ANC se KOÖPtasie-wenresep

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

Die ANC het in die afgelope verkiesing steeds ʼn meerderheid in 166 munisipaliteite behaal ongeag hul rampspoedige regeringsrekord.

Daar is verwag dat die ANC veel swakker sou vaar weens die krisis waarin hulle die land die afgelope 27 jaar regeer het. Swart armes ly die meeste onder die ANC-regering, en daarom vind mense dit onbegryplik dat miljoene mense oënskynlik weer vir hul eie benadeling gestem het. Uiteenlopende verklarings word hiervoor gebied. Die belangrikste rede is hoogs waarskynlik die ANC se “koöptasie”-wenresep, hoewel kiesers wêreldwyd meer vir identiteit as beleid of prestasie stem.

“Steunkoop”-strategie

Die party se wenresep sedert 1994 was om die belangrikste tien kiesersgroepe se steun met staatsmag en belastinggeld te koop. Die onderliggende denke is dat kiesers nie eerstens vir ʼn lewe moet werk nie, maar eerder vir ʼn lewe ANC moet stem.

Die swart elite se steun is eerstens deur bemagtigingstransaksies gekoop wat talle kitsmiljoenêrs geskep het. Tweedens het die ANC die swart politieke middelklas se steun met derduisende goedbetaalde staatsdiensposte en rassekwotas in die privaatsektor gekoop.

Derdens is miljoene armes se steun met die grootste welsynstelsel in die ontwikkelende wêreld gekoop. Vierdens is die sosialistiese blok se steun deur die alliansie met Cosatu en die SAKP gekoop, en die opneem van sy leiersfigure en beleidsrigtings in die regering.

Vyfde is die Afrikaniste se steun met die ANC se klem op ras gekoop. Sesde is die tradisionele blok se steun deur die erkenning en vergoeding van tradisionele leiers gekoop.

(Argieffoto)

Daarby het die ANC probeer om die ou magsorde deur die inlywing van die NP as die sewende been van hierdie strategie in te trek. Die agtste steungroep is die wit sakelui, wie se samewerking verkry is deurdat die ekonomiese beleid vir hulle ruimte gemaak het in ruil vir die ondersteuning van die ANC se rassekwotas in die werksplek.

Die negende been van hierdie strategie was om die steun van liberale elitegroepe soos die media en akademici te kry deur minstens lippediens aan die liberale Grondwet en demokratiese bestel te betoon.

Om hierdie almal-insluitende “steunkoop”-strategie af te rond, is die breë bevolking se lojaliteit in die tiende plek verseker deur toe te sien dat die media die rasgedrewe stelsel regverdig. Dit word gedoen deur skoolleerplanne en deur die vestiging van die ANC-regering se mag oor alle sektore van die samelewing heen deur middel van die rasgedrewe transformasiestrategie.

Die ANC se idees het in die woorde van Karl Marx “die regerende idees van die samelewing” geword, waarbinne die meeste joernaliste en kommentators die daaglikse werklikheid vir hul lesers en kykers vertolk. Daar is bitter min mediahuise of kommentators wat dit waag om buite hierdie staatsideologie te dink en te skryf.

EFF en ANC

Dit lyk of die DA teen ʼn demografiese plafon vasgegroei het, en hul kan ook nie die ANC se beloftes aan hierdie tien groepe klop nie. ʼn Sosialis kan nie met beloftes en die besteding van ander mense se belasting aan sy kiesers oortref word nie, en kan daarom moeilik uitgestem word.

Net die tyd sal leer of die ANC in die komende jare sy koöptasiestrategie net so behendig soos in die verlede kan toepas, en of die geld daarvoor nou opraak. Die ANC se suksesvolle steunkoopstrategie maak van hulle goeie politici, maar die werklikheid het gewys hulle is swak regeerders. Hulle los hulle politieke probleme met hierdie steunkoopstrategie op, al vererger dit hul kiesers se ekonomiese probleme.

Die ekonomie kan nie die ANC se politieke beloftes bekostig nie. Daarom sal die ANC nie die eerste rewolusionêre party wees wie se innerlike teenstellings uiteindelik só groot word dat dit die party laat verbrokkel nie. Dit kan gebeur omdat die ANC in die woorde van Margaret Thatcher nou “ander mense se geld alles uitgegee het”.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

Die dodelike kombinasie van beide naïef en dom wees is ongelukkig ‘n siekte in Suid-Afrika. Dit is daarom dat die ANC en die DA nou al jare lank die twee grootste regerende partye is.

Pieter9 ·

Net so; Flip Buys kyk regdeur die ANC se ‘smoke and mirrors’ strategie – teen 2023 gaan daar digby die 20 miljoen SA’ners toelaag-afhanklik wees met ‘n kleiner belasting basis ( Wat wel belasting betaal) en dan sal die krane opdroog. CR sal dalk nou al vir Nederland moet begin aankla van kolonialisering weens Jan Van Riebeeck se kaapse inval, en hulle skuldig laat voel; want waar hy die geld gaan kry sal net hy weet.

Groen Ghoen ·

100% Korrek uiteengesit, mnr. Buys! Gee die duiwel wat hom toekom: Die ANC het ‘n wenresep by Kodesa onderhandel. Die arme belastingbetaler befonds al hul klomp kaders, van die raadslede in die munisipale wyke regdeur tot by die ministers. Briljant gedoen, ANC…. totdat die staatskas leeg is.

Dries ·

Uitstekende opsomming van die siek situasie in die land. Wens meer mense kan dit besef. Ons gaan nog lank deur die dom massas regeer word. Dankie mnr Buys.

tweeling ·

Net ‘n regstellingtjie. Die laaste sin “dit sal gebeur” nie “kan gebeur” nie. Die wiel draai stadig maar hy draai.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die ANC is in sy diepste DNS genoom ‘n Marxisties kommunistiese beweging wat hom voordoen as ‘n sosoialistiese party. Bestudeer die geskiedenis van kommunisme en u sal bevind dat die ANC die kommunistiese strategie noukeurig na-aap.

Feit is dat al ‘n land se burgery net voorspoed kan beleef indien die land volhoubaar voldoende buitelandse valuta verdien sodat al die burgers saam kan eet van die buitelandse opbrengste aan valuta. MAAR dit beteken dat Suid-Afrika ekonomies wêreldkompeterend moet wees betreffende sekere produklyne. Noem op in welke produkte is Suid-Afrika wêreldkompeterend?

Ek voorsien nog vele jare van swaarkry vir die nasie. Stel vir u ‘n Gantt-kaart op van die boublokke wat wanneer in posisie moet kom alvorens Suid-Afrika volhoubaar voldoende buitelandse valuta sal kan verdien. Ek daag alle Suid-Afrikaanse politici uit om hul Gantt-kaarte openlik te publiseer.

Groen Ghoen ·

S.A. is beslis ‘n leier wat werkloosheidskoers betref, lees gerus die CIA World Factbook vir die res. Dit is nie ‘n mooi prentjie nie. Landbouprodukte kompeteer heel goed, veral sitrusvrugte. Wat internasionale handelsmerke van eie S.A. produkte betref was die KWV die bekendste. Ons landjie is maar ‘n klein ekonomie, indien ek reg onthou veel minder as 1% van die totale globale produksie van goedere en dienste.

Johan ·

Ja, alles waar! Ek kan aan geen manier dink waarop hierdie verval omgekeer gaan word nie. Kort voor lank sing ons almal Billy Joel se Goodnight Saigon: ” … and we will all go down together … !”

Erika ·

Terwyl Alles .Stagneer om hule …… het daar Twee Fools eendag saam geloop oor die brug oppad na die stem lokaal Een se vir die ander een -“This time i will vote for change..
“Who you going to vote for..”
“Same Guys….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.