Apartheid – die gerieflike kapstok vir mislukking

President Cyril Ramaphosa (Foto: ESA ALEXANDER / POOL / AFP)

Die verkiesing van 2024 is om die draai en die ANC moet nou weer verbete ʼn strooipop opstel om te blameer vir alles wat tans skeefloop. Daar is nie ver gesoek of diep gedink nie.

Apartheid is uitgehaal en afgestof en word voorgehou as die begin en einde van alle oorsake van die ANC se onvermoë en mislukte regering. ʼn Gebou wat in die middestad van Johannesburg brand en lei tot die tragiese dood van soveel mense is apartheid se skuld. Infrastruktuur-ellendes, beurtkrag, vaardigheidsgebreke en gebrekkige dienslewering is die laaste paar dae opgediep deur ministers, ANC-ampsdraers en nou ook die president wat apartheid blameer.

Alle paaie lei na Rome. In die ANC se geval word alles egter herlei na apartheid. Die lustelose onvermoë om mislukte beleid en besluite te regverdig of gebrekkige intellektuele kapasiteit lei tot slegs een oorsaak en een sondebok – apartheid!

Apartheid as strooipop

Dit is ʼn bekende strategie om ʼn strooipop-argument op te stel en dit dan af te skiet. In dié geval is dit apartheid. Net soos sy voorganger is pres. Ramaphosa nou voor in die koor.

Tydens die ANC se onlangse manifesbespreking het die president telkens verwys na apartheid en die skadu van apartheid wat oor alles hang. So het oudpresident Zuma ook nie ʼn kans verby laat gaan om apartheid te blameer vir alles en nog meer wat verkeerd gaan in die land nie.

“Ons sal nie apartheid kan blameer as dorpe nie water, geen elektrisiteit, geen paaie het nie. Ons sal niemand anders kan blameer as kinders nog onder bome studeer nie, as huise en skole uitmekaar val nie.”

So ongelooflik as wat dit mag klink, was dit Zuma in April 2010.

Toe Zuma se vele mislukte jare sy tol op sy posisie as leier begin eis, het hy omgeswaai en apartheid vir alles en nog wat begin blameer. Ramaphosa volg waarskynlik dieselfde pad. Sy beloftes en falende regering begin hom inhaal en deesdae is hy voor in die koor as verwyte en beskuldigings oor apartheid geslinger word. Daarmee word hy deel van die ANC se voortdurende onvermoë om erkenning te maak oor eie foute of aanspreeklikheid te aanvaar vir enige selfgeskepte probleme. Korrupsie en lae ekonomiese groei as gevolg van beleidsonsekerhede, staatskaping, kaderontplooiing, onbevoegdheid en vele meer lê aan die kern van die probleme.

Waarnemende Openbare Beskermer adv. Kholeka Gcaleka is onlangs aangehaal dat sy sou gesê het: “Korrupsie is erger as apartheid omdat dit die meerderheid verraai: Waar is die politieke wil om die krane toe te draai?”. Ons hoop sy hou by die siening as die parlement haar aanstelling eersdaags oorweeg en sy die vergrype van die huidige regering moet ondersoek.

Pilare van apartheidsblaam

Apartheid het nou al so ʼn gerieflike kapstok vir die verplasing van blaam geword dat ʼn mens die “blaam van apartheid” weer kan onderverdeel, afhangende van die blaamverplasing se oogmerk. Breedweg dan weer die volgende pilare vir die verplasing van die blaam van apartheid. (Vanuit ʼn vorige soortgelyke artikel).

Die eerste pilaar is die sogenaamde Bell-Pottinger-spel.

Lei die aandag af. Gebruik voortdurend die terme apartheid, kolonialisme, dekolonialisme, wit-monopolie-kapitaal en gebrekkige transformasie. So word die aandag afgelei van die hedendaagse wanbestuur, korrupsie en staatskaping.

Die tweede pilaar is die ANC-gom.

Tot en met die oorgang in 1994 was apartheid die gerieflike gom om ʼn groot klomp uiteenlopende ideologieë, faksies en burgerlike instellings onder een sambreel te verenig teen apartheid. So is ʼn breë groep sienings bymekaargehou en saamforseer. Dit het mettertyd verbrokkel. Om elke keer apartheid te blameer is dus ook ʼn gerieflike agenda in ʼn poging om die groeiende ontnugtering en vervreemding in toom te hou. Pres. Ramaphosa besef dit en sy posisie is afhanklik van die ANC eenheid – apartheid het dit in die struggle jare gedoen en apartheid moet dit weer in 2023 doen.

Derdens is die wit bevolking se rol in die aftakeling van apartheid in sommiges se visier.

Dit pas hulle agenda eenvoudig nie. Daarom word witmense gereeld gebombardeer met die voorgestelde welvaartsbelasting en die diefstal van grond en moet die jong wit bevolking in die idioom van die blaam van apartheid deurlopend die skuld dra vir die verlede. George Orwell het gesê: “Die mees effektiewe manier om mense te vernietig, is om hulle eie begrip van hul geskiedenis te ontken en te vernietig.”

Die vierde pilaar het te make met die inperking van spraakvryheid.

Enige kritiek teen die ANC-regering of uitvoering van beleidsraamwerke trek onmiddellik die “hunkering na apartheid”-kaart uit die pak. Hiervan kan verskeie politici eerstehands getuig. Dieselfde kan natuurlik nie van kritiek uit die swart geledere gesê word nie, en dit is dikwels dat die “apartheidskaart” dan vervang word met die woorde teen-revolusionêr indien dit ʼn swart persoon is of selfs ʼn gevangene van wit-monopolie-kapitaal.

Apartheid se teenvoeter is natuurlik nog meer van dieselfde, maar omgekeerd. Die regstelling van die verlede en apartheid vereis dus ʼn vorm van swart apartheid en dit vind sy toepassing in transformasie, demografiese verteenwoordiging en swart ekonomiese bemagtiging. Die regstelling van apartheid “regverdig” as vyfde pilaar die nuwe diskriminerende beleidsraamwerke.

As sesde pilaar word die argument dikwels as versagting deur kommentators uitgespreek dat byvoorbeeld korrupsie vandag erg is maar in apartheid nog erger.

So kan alle sfere van die samelewing se gebreke uitgelig word maar altyd ter versagting, want in apartheid was dit – volgens die pleit ter versagting – nog erger.

Die sewende pilaar van die blaam van apartheid is die selfgeldende een van politieke korrektheid en gedienstigheid teenwoordig by verskeie meningsvormers, kommentators en sommige joernaliste. Om hulle plek in die samelewing te regverdig en op te eis sal hulle eers standpunt inneem teen apartheid, en dan toeslaan met hulle kritiek teen die huidige regering.

Laastens is dit die kriminalisering van individue en groepe met apartheidsimbole as die groot sonde. Dit word selfs haatspraak om die ou vlag te vertoon. Enige wit rassisme word deur openbare mening verguis en met dubbele standaarde gestraf.

Ons moet kan praat oor apartheid sonder om dit te regverdig. Ons moet die konteks en die geskiedenis verstaan. Daar is reeds genoeg verskoning gevra vir apartheid. Apartheid is vervang deur ʼn bevrydingsbeweging en sy ideologie. Ons het reeds vyf presidente vanuit die ANC gehad, en die ANC het ses algemene verkiesings vanaf 27 April 1994 gewen met beloftes en ondernemings.

Dit is nou dertig jaar later. Die ANC het in menslike terme reeds ʼn nuwe generasie betree en is in die volwasse stadium van regering. Die politieke volwassenheid beteken onder andere om die verantwoordelikhede van die lewe te aanvaar en dan veral ook die eie tekortkominge en mislukkings.

Hierdie is ʼn aangepaste weergawe van die artikel wat vir die eerste keer in November 2017 verskyn het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CHRISTINE ·

“The ANC is a terrorist organisation that does not build but destroy” – Margaret Thatcher 1986.

Bulkalf ·

Apartheid het reeds sy lewenslange termyn van 25 jaar en nog meer uitgedien, waarom kry julle nie iets nuuts om te blameer soos onbevoegteid nie.

Deon ·

Dit is met hierdie uitsprake van die ANC waarmee hulle latte vir hulself pluk. Die ANC kan nie van die waarheid af weghardloop nie en hulle leuens is besig om hulle in te haal. So moet ons dan ook hierdie latte gebruik om hulle vuurwarm te looi!

kaplyn ·

Mnr Bosman dis nou al bykans 30 jaar en tot vandag toe het die broederbond nog nie die 2 vrae beantwoord nie. Die eerste is het die broederbond dan nie die dinge voorsien nie? en het die broederbond nie dalk met toe oe in die tydvak ingeloop waarin die ware Afrikaner nou verkeer nie?

annie ·

Wat meer hartseer is wanneer mens na al die daaglikse gekerm van Afrikaners luister is dat hul dié rooi lig in 1994 geïgnoreer het. Die ja-stemmers het hierdie situasie help skep en die VSA se sanksies ter harte geneem. Nou hardoop hul weer na die Weste vir nog saamstem uit vrees vir nog sanksies. Domkoppe ons Afrikaners en selfbejammeraars soos regte Afrikane. Net niemand sal ons sal selfdoeners keer om weer ‘self’ ons eie ondergang verder aan te blaas nie. Pak jul waens na nêrens…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.