ANC se regstellende aksie misluk oral

Die paradoks van regstellende aksie kan gelyk gestel word aan kommunisme: Die teorie daarvan lyk billik en edel terwyl die toepassing daarvan uit voeling is met die praktiese wêreld. Waar kommunisme en regstellende aksie beide as hoofdoelwit het om voorheen-gemarginaliseerdes op te hef en geregtigheid te laat geskied, is dit in die praktyk ʼn doodloopstraat wat tot veel erger kwale lei. Dit is ook inherent ʼn ondemokratiese beleid wat maak dat belowende en bekwame mense oor die hoof gesien moet word ten gunste van swakker kandidate.

Sedert die ANC regstellende aksie in die laat 90’s as wetgewing aanvaar het, het die beleid se vraatjies al hoe meer opvallend en ernstig geword. Regstellende aksie het as oogmerk om swartmense, as synde diegene wat onder Apartheid gely het, te emansipeer deur hulle ʼn wetlike voorkeur vir werkkeuring bo veral wit mans te gee. Die toepassing daarvan was egter nie so klinies en eenvoudig soos die wetgewing voorgee nie en dit het gou geblyk dat ANC-kaders, eerder as blote bevoegde swart mense sonder politieke bande met die regerende party, voorrang sou geniet.

Wêreldklas-staatsinstellings en semistaatsinstellings is mettertyd ten gronde getransformeer en moes telkens uit die pekel deur middel van staatshulp vanaf die sentrale regering gered word. Die uitvoerende hoofde van Denel, Eskom, SAL en Alexkor het gekom en gegaan onder erge wolke net om goue handdrukke vir hul swak bestuur te ontvang… en in sekere gevalle selfs later herontplooi te word. Terwyl regstellende aksie in sommige opsigte ʼn noodsaaklike beleid is, het ʼn paar onlangse gebeure weereens benadruk hoe misplaas dit kan wees as dit verkeerd en onrealisties toegepas word.

Eerstens het die SAUK sy taak op ys geplaas om ʼn nuwe hoof van operasionale dienste aan te stel ná ʼn herrie oor ʼn advertensie. Daar word geen melding in die koerantadvertensie van matriek of ervaring vir die pos gemaak nie. Die pos – die tweede belangrikste in die organisasie – is ook slegs intern geadverteer. Aanvanklik sou Hlaudi Motsoeneng, ‘n vertroueling van pres. Jaob Zuma en ‘n getroue ANC-kader by die openbare uitsaaier, die pos vul maar die media-herrie (en uiteindelik die publiek se misnoeë) asook die feit dat Metsoeneng nie matriek het nie, het die soeke na ‘n kandidaat eers aan bande gelê. Dis ironies dat die onafhanklike private media – wat die teiken van amptelike muilbandregulasies is – die openbare uitsaaier, wat stellig ‘n strenger mandaat teenoor Suid-Afrika het, tot orde moes roep.

Ofskoon die proses uitgestel is, kan daar verwag word dat kader-ontplooiing weer hoogty gaan vier sodra die media-stof gaan lê het. As die SAUK nog ‘n goed bestuurde en rendabele organisasie was, kon mens dalk hierdie ruwe vorm van regstellende aksie oorgesien het. Maar dit is helaas ‘n vrot een wat regeringspropaganda uitsaai. Anton Harber, Wits-professor van joernalistiek en kenner van die SAUK, het eenkeer teenoor my opgemerk dat die wortel van die SAUK se probleme by die ANC se beleid lê om eerder kader-aanstellings te doen as om mense met die regte vaardighede en ervaring aan te stel. In 2009 het die organisasie ‘n totale omvattende verlies van R910 miljoen gely en uitgawes het met 19% gestyg.

Die ouditeur-generaal, mnr. Terence Nombembe, het tydens ‘n spesiale ondersoek na die SAUK se sake in 2009 op miljoene rande se finansiële wanbestuur en korrupsie afgekom. Daarbenewens is mnr. Dali Mpofu in die 2008/’09-boekjaar weens sy swak prestasie as uitvoerende hoof van sy pligte onthef, die raad is ontbind en die SAUK het ‘n tekort van R1 miljard gehad. Eyewitness News berig voorts op 1 Oktober 2010 dat die SAUK vir die laaste boekjaar ‘n verlies van R190 miljoen gemaak het weens misdadige aktiwiteite en onreëlmatige besteding. Die gevolge van regstellende aksie was duidelik by die SAUK.

Tewens is die provinsiale regering van Limpopo onder adminstrasie geplaas nadat dit finansieel onderdeur is en onder meer nie meer verpleegsters en onderwysers se salarisse kon betaal nie. Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) was 40% van die mense in Limpopo volgens die wye definisie van werkloosheid (insluitende mense wat opgehou werk soek het) sonder werk in 2010. Inmiddels was bykans 20% van onderwysposte in Limpopo vakant in 2008 – dis slegs oortref deur Mpumalanga – terwyl dit nog steeds ‘n goeie onderwyser-leerling ratio van 1:29 het. Die ANC het hierdie provinsie in die laaste paar nasionale verkiesings met meer as 90% van die stemme gewen, wat niks goeds voorspel vir wigte en teenwigte op hul mag nie.

Voorts berig die Mail & Guardian in Oktober laas jaar dat die Limpopo-regering 40 staatsamptenare weens korrupsie of misdade afgedank het en 44 maatskappye weens swak tenderwerk op ‘n swartlys geplaas het. Wat is die enkele slotsom wat uit al hierdie feite afgelei kan word? Dit is bloot dat met soveel probleme wat al vir ‘n aantal jare bestaan, sou mens hoop dat bevoegde mense aangestel kan word om die werk te doen. Maar helaas het die hoop beskaam en het korrupsie uiteindelik tot die provinsie se val gelei. Dus het demokrasie misluk, die mense van Limpopo het gely en korrupsie het gedy. En regstellende aksie en politieke bevoordeling kan grootliks die blaam hiervoor dra. ‘n Hartseer feit is dat ‘n professionele staatsamptenaarkorps nog steeds nie ná byna 20 jaar van demokrasie bestaan nie. Trouens, die situasie het drasties vererger sedert 1994.

Maar dit is nie net in die binnelandse arena waar die ANC regstellende aksie sonder meriete wil toepas nie. Nkosazana Dlamini-Zuma, SA se minister van binnelandse sake, het die wedloop teen Jean Ping van Gaboen verloor om die voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie te word. Dr. Jakkie Cilliers, hoof van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), het aan Beeld gesê die ANC het nooit (in hierdie wedloop) besef daar is soveel teenstand teen hom in Afrika nie. Hy het voorts aangevoer Afrika is multipolêr is en werk deur koalisies van lande en bied nie ruimte vir een magtige staat om te oorheers nie. Klink dit nie bekend in ‘n Suid-Afrikaanse bestel nie?

Die ANC het nooit besef Suid-Afrika sal nie ‘n homogene staat word waar almal liries oor sy struggle-geskiedenis raak nie. Nes in Suid-Afrika met die minderhede en regstellende aksie deur demografiese verteenwoordiging, wou die ANC ook die politieke septer in Afrika volgens ‘n pan-Afrikanistiese of struggle-plan swaai. En, tot die ANC se groot verbasing maar straks met geen wysheid agterna nie, stem Afrika nie heeltemal saam nie en het die vasteland ook in baie opsigte aanbeweeg in sy denke ná 1994. Die Afrikaner en sy instellings het lankal gewys Suid-Afrika gaan nie in ‘n struggle-hagiografie en uiteindelik in nog ‘n mislukte Afrika-staat ontaard nie. Afrika as ‘n vasteland het dit nou ook bewys.

Boonop het die ANC weereens die kardinale fout began om ‘n kandidaat te benoem wat die party dink is die beste, maar nie noodwendig die bekwaamste is nie. Onder Dlamini-Zuma het SA geen buitelandse beleid behalwe vir duur amptelike besoeke aan lande gehad nie. Daar was geen oorhoofse strategie nie behalwe vir onbesonne besluite om nader aan China en ander skurkstate soos Mianmar en Iran te beweeg en Afrika se ontwikkeling (sonder sukses) te probeer lei nie.

Ons kan maar net hoop die ANC besef dat sy mag nie gewaarborg is in ‘n heterogene en divserse Suid-Afrika nie, en ook nie op ‘n vasteland waar regstellende aksie met aanstellings nie geld nie. Enigiets anders as meriete-aanstellings sal net nie deug nie en regstellende aksie, nes kommunisme, is allerweë ‘n mislukking.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae