ANC-virus erger as Covid-19

Deur Jacques Broodryk

(Argieffoto: Unsplash)

Die Amerikaanse ekonoom en Nobel-pryswenner Milton Friedman het gesê dat die staat se oplossing vir ’n probleem gewoonlik net so sleg is soos die probleem self. Daar is min gevalle waarop Friedman se woorde so toepaslik is as op die ANC se hantering van die Covid-19-pandemie.

Buiten die regering se enorme mislukking om die gesondheidsorgstelsel op ’n toename in pasiënte voor te berei – wat glo die doel van die eerste drakoniese inperkingsmaatreëls verlede jaar was – het die regering ook sy voete gesleep om Covid-19-entstof aan te skaf.

Maar een van die grootste klappe in die gesig van die Suid-Afrikaner is sekerlik die regering se oorweging om belasting te verhoog om die koste van dié entstof te dek. Die staat se planne om die entstof te befonds, sal na verwagting op 24 Februarie tydens die minister van finansies se begrotingsrede aangekondig word. Dit is kommerwekkend omdat Suid-Afrika se belastingbasis reeds oorbelas is en oor die afgelope jare boonop aansienlik gekrimp het. Volgens ’n studie deur die Universiteit van Kaapstad se Liberty-instituut het die belastingbasis onder die middel- en hoërinkomstegroepe sedert 2017 van 6,1 miljoen belastingbetalers tot 2,7 miljoen gekrimp – dus met meer as 55%. Dié groep dra sowat 90% van alle belasting by. Aan die ander kant het die getal uiters arm mense (dié wat minder as die minimum loon verdien) met 6,6 miljoen mense toegeneem – dus met sowat 54%. ’n Mens sien dus ’n skrikwekkende prentjie ontvou.

Ten spyte daarvan dat sowat 600 000 mense reeds hul werk verloor het weens die drakoniese inperkings waaronder die land gebuk gaan – skynbaar om die verspreiding van Covid-19 te bekamp – stel die ANC nou weer eens sy visier op die belastingbetaler. Die belastingbetalers – wat al hoe minder word – het dus al minder geld oor.

Die ANC-regering het herhaaldelik bewys dat dit weens korrupsie, wanbesteding en diefstal nie met belastingbetalers se geld vertrou kan word nie. Nou het dit sowaar die vermetelheid om meer geld van belastingbetalers te wil eis! Dit terwyl niemand nog vervolg is vir staatskaping of Covid-19-verwante korrupsie nie.

Die spesiale ondersoekeenheid ondersoek tans onreëlmatige regeringstransaksies ter waarde van meer as R10 miljard met betrekking tot Covid-19-verwante aankope. Dié bedrag is gelykstaande aan sowat die helfte van die bedrag wat die regering glo vir sy inentingsveldtog benodig. Boonop het dit nou aan die lig gekom dat die regering dubbel die prys vir entstowwe sal moet opdok as wat die VSA en EU-lande daarvoor betaal omdat dit gesloer het met pogings om die entstof te bekom.

Boonop is die regering van plan om ’n verdere R21 miljard in die bodemlose SAL-put te stort. Die slagspreuk lui: “Moenie die hand byt wat jou voer nie.” Dit lyk egter vir my asof die ANC nie besef dat dit die belastingbetaler is wat hom voer nie. En ek vermoed die einste belastingbetaler is nou al moeg om salf aan ANC-seerplekke te smeer.

Talle kommentators op sosiale media het al voorgestel dat dit tyd is vir ’n belastingboikot. Dalk is hulle reg.

  • Jacques Broodryk is AfriForum se veldtogbestuurder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

daniel ·

Ek sien dat belastingbetalers drasties afgeneem net. Ek wil graag weet of ANC korrupsie ook afgeneem het in verhouding,

JohanR ·

Die ANC is soos insekte wat vrugte steek. Nie lank nie dan vrot die vrug!

Vrijburger ·

Die ANC se Midas touch – alles waaraan hulle raak verander in poef!

Pio ·

Jacques Broodryk, Vind ‘n manier om die bal aan die rol te kry!As jy nie hande het, kan jy nie ’n vuis maak nie. Die feit dat net ses mense al vir ‘n jaar die land aan die kort hare beet het, is absoluut ongehoord en belaglik!

Dries ·

Ons sit met n virus wat mense siek maak maar wat 90% kans het om weer gesond te word. Dan sit ons met n pes wat gemeenskappe uitroei met n lang leiding en alle hoop, vertroue en liefde verwoes. Tydens die verkiesing in 1994 het n wyse oom voorspel dat dit die grootste tragedie wat SA nog getref het sal wees as die ANC die verkiesing wen

Maria ·

en dan die vermetelheid dat net swart maatskappye entstowwe mag versprei en dat hulp-pakette in die toerisme bedryf net aan swart maatskappye toegeken gaan word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.