Angola: President takel voorganger se korrupsie

President João Lourenço. Foto: (AP Photo/Armando Franca, File)

Die president van Angola, Eduardo dos Santos het in 2017 ná 38 jaar aan bewind uitgetree en die mag oorgegee aan sy opvolger, João Lourenço, voorheen minister van verdediging.

Die verwagtings in Lourenço was laag, aangesien hy deel van die binnekring van die regerende party MPLA is, wat al sedert onafhanklikheid in 1975 die land met geweld en manipulasie regeer.

Tog het Lourenço vriend en vyand verbaas toe hy sy magtige voorganger en dié se invloedryke familie weens hulle korrupte bedrywighede aangevat het. Die sentrum van die korrupsie-nes is Dos Santos se dogter Isabel. Sy word as die rykste vrou van Afrika beskou, met ʼn batewaarde van sowat $2,2 miljard. Na bewering is omtrent alles daarvan onregmatig verkry en word deur die Angolese staat van haar teruggeëis.

Ook haar halfbroer Jose Filemon word vir korrupsie ondersoek. Hy het ʼn halfmiljoen dollar uit die land se staatsfonds na ʼn buitelandse rekening oorbetaal, toe hy direkteur van die fonds was. Die ondersoeke teen die Dos Santos-familie word versterk deur omvangryke inligting oor mev. Dos Santos se duistere sakebedrywighede, wat deur ʼn netwerk van ondersoekende joernaliste onlangs gepubliseer is, die sogenaamde Luanda Leaks.

Die korrupsie van die Dos Santos-familie volg die klassieke patroon: Die pa het as president oral sy invloed gebruik om sy dogter in posisies te plaas waar sy staatsmaatskappye kon melk en geld kon oorplaas na haar of haar man se privaatmaatskappye.

Sy was direkteur van die staat se oliemaatskappy Sonangol en het fiktiewe tenders of tenders, wat buitengewoon hoog gekwoteer is, aan haar verskeie maatskappye toegeken. Kort voor haar afdanking as direkteur van Sonangol in 2017 het sy miljoene dollar oorbetaal aan ʼn bank in Portugal waarvan sy die meerderheidsaandeelhouer is. Die persoon wat die rekening in Portugal bestuur het, is verlede week dood aangetref. Dit was vermoedelik selfmoord, maar ʼn saak van moord word ook ondersoek.

Met die staat se diamantmaatskappy Sodiam en die telekommunikasiemaatskappy Unitel het sy of haar man ook twyfelagtige transaksies aangegaan waarby die Dos Santos-naam en invloed altyd ʼn rol gespeel het. Sy het ook prima seefront-eiendom in die hoofstad Luanda teen ʼn fraksie van die werklike prys bekom.

Mev. Dos Santos het ook sakebelange en eiendom in Portugal, Dubai en Brittanje, waar sy skool gegaan het en ook tans woon. Mev. Dos Santos, wie se ma ʼn Rus is, is inderdaad tipies van die Afrika-elite: hulle buit hulle eie lande uit, waarvoor hulle kamstig soveel omgee, kla gedurig oor rassisme en die Weste se onderdrukking, maar spandeer baie tyd en geld in Europa of die VSA (Grace Mugabe was ook ʼn klassieke voorbeeld van só persoon).

Isabel dos Santos. Foto: (AP Photo/Paulo Duarte)

Mev. Dos Santos beweer dat die korrupsieklagtes teen haar en die Dos Santos-familie deel van ʼn vendetta van die president is en polities gemotiveerd is om haar pa se nalatenskap uit te vee. Sy oorweeg self om met die volgende presidentsverkiesing as kandidaat teen Lourenço te staan en maak aanspraak dat die Dos Santos-naam haar ʼn goeie kans gee. Dit kan sterk bevraagteken word.

Lourenço se stryd teen korrupsie dien natuurlik ook die doel om sy eie magsposisie te vestig en om te wys dat hy nie ʼn marionet van die Dos Santos-familie is nie. As hy konsekwent alle korrupsie in die land sou wou uitroei, dan sou hy omtrent elke MPLA-ampsdraer moes aanvat, want ná 45 jaar aan bewind is die party deurspek met korrupsie van die hoogste tot die laagste vlak.

Om egter by die magtige Dos Santos-familie te begin is reeds dapper en stuur ’n sterk boodskap uit dat oud-leiers nie bo die reg verhewe is nie.

As ’n mens dink hoe president Cyril Ramaphosa stoei om die korrupsie-nes van die nege jaar onder sy voorganger oop te vlek, kan ʼn mens dink watter onbegonne taak dit is om die korrupsie van die 38 jaar onder Dos Santos te ondersoek en te straf.

Ook Lourenço het sy eie party se steun daarvoor nodig en moet sekere kompromieë aangaan met korrupte maar magtige persone wat ook hulle mes inhet vir Dos Santos.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Ampie

Die Lourenco president stel nie regtig belang om korrupsie uit te roei nie. Dos Santos en sy dogter staan in sy pad om self sy hande op Angola se skatte te kry. As hy van hul kan ontslae raak kan hy en sy vriende aansit vir ‘n feesmaal. Dis nou maar een maal hoe Afrika werk.