ANC se Tshwane-magspel moet gefnuik word

Deur Cilliers Brink

Cilliers Brink. Foto: Twitter

Die besluit van die Gautengse regering om die Tshwane-metroraad te ontbind en onder administrasie te plaas, is deel van die ANC se oorspronklike strategie: om die stad onregeerbaar te maak in die hande van die opposisie. Op hierdie manier word belastingbetalers se geld bewillig om veld wat die ANC in die 2016-plaaslike regeringsverkiesing verloor het, terug te wen.

Ingryping of magsgryping?  

Onder artikel 139 van die Grondwet kan ’n provinsie ’n wanfunksionele munisipale raad ontbind, maar slegs in “uitsonderlike” gevalle. Raadslede van die ANC en die EFF het die laaste vier vergaderings van die Tshwane-metroraad geboikot, en so verseker dat geen geldige besluite geneem kon word nie. Blitsvinnig het Gauteng besluit op die mees drastiese vorm van ingryping deur een regeringsfeer in die sake van ’n ander.

Tshwane se speaker moes in die media van die besluit verneem. Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging (Salga) is nie eens geraadpleeg nie. Binne dae, asof dit weke vantevore beplan is, het premier David Makhura en sy provinsiale kabinet openbare vergaderings in die stad belê om aan inwoners te verduidelik hoe swak Tshwane bestuur word, en dat die provinsie nou tot hulle redding kom.

Hierdie ystervuis sal inwoners van Gauteng se ANC-beheerde munisipaliteite as vreemd opval. ANC-provinsies verkies gewoonlik ’n slaphandbenadering as daar ingegryp moet word by rade wat nie hul verpligtinge nakom nie.

Ten spyte van die voortslepende waterkrisis in die Vaaldriehoek bly die Emfuleni-raad staande. So ook die rade van die Merafong City plaaslike munisipaliteit, wat deel is van die Wesrand-distriksmunisipaliteit, waar gemeenskappe skaars ’n brandweerdiens het. In laasgenoemde munisipaliteite is meer as R100 miljoen uit die plaaslike staatskas gesteel via die VBS-bank.

Maar kom ons vergelyk die Tshwane-situasie met ’n ander munisipaliteit waar die gedrag van ANC-raadslede dit ook onmoontlik maak vir die raad en sy komitees om te vergader. Dan eers word dit duidelik presies waarmee die ANC in Gauteng besig is.

Ystervuis geld slegs vir DA-rade

As jy net anderkant Rust-de-Winter woon, staan jy gebuk onder een van die mees korrupte munisipaliteite in die land, naamlik die Dr. JS Moroka plaaslike munisipaliteit, in een van die mees korrupte provinsies in die land, Mpumalanga.

Die Dr. JS Moroka-munisipaliteit is, soos baie ander landelike ANC-rade, op die rand van bankrotskap. Dienste en infrastruktuur stort in duie, Eskom dreig om die ligte af te sit omdat die grootmaatkragrekening nie betaal word nie, en ontwikkeling voel soos iets wat laas in die 2000’s gebeur het.

Tshwane het weliswaar sy eie probleme. Baie inwoners kla, met reg, oor te veel kragonderbrekings, hoe lank dit neem om straatligte te vervang, en die gemors met die stad se jongste voorafbetaalde kragtariewe. Nadat die ANC 16 jaar hier aan bewind was, spook sy nalatenskap steeds by Tshwane House.

Die DA en ons koalisievennote het gewis foute gemaak in ons pogings om ’n sukkelstad in ’n wenstad te omskep. Om ’n minderheidsregering aanmekaar te hou te midde van konstante politieke en administratiewe sabotasie, lyk makliker as wat dit is. Dis nie ’n korttermynprojek nie.

Maar anders as die Dr. JS Moroka-munisipaliteit, en ten spyte van vele uitdagings, het Tshwane:

  • Geen agterstallige Eskom-skuld;
  • ’n Finansiële reddingsplan wat drie opeenvolgende begrotingsurplusse opgelewer het;
  • Genoeg kontant in die bank om ’n maand en ’n half se verpligtinge na te kom;
  • ’n Skaflike kredietgradering deur Moody’s, wat met twee kerwe opgradeer is sedert die einde van die ANC-bewind;
  • ’n Rits ongekwalifiseerde oudituitkomste; en
  • Voortgesette ontwikkeling, veral in Centurion en die ooste van Pretoria.

Wat Tshwane en die Dr. JS Moroka wel in gemeen het, is dat ANC-raadslede raadsvergaderings ontwrig, en só verhoed dat raadsbesluite geneem kan word.

In die Dr. JS Moroka-raad is die probleem nie dat die ANC ’n meerderheid kort nie, maar dat sy raadslede onder mekaar baklei. Wat die munisipaliteit prakties onregeerbaar maak, is ’n bloedige faksiegeveg tussen twee ontplooide ANC-kaders – die burgemeester en die munisipale bestuurder.

Toe 15 ANC-raadslede onlangs teen hul eie burgemeester gestem het in ’n mosie van wantroue, is hulle summier geskors. In ’n ander geval moes die speaker ’n raadsitting aflas uit vrees vir haar lewe, of so beweer sy. Die munisipaliteit is onder administrasie, maar nes die Gauteng-regering met die ANC-rade maak, weier die Mpumalanga-regering om die Dr. JS Moroka-raad te ontbind.

’n Sameswering om verlore ANC-veld terug te wen  

Gauteng se ANC-regering is deel van die probleem in Tshwane.

ANC- en EFF-raadslede wat in Tshwane versuim om raadsvergaderings by te woon, verbreek die statutêre gedragskode vir raadslede. Die kode bepaal dat ’n raadslid wat drie opeenvolgende vergaderings misloop, ontslaan kan word.

Die toepassing van hierdie kode is uiteindelik die verantwoordelikheid van Gauteng se LUR vir plaaslike regering, Lebogang Maile. Maar terwyl hy al te gretig was om Tshwane se raad te ontbind, het hy nie ’n enkele aanmaning gerig aan die raadslede van sy eie party nie.

As die ANC se opregte poging is om ’n politieke dooiepunt in Tshwane te breek, kan hulle dit op ’n wettige manier doen: Span saam met die EFF en stem vir ’n mosie om die raad te ontbind. Maar dan sal dit moeiliker wees om Tshwane se skeptiese township-kiesers te oortuig dat die rede vir ’n buitengewone verkiesing is omdat die DA in regering misluk het.

Deur die Tshwane-raad te ontbind kan die ANC ook staatshulpbronne op ’n buitengewone manier benut – onder meer belasting-befondsde openbare vergaderings en advertensies – kwansuis om aan inwoners te verduidelik wat aangaan, maar eintlik om die ANC se volgende verkiesingsveldtog af te skop.

Wat gebeur as ’n buitengewone verkiesing in Tshwane weer eens geen meerderheidsparty oplewer nie? Gaan Gauteng aanhou om die raad te ontbind totdat die ANC wen? Hier is die werklike risiko: as raadslede toegelaat word om vergaderings te ontwrig en kworums te breek, kan die ANC en EFF ook ander dorpe en stede onregeerbaar maak in die hande van opposisiekoalisies.

Natuurlik sal provinsiale ANC-regerings dan regstaan om in te gryp. So sal die ANC die stembus kul waar ook al hy (buite die DA-beheerde Wes-Kaap) verloor. Dis waarom die DA so vasbeslote is om Gauteng se Tshwane-speelplan te fnuik – hetsy in ’n geregshof, of by die stembus. Dis ’n geveg wat lotsbepalend sal wees vir plaaslike demokrasie.

  • Cilliers Brink is ’n DA-LP en dié party se adjunk-skaduminister van samewerkende regering.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J ·

Kom ons betalende inwoners stop alle belasting en dienste betalings aan Tshwane!

Ons kan ons eie vullis verwyder en is reeds gewoond daaraan om sonder straatligte klaar te kom.

Laat Helen Zille die leiding neem met ‘n BELASTINGBOIKOT teen City of Tshwane!

Die EFFenANC luiaards sal nie verniet werk nie … dan is ons ontslae van hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.