ANC of Suid-Afrika – die kantelpunt is naby

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy toespraak by die ANC se 107de verjaardagviering en die bekendstelling van die party se 2019-verkiesingsmanifes. Foto: ANA

Deur Jaco Schoeman, voorsitter van die Afrikanerbond

Dit raak toenemend duidelik dat president Ramaphosa al meer gekonfronteer word met dieselfde knyptangsituasie as vorige ANC-leiers, wat die ANC bo die Grondwet en Suid-Afrika gestel het.

Vandag pluk ons nog steeds die vrugte van die onderhorigheid aan uitgediende ideologieë wat blindweg nagejaag en afgedwing word.

President Ramaphosa se voorganger was baie duidelik daaroor dat die ANC se belange bo die Grondwet is en oudpres. Jacob Zuma se aksies en uitsprake het dit baie duidelik gemaak. Daarmee het hy homself van ʼn groot deel van die bevolking vervreem.

In die komende dae sal die ANC se verjaarsdagviering in Durban ʼn barometer wees vir die volgende paar maande en die retoriek wat ons te wagte kan wees van die ANC en sy leierskap in die aanloop tot die algemene verkiesing.

In een paragraaf in die Nasionale Ontwikkelingsplan van 2012 word die oorsaak van die diep verdeling van Suid-Afrika gediagnoseer.

 “Ons nasieboupoging is moeiliker in tye van stadiger ekonomiese groei. Suid-Afrika kan nie ’n afwaartse spiraal wat sosiale spanning verhoog, bekostig nie. Sterk leierskap is nodig om die visie van die Grondwet te bevorder. ’n Formele sosiale kontrak kan help om die belyning tussen groei, ontwikkeling en nasiebou te versterk.”

Die uitdaging aan Ramaphosa met die ANC se 107de verjaarsdagviering is sesvoudig:

  1. Om sy vernuf as staatshoof te stel bo die politieke oneerlikheid wat die kenmerk van sy party geword het;
  2. Om te demonstreer dat hy die leier kan wees van alle Suid-Afrikaners, ook wit Suid-Afrikaners, wat die land suksesvol wil laat werk;
  3. Om die ANC se nierassige vryheidsdroom en beginsels te laat herleef bo die party wat self rassisme en diskriminasie op allerlei maniere toepas en in die proses vele Suid-Afrikaners van hul vryheid en selfrespek ontneem het;
  4. Om oplossingsgerig te werk met die emosionele grondkwessie. Onteiening sonder vergoeding kan nie suksesvol wees nie. Nog minder, en ten spyte van die president se versekeringe, kan dit toegepas word deur ʼn regering wat op soveel ander terreine reeds misluk het. Die hele kwessie, ook die onteieningskonsepwet word misbruik vir politieke doeleindes en word gebaseer op ʼn skeefgetrekte en eensydige geskiedenis. Ongelukkig maak die president homself ook skuldig aan die narratief wat slegs een geskiedenis voorhou;
  5. Om te erken dat die ANC in die 25 jaar van bewind net so, indien nie meer nie, aandadig is aan die probleme wat ons vandag ervaar. Te dikwels word apartheid nog die sondaar gemaak en word die regering se eie grootskaalse betrokkenheid by korrupsie, staatskaping en verval, en kolossale mislukkings met grondhervorming sedert 1994 óf geïgnoreer óf daar word sagweg daarmee omgegaan;
  6. Om met absolute eerlikheid en integriteit enige prosesse oor grond te hanteer. Dit is kontraproduktief om aan die een kant rolspelers en die internasionale gemeenskap te paai en die skyn van deursigtigheid voor te gee, maar agteraf prosesse te manipuleer, soos om die konsepwetgewing te verander om staatsgrond teen onteiening te beskerm (soos pas deur verskeie rolspelers uitgelig).

Die volgende paar dae sal duidelik maak of die ANC en sy leierskap Suid-Afrika, ons Grondwet en versoening eerbiedig. Of dit sal die fokus en aksies op nóg meer vergelding wees wat Suid-Afrika nog verder van die Nasionale Ontwikkelingsplan se waarskuwing sal neem dat “Suid-Afrika nie ’n afwaartse spiraal wat sosiale spanning verhoog, kan bekostig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Melanie ·

Dit is heeltemal waar, die kantelpunt is nader as wat meeste mense besef.

Heinrich ·

Ai tog, alles hier bo genoem is mos haas ontmoontlik om by te kom, hulle struggle dan mos nog steeds!

waarheid1 ·

Die anc voel vere vir die land. Dit gaan net oor hulself, wat hulle kan ‘kry’ en hoe korrup hulle kan wees.

Dirk Breytenbach ·

Moet asb. nie julle asems ophou terwyl daar vir die ANC gewag word om redelik op te tree ter wille van die land nie. Net soos Mugabe sal hulle enigiets doen om hul sin te kry met uitgediende ideologie en verkiesings retoriek. Verder moet niemand glo dat die regime dinge sal doen binne die raamwerk van redelikheid nie soos bv. die beloftes dat voesel sekerheid of di ekonomie nie sal benadeel word nie. Daar word juis nou weer verneem dat die onteiening van staatsgrond uitgesluit word deur agteraf die spesifieke wet aan te pas. Alles gaan oor wraak en die onvermoe om SA te laat werk, daarom kry apartheid en die bose wittes steeds die skuld vir die ellende waarin die ANC SA laat beland het.

lewies ·

Die WAARHEID. Jy is op rekord ! Dankie daarvoor Jaco. Is hierdie skrywe ook in Engels beskikbaar. Dit is uitters noodsaaklik dat baie meer mense hierdie artikels moet lees en verstaan.

John ·

Ons is lankal oor die bult.. Die stadige aksie agv dit wat voor 1994 bereik is, het die ANC laat lyk soos iets anders as Afrika en ons laat hoop dat die gevaar ver van ons le… elders. Die bankkrotskappe van die ANC se troetelkinders, die staatsbeheerde balhorige bedorwe brokkies, Eskom ens… was die finale nekslag. Dit sal nooit weer beter gaan in SA nie. Die vraag is nou net: Hoeveel armoede kan ons verduur voordat die bloed spat?

George Pelser ·

Goeie skrywe net jammer die ouens wat dit moet lees stel glad nie belang nie. Hulle eie party en persoonlike finansiele welstand weeg BAIE swaarder as die belange van hierdie geknelde land wat nou byna daagliks agteruit beweeg teen ‘n versnelde tempo.Enige persoon kan mos sien waarnatoe ons op pad is. Daar le DONKER tye voor inderdaad

Schalk Hoon ·

Baie sinvolle opsomming/ kommentaar deur die voorsitter van die A.B. Al sou die leiers in die ANC hierdie inset lees, gaan dit myns insiens geen verskil maak nie. Die ANC is so’ in sy kern verrot dat daar nie n’ kans op genesing is nie. Ons kan maar net hoop en bid dat dinge nie vorentoe slegter gaan nie.

Hendrik ·

Ag nee ek bly lekker. Dit is net jammer, soos al die ander organisasies, dat die AB nie definitief die streep in die grond trek nie. Ons kan wraggies nie meer hierdie diskrimenerende wetgewing teen ons as minderheidsgroep duld nie. Daar is geen nasie nie, net ‘n vlag wat orals geplak word om nasiebou te probeer bevorder. Onthou ook AB daar is ‘n groter wordende groep in Afrikaner wat sesessie voorstaan want dit is die enigste logiese oplossing om die huidige staatsverval te oorleef. Kyk maar na die IRR se senarios.

Jerry ·

Daar is nie n kantelpunt nie, want die ANC is Suid Afrika en SA is getalle en ideologies gewys die ANC. ANC beleid geld vir SA, die dat ANC NDR programme vir sosialistiese verandering geimplementeer word in en vir SA. Jy word dus slegs geag n eerste klas Suid Afrikaanse burger met regte te wees indien jy n ANC of EFF revolusioner is. Jy word as n onwelkome gas geag en slegs demokraties grondwetlik verdra as jy anti-revolusioner is, wit of swart! Die ANC se staatskapingsrol het ons tot by hierdie punt gebring en dit is net n twee derde meerderheid wat in die komende verkiesing behaal moet word en CR se rol vir buitelandse investering wat uitgespeel moet word voordat die laaste tand (onafhanklike regbank) getrek word van die opposisie en van minderhede in die besonder. Dit is die feite van die strategiese realiteite wat Suid Afrikaners in hulle alledaagse bestaan begin ervaar, beleef en sien gebeur! Sosiale spanning is reeds in die rooi en gaan defnitief gedruk word dat die kwik oorloop, maar die besef dat daar niks aan gedoen kan word sonder tande nie, sal weldra begin intree by die opposisie en minderheidsgroepe! Die vooruitsigte om met slegs n stompkant weerstand te bied, lyk glad nie rooskleurig of enigsins lewensvatbaar nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.