Die uitvoerende provinsiale komitee van die Oos-Kaapse ANC het Maandag 22 Oktober 2018 die party se Nelson Mandelabaai-streek ontbind. Dit was een van drie ander streekliggame van die ANC wat in die Oos-Kaap ontbind is. Die streek is ontbind omdat die 70%-drempel van takke teenwoordig wat nodig is om ʼn voorsitter te kies, nie bereik is nie.
Die streek moes egter ʼn nuwe voorsitter kies nadat die voormalige voorsitter Andile Lungisa skuldig bevind is aan aanranding en ʼn twee jaar lange tronkstraf uitdien weens ʼn voorval waar hy tydens ʼn stadsraadvergadering ʼn DA -id met ʼn glaswaterbeker oor die kop geslaan het.
Hierdie besluit om te ontbind blyk ʼn verdere krisis te wees wat die party te midde van reeds onstuimige omstandighede in die Oos-Kaap ervaar. Dit lyk asof Port Elizabeth, wat as die winderige stad bekend staan, die winde van verandering begin voel. Wanneer daar breedweg na die stukkie nuus gekyk word, mag dit dalk onbeduidend lyk, maar op die keper beskou, spreek dit van groter probleme vir die ANC.
Plaaslike partyliggame soos die een in Nelson Mandelabaai is die meganismes wat in verkiesingsveldtogte die donkiewerk doen. Hierdie vrywilliger lojaliste is diegene wat plakkate opsit, vergaderings reël, partylede pols om data by die veldtoghoofkwartier te kry en, die belangrikste van alles, wat die planne beraam om te sorg dat mense op die verkiesingsdag uit hul huise kom om te stem.
Die ANC was histories besonder goed georganiseerd op hierdie vlakke. Die party kon altyd sorg dat sy ondersteuners op verkiesingsdag by die stembusse uitkom. Ander partye soos die DA, EFF en Cope het besef dat hul agter is in hierdie verband. Die DA het egter onlangs nuwe strukture geskep om juis dié spesifieke probleem die hoof te bied. Die feit dat die DA ook in die 2016- munisipale verkiesings goed vertoon het, dui daarop dat die party ʼn nuwe blaadjie omgeslaan het met voetsoolvlak-mobilisering.
Die feit dat die ANC nou swakheid toon in hierdie strukture, mag dalk dui op ʼn silwerrandjie in Suid-Afrikaanse politiek. Dit, saam met die ANC wat in ʼn paar tussentydse verkiesings pakslae gekry het, gee hoop dat die ANC in 2019 verras gaan word.
Die swakheid van die ANC in Nelson Mandelabaai is ook bemoedigend nadat die ANC, EFF en die UDM saamgespan het om Athol Trollip (DA) uit te werk. Hierdie is net ʼn verdere voorbeeld van die ANC wat ʼn identiteitskrisis ervaar in die gebiede waar hulle nie regeer nie. Die ANC is nóg minder bevoeg om ʼn opposisieparty te wees, as ʼn regeringsparty – hoe moeilik dit ook al mag wees om te glo.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
En die les is? ……… 45,000,000 mense het nie ‘n idee waaroor dit gaan nie.
Hulle is almal Wes Kaap toe ;)
As die president net genoeg tyd gaan kry om sy stempel op SA af te druk, gaan ons verbaas wees watter suksesse daar vir ons was. Hy is ‘n bouer en nie afbreker nie .
Pres Ramaphosa is ‘n intelligente man. Kom ons hoop hy doen die intillegente ding.