Anglo-Boereoorlog verander koers van geskiedenis

Fotografiese versameling van die Anglo-boereoorlogsmuseum, Bloemfontein.

Vanmiddag om vyfuur sal dit presies 120 jaar gelede wees dat die eerste skoot in die Anglo-Boereoorlog (11 Oktober 1899) geklap het. Dit was ’n skoot waarvan die klank weggesterf het, maar waarvan die skokgolwe steeds in Suid-Afrika gevoel word.

Die oorlog was die hoogtepunt van die Britse imperialisme in ons land. Toe die laaste skoot op 31 Mei 1902 val, was die twee Boererepublieke grotendeels smeulende puinhope. Meer as 4 000 burgers en 34 000 (nie die 26 000 wat altyd gemeen is nie) Afrikanervroue en -kinders is volgens die laaste navorsing in konsentrasiekampe dood.

In swart kampe is eweneens ’n onbekende aantal (waarskynlik 15 000 tot 20 000) mense dood.

Die verlies van die onafhanklikheid het die Afrikaners, ook in die Kaap, ernstig getref. Dit het tienduisende mense in skrynende armoede gedompel, en binne ’n kort tyd het Afrikaner-plakkerskampe rondom die groot stede opgeskiet.

Dis bewoon deur mense wat dikwels nie teen ’n moderne, kapitalistiese stedelike omgewing opgewasse was nie. Dit het die armblankevraagstuk, waarvan die embrio einde 19de eeu ontstaan het, ’n geweldige hupstoot gegee.

Só is daar op drie vlakke teen die Afrikaners gediskrimineer: Hulle is polities oorheers, die Engelse het met ’n grondige minagting op hul taal en kultuur neergekyk, en hulle het ekonomies aan die agterspeen gesuig.

As jy dus êrens in die lewe wou kom, moes jy jou Afrikanerskap aflê en Engels word. Ds. William Nicol, ’n NG teoloog, het in die jare veertig gevolglik gekla van ’n “verlore geslag” Afrikaners in die stede.

Nou moet ons vlugtig terug na die 19de eeu. Toe was die liberalisme as embrio onder die Afrikaners aanwesig, sy dit eerder in sy vastelandse Europese vorm.

Daardie embrio is deur die aanslag van die Britse imperialisme nekom gedraai. Die liberalisme waarmee die Afrikaners in die 20ste eeu kennis gemaak het, was nie dié van Europa nie, maar die Siamese tweeling van die Britse imperialisme.

Die drievoudige aanslag van die Britse imperialisme – polities, kultureel en ekonomies – het aanleiding gegee tot ’n reaksie onder die Afrikaners. Een was die stigting van organisasies soos die Nasionale Party, die Nasionale Pers, die Helpmekaarfonds, die Reddingsdaadfonds, die Broederbond, ensovoorts.

Tweedens het dié reaksie in die jare 1933-’48 uitgeloop op ’n duidelike radikalisering van die Afrikanernasionalisme. Om kortpad te vat, die betreklike gematigde nasionalisme van genl. J.B.M. Hertzog is vervang deur die radikaler nasionalisme van drr. D.F. Malan en H.F. Verwoerd en van adv. J.G. Strijdom.

Daar was ook ’n ekstremistiese rigting in die vorm van die Ossewabrandwag (OB), wat homself as uitgesproke Nasionaal-Sosialisties geïdentifiseer het. Maar omdat dié, in teenstelling met die NP, nie aan deelname aan die parlement geglo het nie, het hy mettertyd uitgesak en in die vergetelheid geraak.

Hierdie beweging het ’n klipharde magstryd teen die NP gevoer. Terwyl dit aan die gang was, so wys navorsing, het die NP noodgedwonge ook in ’n radikale rigting beweeg, totdat die verskil flenterdun was.

Nadat die radikale egter teen 1943 uitgeskakel is, het die NP weer enigsins na die politieke sentrum beweeg. Behalwe in een opsig.

In die OB en sy dampkring was daar heelparty akademici, veral in Stellenbosch en Pretoria, wat idees oor volke as “organiese eenhede” verder uitgewerk het. Sommige van hulle het met die begin van die latere apartheidsideologie vorendag gekom.

Toe is “ontdek” dat ’n volk meer is as die somtotaal van sy individuele lede. In geswolle, mistieke taal het die ideoloë die deugde van volke, en in die besonder van die Afrikanervolk, besing.

Daarna is “ontdek” dat daar ook swárt volke is. En as daar swart volke was, het hulle reg op ’n eie grondgebied gehad.

In een studie is strepe op kaarte getrek en is byna die helfte van die land vir die swart volke gereserveer.

Die NP, met Verwoerd op die voorpunt, het geesdriftig kennis van dié denke geneem. Die Sauer-verslag van 1948 oor apartheid, waarmee die NP dié jaar se verkiesing binnegegaan het, was volledig geskoei op die lees van die “volksdenke” in die OB-dampkring in die voorafgaande dekade.

Daarmee word nié bedoel dat apartheid, al is dit onregstreeks, ’n Nazi-voorouer het nie. Die soort volksnasionalisme wat ten grondslag gelê het aan die apartheidsfilosowe in en rondom die OB se planne het in die 19de eeu in Duitsland ontwikkel, en die Nazisme was ’n ekstreme uitskieter.

Een van die Britse konsentrasiekampe. Foto: Fotografiese versameling van die Anglo-boereoorlogsmuseum, Bloemfontein.

Apartheid stam dus nie van die Nazisme af nie; hulle stam álbei van ’n gemeenskaplike voorouer af, naamlik die Duitse romantiese nasionalisme.

Uiteindelik bly twee vrae oor.

Eerstens: Sou apartheid tot stand gekom het sonder die radikaliserende uitwerking van die Britse imperialisme op die Afrikanernasionalisme?

Ten tweede: Sou die Afrikanervolk sonder daardie radikalisering oorleef het? ’n Mens kan in beginsel ook redeneer dat die Afrikaners, veral voor die Anglo-Boereoorlog, dikwels taamlik lou was oor sake wat ná 1902 belangrik sou word.

Sou Afrikaans byvoorbeeld oorleef het? En as die antwoord nee is, sou die Afrikanervolk sonder die doelbewuste skep van die geskrewe taal as reaksie op die Engelse minagting voortbestaan het?

Dis alles prikkelende vrae waarop duisende uiteenlopende antwoorde gegee kan word.

My doel is nie vandag om antwoorde te gee nie, maar om duidelik te maak dat die verloop van die geskiedenis nie volgens ’n ideologiese wetmatigheid verloop nie. Dit word bepaal deur ’n kombinasie van ’n duisternis ingewikkelde faktore, wat soms saamloop en mekaar versterk, en wat soms teenstrydig is.

Uiteindelik is die taak van die historikus om nie by die onbeantwoordbare vrae vas te steek nie, maar om aan te dui wat gebeur het. In dié geval hét die Britse imperialisme sy intrede gedoen, die embrio van ’n Afrikanerliberalisme ís in die kiem gesmoor, die Anglo-Boereoorlog hét soveel ellende veroorsaak dat die Afrikanernasionalisme ’n beslissende radikalisering ondergaan het, en uiteindelik hét dit aanleiding gegee tot apartheid.

Kleio, die antieke Griekse muse van die geskiedenis, is ’n wispelturige wese. Net so gou as wat jy dink jy het dié of daardie historiese probleem opgelos, ontstaan ’n ander perspektief wat weer ’n ander rigting inslaan.

Waaroor min mense sal kan stry, is dat die Anglo-Boereoorlog op ontelbare uiteenlopende vlakke ’n beslissende draai aan die Suid-Afrikaanse geskiedenis gegee het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Juan

en dan gooi ons als wat ons voorvaders vir ons gedoen het weg,
www vote for selfdetermination co za

Piet

Ai Leopold, apartheid kom al van bybelse dae toe God die Israeliete beveel het om nie met ander volke te meng nie. Lees gerus Esra 9.

Waarom is julle liberaliste so bang vir Afrikanernasionalisme?

Boerseun

11/10/2019 So vinnige liefdesboodskap aan tswane fm: Vandag op 11 Oktober 2019, 120 jaar gelede het die 2de Anglo Boervolk begin teen ons Boervolk omdat goud in 1886 in Transvaal ontdek was. Die britse spioen, jan smuts en die jood, cicel john rhodes wat lede van die afrikanerbond was wat in 1882 gestig was het saam die joodse rothchild familie die oorlog begin. Na 1902, tydens die vrede van Vereniging het die ingelse jode slegs met hul handlangers hul strategies vanaf millitêre oorlogvoering na politieke oorlogvoering verander tot hede terwyl die afrikanerbond deel van hul handlangers is. Die afrikanerbond is… Lees meer »

Maria

Ek vergewe Britse nie ooghare vir hulle nie. Wat saai gaan maai dalk lank maar sal kom dit verseker! my hartbreek so ontmenslik. Wens nuwe SA wat so baie kla wat nie so erg deurgeloop soos die vroue en kinders kampe nie. Hoeveel Afrikaner gestref vir die lieflike land waarvoor ons as Afrikaner gewerk het en geveg het.

aj

Dis nou ‘n interessante stukkie “his – story” … ha … ha … daar is ook “others’ stories”.

Waaroor ek wonder is wat die sieninge was van die Nederlanders Belge, Vlaminge, Duitsers en Franse van hulle merkwaardige “nasate” in Suid Afrika?

Ons hoor die “stories” van die Engelse en die Boere … maar waar was Wes Europa? … bv. toe die VOLKSMOORD in SA konsentrasiekampe gepleeg is?

Want dit kan dalk wéér gebeur!