ANC soos roereier in ’n tuimeldroër

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Praat van deurmekaar! Dit lyk nie of die regering altyd weet of dit dag of nag is nie soos die rondvallery met prosedures, regulasies en datums getuig.

Niemand kon nog ʼn oortuigende rede verskaf teen die verbod op die verkoop van goed soos plakkies nie en Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër die week ontdek dat hy van die verkeerde bladsy gelees het betreffende die afskalings na vlak 3. Dit sal nou sónder uitsondering in hele distrikte gebeur – seker nadat iemand tot die besef gekom het dat daar nie genoeg doringdraad vir die afkamping van sekere woongebiede is nie.

Een van die ander mistastings was die verbod op mense in die buitelug, soos parke en strande. Sonskyn is ’n belangrike bron van vitamien D en hierdie vitamien bied goeie weerstand.

Nou moet daar deur sekere grade skool toe gegaan word. Die datums word bepaal en die onderwysers word opgeroep. Maar o wee! Daar was 1 600 skole wat nie opgepas is toe hulle leeg gestaan het nie en nou is hulle nie meer skole nie. En hulle het almal 40%-tekorte aan die persoonlike beskermende toerusting wat hulle teen die virus moet beskerm. En ’n klomp van hulle het leerkragte onder kwarantyn. Eisj!

En hoe gaan die stormlope beheer word wanneer drankwinkels Maandag oopmaak en mense hulle besope drink voor hulle die huis haal?

En Dlamini-Zuma het uiteindelik – drie weke ná die tyd – die redes en syfers gekry vir haar besluit om Ramaphosa se opheffing van die rookverbod teen te staan. Dis nou nadat sy geweier het om die notule bekend te maak van die vergadering waarop die opheffingsbesluit van Ramaphosa gewysig is.

Dit lyk mos nou of iemand afgevaardig is om gou-gou vir haar die statistieke en argumente oor die gevare van rook te versamel. Dis nou terwyl gerugte volop is dat sy goed bevriend is met mense in die onderwêreld wat met onwettige sigarette smokkel.

Intussen woed die storm rondom tabak onbedaard voort. Die Black Tobacco Farmers Association (BTFA) kla hul plase gaan onder en dat ’n hele sektor van die landbou-ekonomie wat getransformeer en in swart besit is, onder gaan. Daar word gesê elke sigaret wat nou aangesteek word, is onwettig.

“Dit verwoes ons plase en hulle doen dit met die regering se seën, beskerming en fasilitering. Ons sal weer slawe in ons geboorteland word omdat die regering met tabaksmokkelaars in die bed is.”

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma. (Foto: GCIS)

Dlamini-Zuma se redes vir die verbod is dat 88% (van die 11 miljoen) rokers nie sigarette (wettiglik) kan bekom nie en dat dit druk van die (reeds ontoereikende) gesondheidstelsel haal.

Sy het gesê tabak verhoog sowel die risiko vir die oordrag van Covid-19 as die risiko om ’n erger vorm van die virus op te tel. Beskikbare navorsing toon dat rokers intensiewer sorg nodig het en dat meer van hulle sterf as nierokers.

Dlamini-Zuma is ook berug vir die gemors en korrupsie wat sy met die toneelstuk Sarafina II (’n toneelstuk teen vigs) gepleeg het toe sy in 1995 daarmee gemoeid geraak het. ’n Gesiene joernalis het geskryf dit is waar die staatskaping begin het, nie by haar man Jacob Zuma nie. ’n Ondersoek het getoon dat sy vir die parlement gelieg het oor die befondsing wat van die EU sou kom. In 1999 het sy voor in die koor gesing toe die wet op rook in openbare geboue, ensovoorts, aanvaar is.

Nou ja, na gelang van hoe jy te werk gaan en hoe ingelig jy is, kan daar baie statistieke opgeroep word om jou eie standpunt te steun. So toon die kardioloog Konstantinos Farsalinos se portuurnavorsing en die data wat hy en ander wetenskaplikes bestudeer het juis dat huidige rokers ’n baie beter kans het om nié gehospitaliseer te word nie. Hulle glo nikotien gee aan rokers ’n voordeel en dat die effek van ander toksines in tabakrook nie ’n rol speel nie. Hy gaan self sover om te sê dat die onttrekking van nikotien nadelig vir sulke pasiënte kan wees.

Dlamini-Zuma sê in haar beëdigde verklaring van 17 bladsye Chinese navorsing toon rokers se kans is 2,4 keer groter as nierokers om in waakeenhede te beland.

Farsalinos se navorsing en statistieke weerspreek Dlamini-Zuma s’n. Farsalinos sê uitdruklik en beklemtoon dat die rookgewoonte geen positiewe gevolge vir die asemhalingstelsel kan hê nie en dat niemand moet begin rook as beskerming teen die virus nie. En tog:

  • Die Chinese is die grootste rokers ter wêreld, maar in ’n land waar 26,6% volwassenes rook, is baie min van die mense wat in hospitale opgeneem is rokers;
  • Van die byna 6 000 gediagnoseerde pasiënte in hospitale, is net 450 rokers – ’n totaal van 7,5% in ’n land waar 26% van die mense rook.
  • Maar dit gaan baie verder, want dieselfde resultate word gevind deur navorsers in Frankryk, Amerika en Duitsland. In Frankryk is gevind dat 4,4% van die gehospitaliseerde pasiënte en 5,3% van die buitepasiënte rokers is. Die Franse navorsers het bevind dat diegene wat daagliks rook, ’n baie kleiner kans het om met SARS-CoV-2 besmet te word.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane,/GCIS)

Al hierdie navorsing reflekteer een ding: ’n verbasende lae persentasie rokers ontwikkel die koronavirus in ’n graad wat hospitalisasie nodig het.

“My eie hipotese is dat nikotien sekere anti-inflammatoriese effekte het,” sê Farsalinos.

Weersprekings van “feite” is volop. Ramaphosa se bevelsraad sê die verbod op alkohol het hospitaliserings, motorongelukke en moorde laat afneem, maar dieselfde geld in lande soos Kenia, Brittanje, die VSA, Kanada, Nieu-Seeland en Australië sonder dat hulle drank verbied het.

Suid-Afrika het in baie buitelandse artikels die grap van die wêreld geword. As Ramaphosa ’n sterker magsbasis gehad het, sou hy die patetiese optredes en besluite deur ’n groot aantal ministers kan gebruik om van hulle ontslae te raak en mense met verdienste aan te stel. Die probleem is dat Dlamini-Zuma so naelskraap teen hom verloor het en ook die magtige ANC-vroueliga aan haar kant het.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Deurmekaar dié is die spul. Al wat hulle kan organiseer is korrupsie. Die kommentaar op Maroela wys elke dag hoe siek en sat mense in SA is vir die klomp onbevoegde karikature wat regeer.
En tog is daar nie ‘n einde nie, hulle val soms, so een – een soos Dudu van die ANC soustrein af, maar nooit almal terselftertyd om ‘n einde te kan maak aan die boosheid, verval en ellende wat SA teister nie. Die wêreld lag dalk vir die stommiteite hier, maar ons betaal vir die gelag, soms met ons lewens.

Patrys

Die regering weet nie wat is kop en stert nie dit is omdat ons nie een presedent het nie maar 20 en elkeen maak soos hy wil

Jacobus

U weet as al die magsbeheptes hulself “opdress” in MRP camo met Kubaanse “flashes”. Dit doen ongelukkig niks vir die patetiese besluitneming. Gevaarlikke onbevoegde mense.

Lourens

Die ministers se onbeholpenheid en regverdigings op grond van sogenaamde statistieke, is maar net weer bewys van die oeroue waarhede:

1. Die woorde “figure” en “fictitious” het ontstaan uit presies dieselfde Latynse woord.
2. “Figures can’t lie, but liars can figure”

Adam Adriaan

Ja lyk my die hele spul kaders in die ANC het Engelsesout gedrink. Sommer so vier opgehoopte eetleepels elk. Die mondelinge maagwerkings wat hulle tans openbaar gaan nou al soos sop wat stort en seil wat skeur en daar is geen keer daaraan nie.