ANC op 100: Breë kerk? Verdeelde kerk!

Jesus sê in die Bybel ʼn koninkryk wat verdeeld is, kan nie bly staan nie. Organisasies van alle vorme word gestig met ‘n spesifieke doel wat ʼn behoefte op ʼn bepaalde tydstip aanspreek. Sommige mense sien ʼn gaping in die mark vir ʼn spesifieke produk, skep ʼn maatskappy en lewer dan daardie produk aan verbruikers. Mettertyd word die produk of diens oorbodig of meer gevorder en moet die organisasie aanpas of sterf. Soms lewer nuwe mededingers bloot ʼn beter produk en die organisasie kan nie meer meeding nie. Verskeie afgestorwe koerante en hul moedermaatskappye deur die dekades heen is straks die beste en mees omvattende voorbeelde.

So gaan dit ook in die politiek en Suid-Afrika het ʼn goeie verwysingsraamwerk. Nes die Nasionale Party van ouds het die ANC tot stand gekom om vryheid aan ʼn bepaalde groep mense te gee. In die NP se geval het die organisasie dit vir die emansipering van die Afrikaners beywer en in laasgenoemde geval vir stemreg en ander vryhede vir swart mense. Toevallig is die ANC twee jaar voor die NP gevorm terwyl die NP vroeër ontbind is. Albei het ywerig gewerk vir hul onderskeie doelwitte en het dit in ʼn groot mate daarin geslaag om te bereik wat hulle wou. Beide organisasies was egter op verskeie stadiums diep verdeeld en die ideologiese spanning het groot probleme veroorsaak. In die NP se geval was sy oorspronklike doelwit, die middele om daaraan gehoor te gee (Apartheid) en dus ook die organisasie uitgedien en het dit uiteindelik ophou bestaan.

Pixley ka Isaka Seme

In 1911 het die stigterslid van die ANC, Pixley ka Isaka Seme, ‘n pleidooi om eenheid onder Afrikane gelewer en gesê: “We are one people. these divisions, these jealousies, are the cause of all our woes today.” Dit kon net sowel 2012 gewees het. Vandag is die ANC in ‘n drieledige alliansie saam met Cosatu, die grootste vakverbond in die land, asook die onbenullige Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Daar word gereeld groot gewag gemaak van die feit dat nie net die drieledige alliansie nie, maar die ANC self ʼn wye reeks ideologieë verteenwoordig en ʼn sogenaamde breër kerk (“broad church”) is. Kommuniste, linkse vakbondmense, swart nasionaliste, kapitaliste en sakelui, gematigdes, liberale en nog ʼn hele boel ander bevind hulself in die ANC. In 1994 en die voorafgaande paar dekades het hierdie groep hulself agter een doelwit verenig: Om die swart meerderheid te bevry en beheer oor die land te verkry. In 1994 is hierdie doelwit voltrek, maar daar het nog baie werk vir ekonomiese bevryding van die swart meerderheid voorgelê. Planne soos die Growth, Employment and Redistribution (GEAR) program is in die 90’s geskep om hierdie proses te dryf, maar dit is as té vryemark deur die linkses getipeer en veral oudpres. Thabo Mbeki is gekritiseer en uiteindelik uitgewerk oor sy kapitalistiese beleide en skynbare elitisme.

Korrupsie, nepotisme en selfverryking het inmiddels deel van die ANC se weefsel geword. Dit is onafwendbaar dat ʼn regering met min politieke mededinging die staat en party ten volle met mekaar sal versoen. Die amptenary is politieke aanstellings en raak selfvoldaan, voel die land skuld hulle iets en omkopery en diefstal uit die begrotings van staatsinstellings raak algemeen. Rendabele staatstenders word ook goedsmoeds aan politieke vriende sonder die nodige ervaring of vermoëns uitgedeel en sodoende word hospitale, paaie en ander infrastruktuur nie na behore gebou nie en dienste nie ordentlik gelewer nie. Uiteindelik kan die meer gegoedes hul eie dienste laat lewer, maar die (swart) armes ly weens die nie-lewering van dienste. Hul onderwys gaan ten spyte van groot besteding (en persverklarings met twyfelagtige feite) agteruit.

Dus het die ANC se altruïstiese sieninge oor swart bevryding en die bestryding van armoede plek gemaak vir ʼn de facto plundering van die staat vir eie gewin. Die linkses soos Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van Cosatu, vaar uit teen die selfbelang en korrupsie en die uitwerking daarvan op die armes terwyl die swart nasionaliste soos Julius Malema, gewese ANC-Jeugleier, swart bemagtiging op ʼn kapitalistiese manier bepleit. Om die dubbelspraak en verwarring te vererger het Malema vir (watter rede ook al) die nasionalisering van myne voorspraak begin doen terwyl die SAKP daarteen gekant is (vir watter rede ook al). Terwyl sommiges binne die party en alliansie skatryk begin word het, slaan ander weer die arm-trom en vra vir hoër belasting. Dis genoeg om van dronk te word.

Pres. Jacob Zuma se ampstermyn word eweneens deur sulke ambivalensie gekenmerk. Vir ʼn man wat deur die linkses sowel as nasionaliste tot president verkies is om diverse doelwitte te bereik, was dit bloot “sake soos gewoonlik” met baie politiek eerder as konkrete beleide met hom aan die stuur. Die armes kry hul toelaes, die myne opereer soos gewoonlik, die besighede doen besigheid, korrupsie floreer, Zuma raak van politieke opponente op slinkse wyses ontslae en Mbeki se ekonomiese beleide bly breedweg in plek. Die linkses is dus woedend dat die armes nie werk het nie nadat 1 miljoen werksgeleenthede (wat sowat 15% van die werksmag in SA is) net in 2009 verlore is, arbeidwetgewing nie nóg meer rigied is en maatskaplike besteding nie hoër is nie terwyl die sakevleuel die status quo wil handhaaf. Die breë kerk is dus ernstig verdeeld nadat die politieke bevryding verkry is. Die rede hiervoor is dat terwyl die ANC verban was, was dit in al sy lede se belang om teen Apartheid te baklei en verenig teen ʼn gemeenskaplike vyand te veg. Toe politieke mag verkry is en beheer oor die staat gevestig is, het daar baie opportuniste ontstaan wat die staat as ʼn geldkoei begin sien het. Die entoesiasme wat ʼn gemeenskaplike vyand gebied het, het gaandeweg gekwyn. Nou voel indiwidue binne die ANC hulle kan na hartelus plunder en geld maak deur die politiek.

Die ANC is nou 100 jaar oud en dit wil blyk asof dit net so verdeeld is soos in Pixley ka Isaka Seme se tyd. Terwyl die ANC trots daarop aanspraak maak dat dit ‘n breë kerk verteenwoordig, is dit duidelik dat dit ‘n verdeelde kerk is wat verlam word deur ideologies teenstrydighede. Dit gaan interessant wees om te sien wat uit die party se beleidskonferensie in die middel van die jaar gaan vloei want met soveel faksies is dit bloot ‘n ope vraag.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Herman Toerien ·

Baie goeie artikel. Dis interessant dat “politieke korrektheid” lank verhinder het dat analiste en joernaliste met hierdie weergawe na vore kon kom (en dit gepubliseer kon kry). Volgens Tim du Plessis het dit ‘n paar jaar gelede verander, toe veral swart redakteurs skei gebreek het, en toe deur blanke redakteurs gevolg het. Hy het ‘n taamlike lang lys van hierdie redakteurs gepubliseer.
Nie baie jare later nie, word ‘n lys gepubliseer van mense soos dr. Nico Smith en ‘n groep swart redakteurs wat nie net kla oor die wit media die ANC so aanval nie, maar selfs op die gevaar wys dat die bloed kan vloei. In sommige kringe is dit selfs as ‘n dreigement beskou. Onder die redakteurs wie se name toe genoem is, het drie ook op Tim se vroeëre lys voorgekom.
Hoe nou?
Die verskil is dat Polokwane intussen “gebeur” het. Die “politiek inkorrekte” optrede se kodetaal was dat dit teen oud-pres. Thabo Mbeki gemik was. Met hom uit die weg is aanvanklik net so sito-sito teruggekeer na die punt waar die president en die ANC (en baie mense lees dit as kritiek op die (swart) ondersteuners van die ANC) weer net so politiek inkorrek sou wees. Diegene wat nie die kodeskrif gelees het nie, het aangegaan om die korrupsie, nepotisme, swak dienslewering ens van die ANC te kritiseer, en kort voor lank die waarskuwing / dreigement. Die volgende stap was om die media te wil snoer, en toe die aankondiging dat die staat sy eie koerant gaan kry, met Jimmy Manyi aan die stuur.
Ja, dit is frustrerend vir die staat om op ‘n manier te presteer en dit haal nie die nuus nie. Maar ‘n redelike koerant het waarskynlik in die orde van sewe keer soveel bruikbare nuus tot sy beskikking as waarvoor dit plasingsruimte het, en prioriteite moet opgeweeg word. En een se prestasie, soos om ‘n straat geteer te kry sonder dat suur sop met die kontrak deurloop, is vir die ander een (die media) bloot ‘n gewone verwagting wat op gewone wyse uitgevoer is. Niks nuus nie. Maar die verfstrepe op daai pad wat na twee dae nie meer sigbaar is nie, en die slaggate en weggesakte dele ‘n week later – dis nuus.
En tog is dit ongelooflik hoe lank na 1994 was dit bitter moeilik was dat objektief na die ANC se prestasies gekyk te kry. Vandag, gelukkig, kan ons ons dit amper nie eens indink dat dit was nie.
Ek het destyds (nege jaar na 1994) ‘n manuskrip aan ‘n Suid-Afrikaanse uitgewer probeer verkwansel – trouens, saam met die “reader” die stuk gereed gekry. En toe eensklaps afgekeur, want dis te ongeloofwaardig. Ek was verstom en sê absoluut niks in die manuskrip is fiksie nie. Alles kom uit koerante se argiewe of persoonlike ervaring. Die antwoord aan my: “Sometimes reality is stranger than fiction.” Dis toe in Amerika uitgegee.
Ek sê nie die manuskrip moes die paal haal nie, net dat die rede wat aangegee was fiksie was. Ek het bv in daardie manuskrip my nie naastenby so sterk soos Eugene hier uitgedruk nie… maar dit was te sterk vir die tyd.
Geluk Eugene.

YR ·

As die ANC hulself as ‘n bree kerk sien, wonder ek net wie is dan hulle god? Ek kan aan ‘n paar valse gode dink wat hierdie posisie kan vul.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.