ANC se kultuur van korrupsie en onbekwaamheid

(Argieffoto)

As daar twee temas is wat die ANC-geskiedenis strykdeur in mindere of meerdere mate kenmerk, is dit korrupsie en onbekwaamheid.

Ek sit juis hier met ’n nuusberig voor my met die strekking dat duisende (ANC-)amptenare onwettig staatstoelaes ontvang omdat hulle reeds ’n salaris van die staat af kry.

In ’n ander artikel vlek kommentator John Kane-Berman op die webwerf PoliticsWeb die wyse oop waarop die ANC sy beleid van “kaderontplooiing” uitvoer. Dit kom daarop neer dat volstrek ongekwalifiseerde en dikwels onbekwame mense senior aanstellings in die staatsdiens kry, waardeur nie alleen dienslewering daaronder ly nie, maar miljoene rande in ’n bodemlose put afgesmyt word.

Verreweg die meeste Suid-Afrikaners het pas in 1990 deur onafhanklike beriggewing met die ANC kennis gemaak. Daardeur kon hulle tóé eers agterkom dat hierdie twee temas – korrupsie en onbekwaamheid – wat die organisasie se optrede in ballingskap gekenmerk het, ná 1990 naatloos voortgesit is.

Een van die mees verwoestende bronne oor die ANC/SAKP se vergaande korrupsie en onbekwaamheid in die jare voor sy wettiging, is die sogenaamde Hani-memorandum van 1969 wat ’n woedende aanklag teen die twee organisasies se leiers bevat.

Die agtergrond is dat Chris Hani, ’n uiters militante ANC- en SAKP-lid en senior offisier in Umkhonto we Sizwe (MK) – die ANC/SAKP se “bevrydingsleër” – ’n militêre poging gelei het om uit Zambië deur die destydse Rhodesië na Suid-Afrika deur te dring en ’n guerrillaoorlog aan die gang te kry. Dit het klaaglik misluk. Talle van die voornemende guerrillas is al in Rhodesië deur dié land se doeltreffende weermag uitgeskakel, en Hani self moes na Botswana uitwyk waar hy 18 maande in ’n tronksel gesit het.

Terug in Zambië het hy en ’n paar kamerade ’n verwoestende memorandum geskryf waarin hy by wyse van spreke geen twee stene in die ANC-SAKP-bouwerk op mekaar gelaat het nie.

Hy het reguit na die “frightening depth reached by the rot in the ANC and disintegration of MK” verwys. Hy het oor die “careerism of the ANC leadership abroad, who have, in every sense, become professional politicians rather than professional revolutionaries” geskryf.

Dít wat die tema van onbekwaamheid betref … Hani het egter ook die korrupsie in die ANC in harde taal aan die kaak gestel: Hy het oor “mysterious business enterprises” geskryf, soos ’n meubelfabriek in Lusaka wat deur ANC-leiers bedryf word. Ondernemings wat as dekking vir MK moes dien, is nou ’n suiwer kommersiële onderneming:

“We are therefore compelled to conclude that there is no serious drive to return home and carry on the struggle.”

Hy het beweer dat Oliver Tambo, ANC-leier, ’n deftige motor met chauffeur tot sy beskikking het en dat die leiers toegang tot uitstekende mediese behandeling kry, terwyl die gewone MK-lede maar self moet aansukkel.

Een van die ernstigste aanklagte was ewenwel dié een:

“Another disturbing symptom is the glaring practice of nepotism where the leadership uses its position to promote their kith and kin and put them in positions where they will not be in any physical confrontation with the enemy. The sending of virtually all the sons of the leaders to universities in Europe is a sign that these people are being groomed for leadership positions after the MK cadres have overthrown the fascists.”

Voorts is daar weinig sprake van vrye denke in die ANC, aldus die memorandum: MK se veiligheidsafdeling, beter bekend as NAT, doen niks teen “die vyand” nie. Dan volg twee verwoestende sinne:

“In the prosecution of its internally directed activities, the security department has become notorious. Those who serve in it have the central task of suppressing and persecuting dedicated cadres of MK.”

In die memorandum is ook gewag gemaak van “secret trials and secret executions” van lastige onafhanklike denkers.

Van ewe veel belang is die feit dat die memorandum uiters negatief deur die ANC-leiding ontvang is. Die skrywers is in hegtenis geneem. Sommige in die ANC-leiding, met Joe Modise op die voorpunt, ná 1994 se minister van verdediging en bevelvoerder van MK, het selfs daarop aangedring dat Hani en sy medeondertekenaars die doodstraf kry. Dit was slegs die tussenkoms van Mzwai Piliso, nog ’n ANC-leier, wat dit voorkom het. Oliver Tambo, hoofleier, het die straf gekanselleer en dit tot ’n skorsing van ’n paar maande verminder.

Chris Hani (via Wikimedia Commons https://en.wikipedia.org/w/index.php?curid=29634474)

Nou moet ’n mens Hani se rol nie verromantiseer nie. Dieselfde Hani het in 1984 ’n volledig anderslykende rol in die onderdrukking van ’n opstand oor die ellendige toestande in die MK-kampe in Angola gespeel. Hani het self die operasie gelei waarin die opstand in bloed gesmoor is. Teenoor Mwezi Twala, een van die opstandelinge se leiers wat ’n konferensie geëis het om die griewe te bespreek, het hy geskreeu:

“Why in hell’s name are you interested in a conference when you bloody well know you have a tried and trusted leadership!” Dié soort denke, het hy gesê, “are seditious and show the mind of a traitor.”

En toe ’n groep MK-opstandelinge later in Uganda hul eie politieke streekskomitee wou kies, was dit onder meer Chris Hani wat die komitee met geweld uitmekaar laat jaag het. Dieselfde Hani het later ontken dat hy ooit van MK-strafkampe geweet het – die kampe is as heropvoedingsplekke bedoel, waar die gevangenes glo hul selfrespek kon herwin.

Dit het tot 1993 geduur voordat hy erken het dat die ANC foute in die kampe begaan het. Die punt is dat dieselfde twee temas wat die ANC-regering in mindere of meerdere mate sedert sy bewindaanvaarding in 1994 kenmerk – korrupsie en ondoeltreffendheid – reeds tydens die organisasie se ballingskap in oorvloed aanwesig was. Dié kultuur is ná 1994 eenvoudig voortgesit.

Die verskil is eenvoudig dat die ANC nou in beheer van ’n hele staat was, en dat die skade wat hy daardeur kon aanrig dus aansienlik erger was. Dis waar dat president Cyril Ramaphosa ná sy opvolging van Zuma die regte geluide maak. Hy protesteer dikwels teen onbekwaamheid en korrupsie.

Maar dis net woorde. Uiteindelik is die toetssteen: Wat dóén hy daarteen?

Deel van sy probleem is dat hy te make het met ’n kultuur in die ANC wat al dekades lank floreer. Sukses in Ramaphosa se geveg lê nie om die draai nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

Nou wie sou dit nou in 1990 kon weet? Sekerlik nie ons gesoute “onderhandelaars” van Kodesa-faam nie. Maar laat ons wat met die gewaande vye sit nou nie derms uitryg nie. Al wat oorbly is saamstaan en helpmekaar. Alweer en nog ‘n keer.

Petrus Albertus ·

Ramaphosa is nie besig om teen korrupsie te veg nie. Hy is bloot die ANC se mees onlangse Trojaanse perd om die hooggeplaaste korruptes in die party skotvry te laat wegstap. Neem bv. sy direkte aandeel in die Zuma parool sage as voorbeeld, asook sy verdediging van kader ontplooing, tot op die regbank, by die Zondo komissie.

jzjz05 ·

Ramaphosa sê ons hoe jy die onmiskenbare gewoonte van korupsie en onbekwaamheid gaan stop,As jy dit nie kan doen nie stop om te sê daar is nou n streep getrek teen die korupsie en onbekwaamheid .niemand glo jou nie,of gee ons jou plan en oortuig ons.

Henk ·

Ek weet nie of dit werklik eens meer ‘n doel dien om hieroor te praat nie.

Dup ·

Skelmwees, onbekwaamheid en luiheid is ñ gevaarlike kombinasie.Die resultate is duidelik in SA te siene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.