n persverklaring veroordeel. Só ook oudpres. Thabo Mbeki en pres. Jacob Zuma. Volgens Kodwa is die afbrand van skole en biblioteke ’n belediging vir die grondwet en demokrasie en het dit ’n regressiewe uitwerking op die regering se diensleweringstrategie.

Maar dis juis waar die knoop lê. Is dit nie juis die indiwidue en party wat die slagkreet “no education before liberation” uitgevind en swart gemeenskappe in die 80’s en vroeë 90’s aangehits het om juis skole en alle staatsinfrastruktuur af te brand en beskadig nie? Is dit nie hulle wat juis hul beleidsdokumente met hoogs belade woorde soos “rewolusie” en “radikale transformasie” laai en dit onbeskaamd in hul toesprake verkondig nie? Hoekom is hulle dan so verbaas, afkerig en geskok oor hierdie soort gedrag as dit juis is wat die ANC konstant predik en belowe en histories tot hul eie voordeel gebruik het? Hoekom word daar net lekker gratis goedjies belowe en skole herbou sonder om verantwoordbaarheid, respek en selfversorging van die gemeenskap te vereis? Hoekom hou die inwoners aan om ’n party by die stembus te beloon wat hulle teen wil en dank swak regeer?

Hierdie is pertinente vrae wat dikwels weens politieke korrektheid onder die mat ingevee word. Maar dit dui basies op die problematiese verhouding tussen soveel gemeenskappe in Suid-Afrika en die party wat oor hulle regeer. Die ironie is dat Vuwani se mense, ondanks hul boikot vandeesweek van ’n ANC-vergadering, steeds oorwegend vir die ANC gaan stem of glad nie gaan stem nie omdat hulle ’n protesstem teen die ANC wil uitbring of stemmery bloot as tydmors sien.

Die ANC gaan weer maklik daar wen in Augustus en die provinsiale amptenare wat nou belowe om die skole te herbou, gaan lekker vet en korrupte tenders kry om dit te doen. Terwyl die amptenare dus al die pad bank toe lag en steeds hul werk behou, gaan bitter min in Vuwani verander. Daardie skole gaan bitter stadig herbou word en die werkloosheidskoers gaan min of geen verandering toon. Nes in Bushbuckridge, Theunissen, Mashishing, Groblersdal en enige ander stukkie platteland waar die ANC aan bewind is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

chrisp ·

Jy kan nie met jou westerse denke die Afrikaan probeer verstaan nie ,jy sal mal word.
Die verwysingsraamwerke verskil geweldig. Daarom gaan leer hulle (Afrikaan) se kultuur en gewoontes en dan verstaan jy.
Dit is maar soos dit is in FW se reenboogland.

pietvn ·

Dit is juis die rede waarom transformasie in SA 180º omgeswaai moet word. Kry die Afrikaan uit die Ubuntu kultuur en lewensraam uit en red almal in ons land. SA is geen demokrasie met soveel lokale stamhoofde nie. Ubuntu moet vernietig word. Dis hulle wat moet TRANSFORMEER.

hans ·

Die provinsies betaal jaarliks baie groot onbestede bedrae,tov,infrastruktuur aan die Nasionale Tesourie terug. Die onbevoegde amptenare wat versuim dat die beskikbare fondse korrek aangewend word moet summier afgedank word. Sou die fondse aangewend word vir die doel waarvoor beskikbaar gestel is sou die grootskaalse vernietiging nooit plaasgevind het nie.

Johann Marx ·

Wat niemand raaksien nie is die rede hoekom ‘n streek nie by ‘n ander streek ingelyf wil word nie….want dit gaan oor stam gevegte. As Vuwani by Makhado ingesluit word, sal diegene wat NIE aan die oorheersende “stam” in Makhado behoort nie, aan die agterste speen suig…en DIT is waarom Vuwani NIE by Makhado ingelyf wil word nie. Solank as wat mense nie hierdie ondertone begryp en verstaan nie, sal die afbrand van skole en vernietiging van infrastruktuur ook nie verstaan word nie.

Lance ·

Daar is net mooi geen intelegensie op grodvlak nie en as die vure begin is die polisie nerens ….pateties !

Tanya ·

Wat verwag Lance en kie. Tree die polisie op is Lance en kie die eerstes wat die polisie uitskel as moordenaars. Of moet die polisie Daar gaan staan om vermoor te word soos by Marikana?

John ·

Hoewel almal nou glo Engels moet praat, staan die stamverband nog altyd baie sterk. ‘n Eie munisipaliteit is verseker van amptenare, burgemeester en gepaste salarisse en byvoordele. Moenie glo dis net die armstes wat hierdie probleme aangevuur het nie. Dis ook hoekom die skuldiges nie gevang word nie. Hulle word beskerm. So voor die plaaslike verkiesing kan die ANC se arm lekker gedraai word om te verseker die top amptenare verloor nie. Die verre noorde van die land sit ook nog met ‘n groot oorspoel van Zimbabwiers plus baie werkers van die nuwe myne en ander aktiwiteite. Die regering ignoreer daardie gebied, maar dit is ‘n pot vol diverse komponente wat, as die hitte opgedraai word, in ‘n vulkaantjie of twee kan ontaard.

Adri van Niekerk ·

Dit is ironies dat baie van die ou skole wat daar gebou is, gebou is in 1959 die jaar nadat Dr Verwoerd eerste minister geword het. Net ‘n klompie km, verder in die pad af vanaf Vuvani , op pad na Punda Maria is daar ‘n hoerskool, met ‘n gedenk plaat wat die datum van oprigting van die skool aandui. 1959.

Johann Marx ·

Die ANC maai nie wat hy SAAI nie? Die gemeenskap doen….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.