Antwoord op ANC woordvoerder se brief

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Flip, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het dié ope brief aan die woordvoerder van die ANC, Zizi Kodwa, geskryf as antwoord op Kodwa se brief aan die organiseerders van die Swart Maandag-veldtog:

Beste Zizi,

Jou skrywe aan twee van die organsiseerders van Swart Maandag is ʼn mengsel van die heuningkwas en soetsappige ANC-propaganda, al was dit verwoord in “staatsmantaal”. Jou skrywe as amptelike woordvoerder van die ANC is ʼn goeie opsomming van die party se selfgeskepte mites wat julle soos evangelie verkondig in die hoop dat almal dit glo.

Ek wil graag tien van die belangrikste mites wat die ANC se meesterverhaal oor die verlede uitmaak uitwys en dan kortliks daarop kommentaar lewer. Dis ongelukkig belangrik dat jou skrywe beantwoord word, want julle grond jul beleid oor die toekoms op jul eensydige weergawe van die verlede.

1. Jy beskryf die ANC se struggle-geskiedenis as ʼn stryd vir demokrasie en geregtigheid.

Kommentaar: Die werklikheid is dat julle in vennootskap met die SAKP en die ou Sowjetunie ʼn gewelddadige rewolusie beplan het om ʼn “diktatorskap van die proletariaat (werkers) hier in te stel”. As julle daarin geslaag het, sou Suid-Afrika gelyk het soos al die ander plekke waar dit beproef is.

2. In jou skrywe roem jy op die mite dat die ANC teen rasseonderdrukking geveg het.

Kommentaar: Terselfdertyd verswyg jy dat julle ʼn stelsel van klasse- en rasseonderdrukking wou instel. Die Koue Oorlog was vuurwarm in Suid-Afrika en die politieke beweging is eers ontvries toe die Oosblok geval het. Die ANC se 2017-beleid spel steeds uit dat julle “Afrikaan-oorheersing” (African hegemony) voorstaan. Julle beskryf julself steeds nie as ʼn demokratiese party nie, maar ʼn “bevrydingsbeweging” wat veg vir die vryheid van Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen. Die ANC het teen minderheidsoorheersing geveg, maar wou dit vervang met meerderheidsoorheersing met ʼn sterk mengsel van Afrika-nasionalisme en sosialisme. Ja, die NP se politieke stelsel van “afsonderlike ontwikkeling” het op onderdrukking uitgeloop, en het misluk in sy verklaarde projek van “afsonderlike vryhede”. Maar julle het nie net daarteen geveg nie, maar vir ʼn ANC- geleide diktatorskap. Dit kan steeds gesien word in ons huidige “demografiese demokrasie” waar julle met die transformasie rasseformule van 80 swart, nege bruin, nege wit en twee Indiër alles wil oorheers.

3. Die ANC roem hom op nie-rassigheid en ʼn stryd teen rassisme.

Kommentaar: Jy weet darem self goed dat dit baie eensydige propaganda is, Zizi.

Die ANC is wel giftig teen werklike of gewaande wit rassisme, maar het nou self ʼn omvattende rassebedeling ingestel, en jul dubbele standaarde ten opsigte van ras is alombekend. Jul hele beleid rus op ras, terwyl julle skynheilig “veg” teen rassisme. Die bekende sosioloog prof. Lawrence Schlemmer het julle rassebeskouing as volg verwoord, nog voordat julle dit in werking gesel het:

“The ANC has perfected a code in responding to the issue of race. It invariably starts off from the position of non-racism, and it then qualifies this with a commitment to closing racial gaps in order to achieve a legitimate basis for non-racialism, and from there it proposes a range of race-based affirmative action and empowerment policies to give effect to this. In the latter aspect it is able to assure its African or black supporters that, although ‘non-racial’, it is ‘on their side’.”

4. Jy spog met die 1955 Freedom Charter “dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon.”

Kommentaar: Die ANC verswyg dat die Freedom Charter in 1955 op die hoogtepunt van Kommunisme as ʼn sosialistiese bloudruk vir sosialisme in Suid-Afrika opgestel is. Die 1994 grondwet waarop ná die val van Kommunisme ooreengekom is, bekyk julle deur die verouderde 1955 Freedom Charter-bril. Die Charter se stelling dat die land behoort aan “almal wat daarin woon” word byvoorbeeld gereeld vertolk as die afskaffing van eiendomsreg ten gunste van kollektiewe grondbesit.

5. Zizi, jy roem op die ANC se geskiedenis as bevrydingsbeweging en noem selfs die name van Afrikaners wat julle gehelp het soos die Kommunis Bram Fischer.

Kommentaar: Aan die ander kant verswyg jy die bloedrooi bloedspoor wat die Kommunisme oor die geskiedenis getrek het. Onthou jy ook dat die ANC vir dekades geweier het om met die ou regering te onderhandel en die NP se pogings om apartheid deur ʼn hervormingsbeleid af te takel met geweld gesaboteer het?

Jy noem ook niks van die feit dat die ANC en Kommuniste, soos Fischer, se radikale beleid en julle gewelddadige metodes die vorige regering geen keuse gelaat het om hulle te beveg nie. Jou skrywe wys ook geen teken van die ANC se destydse foute soos die sabotering van die swart skoolstelsel met “liberation before education” nie. Ons lees ook niks van die ANC wat tans die ou waarheid herbevestig dat ʼn “bevrydingsbeweging” nie kan regeer nie.

6. Jy vereenvoudig die geskiedenis as een van die regmatige stryd van weerlose onderdruktes teen bose onderdrukkers.

Kommentaar: Jy weet baie goed dat jou siening nie rekening hou met ʼn veel ingewikkelder werklikheid nie. Die ou regering het talle formules beproef waarvolgens swart mense se reg op vryheid versoen kan word met wit mense se reg op vryheid. Dit is so dat baie van hierdie projekte misluk het, maar die ANC se beleid het geen voorsiening vir hierdie balans gemaak nie. Julle wou bloot die regering met geweld omverwerp en hulle verwoestende beleid instel. Hierdie onderliggende verdrukkingsideologie van die ANC kom nou sterk na vore in wetgewing wat ons as burgers se hele lewens wil beheer: ons werk, skole en ons kinders, besighede, en wat ons mag dink en voel. Die nuwe Onderwyswet is maar net die jongste bewys dat julle minderheidsoorheersing verruil vir meerderheidsoorheersing. Jy haal oudpres. Nelson Mandela se presidensiële intreerede selektief aan. Lees weer sy onderneming dat daar in die nuwe bedeling geen onderdrukking deur ʼn rassegroep sal wees nie. Nee Zizi, demokrasie sonder kulturele vryheid is net vryheid vir die demografiese meerderheid.

7. Jy is skynheilig as jy sê dat almal in die land deur misdaad geteister word en dat boere nie in ʼn protes uitgesonder mag word nie.

Kommentaar: Zizi, jy verswyg dat die ANC se transformasiebeleid die polisie so verswak het dat hulle niemand in die land meer veilig kan hou nie. Jy vergeet ook dat die ANC-regering die kommandostelsel afgeskaf het, en dat ANC-politici gereeld die massas teen wit boere opsweep. Jy erken ook nie die ANC se dubbele standaarde, wat nasionaal in opstand kom teen ʼn wit vrou se rassistiese twiet, maar nou al vir jare niks sê oor duisende aanvalle op boere nie. Die ANC behou julself die reg voor om te protesteer en drakoniese wette te maak oor dinge wat julle pla, maar ons mag nie eers kla as ons boere vermoor word nie?

8. Jy tokkel weer op die afgesaagde snaar van die ou vlag.

Kommentaar: Die dag se simbool was swart roudrag en wit kruise. Teen die tyd weet jy goed dat die berigte oor wydverspreide ou vlag-waaiery fopnuus was, met die bedoeling om Swart Maandag te probeer kaap.

9. Die ANC “omhels” ondubbelsinnige gelykheid van almal voor die reg, ongeag ras.

Kommentaar: Ek neem aan jy het dit in ʼn ligte luim gesê, maar niemand lag vir jou grappie nie. Julle ongelyke rassebeleid het die land nou tot op die rand van die afgrond gesleep.

10. Jy beskryf die ANC as “progressief”, verheerlik jul geskiedenis en vergelyk onderlangs apartheid met Nazisme.

Kommentaar: Kom ek laat die oordeel oor julle “progressief”, kodewoord vir sosialisme, aan Harvard se prof. Francis Fukuyama oor: “The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies.

Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition.  The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”

Is dit nie maar wat nou gebeur nie, Zizi?

Maar kom ons kyk na julle “meesterverhaal” van die geskiedenis wat julle die enigste en amptelike weergawe wil maak. Prof. Sameul Huntington, ook van Harvard, het gesê elke kultuur skryf die geskiedenis uit sy eie oogpunt, met homself as die middelpunt daarvan. Ek gun dit vir julle, maar gun dit ook vir ons om die beste uit ons geskiedenis te neem. Hou op om ons geskiedenis te probeer kriminaliseer en jul eie te verheerlik.

Laastens, jou verwysing na “Nazi-ikonografie”. Kom ons bly maar by die liberale denker Alan Paton se oordeel, dat: “If you liken South Africa to Nazi Germany, that is a prostitution of language”. 

Dis tyd dat julle eerder begin besin oor die Kommunisme as kriminele ideologie wat volgens die “Black Book of Communism” vir sowat 100 miljoen mense se dood verantwoordelik was se ikonografie wat julle nog so lief voor is. En nee, dis nie die verlede nie, in julle groot 8 Januarie-verklaring van 2017 het julle dit só gestel: “We also commemorate 100 years since the 1917 Great October Socialist Revolution when Russian workers liberated themselves from autocratic Tsarist rule and established the first socialist workers state. The ANC remains appreciative of the solidarity and material support provided by the people of Russia during our struggle for liberation.”

Slotsom

Zizi, ons gaan mekaar nie oortuig nie, en dis ook nie nodig nie. Ons moet mekaar met wedersydse erkenning en respek behandel. Kom ons vat die land op hierdie grondslag vorentoe, want ons het tog gedeelde belange, al het ons nie altyd gedeelde sienings nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Bantam ·

Hoekom n afrikaanse brief vir die afrikaanse leser skryf ?

B-man ·

Ek is bly dis oorvertaal in Afrikaans, sou moeilik wees om te herkou aan brits. Ek het baie geleer en het nou ‘n beter meer ingeligde perspektief oor die ANC se geskiedenis en beleide. Hoop ou Zizi se verwysingsraamwerk word ook aangepas. Dankie Flip en Maroela vir Afrikaans (ek sal nie verbaas wees as Zizi se weergawe in Zulu vertaal is vir sy onthalwe nie…)

Eish ·

Want ons het die versuikerde pil gesluk as toenadering , sommer sonder water. Daarom is perspektief eerstens vir ons heunigliefhebbers, bitter, broodnodig. Die agbare sal wel dit te vertale kan kry, die staatdiens is oorbevooraad aan personeel. Dankie Mnr. Buys vir die perspektief. Sommer skeef die hel in vir myself!

AAL ·

Hierdie brief is meer van toepassing op naiewe Afrikaners wat al gebreinspoel is en nie besef dat hulle nie weet dat hulle nie weet nie. Dit gee goeie perspektief om die verlede te verstaan.

Cherokee ·

Waarom bantam, skryf jy bantam met ‘n hoofletter en Afrikaans met ‘n kleinletter? Waar is jou sin vir waardes?
Baie dankie Flip Buys, vir ‘n onverbeterde stukkie politiek. Jy weet natuurlik lankal sou Solidariteit in ‘n politieke party ontaard, sal dit ‘n wenner wees.

Sarie ·

Dankie vir hierdie insigte. Dit was interessant hoe mense nog vir hierdie kommunistiese retoriek val. Dit was veral sigbaar op die artikel op News24 se webblad, maar sommige Netwerk24 het die man ook krediet gegee.

Bantam ·

As die brief vertaal is uit Engels , verstaan ek maar as dit net in afrikaans geskryf was sal die wat dit moet lees nie verstaan nie

willie ·

Ek stem die brief is uitstekend geskryf met stawende feite, ek twyfel egter of die agbare Zizi dit sal lees en wil verstaan!

jan_alleman ·

amen willie ek verseker jou hy en al sy trawante wil nie verstaan nie

wesley ·

Alhoewel ek verstaan wat Flip probeer tot lig bring oor die ANC, almal waar en baie goed uiteen gesit, moet ons onself (en Flip homself) nie flous oor die agterstand wat die ou NP ons ook tot gebring het nie. Hy praat van hul wat probeer het, en so kan ons dieselfde se van vandag se regering in sekere omstadighede. Maar dit is en was net nie so nie. Altwee het of misluk nogsteeds. Hy is skuldig daarvan om die ou NP en apartheid te versag, terwyl hy die huidige regering (geregtiglik) teiken. Altwee bedelings moet tot die sterkste veroordeel word oor die pyn en ellende wat hul Suid Afrikaners as n geheel aanbring / aangebring het. Altwee ewe sleg!

wesley ·

@jan-alleman, nes daar bewyse is in jou “opinie” vir die tekortkome van die huidige regime, is daar bewyse in my “opinie” oor die vorige, wat dit dan n feitelike waarheid maak. Net omdat ons buite ons vensters gekyk het waar ons gebly het in die ou dae, waar als wonderlik en op gelyk het vir die afrikaner, beteken nie dit was so vir almal in ons land nie. Net so blind soos die versotlikes van vandag kan ons onself nie hou oor die verlede nie.

Ou Almal Saam Voorwaarts EN Opwaarts Vlakvark ·

Flip Buys: “Zizi, ons gaan mekaar nie oortuig nie, en dis ook nie nodig nie. Ons moet mekaar met wedersydse erkenning en respek behandel. Kom ons vat die land op hierdie grondslag vorentoe, want ons het gedeelde belange, al het ons nie altyd gedeelde sienings nie.”

Aan alle Suid-Afrikaners, almal saam VOORWAARTS en OPWAARTS ter wille van vrede, voorspoed en ons nageslagte. Dankie Zizi en Flip vir jul bydraes. Ons almal leer nog om te LUISTER en nie net te hoor nie. Sela en Amen.

John ·

Cyril is ook op die ‘the-land-was-stolen-from-us’-trajek. Sy standpunt verskil dus niks van die van ant-Zuma nie. Omdat die swartes in die land buite-beheer aanwas en nou die vrugte van hul onverantwoordelikheid pluk, moet die witmense plek maak vir hulle, hul ondernemingsgees afskaal en weggee, hul beursies leegmaak en opdok vir ander se foute. En Cyril sien niks fout daarmee nie en ons dink ons gaan kan voortbestaan onder hom ~ ons gryp na grashalms… die soort met dorings aan.

Eish ·

Wat is die korrekte trajek?
1. The land was bought from us?
2.Negotiated from us.
3. Coinhabited
4. Leased for 300 years.

Henry ·

Geagte Flip Buys

1. Baie dankie vir u kundige repliek op komrit Zizi Kodwa se ANC propagandastuk van annerdag.
2. Dat komrit Zizi die waarhede wat in u skryfsel vervat is, aan sy oor sal knoop, is ongelukkig ‘n ander keteltjie vis, soos die Ingelse dit stel.
3. Dat hierdie poging van my die woordspietkop(pe) se snippermandjie sal vryspring is eweneens ‘n tweede of derde keteltjie vis.

aquila non capit muscas
:-)

JC ·

Uitstekend! So bondig, saaklik en mooi gestel in ons lewendige en pragtige moedertaal:)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.