ANC saal weer dooie onderwysperd op

blade-nzimande

Blade Nzimande (September 2016) Foto: Ntswe Mokoena

Een ding waarop mens kan reken, is dat wanneer die ANC ʼn perd opsaal, dit ʼn pakperd is wat aan die July moet deelneem en nooit die eindstreep sal ruik nie – maak nie saak hoeveel miljoene of miljarde sy stalkoste is nie.

Dis presies waarop die jongste onderwysbeleid neerkom: Nog ʼn dooie perd, soos die perde wat kamma ingespan word om die parastaatsinstellings reg te ruk en ʼn einde te maak aan geweld, diskriminasie, korrupsie en diefstal. Al die mislukte beleidstellings is geskep deur korrupte en onkundige beleidmakers wat resiesperde uit kamele wou teel.

Dit laat mens ook dink aan die Dooie Perd-teorie, wat insluit:

  • Die help nie om verskeie dooie perde in te span nie, die resultaat bly dieselfde.
  • Dit help ook nie om vars ruiters op dooie perde te sit nie.

En die ANC het al verskeie ruiters op die onderwysperd gehad, maar sonder veel sukses, selfs met dalende standaarde in die vereiste slaagsyfer vir matriek.

Die jongste denke het verlede week op die ANC se lekgotla aan die lig gekom: Behoeftige eerstejaarstudente moet van 2018 af gratis studeer. Daar is nie gesê waar die geld vandaan gaan kom nie. Die regering moes juis onlangs sy aandeelhouding van 38% in Telkom verkoop sodat hy die SA Lugdiens se skuld van R4,5 miljard kan delg. En dan is daar Eskom, die departement water en sanitasie met sy tekort van R4 miljard. En, en, en – die lys is lank. Wie kan raai wat die munisipaliteite se algehele skuld en agterstand is?

SA universiteite sak terug

Ons universiteite is reeds onder geweldige geldelike druk om al meer studente sonder die nodige meriete toe te laat: Net 14% voltooi hul driejaarstudie in drie jaar, terwyl ʼn kwart reeds hul tasse ná die eerste jaar pak. Hulle is ook nie al wat loop nie, want al meer van die beste akademici kry elders ʼn heenkome.

Wat ook nie algemeen bekend is nie, is dat ons universiteite hul staatsubsidie – wat sowat 60% van die koste dek – verloor wanneer ʼn student druip. Dit is dus vir hulle belangrik om net toegang te bied aan matrieks met meriete, en dis waar die ANC lynreg van hulle verskil.

Suid-Afrika se top-universiteite is besig om terug te sak op die wêreldlys: Universiteit Kaapstad van 171ste tot 191; Wits van 331 tot 359. Stellenbosch, derde op die lys, het darem geklim van 400ste tot 395. Die volgehoue druk om al meer studente met al minder geld te huisves maak dit onmoontlik om standaarde te handhaaf.

Soos die geval met oudpres. Thabo Mbeki se verwerping van vigs weier die regering ook om te luister na die raad van kenners. Soos dat te veel studente toegelaat word tot rigtings waar die kans om werk te kry, uiters skraal is. ʼn Graad is geen waarborg nie. Die land het ʼn yslike behoefte aan vakmanne, wat baie makliker werk kry en van wie sommige baie meer verdien as gegradueerdes. Die grootste behoefte is aan beroepsgerigte kolleges.

Die hoë druipsyfer aan universiteite beteken dat baie studente uit hul diepte is en liewer vakmanskappe moet oorweeg, sê Sean Jones, hoofbeampte van die instituut vir vakmanne (ATI).

“Of dit nou ʼn bakker, elektrisiën, dieseltegnikus of loodgieter is – daar sal altyd plek vir vakmanne wees. Hulle het amper gewaarborgde formele werksgeleenthede en kan R20 000 per maand en meer verdien. Dit is baie meer as wat baie gegradueerdes sal verdien.”

Die uitvalkoers van gr. 1 tot matriek is 66% teenoor die internasionale uitvalkoers van 35%. In ʼn onderhoud op LitNet het Paul Colditz, voorsitter van Fedsas, gesê minstens 80% van die land se 24 000 openbare skole is “disfunksioneel”.

Colditz het ook gewys op die groot getal onderwysers sonder werksetiek wat dronk of glad nie opdaag nie, hul eie belange voorop stel en kinders molesteer en misbruik. “Ons het eintlik twee stelsels: die een (die minderheid) kan met die beste ter wêreld meeding, maar die meerderheid is ʼn tragiese mislukking.”

Word daar met optrede teen oortreders gedreig, is Sadou maar te gereed om vir hulle in die bres te tree.

Maar soos gewoonlik wil die ANC begin om die dak op te sit voordat die fondament droog en die mure stewig is. Die probleem begin by swak skole en lae slaagsyfers, waar die vakbond Sadou met sy 260 000 onderwyslede die grootste hindernis vir ʼn doeltreffende onderwysstelsel is. Om Sadou se mag te breek, moet een van die grootste prioriteite wees.

Gratis in talle lande

Gratis tersiêre onderwys (en mediese sorg) is natuurlik algemeen in eerstewêreldlande, maar hulle is lande wat goed geregeer word, uitstekende skoolstelsels het, waar daar streng gewaak word teen korrupsie en onnodige uitgawes en waar daar ʼn merieteskaal is vir toelating tot hoër onderrig.

Amerika is vreemd genoeg nie so ʼn land nie en tweederdes van sy studente gradueer met groot skuld, maar daar is sewe lande waar ʼn graad die student ʼn minimum kos, uitgesluit lewenskoste.

Drie jaar gelede het 16 Duitse state universiteitsgeld, benewens ʼn klein registrasiefooi, afgeskaf. Die ander lande waar jy gratis – en in Engels! – kan studeer, is Brasilië, Finland, Noorweë, Slowenië en Swede. Frankryk vra ʼn baie redelike fooi. In baie van hulle is die lewenskoste egter geweldig hoog, hoewel dit natuurlik ook geld vir mense wat glad nie studeer nie.

Lande soos dié in Skandinawië kan gratis tersiêre onderrig bekostig omdat die werkloosheidskoers in die omgewing van 5% en die belastingkoers ongeveer 50% is. Hul staatskaste word ook nie geplunder nie en daar is nie sprake van staatskapings nie.

Grootskaalse korrupsie en wanbestuur is maar twee dinge waaraan die regering ernstig aandag sal moet gee voordat die onderwysperd wat hy wil ry hoegenaamd uit die stal sal kan kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Die ANC se motto is ‘pasella’ en ‘ek’ die wagwoord. Die kiesers is konings en keisers, gemeenskapleiers super-konings en die res, koningskinders. Net die meeste en die beste is goed genoeg. Afrika se doelbewuste bevolkingsontploffing word problematies; iets wat die BBC verbasend genoeg uiteindelik raaksien noudat die bootjies, destyds slawebote genoem, ongevraagd op EU-kuste in reelmaat uitgolf. ‘Ek mag en sal en wil’ word uitgetrom in ‘n dominerende tranetrekker-Afrika-wysie. ‘Jy sal vir ons sorg’ word die refrein op die pad van die dood. Die’ selfvernietigende geen laat Afrika lyk soos hy lyk… op lyk. En Zuma voel tog so alleen buite Afrika-konteks. ‘Do as Africa do’ is sy dringende modus operandi voor sy aftrede in sy paleis in Dubai reg langs die voorbeeldige en onsterflike super-koning uit Afrika…

Eish ·

Wat hom dus afspeel is dat ons tersiêre instellings in n gat in bestuur word. Die vraag is net hoe lank voor die laaste standaarde gaan swig voor die belaglike populistiese owerheidsbestuur. Myns insiens is dit n totale vermorsing van energie om enigsins betrokke te raak om diè boot se koers aan te pas. Die populistiese element se oordonderende, verterende en liberale aanwesigheid het reeds tot gevolg gehad dat die wese van tersiêre instellings terminaal verkanker het. Solidariteit en Afriforum het myns insiens ongekende druk om Akademia sodanig te monster dat daar binne die volgende 5 jaar n Afrikaanse tersiêre alternatief bestaan vir meeste professionele en tegniese rigtings. Die oes van kwaliteit Afrikaanse akademici is tans nog van hoogstaande aard. Gesamentlike aksies wat die privaatsektor insluit is van kardinale belang om kostes in toom te hou. Ons het geen keuse nie as om n eie Afrikaanse akademiese instelling op die been te bring, wat die hele spektrum van opleiding verskaf. Die verval van standaarde by bestaande staatsgesubsidieerde instellings gaan versnel. Hierdie hele aanslag op standaarde is indirek ook n aanval op die Christelike waardestelsel en daarom n kwessie wat elkeen wat die waardes aanhang, moet ondersteun.

V ·

Ja Nee… Herrinner aan Judas 1:12 en 13. Tragiese verwaandheid.

Theresa ·

Whaaaa ha ha ha ha – die vergelykings is pragtig!! Sodra mens egter die feite in erns beskou, gaan daar rillings teen mens se rug af. Stelsels, lieflike ou geboue, nuwe geboue, voorstede, skole, hospitale, geregtigheid : als – is in ‘n modderstortings-stroom – besig om die afgrond in te tuimel.
Hoe begeer mens nie reikhalsend om regverdiges met hoë integriteit en eerlike sakeverstand aan die leisels te hê van ‘n pragtige land soos ons s’n nie! Helaas – of hoe?

Frederik ·

In Swede is alle medies en onderwys gratis. Hoe meer geleerd mense is, hoe meer verdien hul en daarom maak die Swede seker dat hul kinders leer. Die belastingkoers is iets soos 70%. Hul betaal belasting, selfs al werk hul in ‘n ander land. Daar bestaan dus nie iets soos gratis nie.
En ja, Org, grootskaalse korrupsie en wanbestuur is ongelukkig tans regeringsbeleid in SA.

Ida ·

Die departement van justisie is nie veel beter nie. Jy sukkel jou stert af om enigiets gedoen te kry. Hofleers in Pretoria Landdroshof is dikwels soos hoendertande…

Richard ·

Org, jy moet bietjie die feite nagaan voor jy skryf.

Buiten indien jy iets weet wat niemand anders weet nie, het die regering nie sy belang in Telkom verkoop nie.

Daar is wel gerugte gerapporteer in die media rondom die einde van Julie dat die regering dit dalk sal wil doen, maar dit is slegs gerugte.

Dat die regering nie geld het wat rondlê nie, is korrek, maar hulle het nie hul Telkom-aandeel verkoop nie.

Daar’s ‘n paar ander twyfelagtighede hier ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.