Apartheid, Deel 2

Foto: www.sanef.org.za

Dis mos ʼn ou waarheid dat die ding waarteen jy veg, die ding is wat jy sal word. En dit geld nie net vir die swartes van Afrika nie, dit geld vir almal.

Die onlangse wetgewing om vryheid van spraak in Suid-Afrika te bekamp is nie ʼn kwessie van ras nie, dis ʼn feit van die mens se natuur. Die korrupsie van Afrika se regerings is kinderspeletjies teenoor dié van die regerings van Amerika en Europa. Moet nooit vergeet nie dat die grootste wapenhandelaar in die wêreld die president van die VSA is. En om dit tuis te bring: moet nooit vergeet nie dat die grootste dwelmhandelaars in Suid-Afrika die Ruperts is… net omdat drank en sigarette (waarvan ek albei uit vrye wil heeltemal te veel in my lewe gebruik het) wettig is, beteken nie dis nie dwelms nie. (En gou tersy – daar moet nou op ʼn pakkie sigarette staan, “Cigarettes can kill you,” maar nie op ʼn kar nie, waarin derduisende burgers per jaar in elke land sterf. Dink daaroor. Die Ruperts kan tereg voel dat hulle besigheid onregverdig geteiken word.)

Dit verbaas my glad nie dat onse ou regering uiteindelik besluit het om die lastige pers, wat die misbruik deur die regering van SA burgers se belastinggeld en ander korrupsie keer op keer ontbloot, te bekamp nie. Hoe dan anders? As jy nie die finesse van die Amerikaners en Europeërs in die misbruik van daardie geld het nie, dan moet jy die bliksems wat jou sondes ʼn publieke saak maak deur sensuur bekamp. Dis lomp, maar wat anders kan jy doen? Die Nasionale Party het per slot van sake met die verbanning van The Rand Daily Mail die voorbeeld gestel.

Amerikaanse heersers, byvoorbeeld, gebruik die “military-industrial machine” op uiters doeltreffende wyse om belastingbetalers se geld in die hande van hulle maatjies (en, deur daardie maatjies, in hulle eie sakke) te kry, maar ongelukkig het ons nie so ʼn meganisme nie, dus is die diefstal baie meer ooglopend. Maar wees verseker – alle, en ek sê alle, regerings is korrup, dis net dat sommige dit baie beter as ander verbloem.

Kom ons wees eerlik… wanneer dit by die verbloeming van die uitbuiting van burgers kom, het die Weste al eeue lank geoefen. Afrika is ʼn jongeling in die verband, en vandaar die feit dat ons regering nog nooit vir Mugabe behoorlik getug of veroordeel het nie, en vandaar die onlangse belet, in die naam van “staatsekuriteit”, op enige blootstelling van optrede deur die regering wat publieke belang minag, hetsy geld steel of baantjies vir boeties.

Foto: www.thecommonwealthconversation.org

En laat ek my posisie wat die pers betref baie duidelik stel: ek dink dat die pers ʼn skuilplek vir lafaards is, mense wat die dekmantel van “vryheid van spraak” misbruik om geld te maak uit laster, sensasie en vrees. Die sogenaamde “vrye pers” is alles behalwe vry. Dit word besit en geskep deur burgers met hulle eie belange en agendas, en veral met die oog op die strewe na profyt. Daar is nie so ʼn ding soos die “vrye” pers nie. Die pers is ʼn euwel, ja, maar ʼn nodige euwel, want soos aasvoëls oorleef hulle uit ander se arbeid – eerlik of oneerlik – maar (en dis ʼn belangrike “maar”) hulle hou ook die veld skoon. Ek haat die pers, maar soos die ou wysheid dit stel: “I might not agree with what you say, but I will defend to the death your right to say it.” Dit, per slot van sake, is die hoeksteen van ʼn demokrasie.

Dit dan gesê, is dit werklik moontlik dat daar ʼn enkele persoon in Suid-Afrika is wat verstom en verbaas staan voor die regering se nuutste stappe in die rigting van onderdrukking en die bekamping van ons regte as burgers, wit en swart? Al wat ons regering van baie ander sogenaamde demokratiese regerings skei is die krasheid van hulle poging om diefstal en korrupsie uit die publieke oog te hou, maar anders as dit, sluit hulle maar net by ʼn baie ou tradisie aan. (Lees gerus Naomi Klein se The Shock Doctrine)

Wees verseker dat hierdie nuutste wet maar net die eerste is in ʼn reeks wat nog kom, want soos ek gesê het: die ding waarteen jy veg sal die ding wees wat jy word. Die ANC het teen Apartheid geveg, en hulle gaan oor die komende jare hierdie land wys hoe die min die baie kan onderdruk. En, nes met die Nasionale Party, sal hulle uiteindelik die polisie en die weermag gebruik om dit te doen. En kort voor lank sal The Rand Daily Mail nie die enigste koerant wees wat in hierdie land verban was nie.

Ons is besig met Apartheid Deel 2. En glo my, daar kom nog Deel 3 en 4 ook.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Deon Opperman

Deon Opperman is dramaturg met onder meer Ons Vir Jou en Tree Aan! op sy kerfstok.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ebert ·

Deon,

Jy doen darem baie moeite om jou kritiek op die ANC regering polities-korrek te hou.

Dit is asof jy amper glo dat mens nie die ANC kan kritiseer sonder om jouself te klassifiseer as rassis, on-liberalis of teen-revolusionêr nie.

Dit is jammer dat jy met jou reuse veralgemening en miskyk van feite soos die stand van die menslike ontwikkelingsindeks, INSEAD se rangorde van innoverende lande of die Wêreld Ekonomoniese Forum se kompeterendheidsindeks, wil voorgee asof die politici van Afrika niks anders is as die politici van Europa of die VSA nie.

‘n Vergelyking van die vlakke van ontwikkeling, produksie, uitnemendheid en gelykheid tussen die bevolkings van Europa en VSA (en die res van die ganse bewoonde aarde) dui ongelukkig aan dat dit by Afrika besonders slegter gaan as by die res.

Waarom voel jy dit nodig om Afrika se algemene politici slegs met die mislukte of swak politici van Europa of die VSA te vergelyk? Is dit nie inherent rassisties nie?

Dit is jammer dat jy dit nodig ag om die hele wêreld deur die modder te sleep in ‘n poging om “neutrale” kritiek teen die ANC te kan lewer, want daarmee skep jy die indruk dat mens nie net as jouself, as gewone mens met ‘n gewete, kritiek op die ANC kan lewer nie. Daarmee versterk jy die ANC se houvas op en intimidasie van diegene wie se gewetens hulle weg van die ANC af wil stuur.

Hierdie jammer-ek-durf-kritiek-lewer houding van jou verhinder juis openbare kritiek en gesamentlike verset teen die ANC.

Deon Opperman ·

Jammer Ebert, maar ek verstaan nie jou kommentaar nie. Ek maak juis die punt dat Afrika se regerings ver agter Westerse regerings is in die verbloeming van korrupsie. Ek stel dit ook baie duidelik dat die poging tot onderdrukking van vryheid wat hierdie nuwe wetgewing verteenwoordig juis die soort onderdrukking is wat ons van ‘n Afrika-regering moet verwag. Inderdaad, ek stel dit duidelik dat daar nog baie erger is wat op ons in die toekoms wag.

Wat ek wel ook se^ is dat alle regerings by uitstek korrup is…en daarteen kan jy tog sekerlik nie stry nie. Die politiek is ‘n modderbad, het my Pa my altyd vertel, en almal wat daarby betrokke raak, word vuil. Daar is elke jaar in elke land oneindige voorbeelde daarvan.

Suid-Afrika, soos jy sal weet, is ‘n nietigheid in we^reldsake. Maar ja, wat die ANC aanvang het direkte impak op die lewens van ons wat hier woon. Maar ek is beslis nie deel van hierdie forum om maak-nie-saak-wat-nie die ANC regering uit te trap nie. Waar ek dink hulle die burgers van ons land goed dien sal ek so se^, en waar ek voel hulle die burgers uitbuit of onderdruk, sal ek ook so se^. Dit is wat Van Wyk Louw bedoel het toe hy gepraat het van “lojale verset”.

Vriendelike groete
Deon Opperman

ebert ·

Deon,

Ek sal hiermee poog om my besware teen jou skrywe duideliker uit te lig:

Jy reduseer die oortredinge van diefstal, wanbestuur en pligversuim tot ‘n blote onvermoë om daarmee weg te kom. Die ou gesegde dus: “dit was nie ‘n sonde om te steel nie, maar wel om gevang te word.”

Die rede waarom jy bogenoemde doen is vir my duister, en die mening wat ek daaroor gevorm het, is dat dit ‘n poging is om jou kritiek teen die ANC te verbloem agter ‘n liberale masker van politieke korrektheid, deur die hoofsaaklik blanke-regerings van Amerika en Europa vir verdagmakery uit te sonder. (Ek gee toe; hierdie mening van my mag wel verkeerd wees, want dit is bloot ‘n mening.)

Jou vergelyking met ander regerings is ook slegs kosmeties van aard en delf niks diepers as ‘n groteske veralgemening nie. Waarom, byvoorbeeld, is dit dat die politieke elite van Afrika sukkel om hul sondes te verbloem? Is dit slegs weens ‘n tekort aan finesse of is dit dalk omdat hulle dit tot so ‘n relatiewe gulsige en reuse skaal pleeg dat algehele sfere van regering ineenstort en daar geen vorm van funksionaliteit meer oor is wat die gekonkel kan verberg nie?

Dalk kan jy in meer besonderhede verduidelik hoe die omvang van korrupsie in Suid-Afrika kinderspeletjies is in vergelyking met Amerika en Europa? ‘n Aanhaling uit “Lord of War” oor die VSA se handel in wapentuig gaan nie die koek bak nie, want hierdie “klag” het nog nie daarin geslaag om ‘n VSA president in ‘n staat van beskuldiging te plaas nie. Om aan te voer dat die president vervolging vryspring deur ‘n gebrek aan ‘n deurtastende regstelsel, is om die val van Nixon en Clinton vir gerieflikheidshalwe uit die oog te verloor.

Jou skrywe slaag daarin om klappe na almal uit te deel, maar dit is net die klap na die ANC wat gesalf word met ‘n “toemaar, die ander doen dit ook.”

Van Wyk Louw was lojaal teenoor sy volk en is deur daardie lojaliteit gedryf om te ywer vir beter, om in verset te kom teen alles wat sy volk sou verhoed om hul potensiaal ten volle te verwesenlik. Dit is lojale verset.

Indien iemand met Van Wyk Louw vergelyk kon word in die huidige tydsgewrig, sou dit Moeletsi Mbeki wees, wie se onverskrokke kritiek teen die ANC nog nooit neergekom het op die bak van souskleitjies nie.

Peter Wassenaar ·

Deon,

Ek sukkel om jou “poging” om “polities korrek” te wees te raak te lees.

Soos ek jou artikel verstaan probeer jy eerder om die aard van politiek regoor die wêreld uit te wys. Europa is tans vasgevang in die pitswere van korrupsie wat uiteindelik begin kom uitsteek. Die Westerse regerings is besig om hul staanplek in die wêreld ekonomie te verloor weens gerigheid, korrupsie en roekelose bestuur deur regerings in samewerking met banke. Kyk net na die skandale rondom Frankryk se Nicolas Sarkozy. Klagtes van grootskaalse korrupsie en “baantjies vir boeties” hang oor sy kop. Jy wys tereg ook na die wapensmous-ekonomie waarop Amerika gebou is.

Die media, besigheid en politiek het een gemene deler: almal word bestuur deur mense. Die mens is in sy natuur geprogrammeer om sy eie belange op die hart te dra en te bevorder. Dit is nie vreemd dat korrupsie grootskaals in selfs die mees “gekultiveerde” Westerse lande sy kop uitsteek nie. Om daardie realiteit te erken beteken nie dat ons eie land se probleme nou geminimaliseer of goedgepraat word nie. Hoe belaglik sal ons intellektuele diskoers raak indien ons nie eens gesprekke wat wyer strek as ‘n aanval op die ANC-regering kan voer nie.

Jy is korrek deurdat jy die media uitwys as ‘n organisasie wat in eie belang optree. Sy plek is onmisbaar in ‘n demokrasie, maar netso moet ons sy aard verstaan. Selfs hierdie forum waaraan ons deelneem kan nie as ‘n “neutrale” media beskryf word nie aangesien dit vir mense met soortgelyke belang tender. Ja die sogenaamde “Swart Dinsdag” optogte van die media teen wetgewing wat vryheid van uitdrukking wil inperk is nodig.

Sien tog net deur die messias-kompleks wat die media ontwikkel. Hulle veg vir vryhede…. maar ook die oorlewing van hulle eie winsmarges.

Peter Wassenaar ·

Regstelling: Europa is tans vasgevang in die pitswere van korrupsie wat uiteindelik begin __kop___ uitsteek.

Deon Opperman ·

Hi Ebert,

Jou kommentaar is juis, maar wat my bekommer is die gevoel wat ek kry dat jou inherente posisie is dat niks wat ‘n swart regering doen sal ooit voldoende wees gemeet aan die res (en veral die wit) we^reld nie.

Dit gese^ stem ek volkome saam dat die regerings van Afrika oor die afgelope sestig, sewentig jaar getuig van niks minder as die onbeholpe poging van onkunde om komplekse idees rondom vryheid, gelykheid en respek vir lewe te begryp, verwerk en te verdedig. Wat my betref is dit “Die-Wese-Van-Afrika 101”.

Maar dit gese^, is dit myns insiens ook onrealisties dat dit verwag word dat die volkere van Afrika in ‘n honderd of twee honderd jaar die idees moet verwerk en begryp wat die Weste sedert die 1200’s NC mee geworstel het.

Mense wat my ken sal u baie vinnig inlig dat ek van baie sondes beskuldig kan word, maar nie van polities-korrektheid nie. Daarvan getuig my skrywe oor die jare. Teen hierdie aantuiging gaan ek myself nie eers verdedig nie.

Dit dan gese^:

Is Afrika ver agter? Ja

Is ek gelukkig om deur mense regeer te word wat ek as kinders ag ten opsigte van hulle begrip van demokrasie, regverdigheid en menseregte? Nee.

Glo ek daar is ‘n toekoms vir SA burgers van Europese herkoms in hierdie land? Nee, maar ek is te oud om ‘n nuwe lewe in ‘n ander land te begin.

Glo ek dat leiers soos PW Botha en Roelf Meyer en FW de Klerk enigsins moreel beter was as die leiers wat ons nou het? Nee.

Wat hou my snags wakker sodat ek Stilnox moet drink om te kan slaap? Die diepste geloof dat my volk in hierdie land verlore is. Dis net ‘n kwessie van tyd. Met God se genade sal ek dood wees voor dan en my seun in ‘n ander land gevestig. Dis waarvoor ek werk – om hom die opvoeding (ten duurste) te gee, terwyl ek nog kan, om ‘n lewe enige plek in die we^reld te kan maak, want hier sal nie een vir hom wees nie. Soos hulle in Engels dit stel: “Do the math”: Mandela, Mbeki, Zuma. Malema… Dis wat hulle in statistiek ‘n “negative probability curve” noem, maar dit weet jy waarskynlik reeds.

Om dit bondig te stel: ek is mismoedig en sonder hoop, en al rede hoekom ek aanhou is vir my seun. Ek is vyftig en verlore, maar hy het nog ‘n kans.

Ek is lief vir hierdie stukkie aarde. Sy stof is in my murg en bloed. Ek wens so dat die meerderheidbevolking van hierdie kontinent nie ‘n duisend jaar se leer van demokrasie nog oorgehad het nie, en ek hoop, vir almal wat op hierdie kontinent nog gebore moet word, dat as Afrika se regerings uiteindelik geleer het om mens te wees, hulle nie die soort mense is wat Westerse regerings nou is nie.

Is dit polities-onkorrek genoeg vir jou?

Vriendelike groete
Deon Opperman

ebert ·

Hallo Deon,

Ek kan verstaan dat jy onder die indruk mag verkeer dat ek nie goeie werk deur ‘n swart regering kan waardeer nie.

Ek het egter nie enige rede om teen swart regerings per se te wees nie. Ek dink die regerings van Botswana en Namibië vaar redelik goed.

Ek is baie positief oor die gedagte of konsep van bekwame swart regerings, in dieselfde mate as waarop ek positief is oor die gedagte of konsep van ‘n bekwame Deense regering of bekwame regering in Bolivië. Ek glo dat bekwame regering haalbaar is, en dat bekwame regering goed is vir regering, burgerlikes, handel, wetenskap, wysbegeerte ens.

Dit is ook nie vir buitestaanders om te besluit oor die kwaliteit van ‘n ander regering nie. Dit is slegs die burgers wat onder daardie regering arbei wat die voorreg het om te besluit of hulle tevrede is met hulle regering of nie.

Ek is egter wel negatief or teen sekere tipe gedagtes.

Ek is teen die gedagte dat verlief geneem moet word met swak prestasie bloot omdat ander mense ook swak vaar. Daar is altyd verskonings te vinde en daar is altyd mense wat slegter vaar. Galileo, Newton, Einstein, Bill Gates, Handel, Rembrandt van Rijn, Andrew Lloyd Webber en Chris Barnard het hulle egter losgeruk van hierdie skare van middelmatigheid en vir ons ‘n blik op ‘n beter lewe geskenk.

Ek is ook teen die gedagte dat die mense van Afrika ‘n 1000 jaar agter Europa is. Genoeg mense van Afrika het toegang tot die opvoeding, opleiding en inligting waarop die Westerse demokrasie gebou is om te kan besluit of hulle daardie model van regering hul eie wil maak of nie. Athene, Rome, Venisië en Genoa het suksesvol hul state konsekwent kon verbeter voor, deur en na die donkereeue. Billike regering is daarom nie iets wat behaal word soos wat ‘n kind ‘n graad 12 sertifikaat ontvang na ‘n sekere aantal jaar nie. Dit is eerder iets wat gedryf word deur ‘n samebindende idee wat mense aanmoedig om meer te gee as wat hulle neem. Daardie idee is nie afhanklik van tyd nie, maar openbaar homself soos flitse deur die tog wat die mensdom die afgelope 10,000 jaar afgelê het. Daardie flitse mag selfs vir ‘n tyd lank te siene gewees het op plekke soos Mapungubwe of Groot Zimbabwe.

Ek is veral ook teen die gedagte dat ons as Afrikaners ander (die Engelse, die NP, die KP, die AWB, die Swartes, die ANC) moet blameer vir ons eie probleme.

Die feit dat ons vandag onder ‘n ANC regering swoeg wat nie ons belange op die hard dra nie, is niemand anders as ons eie skuld nie.

Dit is die ANC se reg om sy agenda te bepaal en dit is ook sy verantwoordelikheid om dit in terme van die behoeftes van sy kieserskorps te doen.

Dit was Afrikaners se keuse om soos die landelike adel in die feodale stelsels van Europa as landhere oor ‘n ganse ryk heen te wil versprei op die rug van swart arbeid.

Dit was gewone Afrikaners wat deur die takke van die Broederbond oor die ganse land heen in die 1960’s laat weet het dat hulle nie wil sien dat swart tuislande vergroot moet word of ekonomies lewensvatbaar moet word nie.

Dit was Afrikaners se kortsig, selfsug en hebsug wat in so mate swart arbeiders gelok het na gebiede soos die Riemland, Pretoria en Bloemfontein dat Afrikaners self ‘n politieke minderheid in hierdie streke sou word.

Die goeie nuus is egter dat dit nie beteken dat ons nou aan die einde van die pad gekom het nie. Die laaste ding waarteen ek is, is die gedagte dat ons omstandighede vandag (bv. die landsgrense van die RSA), in sement gegiet is en sal hou tot die wederkoms.

Afrikaners beskik oor die getalle, bates en kennis om self weer ‘n meerderheid te word op ‘n lewensvatbare heimat waar ons oor onsself kan regeer. Deur ons self te help, ons eie instellings te ondersteun en uit te bou en deur die sondes van ons vaders af te sweer en op te hou om ons soos “koloniste van ‘n spesiale soort” te gedra, kan ons weer ons toekoms in ons hande neem.

Dan hoef ons nie meer bedreig te voel deur die regerings van Afrika nie.

PW Botha, FW de Klerk en Roelf Meyer was wel swak en slegte leiers wat ons nie tot groter hoogtes kon aanspoor nie, maar eerder in al-groter-wordende dieptes laat neerstort het, maar hulle was niks anders as spieëlbeelde van ons eie begeertes nie. Hulle was miskien die touleiers, maar die ossewaens het lustig saamgehardloop en selfs die pas aangegee.

Sodra ons dit besef en vrede daarmee maak, kan ons daaruit leer en begin om vir ons kinders en hulle kinders ‘n toekoms te bou, soos wat die burgers van Venisië dit ook maar moes doen na die val van die Romeinse ryk.

Die trajek van Mbeki na Zuma na Malema hoef ons nie mee te sleur nie. Ons kan wel opsy staan en ons eie ding doen. Een ding is verseker, ek benodig nie Stillnox nie.

Dalk is jy nie polities korrek nie, maar kan jy die stroom lei eerder as om daardeur gelei te word?

Vriendelike groete.

Deon Opperman ·

Best Ebert,

Ek stem volkome saam. Maar my vraag bly: “Waar? Waar sal ek dit kan doen met vrou en kind?” Ek sien nie ‘n toekoms of enige lewensvatbaarheid vir ‘n Afrikanerstaat op hierdie kontinent nie.

Deon Opperman
NS Ek’s bly jy’t nie Stilnox nodig nie, want dis ‘n swaar ding om dwelms nodig te he^ om te kan slaap. Dit dui aan op ‘n swaar gemoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.