ANC praat met gevurkte tong oor Afrikaans

afrikaans-sal-bly

Foto: Stellenbosch Lente/Facebook.

Tydens ʼn ontmoeting met Afrikaanse organisasies in Kaapstad op 15 Mei 1996 en net ná die aanvaarding van die finale Grondwet, sê pres. Nelson Mandela die volgende:

“Die argument wat gevoer kan word vir die behoud, beskerming en vertroeteling van Afrikaans is sekerlik nasionaal eerder as seksioneel. Dit is ‘n Suid-Afrikaanse taal wat, volgens alle standaarde, merkwaardig presteer het ten opsigte van ontwikkeling as ‘n taal van wetenskaplike, akademiese en algemeen intellektuele uitdrukking. ‘n Nasie wat sy intellektuele prestasies op prys stel, sal uit sy pad gaan om die middele van daardie prestasies te beskerm en te bevorder. Dit, glo ek, is die groot en sterk argument vir Afrikaans. Dit is dieselfde argument wat gemaak kan word vir die bevordering van wetenskaplike uitdrukkingsvermoë in al die inheemse tale; dit is in die nasionale belang om ‘n algemene wetenskaplike geletterdheid binne bereik van ‘n groter publiek te bring.”

Hierteenoor kom die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, en sê volgens Beeld van 20 Mei 2019: “Dit gaan my verstand te bowe dat die partye vir Afrikaanse onderrig baklei. Daar is nie meer Afrikaanse universiteite in die land nie. As jy op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders. Waar gaan die kinders ná skool studeer?”

Lesufi sal seker verbaas wees om te verneem dat Afrikaans die derde grootste verbruikerstaal in die land is en dat die toekoms van Afrikaans nasionaal en internasionaal selfs nóg groter hoogtes gaan bereik in die wetenskap, tegnologie en kunste, want dit besit reeds wonderlike kwaliteite en erkenning. Die huidige onderdrukking van die taal is maar slegs ʼn tydelike insinking weens die verpolitisering daarvan deur kortsigtige beleid van onbevoegde kaders wat tans tydelik in posisies is, maar nooit die taal permanent sal kan onderdruk nie.

Dit is verstommend dat ʼn persoon wat die politieke hoof is van ʼn departement in Gauteng, waar daar by skole met Afrikaans gewoeker word, sulke onsinnighede – wat grens aan die naïewe – kan kwytraak. Met hierdie argument hang die (nie meer so bedekte) ideologiese onderrok van Panyaza Lesufi, lelik uit en kan die lyn getrek word na die deurlopende agenda wat heeltyd teen Afrikaans op alle vlakke van onderrig gerig word.

Dit is hierdie een of twee vrot eiers wat nasiebou skaad en hul eie agendas is ʼn verleentheid vir alle trotse Suid-Afrikaners, ook vir die president, wat gewis hierop sal moet reageer.

Wat nóg meer verstommend is, is dat Lesufi se uitsprake lynreg bots met die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, se versekeringe oor Afrikaans wat so onlangs as 29 April 2019 in die Atterbury Teater in ʼn gesprek met meningsvormers en belanghebbendes gemaak is. (Kyk die video hier in ‘n ± 1:49:50 opname en met verwysing na Afrikaans spesifiek.)

Ramaphosa het toe gesê: “We cannot want Afrikaans to die. Afrikaans must not die. It is a valuable and important language. Our constitution dictates that we must protect it. It dictates that we must promote it. It dictates that we must preserve it. It is precisely what we are going to do. We are going to preserve Afrikaans.

Die ANC en ook Ramaphosa moet nou onomwonde sê of Lesufi die ANC se agenda met Afrikaans bepaal en verwoord, en of daar werklik ʼn politieke wil is om die grondwetlike regte van die Afrikaanse gemeenskap te respekteer en selfs te bewaar, te bevorder en te beskerm soos deur die president verwoord.

Nie net is hierdie standpunte van Lesufi direk in teenstelling met die Suid-Afrikaanse Grondwet nie, maar dit is die standpunte van ʼn persoon wat die ryke diversiteit van Suid-Afrika misken en inderdaad minag. Verengelsing is beslis nie die oplossing vir Suid-Afrika se onderwysprobleme nie en net so is Afrikaans alleen ook nie die oplossing nie.

Veel eerder moet die oplossing gesoek word in die strewe na uitnemendheid deur gehalte-moedertaalonderrig. Ongelukkig sluit Lesufi deur sy uitsprake aan by die geledere van diegene wat eerder Engels bevorder ten koste van Suid-Afrika se diversiteit. Engels is nie die taal van die meerderheid in die land nie en is maar die taal wat die vierde meeste gepraat word as eerste taal in Suid-Afrika. Ongelukkig is daar diegene uit alle taalgroepe wat die polities korrekte roete loop met die bevordering van Engels as om met werklike en volhoubare oplossings vir Suid-Afrika se taal- en kultuurdiversiteit vorendag te kom. Lesufi bevind hom nou in die groepering wat ter wille van gedienstigheid, en ʼn moontlike eie agenda, aanhou om Afrikaans te marginaliseer en verdag wil maak.

 Aangesien moedertaalonderwys een van die belangrikste fondamente vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe is, en

  • aangesien dit internasionaal op grond van grondige navorsing bewys is en aanvaar word dat moedertaalonderrig onontbeerlik is vir die vorming en ontwikkeling van leerders, en
  • aangesien ouers die reg het om die taal en medium van onderrig vir hul kinders te kies,

is dit dringend noodsaaklik dat die regering moet herbesin oor moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners. Oor en oor is bewys dat taal tot prestasie lei. Ongelukkig is hierdie beginsel versaak en is die taalprestasie van Suid-Afrika se skoolbevolking baie swak. Van die redes wat aangevoer word, was juis swak onderrig en die noodsaak vir moedertaalonderrig.

Dit is eenvoudig so dat indien die regering nie stappe gaan doen om die omstandighede te skep vir die ontwikkeling en gebruik van al ons amptelike tale, soos vereis word deur art. 6 van die Grondwet nie, die vooruitsigte vir ons inheemse tale – en vir die toekomstige opvoeding van kinders uit die betrokke taalgroepe – uiters negatief sal wees. En dit beteken dat veel groter erkenning verleen moet word aan die rol van moedertaalonderrig in ons onderwysstelsel.

Al wat die regering tot dusver reggekry het, met Lesufi in die voorste linie, was om die ander tale in Suid-Afrika af te skaal en ‘n swak en gebroke Engels in die plek daarvan te stel.

Die miskenning van moedertaalonderrig word deur elke gemeenskap in ons land ondervind. Hiervan is die deurlopende jaarlikse matriekuitslae-fiasko ‘n lewende voorbeeld van taalwanorde in die onderwys.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dirk ·

Wat Mandela gese het oor Afrikaans dra nie meer veel gewig nie. Wat CR se oor nie net Afrikaans nie, maar alles, sal altyd ooreenkomstig die grondwet wees, politiek korrek wees vir buitelandse investering en binnelandse samewerking. Dit is egter misleidend aangesien Lesufi die ware toedrag van ANC Luthuli huis se staatsbeleid weerspieel. CR is n gesoute onderhandelaar en uitgeslape politikus en kan nog vorentoe sy hand mbt Afrikaans verspeel, oorspeel of speel om Afrikaanssprekendes te kalmeer of heeltemal in die rooi te druk. Dit lyk vir my of hy op die regte tyd Afrikaans eerder sal gebruik om Afrikaanssprekendes weer terug in te katrol na die breer SA samelewing.

Gert ·

Ek wil net beaam wat Dirk sê, kon dit self nie beter verwoord nie.

Heinrich ·

Spyker op die kop geslaan Dirk! Ons kan ook maar leer uit die geskiedenis, Piet Retief het op hulle goeie woord gegaan. ‘Talk is cheap’ Cyril, doen iets kragwerkliks of hou jou mond.

Boerboel ·

Cyril maak nou vir Lefusi permanent stil en laat hy gaan asb, hy doen niks goed nie!

Jan Alleman ·

Soos Piet Retief in sy laaste oomblikke weet ons en selfs die klerk en sy trawant dat sommiges se woord net mooi niks beteken nie.

Hu ·

Ai Lesufi as jy skaam is vir jou taal ek is nie ek is trots AFRIKAANS

Robert ·

En as die weer sleg is môre , verander hy weer sy storie. Vertrou hom geensins……

Therese van Schalkwyk ·

Puik uiteensetting van die situasie deur Jan Bosman, waarin hy diegene uit alle taalgroepe aanspreek wat “die polities korrekte roete loop met die bevordering van Engels”.
Liewer laat, as nooit.

Dit is my persoonlike opinie dat vooraanstaande, invloedryke Afrikaner akademici, joernaliste, sakelui e.a. direkte blaam moet dra vir die kreeftegang en uiteindelike verdwyning van Afrikaans aan tersiêre inrigtings, en die samelewing in die algemeen.
Oordrewe politieke gedienstigheid het die taal, én sy gebruikers, tot op hierdie punt gebring.
Om die ANC alleen daarvoor kwalik te neem, is bloot oneerlik.

Anoniem ·

Ons taal is ons trots. Dit is al wat ons oor het. Dit word nou ook van ons af weggeneem. Daar bly net een ding oor. Die skrif is duidelik en aan die muur. Ons mense word daagliks wreed vermoor. Die aanvalle gaan elke dag aanhou, vermeerder en nog wreeder. Ons bly hoop dat iemand in die regering dit gaan stopsit. NIEMAND in die regering gaan dit stopsit nie. Dit is hulle doel om ons uit te moor. Druk maar jou kop in die sand en bly alles ontken solank jy kan. Maar daar gaan ‘n dag kom, of ons dit wil hê of nie. Ons gaan geen ander keuse hê nie. Daardie dag sal hulle die anderkant van ‘n trotse Afrikaner nasie leer ken.

Sakkie ·

Sarie jy is 100% in die kol. Daardie dag is dalk nader as wat ons of hulle besef.

Andreas ·

Dit is hoog tyd verby dat die bul by die horings gepak word en hierdie dinge tot op die spits gedryf word.

JohanL ·

Pas boek gelees oor die korrupsie voor die sokker Wereldbeker van 2010 en hoe die regering R10 miljoen betaal het om Jack Warner se federasie se 3 stemme te swaai. Die regering het dit egter ontken (aka gelieg).

So wat Ramaphosa praat en doen – wel ek wil nie hier skryf hy lieg nie. Want huidiglik doen hy eintlik maar net mooi niks nie. So ek kan nie skryf hy lieg nie. Maar dit is tyd dat Ramaphosa begin doen wat hy se hy gaan doen.

Dit is jammer dat ‘n populistiese dom Lesufi afbreek doen aan alle groepe en hul moedertaal. Nie net Afrikaans nie. En dit is ook jammer dat Ramaphosa dit toelaat en niks doen om Lesufi stil te maak nie.

Ek is baie skepties oor Ramaphosa. As dit die beste is wat die ANC het, is ons land in sy peetjie in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.