ANC se geveg met die ‘autopilot’

Deur Botha Laubscher

(Argieffoto: Pixabay)

In ʼn onlangse episode van Air Crash Investigations op televisie, word ʼn vliegtuig kort voor landing deur weerlig getref. Die loodse aanvaar verkeerdelik dat die stuuroutomaat (autopilot) afgeskakel het. Hulle besluit om nie voort te gaan met die landing nie, maar eers te sirkel om vas te stel of daar skade is.

Toe hulle wil begin klim, ontstaan daar ʼn stryd tussen die loodse en die stuuroutomaat. Hulle wil op en die stuuroutomaat wil die hoogte handhaaf. Hulle wen gedeeltelik en kry die vliegtuig so 610 m (2 000 voet) hoër – ontspan effens, maar die stuuroutomaat neem oor en hulle beland in ʼn duik. Gelukkig – wat seker as genade van Bo gesien kan word – skakel die stuuroutomaat minder as twee minute voor hulle in die see duik af, en die loodse kan normaal voortgaan om veilig te land.

Die analogie met die Suid-Afrikaanse ekonomie is duidelik. As ons die markkragte sien as die stuuroutomaat, is dit duidelik dat die ANC-regering in ʼn hewige stryd met die markkragte gewikkel is in ʼn poging om die ekonomie te laat groei. Somtyds wen hulle ʼn bietjie deur beleggingskonferensies, maar dan neem die markkragte weer oor en die ekonomie duik verder as gevolg van die markkragte wat die ANC-regering self deur hulle ekonomiese benadering ingestel het om ons te laat duik.

ʼn Vriend twiet onlangs: “Dit behoort ʼn vereiste te wees dat enigeen wat in die parlement mag stem oor ten minste Ekonomie 101 moet beskik.” Dalk is die hele Ekonomie 101 nie nodig nie, want ek dink dit was al in die eerste lesing van dié kursus wat die lektor verduidelik het dat as ʼn produk se vraag hoër is as die aanbod, die pryse sal styg. Sodoende word die aanbod gestimuleer en die vraag ontmoedig.

Wanneer die aanbod hoër is as die vraag, daal die pryse om die aanbod te ontmoedig en die vraag te stimuleer. Dit is die lesing wat die ANC-regering – of is dit nou die vyfjaarlikse ANC-konferensiegangers – skynbaar gebank het of nie verstaan dat dit ook op die arbeidsmag van toepassing is nie.

Die ANC is behep met die swak Gini-koëffisiënt wat die ongelykheid tussen arm en ryk meet, maar verstaan nie dat dit eintlik net die resultaat is van ʼn onderaanbod van vermoënde, goed opgeleide bestuurders of professionele mense met ondervinding en ʼn ooraanbod van swak opgeleide mense sonder ondervinding nie. Hierdie situasie dryf dus die vergoeding van bestuurders en professionele mense opwaarts en die vergoeding van die swak opgeleide werkers afwaarts.

Die oplossing om die Gini-koëffisiënt te verbeter, is dus om méér goed opgeleide mense met ondervinding in die ekonomie in te bring en minder swak opgeleide werkers, sonder ondervinding, in die beskikbare werksmag te hê. As ons na die ANC en sy vyfjaarlikse konferensiegangers se beleid kyk, is dit presies die teenoorgestelde.

Eerstens is daar die voorgeskrewe minimumlone. Minimumlone is seker gedeeltelik geregverdig en kan uitbuiting verhoed, maar dit is en bly ʼn direkte inmenging in die markkragte. Dit skuif die salarisse van die laer besoldigde werkers kunsmatig op en gevolglik ook die ekonomiese gelykbreekpunt tussen arbeidskoste en die koste van kapitaalbeleggings in meganiserings- en outomatiseringstoerusting. Dit lei dus tot meer meganisering en minder werksgeleenthede en dus hoër werkloosheid. Dit forseer ook werkgewers om opnuut te kyk na hulle werksmag met die vraag of hulle nie met minder arbeiders kan regkom nie. In hierdie opsig is huiswerkers dalk ʼn goeie voorbeeld: Ek vermoed dat baie gesinne besluit het dat hulle nie meer die luuksheid van ʼn huiswerker kan bekostig nie en nou hulle eie werk doen.

In ander gevalle verhoog dit die produksiekoste van goedere wat prysverhogings noodsaak. Volgens die ekonomiese reël hier bo, beteken dit laer verkope en dus laer winsgewendheid wat personeelvermindering noodsaak. Die resultaat is dat party werkers meer geld kry, ander hulle werk verloor, pryse styg en die Gini-koëffisiënt dieselfde bly.

Tweedens is die ANC-regering se grensbeheer uiters swak, met die gevolg dat letterlik duisende onwettige immigrante die land instroom. Ek vermoed die meeste hiervan is onvoldoende gekwalifiseerde mense met min of geen ondervinding nie. Die huidige debat oor xenofobie is die resultaat van dié mislukking. In plaas van beter grensbeheer en ʼn beter immigrasiebeleid, beskuldig die regering net die mense wat die impak van hulle swak beleid eerstehands ervaar. Die gevolg is meer werkloosheid, onrus en geweld.

Derdens volhard die ANC met sy benadering van regstellende aksie en raskwotas in die werksplek. Dit het veral in die staatsdiens en die staatsbeheerde maatskappye gelei tot die vinnige vervanging van goed opgeleide, bevoegde, hoofsaaklik blanke mense met ondervinding, met mense wat minder of selfs geen toepaslike ondervinding het nie. Dit lei tot die ineenstorting van besigheidsprosesse en die geleidelike verval van die genoemde organisasies en die staatsdiens.

Mense wat so uit diens gestel is en sukkel om weer werk te kry, tesame met skeptisisme oor die toekoms van die land en die hoë misdaadsyfer, besluit maklik om te emigreer. Suid-Afrika het sedert 1994 seker ten minste een miljoen van sy goed opgeleide en ervare werkers verloor. Dit beteken ʼn tekort aan die hoërinkomstewerkers wat weer hulle besoldiging opskuif en die Gini-koëffisiënt verswak.

As ʼn mens weet dat die kaliber (vermoë, opleiding, ondervinding en so meer) van die mense in ʼn land die belangrikste, selfs die enigste faktor is wat jou land se ekonomiese vlak bepaal, dan besef jy die diepgaande skade wat die ANC aan die ekonomiese vermoë van Suid-Afrika aangerig het.

Die oplossing is nie ʼn vinnige een nie, want selfs as jy vandag die situasie omkeer, sal dit ten minste 15 jaar neem voordat jy goed opgeleide mense uit die opleidingstelsel kry en as ons nog tien jaar bytel vir daardie mense om goeie praktiese ondervinding op te doen, mits daar mentors is om hulle indiensopleiding te gee, dan lyk die korttermyn ekonomiese toekoms nie goed nie. Oor baie is hulle aangestel, maar oor so min daarvan is hulle getrou.

Miskien is dit nou die tyd vir die ANC-regering, hul konferensie-afgevaardigdes en die kiesers wat vir hulle stem, om kennis te neem van wat Einstein gesê het: “Insanity is doing the same thing over and over and expecting different results”.

  • Laubscher is afgetrede uitvoerende direkteur van Clover.

Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vrijburger ·

Puik skrywe.
Maar helaas, om ‘n lugvaart term te gebruik – ek dink die ekonomie is reeds in ‘n ‘death spiral’.

Fritz ·

Dit behoort n vereiste te wees dat enigeen wat in die parlement stem n ORDENTLIKE akademiese kwalifikasie wat duidelik sy/haar intelligensie bewys (hier dink ek aan aktuariële wetenskap of chemiese ingenieurswese) besit. BA is nie goed genoeg nie.

Frank ·

Hoeveel vet salaris “direkteure” en ander kan selfs net ‘n artikel met soveel logika en waarheid skryf of nog erger, lees en begryp, en dit is die grootste probleem, daar is teveel wat eenvoudig nie eens weet of kan verstaan dat hulle nie weet of begryp nie

Andre ·

Die gevaarligte was al in 1994 baie duidelik n hyena verander nie van kleur nie

Manie ·

Nog ‘n voorvereiste behoort ook ‘n IK van bo 100 te wees.

annie ·

… wat van eerder 1 500 jaar of 5 100 jaar? Raad wat op dowe ore val? Tyd en kopstamp sal dalk help. Maar ons moet nie ons geld daarop sit nie. Wat sê Einstein, wat doen ‘n mens met iemand wat iets aanhoudend op dieselfde verkeerde manier doen? Bevorder hom?

ABDP ·

Baie goeie verduideliking en skrywe. Ek self laat my huis hulp net twee keer ‘n week inkom met die ook daarop dat as my klein kindertjies groter is ons haar gaan laat gaan. Nie omdat sy swak werk nie, maar ek kan haar nie meer bekostig nie. Ons het elkeen, klein en groot, ons eie taak in die huis. Ek stem saam Ekonomie 101 is verseker iets wat min ANC lede verstaan. Dit is regtig so eenvoudig soos wat dit is. Om ‘n goeie opgeleide persoon te kry is so skaars soos hoender tande.

Manie ·

Dis net nog ‘n slenter van die regering om dit wat nog werk uit die privaatsektor se hande te neem en geheel afhanklik van die staat te maak.

Nettie ·

Ek het iets soos 22 huiswerkers aangestel in my lewe. Van hulle het slegs ‘n maand of 2 gehou, ander het jare gewerk. Almal het self bedank, ek het nooit iemand afgedanknie. Hulle het meestal slegs 4-5 ure ‘n dag gewerk, maar voldag salaris gekry. Ek het altyd meer as die minimum betaal, en vrugte, brood en kos gereeld saam gegee. Tog het daar tydens 20 van die 22werkers se tyd by my, gereeld goedere en geld en klere net “verdwyn”. Toe dit uit my kinders se spaarvarkies begin verdwyn, en my werker daarna self bedank, het ek besluit genoeg is genoeg. En my eie huis self begin skoonmaak. Dis harde werk, maar die verligting om nie gedurig te moet hoor: “Mamma, my geld is weer weg!” nie, selfs wanneer dit weggesteek was in laaie of kaste, is oor en oor dit werd. Die kultuur van vat wat nie aan jou behoort nie, blyk diepgewortel te le.
Wonder of hierdie kommentaar geplaas gaan word….

Dup ·

Daar is ñ Engelse gesegde wat lui: “One cannot argue with stupidity”.Dit is ongelukkig die treurige verhaal van ons regeerders…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.