ANC se winde (van verandering)

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Suid-Afrikaners behoort teen dié tyd te besef hoe die ANC se wind waai. Dit is ook duidelik dat die rigting van sy wind nie sommer sal verander nie. Dit gaan dalk van ons verg om te leer hoe om die seile te span solank hy nog aan bewind is.

Die ANC is duidelik op sy eie oorlewing gefokus. Die ANC as struktuur word nie net bo die belange van Suid-Afrika gestel nie, maar ook bo al sy mense. In die onlangse verlede kan Gwede Mantashe se opmerkings oor die bekendmaking van die kaderontplooiing van die ANC se notules as voorbeeld dien. Mantashe meld dat die Zondo-kommissie dit eers met die ANC moes uitklaar alvorens die notules openbaar gemaak word. Dit kan omtrent vergelyk word met ’n aangeklaagde krimineel wat vir die ondersoekbeampte sê dat die dossier eers met hom bespreek moet word en dat hy dán toestemming sal gee of dit aan die aanklaer oorhandig mag word vir vervolging.

Dat die ANC só lank met sy inherente, siek kultuur van korrupsie en selfverryking van die kaders kon wegkom, laat ʼn mens stom. Deur die jare is mense (stemvee) inderdaad gevange gehou deur vrees en beloftes. Beloftes van ’n “better life for all” is deurlopend aan die orde, maar in die praktyk neem werkloosheid jaarliks onder ANC-beleid toe. Dreigemente dat persone wat sosiale toelae (reeds 27,8 miljoen) ontvang sowel as HOP-huise bewoon dit kan verloor as hulle nie vir die ANC stem nie, wys ook net hoe die ANC misbruik maak van staatsgeld om homself te bevoordeel. Daar is tans aanduidings dat die ANC se ondersteuningsbasis besig is om te verbrokkel. Dit maak die ANC ’n bitter gevaarlike rolspeler.

Ter wille van oorlewing gaan die ANC alles in sy vermoë (bo sowel as onder die tafel) doen om sy magsbasis te verstewig en te probeer terugwen. Die hartseer is dat onrealistiese en onuitvoerbare beloftes steeds sommige mense sodanig beïnvloed dat hulle die ANC aanhou steun, terwyl in die praktyk die ANC se beleid eintlik elke inwoner en veral ons jeug se toekoms van hul steel.

Die ANC is daartoe verbind om Suid-Afrika na ’n sosialistiese en kommunistiese staat om te skakel. Dit word deur van sy senior lede in man-tot-man gesprekke erken. Hierdie senior lede gebruik die begrip “transformasie” as oorkoepelende proses om die ANC se doel te bereik. Daarbinne word verskeie aspekte verpak wat nogal van die ekonomies aktiewe burgers verwag word om namens hom te implementeer.

Ons dink hier aan aspekte soos swart ekonomiese bemagtiging, onteiening sonder vergoeding, regstellende aksie, gelyke indiensneming, natuurlik hul kaderontplooiing wat intern onder eie geledere hanteer word en seker die gevaarlikste, die kurrikulum in ons skole, waar dr. Blade Nzimandi geruime tyd gelede voor Sadou, wat die meeste “swart” skole verteenwoordig, gemeld het dat hierdie kurrikulum ontwerp is om die jeug oor sosialisme te leer. Christen-ouers moet kennis neem van die wyse hoe kinders subtiel gekondisioneer word om die ANC se beleid te ondersteun. Daar is gelukkig baie goeie alternatiewe soos byvoorbeeld die BCVO-beweging waar kinders steeds gegronde en suiwer onderwys ontvang. Ouers behoort ten minste ondersoek in te stel na hoe ’n mate dit wel vir hul ’n opsie is om te benut.

Op elke terrein moet die begrip “transformasie” uitgedaag word met wat presies daarmee bedoel word. Baie vinnig sal jy sien dat daar op geen wyse daartoe ’n verbintenis gemaak kan word nie. Transformasie is – anders as wat voorgehou word om mense kwansuis te bevoordeel – eerder ’n proses om die ANC te bevoordeel. Met die huidige Agricultural Agro Master Plan (’n volgende landbouplan na al die vorige mislukkings) word relatief positiewe aspekte daarin verpak, maar dan weereens onderhewig aan transformasie. Ander onduidelikhede bring ook ’n groot vraagteken oor die uitvoerbaarheid in belang van landbou na vore. TLU SA het reeds meer as ses maande gelede ’n 10 bladsy-dokument vir uitklaring ingestuur alvorens enigsins oorweging aan ondersteuning van die plan geskenk kan word, maar het tot op hede nog geen terugvoer ontvang nie; dit ten spyte van seker meer as vyf navrae in dié verband. Die hantering hiervan wys net weer dat transformasie eers as ’n vae begrip moet deurgaan en dan sal die ANC daarna inhoud daaraan gee.

Die ANC se aanslag op die onderskeie volke se lewens- en wêreldbeskouing is omvangryk, en dit alles om sy ideologie te laat vergestalt om homself as die sentraal beherende instelling te posisioneer wat alles en almal sodanig wil reguleer dat dit hóm pas. Indien die ANC in sy doel gaan slaag, sal daar geen volk met hul eie unieke karaktereienskappe in Suid-Afrika oorbly nie.

Daar moet besef word dat 2022 ervaar gaan word met groot oopgedraaide krane vanuit die ANC. Hy is daartoe verbind om sy konferensiebesluite uit te voer. Die radikale ekonomiese transformasie-agente in sy geledere het dit reggekry dat daar by die vorige konferensie besluite geneem is soos onteiening sonder vergoeding, sowel as die nasionalisering van die Reserwebank. Die ANC is polities (en blyk dit ook ekonomies) bankrot en gaan benoude spronge in die volgende tyd ons almal se voorland wees. Terwyl die groepe intern veg oor radikaal en meer radikaal om die mag te probeer verkry, is die oorkoepelende doel in die binnekringe vir almal om die ANC te probeer red.

Wat bly daar vir die ANC oor om mee tafel toe te kom? Hy gaan gewis meer drasties raak om beloftes aan sy stemmers te maak. Onteiening sonder vergoeding is wel in die parlement afgestem toe daar nie ’n tweederdemeerderheid gekry kon word nie. Die onteieningswet lê nog voor waarbinne dit ook verpak gaan word. Tydens Cyril Ramaphosa se 8 Januarie-toespraak het hy duidelik gemeld dat die ANC met onteiening sonder vergoeding (OSV) sal voortgaan. ʼn Mens kan enige individu, groepering of politieke party wat OSV ondersteun net jammer kry, in dié opsig dat hulle geen idee het hoe ʼn ekonomie ontwikkel kan word nie. Die werklike hartseer is dat die armstes van die armes die swaarste deur die ANC se kortsigtige beleidsrigting getref gaan word, en sy oplossing sal seer sekerlik net nóg maatskaplike toelaes wees.

Die toekoms moet geskep word. Niks gaan vanself gebeur nie. Die onderskeie volke sal standpunt moet inneem oor hoe hulle die pad vorentoe sien. As die ANC se pad van verswelging van kulture en armoede vir almal behalwe die kaders die keuse is, sal ons moet besef dat die gevolge van sodanige keuse volledig gedra moet word. Die ander kant van die munt is dat die onderskeie volke hulself opnuut definieer en bou rondom die kulturele waardes wat belangrik is vir dit waarin hul glo.

Die Afrikaner moet dalk opnuut stilstaan en gedagtes laat gaan oor wie ons is en wat die waardes is waarvoor daar opgestaan moet word. Die volgende is los gedagtes en kan nie eens as ’n voorstel gesien word nie, maar hoogstens ’n klip in die bos. Individue en rolspelers moet so wyd moontlik gevorm word en daar moet aan ’n breë definiëring geskaaf word van wie ons is. Met ons trotse geskiedenis gee dit weer die sement wat kan bind en daarmee kan ’n toekoms vir die volgende geslagte geskep word.

Velerlei organisasies, elk met hul eie werkterrein, is almal besig om te kyk hoe ’n positiewe verskil soos vanuit hul hoek gesien, bewerkstellig kan word. Die strewe na eenheid is ongelukkig nie altyd daar nie. Het die Afrikaner nie nou ’n saambindende manifes nodig wat opnuut die redes van hande vat rondom ’n gemeenskaplike doel wat opnuut as sement kan dien nie?

Kultuur is die somtotaal van alle menslike handelinge. Die Afrikanervolk sal homself opnuut rondom sy eie unieke waardes moet vind. Daar behoort nie plek te wees vir ekstremistiese sieninge nie. Kollektief behoort rolspelers ’n toekomsvisie te bewoord wat opnuut as sement kan dien. Elke individu sowel as organisasie kan in die daarstel van sodanige manifes deel hê. Dit kan nie ’n organisasie se manifes wees nie en daarom moet die eienaarskap gesetel wees by so ʼn breed as moontlike groep rolspelers. Ons wil opnuut met trots aan die wêreld kan wys wie hierdie volk is wat deur die eeue nog net skeppend en positief die toekoms ontgin het. ’n Eie Afrikanerkultuur-inbinding rondom waardes waarop ons trots kan wees, moet die uitkoms van so ʼn manifes wees.

Daar moet ook besef word dat ons volk uiteenlopende beskouinge ervaar en is die hartseer dat daar soms gevind word dat iemand so “reg” is oor die Afrikaner se toekoms dat hy of sy later amper alleen reg is. Daar behoort ruimte te wees om ons volksgenote in ’n breë genoeg manifes te kan akkommodeer, maar wat tog ook ’n suiwer rigtinggewende koers aandui.

Met die daarstel van sodanige manifes ná omvangryke konsultasie plaasgevind het, kan individue of dan organisasies hul daarmee vereenselwig en dit dan ook nastreef. Geleidelik kan dit dan as saambindende sement dien wat weer opnuut koers bepaal. Elke organisasie behou sy eie karakter en woeker nog op sy eie werksterrein, met een verskil, naamlik dat daar ’n gesamentlike visie deur sodanige manifes daargestel word waarheen almal werk. Ons praat dus van ’n breë linie van belanghebbendes wat langs mekaar ’n gemeenskaplike doel nastreef.

Hieronder volg slegs ’n voorbeeld van ’n manifes wat tans nog heeltemal ontoereikend is en wat deur ’n paneel van verskeie organisasies gefinaliseer behoort te word.

Ons, die onderskrywers van hierdie manifes verklaar soos volg:

  • Die Afrikaner glo in God Drie-enig soos geopenbaar in sy Woord, die Bybel, en put juis vanuit sy geloofsbegronding sy bestaansrede.
  • Die Afrikaner is vanuit herkoms en oorsprong Eurosentries, maar het sy ontstaan op die bodem van Afrika verkry waar sy eie unieke taal sy ontstaan gekry het.
  • Die Afrikaner benut as ekonomiese vorm die beginsel van privaatbesitreg en ’n markgerigte ekonomie wat wêreldwyd bewys het dat dit welvaart kan skep vir diegene wat die verantwoordelikheid wat die lewe van elk vereis, sal nakom.
  • Die Afrikaner vanuit sy oorsprong het ’n sterk verbondenheid met die natuur en benut die natuur soos rentmeesters waar die bewaring daarvan hoog geag word.
  • Die Afrikaner aanvaar vanuit sy geloofsbegronding die kultuuropdrag vanuit die Woord en het derhalwe ’n werksetiek om talente maksimaal te benut en te ontgin.
  • Die Afrikaner se strewe om te verbeter in dit wat gedoen word, bring ’n leergierigheid en ’n werkywer na vore.
  • Die Afrikaner besef ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees en derhalwe is liggaamlike ontwikkeling deur middel van sportbeoefening ’n aspek wat in gesonde balans nagestreef moet word.
  • Die Afrikaner se kultuurgoedere sluit die skone kunste in al sy vorme in waar daar deur middel van ons eie taal uitdrukking gegee word in die letterkunde, prosa, beeldende kunste, opvoerings en sang.
  • Die Afrikaner glo aan vreedsame naasbestaan met ander volke oor die wêreld en respekteer ander volke se kultuur en lewens- en wêreldbeskouing soos daar verwag word hul eie ook gerespekteer sal word.
  • Die Afrikaner se ontstaangeskiedenis het as dryfkrag sy selfbeskikkingsideaal gehad wat gesien kan word as ’n sterk saambinding bo-op ’n vaste geloofsbegronding.

Ander kultuurgroeperinge (volke) behoort ook met trots op te staan teen die ANC se aanslag om die waardes en beginsels wat die volkere onderskeidend maak, te probeer vernietig. Onderskeidende volke kan dan met wedersydse respek en erkenning van enige ander volk ’n aanvaarbare model daarstel waar die ANC se tirannie geneutraliseer kan word.

Om enige poging te kritiseer sonder om ’n beter plan of handeling voor te stel, is eintlik baie maklik. Ons het tans konstruktiewe voorstelle nodig. Dit gaan geen doel dien om by al die bloedkolle van die verlede te staan en brul en aanhoudend te sê “Maar ek het julle mos lankal terug gesê!” nie. Ons is in Januarie 2022 en ons uitdaging is wat ons gaan doen om die dag van more ’n beter een te maak. Dat dit ’n beginselgedrewe pad moet wees, is daar by die skrywer geen twyfel oor nie. Bostaande word geensins voorgehou as die alfa en omega vir die pad vorentoe nie, maar kan hoogstens gesien word as ’n moontlike hoeksteen waarop daar in die toekoms gebou kan word. Laat ons, gegewe ons kapasiteit ons seile span en regstel volgens die heersende wind en met kundige laveerkuns die gemors wat tans op ons afgedruk word, heel moontlik maklik omseil. Dit gaan verg dat elke Afrikaner sy of haar hand opsteek om ook ʼn bydrae te maak in daardie organisasie waar hy/sy gemaklik is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Een van die groot probleme wat voor die deur lê is die breinspoeling wat vir leerders beplan word bv via die nuwe geskiedenisleerplan waaroor eksamen geskryf gaan word en leerders vrae moet beantwoord as sou dit die waarheid wees. Kommuniste en ongelowiges in teenstelling met Christene wat Bybel-opdragte as grondslag aanvaar, bedryf onwettighede en misdrywe sonder gewetenswroegings. Hoe sal sulke twee uiterste groepe ooit probleme kan uitstryk want wat die een bou breek die ander af. Dit was ‘n katastrofiese flater destyds om te glo die ANC het edele oogmerke ten doel.

Henk ·

Hoor,Hoor! In een van die beste voorbeelde van: “a broken clock is correct twice a day” het Piet Croucamp gesê dat die Afrikaner geen politieke verteenwoordiger het vandag nie. Daar is nie een entiteit wat hom alleen vir die Afrikaner bemoei nie. Oom Bennie klink vir my na die man vir die Afrikaner!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Geagte mnr Van Zyl,

Voorwaar ‘n besondere opbouende artikel gevul met kreatiewe denke. Baie dankie.

Wat behoort die rol van ware Christene op aarde te wees? Wat behoort Christus-navolgers se basislyn oftewel vertrekpunt te wees by die beplanning van enige nuwe toekomstige bedeling in Suidelike Afrika? Immers, geen perfekte aardse ideologie of utopia is haalbaar met ‘n sondige mensdom nie?

Graag verwys ek lesers na die uitstekende aanbieding van pastoor John Piper op YouTube, getiteld : “The Vine and the Vinedresser” te https://youtu.be/iBsGdtxVpPc . Daarin bespreek hy “That True Abiding of John 15” (in die Bybel).

Hierdie aanbieding van John Piper bied ware pitkos en rigtingwysers vir ware Christene met die oog op die toekomsbeplanning. Ons lewens is uiters kortstondig: Belangrik dat ons ons prioriteite reg kry (Romeine 12:2).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.