ANC-teenstrydighede: ons moet daaruit leer

Pres. Jacob Zuma, adjunkpres. Cyril Ramaphosa, ANC sekretaris-generaal Gwede Mantashe en tesourier-generaal Zweli Mkhize by die ANC se 103de herdenking in Kaapstad-stadion op 10 Januarie 2015 Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma, adjunkpres. Cyril Ramaphosa, ANC sekretaris-generaal Gwede Mantashe en tesourier-generaal Zweli Mkhize by die ANC se 103de herdenking in Kaapstad-stadion op 10 Januarie 2015 Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie

Die ANC se 103de verjaardagvieringe het die naweek plaasgevind. Verlede week het ek op AfriForum se blog gespekuleer wat die president sou sê en nie sou sê nie, en dit lyk of die voorspelling taamlik in die kol was.

Wat my egter opgeval het van president Zuma se sogenaamde 8 Januarie-verklaring was dat dit deurspek was van teenstrydighede. Nie dat dit iets nuuts is nie. Inteendeel, die ANC het sedert die struggle-jare ’n strategie van teenstrydigheid toegepas.

Die voorbeelde is talryk en ek noem net ’n paar:

• Oliver Tambo het gereeld in die media gepleit dat die ANC ’n vredeliewende party is en dat die gewapende konflik uitsluitlik teen regeringsteikens gemik was, maar die ANC se uitvoerende komitee het in 1985 onder sy leiding besluit dat daar in militêre operasies nie tussen harde en sagte teikens onderskei hoef te word nie.
• Direk nadat Nelson Mandela uit die gevangenis vrygelaat is, het hy op die ANC-leierskap se aandrang, aangekondig dat die gewapende stryd verskerp moet word en dat nasionalisering ’n prioriteit moet wees. Die volgende dag het hy tydens ’n mediakonferensie ’n pleidooi vir vrede en versoening gelewer. Later is ook verklaar dat nasionalisering nie ’n prioriteit is nie.
• In die aanloop tot die 1994-verkiesing het die ANC ook ’n dubbele strategie gevolg. Aan die een kant is verkondig dat die ANC ’n gewapende revolusie in die mou voer. Terselfdertyd is verklaar dat die ANC slegs in ’n onderhandelde skikking belangstel. Dr. Anthea Jeffery het hierna verwys as die strategie van “talking peace while waging war”. Mbeki het gepraat van “parallel paths to power”.
• In dieselfde tyd is Afrikaners wat hulle op selfbeskikking beroep, met groot geesdrif in komitees geplaas om voorleggings aan die ANC-regering-in-wording te doen. Maar Cyril Ramaphosa het by privaatfunksies gefluister dat hierdie gesprekke eintlik ’n “sideshow” was om die Afrikaners wat hulle nie by die NP geskaar het nie te neutraliseer.
• Tydens sy presidentskap het Mbeki teenoor Mark Gevisser erken dat die ANC tydens die onderhandelings nie oop kaarte gespeel het oor die ingrypende manier waarop hulle beplan het om regstellende aksie af te dwing nie.

In hierdie gees was die ANC se 8 Januarie-verklaring van 2015 ook deurspek van teenstrydighede:

• Zuma beklemtoon dat Suid-Afrika ’n land is vir almal wat daarin woon en dat almal welkom is by die ANC, maar hy sê dit direk nadat ’n geestelike leier die “gees van Jan van Riebeeck” verdryf het.
• Die ANC het hard baklei om die ANC-jeugliga in toom te hou, maar Zuma verklaar nou dat die ANC-jeugliga meer militant moet wees.
• Waar adjunkpresident Ramaphosa verkondig dat die vryemark in veilige hande is en dat boere nie rede het om bekommerd te wees nie, verklaar Zuma dat die beleid van vrywillige-koper-vrywillige-verkoper (met ander woorde die vryemark) nie meer vir die ANC werk nie en dat die ANC ’n ekonomiese beleid van “radikale verandering” moet implementeer.
• Waar die ANC deeglik bewus is van die realiteit van plaasmoorde en op individuele vlak selfs sê dat hulle net so bekommerd soos AfriForum daaroor is, word geen woord gerep oor plaasmoorde nie. Daar is tydens die toespraak wel twee keer ’n beroep op boere gedoen om meer te doen om plaaswerkers se regte te bevorder.
• Terwyl die Seriti-kommissie wat die wapenskandaal moet ondersoek, weens politieke inmengery in omstredenheid gedompel is, verklaar Zuma dat die ANC die enigste party is wat werklik teen korrupsie gekant is. Diegene wat die ANC van korrupsie beskuldig, doen dit volgens die president omdat hulle eintlik self korrup is en nie daarvan hou dat die ANC hulle daaroor konfronteer nie.
• Terwyl die president weier om vrae oor die Nkandla-skandaal in die parlement te beantwoord, word die stelling gemaak dat die ANC ’n deursigtige regering is.

Met hierdie strategie het die ANC vir dekades daarin geslaag om aan die verwagtings van verskillende groepe te voldoen. Beleggers is saam met radikale jeugdiges tevrede gehou. Afrikaners is agter geslote deure gepaai terwyl hulle op openbare platforms as politieke slaansakke voorgehou is.

Die probleem is egter dat die rek ook maar net so ver gespan kan word voordat dit skeur. 21 jaar na 1994 staar die resultaat hiervan nou vir president Zuma in die gesig: ernstige frustrasie uit alle oorde omdat daar aan niemand se verwagtings voldoen is nie. Wit mense is kwaad omdat hulle toe nie so welkom is soos wat daar aan hul voorgegee is nie en swart mense is kwaad omdat die ekonomiese ingryping toe nie so radikaal was soos wat by politieke saamtrekke beloof is nie. Daar is vandag algemene teleurstelling en ontnugtering ten opsigte van die ANC-leierskap – selfs onder die kiesers wat voortgaan om vir die ANC te stem, bloot omdat dit Mandela se party was.

Daar is twee belangrike lesse hieruit te leer.

In die eerste plek moet ons ons nie deur lippediens laat flous nie en behoort die ANC se beloftes slegs ernstig opgeneem te word wanneer daar in die praktyk daad by woord gevoeg word.

In die tweede plek moet ons in ons eie pogings nie dieselfde fout maak nie. Geen mens of instelling kan sy brood op die lang termyn aan albei kante botter nie. Op die kort termyn kan hierdie strategie wel vrugte afwerp, soos wat die ANC bewys het, maar op die lang termyn lei dit tot ontnugtering en teleurstelling. Ons moet duidelik wees in ons standpunte en konsekwent kommunikeer oor dit waarvoor ons onsself beywer, maar dan moet ons ook oorgaan tot aksie en dit nie by leë beloftes laat nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
willem

Dit is skokkend om al die ANC teenstrydighede te sien. Dit laat mens wonder wat anders hulle oor gelieg het en waar dit presies FW de Klerk se wigte en teenwigte plaas.

Waarheid

Zumpie is die wereldregeerders se manupileerbare verteenwoordiger. Die wereldregeerders is die illuminati en vrymesselaars. ‘Baron M. A. Rothschild, who helped create the banking system used today, said, “Give me control over a nation’s currency, and I care not who makes its laws.” The modern plan for a global government began in 1390 with the Freemasons. In 1773, the first global plan was prepared by the Rothschilds. It was May 1, 1776, when Adam Weishaupt (jew), who had studied to be a Jesuit priest, and who was also a Freemason, formed an organization called “The Illuminati,” and in July 16, 1782… Lees meer »

Christo Briedenhann

Ek lees nou elke dag hoe die ANC regering almal wat nie met hul saamstem nie tenakom. Dit is ‘n feit dat almal in hierdie land daagliks net slegter daaraan toe is. Ek moet erken, ek was een van die getroue NP ondersteuners wat geglo het in verandering. Ek was ook ‘n offisier in die weermag wat geveg het vir my land. Ek was nog nooit ‘n mens wat neerkyk op ander agv. sy ras of geslag nie. Ek is egter ‘n persoon wat nie die verkeerde kan probeer reg praat nie. Op hierdie oomblik het die ANC die beheer… Lees meer »

Martyn du Plessis

Ek stem met julle saam. Die enigste wat ek hier wil byvoeg is dit. Ons sal niks vermag as ons
nie weer God as ons Heer en Meester erken nie.