‘ANC regering wil Reserwebank nasionaliseer om verder te steel’

ivan-meyer

Dr. Ivan Meyer is die adjunk-federale voorsitter van die DA. Foto: Verskaf.

[Red] In aanloop tot die nasionale verkiesing op 8 Mei vanjaar gee Maroela Media politieke partye die geleentheid om hul menings oor verskillende kwessies wat kiesers raak op Maroela Media se debatsportaal te lug. Alle politieke partye is welkom om meningstukke vir publikasie voor te lê onderhewig aan die bepalings en voorwaardes van Maroela Media se redaksionele beleid.

Deur dr. Ivan Meyer, die adjunk-federale voorsitter van die DA.

President Cyril Ramaphosa se intensie is om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te nasionaliseer. Dit sal rampspoedige gevolge inhou vir Suid-Afrika en die ekonomie vernietig en lei tot groter armoede.

In ’n reaksie op DA-leier Mmusi Maimane se vraag in die parlement het president Ramaphosa gesê die Suid-Afrikaanse Reserwebank moet genasionaliseer word deur ontslae te raak van private aandeelhouers.

Die president het aangedui dat die ANC-besluit om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te nasionaliseer, uitgevoer moet word om Suid-Afrika se soewereiniteit te bevestig. Dit is egter ironies, want die Grondwet bepaal uitdruklik dat die Reserwebank onafhanklik moet funksioneer.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is verantwoordelik vir die land se monetêre beleid, en die nasionalisering van die sentrale bank sal Suid-Afrika se monetêre beleid ernstige skade berokken. President Ramaphosa en die ANC het reeds Suid-Afrika se fiskale beleid in die afgrond bestuur en nou teiken Cyril Ramaphosa die Reserwebank.

Sentraal tot die debat, is die onafhanklikheid en die mandaat van die Reserwebank. Die Reserwebank se goewerneur, Lesetja Kganyago, het dit soos volg gestel: “Is nasionalisering ’n Trojaanse perd?”

Indien dit gaan oor die onafhanklikheid van die sentrale bank en sy mandaat, gaan kyk wat het gebeur in Turkye en in Argentinië. Ons buurland Zimbabwe het ook onder die bewind van die diktator Robert Mugabe en Zanu-PF die sentrale bank genasionaliseer met rampspoedige gevolge. Zimbabwe het vandag geen geldeenheid nie, as gevolg van hiperinflasie en die sentrale bank se monetêre beleid stuur af op ’n Venezuela-situasie. Die gebrek aan die onafhanklikheid van die sentrale bank in Zimbabwe het bygedra tot die verval van die ekonomie in Zimbabwe.

Cyril Ramaphosa en die ANC weier om die gevaarligte van Zimbabwe en Venezuela raak te sien. In daardie lande het die nasionalisering van die sentrale bank die ekonomie vernietig en mense in groter armoede gedompel.

Die ANC en Ramaphosa het die nasionalisering van die sentrale bank in hul verkiesingsmanifes opgeneem. Dit is dus duidelik dat president Ramaphosa, wat ook onteiening van grond sonder vergoeding ondersteun, ook nou die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondersteun. Cyril Ramaphosa gaan Suid-Afrika verder vernietig en is ’n vurige voorstander van die Nasionale Demokratiese Rewolusie. Hy wyk nou af van die Nasionale Ontwikkelingsplan en is onder druk van die radikale groep in die ANC, asook die EFF, SAKP en Cosatu.

President Ramaphosa kan nie meer vertrou word nie, want vir buitelandse beleggers vertel hy dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se onafhanklikheid ononderhandelbaar is, maar in Suid-Afrika dryf hy aktief die nasionalisering van die Reserwebank .

Die stryd om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te nasionaliseer, is ’n poging om die onafhanklikheid van die Sentrale Bank (soos vervat in Art. 224 van die Grondwet) te beëindig.

Die ANC wil hierdeur die mandaat van die Reserwebank verander om lisensiëringsvereistes van finansiële instellings te verslap. Verder poog die ANC-regering ook om staatsbanke te stig. Met die VBS Bank en die grootskaalse korrupsie kan mens net sidder as jy dink wat by staatsbanke gaan gebeur. Nog meer belastinggeld gaan by die beoogde staatsbanke gesteel word.

Verder beoog die ANC ook om pensioenfondse te forseer om in staatsbeheerde ondernemings te belê. Kiesers moet daarop bedag wees dat benewens die Sentrale Bank, die ANC ook nou jou privaat pensioen teiken om mislukte staatsondernemings te finansieer.

Die nasionalisering van die Reserwebank stel die hele ekonomie in groot gevaar en dit kan lei tot selfs groter werkloosheid en verdere armoede in Suid-Afrika. Hierdie is nie bangmaakpraatjies nie, dis die realiteit. Kiesers moet bewus wees van die prys wat elke landsburger gaan betaal indien die ANC die Reserwebank gaan nasionaliseer.

Met Suid-Afrika se fiskale beleid aan’t skerwe is daar nou nóg ’n groter risiko aangesien die ANC Suid-Afrika se monetêre beleid wil kaap. Kiesers van Suid-Afrika moet op 8 Mei 2019 keer dat Suid-Afrika se monetêre beleid gekaap word deur die nasionalisering van die Suid-Afrika Reserwebank.

Die DA veg teen korrupsie, en wil die ekonomie laat groei om werk te skep. Die nasionalisering van die Reserwebank gaan die ekonomie verwoes en meer mense werkloos laat.

Ons moet staatskaping van die Reserwebank keer voor dit te laat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

George in Bloem ·

Ons land is nou reeds ‘n geruime tyd stewig op pad om maar net nog ‘n Zimbabwe te word danksy die patetiese,onbevoegde,korrupte en rassistiese ANC regering en die onnosele kiesers wat weier om te sien wat aan die gebeur is en net eenvoudig blindweg vir hulle bly stem,maak nie saak watse nonsens hulle aanvang nie. Daar is doodeenvoudig net geen een van die spul wat tot verantwoording geroep word nie en vervolg word en/of toegesluit word nie.Daar is absoluut niks wat die DA of enige iemand anders daaraan kan doen nie. Transformasie op alle vlakke sal aanhou totdat daar niks meer oor is van hierdie eens pragtige land nie. Cry my beloved country indeed.

Dries du Toit ·

Dr. Meyer kry jou party in die ANC se kiesafdelings in die platteland waar die miljoene ongeletterde ANC ondersteuners is en verduidelik aan hulle presies wat als vir hulle voorlê. Ons geletterdes weet al hierdie dinge wat jy so breedvoerig aan ons verduidelik. Gaan vertel dit vir die wat nie weet nie. Dit is al hoe julle hierdie vernietigende orkaan wat op ons losgelaat is kan stuit

Hennie Theart ·

Die ANC sal nie rus voordat Suid Afrika net ‘n naam is nie.
Die ANC moet gestuit word!! Hoe kan die ANC net die grondwet verander.
Die reserwe bank is die laaste staande instansie waar hulle nie kaping personeel het nie.
Die nasionaliseering van die reserwe bank is ‘n NEE!!!!!

aj ·

Ek het nie woorde oor nie!

Laat die massas maar krepeer as hulle aanhou om vir die ANC te stem!

Jerry ·

Die ANC/EFF/BLF het deur hulle radikale en wetsongehoorsame suksesvolle optredes om NDR programme, bestaande uit misleiding en bedrieglike verdraaiing van waarhede vir beheer en selfverryking van die ANC elite en kaderstrukture af te dwing op niksvermoedende wetsgehoorsame burgers, die Suid Afrikaanse demokrasie ontbloot as n klug van magsmisbruik van dubbele standaarde waar die opposisiepartye en hulle wetsgehoorsame volgelinge vinnig besig is om die onderspit te delf, deurdat demokratiese wetgewende maatreels nie afdwingbaar is op die radikale ideologiee, haatuitsprake en haatlike korrupsie optredes van die ANC/EFF/BLF nie. Opposisiepartye se plan om die ANC/EFF by die stembus te probeer stuit is die opposisie se enigste plan. Opposisie partye het dus geen, maar absoluut geen afdwingbare effektiewe wetstoepassingsmaatreels wat die radikales volgens vreedsame en wettige demokratiese optredes kan stuit nie. Die onvermoe van opposisiepartye om effektief teen wetstoepassers, wetstoepassingsowerhede en howe op te tree wat versuim om teen ANC/EFF/BLF radikale kaders en misdadigheid in die algemeen op te tree dui daarop dat opposisiepartye hulle kiesers reeds erg gefaal het en dat die kanse uiters skraal is dat verkiesings manifestobeloftes nagekom sal kan word! Ja wetsgehoorsame kiesers moet gaan stem, maar sal uiters teleurgestel word deur enige positiewe verwagtinge te koester van opposisiepartye met baie blaf, maar geen byt!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.