Apartheid, Deel 2

Foto: www.sanef.org.za

Dis mos ʼn ou waarheid dat die ding waarteen jy veg, die ding is wat jy sal word. En dit geld nie net vir die swartes van Afrika nie, dit geld vir almal.

Die onlangse wetgewing om vryheid van spraak in Suid-Afrika te bekamp is nie ʼn kwessie van ras nie, dis ʼn feit van die mens se natuur. Die korrupsie van Afrika se regerings is kinderspeletjies teenoor dié van die regerings van Amerika en Europa. Moet nooit vergeet nie dat die grootste wapenhandelaar in die wêreld die president van die VSA is. En om dit tuis te bring: moet nooit vergeet nie dat die grootste dwelmhandelaars in Suid-Afrika die Ruperts is… net omdat drank en sigarette (waarvan ek albei uit vrye wil heeltemal te veel in my lewe gebruik het) wettig is, beteken nie dis nie dwelms nie. (En gou tersy – daar moet nou op ʼn pakkie sigarette staan, “Cigarettes can kill you,” maar nie op ʼn kar nie, waarin derduisende burgers per jaar in elke land sterf. Dink daaroor. Die Ruperts kan tereg voel dat hulle besigheid onregverdig geteiken word.)

Dit verbaas my glad nie dat onse ou regering uiteindelik besluit het om die lastige pers, wat die misbruik deur die regering van SA burgers se belastinggeld en ander korrupsie keer op keer ontbloot, te bekamp nie. Hoe dan anders? As jy nie die finesse van die Amerikaners en Europeërs in die misbruik van daardie geld het nie, dan moet jy die bliksems wat jou sondes ʼn publieke saak maak deur sensuur bekamp. Dis lomp, maar wat anders kan jy doen? Die Nasionale Party het per slot van sake met die verbanning van The Rand Daily Mail die voorbeeld gestel.

Amerikaanse heersers, byvoorbeeld, gebruik die “military-industrial machine” op uiters doeltreffende wyse om belastingbetalers se geld in die hande van hulle maatjies (en, deur daardie maatjies, in hulle eie sakke) te kry, maar ongelukkig het ons nie so ʼn meganisme nie, dus is die diefstal baie meer ooglopend. Maar wees verseker – alle, en ek sê alle, regerings is korrup, dis net dat sommige dit baie beter as ander verbloem.

Kom ons wees eerlik… wanneer dit by die verbloeming van die uitbuiting van burgers kom, het die Weste al eeue lank geoefen. Afrika is ʼn jongeling in die verband, en vandaar die feit dat ons regering nog nooit vir Mugabe behoorlik getug of veroordeel het nie, en vandaar die onlangse belet, in die naam van “staatsekuriteit”, op enige blootstelling van optrede deur die regering wat publieke belang minag, hetsy geld steel of baantjies vir boeties.

Foto: www.thecommonwealthconversation.org

En laat ek my posisie wat die pers betref baie duidelik stel: ek dink dat die pers ʼn skuilplek vir lafaards is, mense wat die dekmantel van “vryheid van spraak” misbruik om geld te maak uit laster, sensasie en vrees. Die sogenaamde “vrye pers” is alles behalwe vry. Dit word besit en geskep deur burgers met hulle eie belange en agendas, en veral met die oog op die strewe na profyt. Daar is nie so ʼn ding soos die “vrye” pers nie. Die pers is ʼn euwel, ja, maar ʼn nodige euwel, want soos aasvoëls oorleef hulle uit ander se arbeid – eerlik of oneerlik – maar (en dis ʼn belangrike “maar”) hulle hou ook die veld skoon. Ek haat die pers, maar soos die ou wysheid dit stel: “I might not agree with what you say, but I will defend to the death your right to say it.” Dit, per slot van sake, is die hoeksteen van ʼn demokrasie.

Dit dan gesê, is dit werklik moontlik dat daar ʼn enkele persoon in Suid-Afrika is wat verstom en verbaas staan voor die regering se nuutste stappe in die rigting van onderdrukking en die bekamping van ons regte as burgers, wit en swart? Al wat ons regering van baie ander sogenaamde demokratiese regerings skei is die krasheid van hulle poging om diefstal en korrupsie uit die publieke oog te hou, maar anders as dit, sluit hulle maar net by ʼn baie ou tradisie aan. (Lees gerus Naomi Klein se The Shock Doctrine)

Wees verseker dat hierdie nuutste wet maar net die eerste is in ʼn reeks wat nog kom, want soos ek gesê het: die ding waarteen jy veg sal die ding wees wat jy word. Die ANC het teen Apartheid geveg, en hulle gaan oor die komende jare hierdie land wys hoe die min die baie kan onderdruk. En, nes met die Nasionale Party, sal hulle uiteindelik die polisie en die weermag gebruik om dit te doen. En kort voor lank sal The Rand Daily Mail nie die enigste koerant wees wat in hierdie land verban was nie.

Ons is besig met Apartheid Deel 2. En glo my, daar kom nog Deel 3 en 4 ook.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deon Opperman

Meer oor die skrywer: Deon Opperman

Deon Opperman is dramaturg met onder meer Ons Vir Jou en Tree Aan! op sy kerfstok.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
ebert

Deon, Jy doen darem baie moeite om jou kritiek op die ANC regering polities-korrek te hou. Dit is asof jy amper glo dat mens nie die ANC kan kritiseer sonder om jouself te klassifiseer as rassis, on-liberalis of teen-revolusionêr nie. Dit is jammer dat jy met jou reuse veralgemening en miskyk van feite soos die stand van die menslike ontwikkelingsindeks, INSEAD se rangorde van innoverende lande of die Wêreld Ekonomoniese Forum se kompeterendheidsindeks, wil voorgee asof die politici van Afrika niks anders is as die politici van Europa of die VSA nie. ‘n Vergelyking van die vlakke van ontwikkeling, produksie,… Lees meer »

Deon Opperman

Jammer Ebert, maar ek verstaan nie jou kommentaar nie. Ek maak juis die punt dat Afrika se regerings ver agter Westerse regerings is in die verbloeming van korrupsie. Ek stel dit ook baie duidelik dat die poging tot onderdrukking van vryheid wat hierdie nuwe wetgewing verteenwoordig juis die soort onderdrukking is wat ons van ‘n Afrika-regering moet verwag. Inderdaad, ek stel dit duidelik dat daar nog baie erger is wat op ons in die toekoms wag. Wat ek wel ook se^ is dat alle regerings by uitstek korrup is…en daarteen kan jy tog sekerlik nie stry nie. Die politiek is… Lees meer »

Peter Wassenaar

Deon, Ek sukkel om jou “poging” om “polities korrek” te wees te raak te lees. Soos ek jou artikel verstaan probeer jy eerder om die aard van politiek regoor die wêreld uit te wys. Europa is tans vasgevang in die pitswere van korrupsie wat uiteindelik begin kom uitsteek. Die Westerse regerings is besig om hul staanplek in die wêreld ekonomie te verloor weens gerigheid, korrupsie en roekelose bestuur deur regerings in samewerking met banke. Kyk net na die skandale rondom Frankryk se Nicolas Sarkozy. Klagtes van grootskaalse korrupsie en “baantjies vir boeties” hang oor sy kop. Jy wys tereg ook… Lees meer »

Deon Opperman

Hi Ebert, Jou kommentaar is juis, maar wat my bekommer is die gevoel wat ek kry dat jou inherente posisie is dat niks wat ‘n swart regering doen sal ooit voldoende wees gemeet aan die res (en veral die wit) we^reld nie. Dit gese^ stem ek volkome saam dat die regerings van Afrika oor die afgelope sestig, sewentig jaar getuig van niks minder as die onbeholpe poging van onkunde om komplekse idees rondom vryheid, gelykheid en respek vir lewe te begryp, verwerk en te verdedig. Wat my betref is dit “Die-Wese-Van-Afrika 101”. Maar dit gese^, is dit myns insiens ook… Lees meer »

Deon Opperman

Best Ebert,

Ek stem volkome saam. Maar my vraag bly: “Waar? Waar sal ek dit kan doen met vrou en kind?” Ek sien nie ‘n toekoms of enige lewensvatbaarheid vir ‘n Afrikanerstaat op hierdie kontinent nie.

Deon Opperman
NS Ek’s bly jy’t nie Stilnox nodig nie, want dis ‘n swaar ding om dwelms nodig te he^ om te kan slaap. Dit dui aan op ‘n swaar gemoed.