ANC: ‘Ons staan (en val) by ons leier’

Gwede Mantashe president Jacob Zuma Foto: Vathiswa Ruselo via RDM

Gwede Mantashe president Jacob Zuma Foto: Vathiswa Ruselo via RDM

Terwyl ek werk toe ry, tref die reklamebord my met die slagspreuk “ANC-NUK besluit om by Zuma te staan” (heeltemal te verwagte). Sekretaris-generaal Gwede Mantashe verklaar dat die ANC gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar vir die afname in kiesersteun vir die ANC. Dit behoort hulle dan ook te doen. Zuma die skaakspeler het hul name deur die modder gesleep. Dit is hierdie Faustiese verbond wat die beweging aan die gang hou.

Dat pres. Mbeki so maklik uit sy amp onthef kon word, en nie Zuma nie, bied uitstekende stof vir ’n PhD-tesis. Maar Zuma het dít waarin die ANC-elitekern so sleg gevaar het met groot welslae omgekeer. Hy hou die parlement onder sy duim – almal “ja-baas-boeties” – wat selfs bereid is om die selseine af te skakel as onwenslike  optrede teenoor die president losbars, en verslap nie sy beheer nie. Zuma het die Oos-Kaap met KwaZulu-Natal as die ANC-vesting vervang; en hy het genoeg sakelui wat hom steun en as geleistrome vir tenders en allerlei soorte aankopetransaksies optree.

In die maand wat aan vroue gewy word, en met die MIV-statistieke steeds so erg soos ’n dekade gelede, ondanks minister Motsoaledi se manhaftige pogings om dit uit te wis, is pres. Zuma sowaar betrokke by ’n seremonie waartydens koning Mswati hom vereer met die geskenk van ’n maagd. Hoe walglik! Ek gee nie om of dit ’n onskendbaar gewyde gebruik is of nie, dit verneder en skaad jong vroue in die 21ste eeu en is ’n gebruik wat afgeskaf moet word.

Die reklamebord “Die ANC staan by Jacob Zuma” herinner my aan die tyd toe dr. Allan Boesak beskuldig is van ’n affair met sy eerste slagoffer. Die UDF-leiers was in sy huis, oorywerig besig om plakkate en T-hemde gereed te kry met die verklaring daarop gedruk, “Ons staan by ons leier”, toe my man droogweg opmerk, “Terwyl hulle met hul minnaresse lê!” Hoofsaak hiervan was en bly, die ANC staan by sy leiers, ongeag wat ook al gebeur, en hierdie begrip van gesamentlike verantwoordelikheid is so ’n Stalinistiese woord wat elkeen in daardie groot spreekkoor van blaam vryspreek.

Net omdat die ANC steeds meer as 50% van die stem het, voel die party hy het darem goed genoeg gewen, en dat hy nog baie kan doen om sy vorige glorie te herwin. Dat pres. Zuma nie eens aanspreeklikheid oorweeg nie, toon net hoe onbevoeg enigeen in daardie party is om die Gordiaanse knoop van solidariteit deur te hak, wat tans bymekaargehou word deur die snelgroeiende dinastie, hoof van AU, Nkosazana Zuma, en Zuma se vroue en kinders… baie van hulle betrokke by allerlei soorte transaksies met hoogs bedenklike sakelui.

Om die ANC se onthalwe, wens ek die party wil sulke idiotiese, Stalinistiese taal oor die nasionale demokratiese rewolusie, grondbesetting, gratis universiteitsonderrig en die grootskaalse maatskaplike welsynstoelaag nou staak. Sulke beloftes skep net ’n meer plofbare samelewing, gewoond aan ’n ons-is-geregtig-op-alles-staat. En die president misluk klaaglik om daardie mense aan te moedig om met die regering saam te werk om ’n beter Suid-Arika te bou. Die aanspraakstaat verslind homself onvermydelik, soos gestaaf deur skoolkinders wat aangehits is deur ouers om ’n skool in Rustenburg af te brand, net omdat dit, soos hulle sê, “die enigste manier is om die regering se aandag te kry”.

Die ANC is geweeg en te lig bevind. Dis tyd vir ’n nuwe sosiopolitieke en ekonomiese bestel. Wie is dapper genoeg om lewe daaraan te skenk?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Theresa ·

Die meer as 50% oorwinning is niks om op te roem nie. Maar foei, dit dring natuurlik nie deur nie. Die land sit steeds met ‘n onwenslike staatshoof.

christine ·

Lyk op die foto na karaktertjies uit Asterix en Obelix. Jo jo boepies en al dis seker die geelste geel en groenste groenwat dink julle se hulle vir mekaar.

Bruno Stef ·

Mantashe lyk op die foto saam met Zuma soos n groter weergawe van “Maja the Bee”

Mauritz ·

Altyd lekker en interessant om Rhoda se artikels te lees.

Lance ·

Wonderlik dis presies wat nodig is ….gaan te laat wakkerskrik …moet niks se nie hehe

Popeye ·

Goeie waarneming Me. Kadalie, ons moet dalk ophou om die hofnar te probeer wys op sy foute. Hy het die potensiaal om stilweg en stilswyend op sy eie, groot verandering deur te voer….hy weet nie hy weet nie.

Louwrens ·

Ek lees die artikel met graat waardering. Baie dankie Rhoda.
Ek is nie bewus van enige ander lande behalwe SA en ZIM waar n sogenaamde president man alleen verantwoordelik is om die hele land tot in die afgrond te regeer, maar steeds aan bewind bly nie. Aan die ander kant, Zuma het soveel vrouens en kinders dat hulle stemme alleen vir hom aan bewind sal hou.

Thanks ·

Klink vir my al meer na sy Zim buurman. Ek as jy nie my saam sing nie kry jy n skop onder die agterent by die deur uit.

Jan Jooste ·

Dankie Rhoda. Dat Zuma in Vrouemaand, nadat hy die Kwezivernedering deurkruip het – steeds ‘n arme maagd ontvang, is skreiend. Dat ander egter so ‘n dwaas steun …

Frans ·

Dag nog baie werk vir Malema wat wag om Zumpi uit sy stoel te lug

johann de Jager ·

Kan rasioneles soos me Kadalie, Tuli Madonsela, selfs ANC figure soos Ramaposa, Manuel, en DA stalperde soos Musi, Patricia de Lille, Helen Zille self en nog ander beskaafdes uit, selfs opponerende groeperings, nie buite partypolitiek `n intellektuele staatsgreep uitvoer en `n landsbestuur daarstel wat soos die ou burger Volksraad sonder partye funksioneer, sedert ons nou een nasie is ; dalk `n Naionale Raad wat net vooruitgang vir almal sal beteken, selfs dié wat gestroop moes word van hulle hoogheid en vervolg en gevonnis is tot nul deelname aan enige toekomstige staatsbestuur. Vra maar net

Louise ·

As wonderwerke nie bestaan nie.
Wat het Zuma dan getref……..

Dark.O ·

Daar is ń universele beginsel wat sê dat ń leier ń refleksie van die norme en waardes van die mense is wat hom gekies het. ń Leier is dus ń spieëlbeeld van sy mense. Die omgekeerde is ook waar. Die mense is ń spieëlbeeld van hulle leier. Mense kies dus iemand met wie hulle op morele, psigiese en intellektuele vlak kan identifiseer. Kortweg gestel, soort soek soort. Dan moet daar ook in ag geneem word dat ń leier ander nie verder kan lei as sy eie vlak van morele, psigiese en intellektuele ontwikkeling nie. Omdat die leier en sy mense mekaar in stand hou, stagneer almal en daar is dus nie ontwikkeling nie.

Mahlatini ·

Ja, daardie gesogte intellektuele gemene deler. Sou Maroele dalk `n forum kon word om konstruktiewe implimentering van die baie goeie idees hier uitgespreek, anders as die ander sosiale babbelmedia? Soms wil ek naak uit die bad spring en straataf hol as ek sulke goeie idees raaklees. Dalk kan homogeendenkendes mekaar opspoor en `n “eurekaformulier” beding (be-bid) om so `n konstruktiewe implimenteringsgroep te vorm. Natuurlik o.l.v. die Maroela en haar bakermatorganisasies.

John ·

Dark.O, jy het dit so’ fyn… Dit is wat ons moet bang maak. Waar Christelik-gefundeerde etiese waardes geminag word, is die afgrond ons voorland. Waarop grond ons menseregte en hoe kies mense tussen reg en verkeerd met ‘n president wat duidelik nie eens dit wat reg is nastreef nie? Om uit die swartboekie van die gereg te bly met behulp van ‘n slinkse advokaat en onbeholpe wette is een ding, maar om die Skepper se wette te minag, ‘n heel ander, te meer as die volk willens en wetens hom beskerm omdat dit hulle goed te pas kom om hom as leier te he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.