ANC se hartlande stort in duie

Argieffoto

Die uitvoerende provinsiale komitee van die Oos-Kaapse ANC het Maandag 22 Oktober 2018 die party se Nelson Mandelabaai-streek ontbind. Dit was een van drie ander streekliggame van die ANC wat in die Oos-Kaap ontbind is. Die streek is ontbind omdat die 70%-drempel van takke teenwoordig wat nodig is om ʼn voorsitter te kies, nie bereik is nie.

Die streek moes egter ʼn nuwe voorsitter kies nadat die voormalige voorsitter Andile Lungisa skuldig bevind is aan aanranding en ʼn twee jaar lange tronkstraf uitdien weens ʼn voorval waar hy tydens ʼn stadsraadvergadering ʼn DA -id met ʼn glaswaterbeker oor die kop geslaan het.

Hierdie besluit om te ontbind blyk ʼn verdere krisis te wees wat die party te midde van reeds onstuimige omstandighede in die Oos-Kaap ervaar. Dit lyk asof Port Elizabeth, wat as die winderige stad bekend staan, die winde van verandering begin voel. Wanneer daar breedweg na die stukkie nuus gekyk word, mag dit dalk onbeduidend lyk, maar op die keper beskou, spreek dit van groter probleme vir die ANC.

Plaaslike partyliggame soos die een in Nelson Mandelabaai is die meganismes wat in verkiesingsveldtogte die donkiewerk doen. Hierdie vrywilliger lojaliste is diegene wat plakkate opsit, vergaderings reël, partylede pols om data by die veldtoghoofkwartier te kry en, die belangrikste van alles, wat die planne beraam om te sorg dat mense op die verkiesingsdag uit hul huise kom om te stem.

Die ANC was histories besonder goed georganiseerd op hierdie vlakke. Die party kon altyd sorg dat sy ondersteuners op verkiesingsdag by die stembusse uitkom. Ander partye soos die DA, EFF en Cope het besef dat hul agter is in hierdie verband. Die DA het egter onlangs nuwe strukture geskep om juis dié spesifieke probleem die hoof te bied. Die feit dat die DA ook in die 2016- munisipale verkiesings goed vertoon het, dui daarop dat die party ʼn nuwe blaadjie omgeslaan het met voetsoolvlak-mobilisering.

Die feit dat die ANC nou swakheid toon in hierdie strukture, mag dalk dui op ʼn silwerrandjie in Suid-Afrikaanse politiek. Dit, saam met die ANC wat in ʼn paar tussentydse verkiesings pakslae gekry het, gee hoop dat die ANC in 2019 verras gaan word.

Die swakheid van die ANC in Nelson Mandelabaai is ook bemoedigend nadat die ANC, EFF en die UDM saamgespan het om Athol Trollip (DA) uit te werk. Hierdie is net ʼn verdere voorbeeld van die ANC wat ʼn identiteitskrisis ervaar in die gebiede waar hulle nie regeer nie. Die ANC is nóg minder bevoeg om ʼn opposisieparty te wees, as ʼn regeringsparty – hoe moeilik dit ook al mag wees om te glo.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

En die les is? ……… 45,000,000 mense het nie ‘n idee waaroor dit gaan nie.

1+1 ·

As die president net genoeg tyd gaan kry om sy stempel op SA af te druk, gaan ons verbaas wees watter suksesse daar vir ons was. Hy is ‘n bouer en nie afbreker nie .

Stuiwer ·

Pres Ramaphosa is ‘n intelligente man. Kom ons hoop hy doen die intillegente ding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.