Anderkant die verkiesing

Deur Gawie Snyman

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

2024 is ʼn verkiesingsjaar – ʼn jaar van groot gedagtes en groot beloftes.

Ons ken dit.

En net soos elke verkiesingsjaar voor hierdie een, hoor ons waarom hierdie verkiesing anders gaan wees. Waarom hierdie jaar se kruisietrek meer vir jou toekoms gaan beteken as vyf jaar gelede s’n. Dit word aan ons voorgehou as demokrasie, maar manne soos prof. Koos Malan verwys daarna as ʼn massokrasie.

Dit is ʼn bedeling met meegaande prosesse wat nie jou deelname deurlopend betrek by besluite oor kwessies wat jou direk raak nie. Nee, jou deelname word slegs elke vyf jaar vereis waarna die regerende party homself ʼn blanko tjek tot die volgende verkiesingsdatum toeëien.

Sou ons besef dat Suid-Afrika homself in ʼn bedelingskrisis, eerder as ʼn regeringskrisis, bevind, dan dwing dit ons om ook ons omstandighede anders te waardeer en alternatiewe oplossings te formuleer.

Vandaar Orania.

Orania se bestaansrede is ten diepste ʼn voorgestelde antwoord op ʼn gesentraliseerde bedelingskrisis. Die Suid-Afrikaanse konstruk – wat primêr die produk van 19de eeuse Britse imperialisme is – kon nie in geregtigheid deur Engelse of Afrikaners regeer word nie. Die huidige uitdagings wat Suid-Afrikaners onder ʼn ANC-bewind ervaar, kan ook nie van hierdie realiteit en historiese konteks losgemaak word nie. Dit wat ons in Suid-Afrika vandag ervaar kan daarom beskryf word as die logiese gevolge van ʼn onvolhoubare bedeling wat slegs met mag in stand gehou kan word.

Orania is derhalwe gelyktydig ʼn breuk met denke van die progressiewe liberale demokrasie aan die een kant en die apartheidsimpulse van blanke baasskap en Afrikaneroorheersing aan die ander kant.

Om in hierdie terme te dink is bevrydend! Dit beteken dat ons nie ander hoef te oortuig om ons drome of wense te verwesenlik nie, ons doen dit sommer self.

In 2016 het Orania ons eerste ekonomiese ontwikkelingsplan bekend gestel, waarin beoog is om R183 miljoen oor ʼn vyf jaar periode op sekere kernprojekte, wat as magsvermenigvuldigers sou dien, te spandeer. Aan die einde van die vyf jaar periode is R180 miljoen van die beoogde R183 miljoen deur verskeie instellings aan onder andere onderwysontwikkeling, tegniese opleiding, woonerwe en -huise, besigheidskorwe, kommersiële eiendom en veiligheid bestee.

Orania se sonplaas (Foto: Verskaf)

Wat elektrisiteit aanbetref, het Orasol (Orania se eie elektrisiteitsmaatskappy) reeds twee sonplase van 841 kW en 528 kW onderskeidelik teen R16,1 miljoen geïnstalleer. Teen April 2024 sal ons ʼn 4,8 MWh-battery geïnstalleer hê wat Orania vanaf 06:00 tot 22:00 beurtkragvry behoort te maak. Soos wat u hierdie artikel lees, is Orasol se uitvoerende direkteur juis in China om die finale toetse deur te sien, voordat die battery na Suid-Afrika verskeep word.

Sien hierdie video: Orania: Een dag nader aan elektriese vryheid? (youtube.com)

Gedurende 2023 het ons ons bestaande watersuiweringsaanleg en pompstasie teen R1,65 miljoen opgegradeer, wat ons in staat stel om ʼn addisionele eenmiljoen liter water elke 24 uur te suiwer. In 2024 gaan ons ook ons wateronttrekking-styglyn teen R3,5 miljoen opgradeer, wat ons ontrekkingskapasiteit met vier keer sal verhoog om voorsiening vir 10 000 mense te maak.

Ons is nou in proses met die volgende meesterbeplanning, geskoei op die Orania-stadsboumodel wat in 2023 bekend gestel is en voorsiening vir 10 000 mense maak. Dit sluit in:

  • Alternatiewe energie-meesterbeplanning
  • Stortingsterrein-meesterbeplanning

Verder is ons ook tans besig met die volgende ekonomiese ontwikkelingsplan wat op die volgende vyf jaar sal fokus. Hiervoor het ons die kundigheid van ontwikkelingsekonome en akademici betrek.

By die Orania Dorpsraad glo ons dat indien ons die basiese dinge reg doen – deur ʼn veilige omgewing te skep waar die openbare orde gehandhaaf kan word, ons deurlopende geskeduleerde instandhouding van bestaande infrastruktuur doen en ons goeie basiese munisipale dienste lewer, en indien ons dit ook kan regkry om in samewerking met Orasol en ons ander privaat opwekkers, elektrisiteit 24 uur per dag, sewe dae ʼn week teen ʼn baie kompeterende tarief te lewer – die voorwaardes vir eksponensiële groei en ekonomiese vooruitgang geskep is.

Orania se watersuiweringsaanleg (Foto: Verskaf)

Vir Orania Dorpsraad is diensbaarheid en toewyding aan ons beplande uitkomste so belangrik dat raadslede slegs ʼn honorarium ontvang vir vergaderings bygewoon.

Ons moet groot droom! Orania se droom is soveel groter as ʼn stad; ons droom is vryheid!

Daarom, benewens die bogenoemde, is Orania Dorpsraad tesame met ontwikkelaars ook besig om ʼn plein vir Orania te ontwerp. ʼn Plein waar Oraniërs in ʼn kultuurvriendelike omgewing sosiaal kan verkeer. ʼn Plein waar Afrikaners leef en ʼn plein waarin oom Paul Kruger na sy laaste trek ook in vryheid tussen sy mense kan tuiskom. Enigeen wat meer oor hierdie projek wil weet, kan hierdie skakel volg.

ʼn Vrye Afrikanervolk benodig ook simbole; daarom dat die Orania Kunsteraad (OKeR) ʼn volksliedkompetisie bekend gestel het om vir Orania ʼn volkslied te help kies. ʼn Volkslied wat ons Skepper, ons natuur en ons volk besing. Die top 5 liriekvoorstelle is alreeds gekies, terwyl die inskrywings vir die komposisie op 6 April 2024 sluit. Enigeen wat belangstel kan gerus die webwerf besoek.

Alhoewel die toekoms vir ons almal onseker is, is dit baie bemagtigende om self ʼn verskil te maak aan daardie faktore waaroor jy beheer het en nie vir alles van ʼn ander afhanklik te wees nie.

As ons dit kan droom, kan ons dit beplan en as ons dit kan beplan, kan ons dit bou!

Oraniërs het terloops kennis geneem van die premier van Gauteng wat verkiesingsplakkate in Orania wil kom opsit; ons wys hom graag wat ons sonder sy “hulp” vermag, want terwyl Lesufi nog fokus op verkiesingsplakkate, werk Orania reeds aan ʼn eie volkslied.

  • Gawie Snyman is uitvoerende hoof van die Orania Dorpsraad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

My gevoel is dat ek liewers op stemdag in my gemeenskap sal werk. Indien jy dienste ontvang van ‘n metro/munisipaliteit moet jy maar gaan stem.

Mari ·

Niks gaan Orania keer om vooruit te gaan nie omdat ons sommer alles self doen.

OW ·

Baie insiggewende skrywe.Dit wys net weer, wat mens kan bereik met kundigheid,visie,insig en kennis.Lesufie en kie,droom nog en beweeg in stadiger as stadig aksie,om iets gedoen te kry.Geluk Orania,julle is oppad na eerste wêreld standaard in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.