Apartheid en skuld

In weerwil van die indruk wat in openbare debatte geskep word, het die begrip ‘skuld’ nie net een betekenis nie. Dit kan vir verskillende mense verskillende dinge beteken. Vir iemand soos ekself wat vanuit die konserwatiewe tradisie dink, beteken dit byvoorbeeld iets anders as vir ’n linkse liberaal.

My bedoeling hieronder is om hierdie stelling te motiveer. Ek gaan dit egter nie by ’n blote vergelyking tussen die konserwatiewe en die links-liberale opvatting van skuld hou nie. Hieronder sal ook bondig aangevoer word dat die konserwatiewe bo die links-liberale opvatting van skuld te verkies is.

Twee opvattings van skuld

Maar hoe dink die konserwatiewe en die links-liberale tradisies oor skuld? Die verskil kan so verwoord word:

Iemand wat vanuit die konserwatiewe tradisie oor skuld nadink, is daartoe geneig om die ervaring van skuld veral as die gevolg van ’n politieke fout te beskou. Byvoorbeeld, in sy oordeel oor apartheid sal ’n konserwatief veral op die politieke kragte ten grondslag van apartheid fokus, soos die praktiese haalbaarheid daarvan, die demografiese kragte wat dit moontlik of onmoontlik maak, die realistiese verdeelbaarheid van grond, die moontlike instemming vanuit die onderskeie gemeenskappe en leiersfigure, mense se historiese ervaring met mekaar en die moontlike lesse wat daaruit te leer is, die internasionale magsbalans, ensovoorts.

As hier van ‘skuld’ sprake is, sal dit veral die gevolg van ʼn gebrek aan insig in hierdie politieke kragte wees. Ons is skuldig omdat ons nie behoorlike insig in hierdie kragte getoon het nie.

In hulle antwoord op die ervaring van skuld is konserwatiewes daartoe geneig om na politieke oplossings te soek. Nog nader geformuleer, in hulle soeke na antwoorde sal konserwatiewes na politieke oplossings veral vir die gemeenskappe soek, omdat gemeenskappe vir konserwatiewes die belangrikste agente van die politieke lewe is (en nie die vryswewende individu soos in die liberale tradisie nie). Konserwatiewes sal in die besonder vra hoe benadeelde gemeenskappe deur hulle instellings in staat gestel kan word om weer florerende gemeenskappe te word.

Dit bring ons by die links-liberale benadering. Laasgenoemde is daartoe geneig om oor skuld in uitsluitlik morele terme na te dink. Daarvolgens is ons ervaring van skuld ’n gevolg van die feit dat daar nie aan morele voorskrifte soos gelykheid, vryheid en geregtigheid voldoen is nie.

In hulle antwoord op skuld is links-liberale denkers daartoe geneig om hulself op die reg te beroep. As gemeenskappe vir konserwatiewes die belangrikste agent is, is die individu met regte vir die linkse liberaal die belangrikste agent. Skuld word in terme hiervan hanteer wanneer die individu van die nodige regte voorsien word met behulp waarvan hy sy lewe volgens sy eie individuele keusevryheid kan inrig.

Nou, om ’n misverstand te voorkom, wil ek by voorbaat sê dat die argument hieronder nie beteken dat ’n konserwatiewe benadering noodwendig positief oor apartheid oordeel nie. Inteendeel, ek dink daar is ’n groot behoefte aan ’n onbevange kritiek op apartheid vanuit ’n konserwatiewe denkraamwerk.

Die vraag is egter hoe oop die huidige debat oor apartheid en die kwessie van skuld vir ’n konserwatiewe lesing daarvan is. Myns insiens word die debat by voorbaat binne ’n links-liberale raamwerk gesitueer. Daarmee loop die debat die gevaar om – selfs nog voordat ’n enkele skoot gevuur is – reeds op ’n oorwinning vir die linkse liberales uit te loop.

As ’n mens dus in die gesprek wil vorder, sal die terme van die debat uitgedaag moet word. Maar kom ons bekyk die twee denkraamwerke van naderby.

Die links-liberale denke

Myns insiens kan ’n mens nie die links-liberale benadering begryp sonder om dit binne die tradisie van utopiese denke te plaas nie. Ten diepste strewe die links-liberale benadering na niks minder as ’n morele utopie nie. As ons dit aan ’n behoorlike kritiek wil onderwerp, moet dit myns insiens vanuit hierdie kader verstaan word.

Die moreel-utopiese denke word onder meer deur die volgende eienskappe gekenmerk:

• Soos in alle utopiese denke jaag die moreel-utopiese tradisie ’n perfekte en in die besonder ’n moreel-perfekte wêreld na. Soos by ander utopiese tradisies het voorstanders van die morele utopie daarom ook ’n ongeduld met die imperfekte, die wisselvallige en die histories kontingente. Dit wil sê ’n ongeduld met die feit dat die politieke werklikheid dikwels deur spanninge, konflik en selfs die tragiese gekenmerk word.

Dit blyk onder meer uit die ongeduld wat die morele utopis het met die feit dat verskillende kulture, soos die Europese en die Afrika-kulture, nie noodwendig in alle opsigte met mekaar versoen kan word nie. Aurel Kolnai, een van die grootste konserwatiewe denkers van die 20ste eeu, skryf daarom ook tereg dat die utopiese denke gekenmerk word deur ’n “forced negation of ineliminable tensions”, ’n gedwonge ontkenning van onuitwisbare spanninge. Linkse liberales glo met ander woorde dat almal met mekaar in ’n morele reënboog-utopie versoen moet word, ongeag of dit moontlik of onmoontlik is.

• Soos in alle utopiese denke val die werklikheid vir die morele utopis uiteen in die simplistiese opposisie tussen goed en kwaad. Met behulp hiervan word die geskiedenis self vereenvoudig tot onder meer ʼn klassestryd tussen ryk verdrukkers en arm verdruktes.

• Die utopiese denke gee tot die valse idee aanleiding dat die ganse geskiedenis tot ’n tranedal van slagoffers herlei kan word. Dit laat die utopis ook met ʼn verskraalde toekomsbeeld, naamlik om die geskiedenis agter te laat en met ’n utopiese wêreld sonder slagoffers te vervang.

• Soos ander utopiese denkers soek die morele utopis dikwels ’n antwoord op die oordryfde probleem van ‘slagofferskap’ by wyse van sondebokke. In plaas daarvan om self verantwoordelikheid te aanvaar, word die skuld vir die krisis met ander woorde op andere afgewentel. Hierdie standpunt rus op die primitiewe vooronderstelling dat indien die sondebok uitgedryf word die krisis afgeweer en dat alles weer na normaal sal terugkeer.

Rondom hierdie punt bestaan daar ’n vreemde akkoord tussen die moderne utopiese denke en die pre-moderne Afrika-tradisies. Laasgenoemde gaan telkens uit van die vooronderstelling dat indien die Westerse wêreld as sondebok uitgedryf kan word, sal alles weer geheel wees. Daarmee word egter niks anders gedoen as om Afrika van sy eie verantwoordelikheid vry te spreek nie.

Terloops, een van die grootste uitdagings aan Afrikaners vandag is om nie in hierdie selfde slaggat te trap deur homself as ’n slagoffer te ervaar wat slegs by wyse van die uitdrywing van sondebokke herstel kan word nie.

René Girard, een van die groot denkers van ons tyd, het in sy werk aangetoon dat die Joods-Christelike tradisie die enigste godsdienstige tradisie is wat die sondebokmeganisme ontbloot het vir wat dit is, naamlik ’n wanvoorstelling van die werklike oorsake ten grondslag van sosiale krisisse. Afrikaners kan goed doen deur hierdie waarheid in hulle Christelike erfenis te herontdek.

Soos in alle utopiese denke ontken die morele utopis dat historiese gemeenskappe en die ervaring wat hulle oor eeue vergader het deur wysheid gekenmerk word. Historiese gemeenskappe is volgens hulle oordeel eerder primitief, onbeskaafd en verdrukkend.

Volgens hulle is apartheid ’n tipiese voorbeeld hiervan. Apartheid was die gevolg van ’n primitiewe en onbeskaafde gemeenskap. Dat apartheid in bepaalde stadiums juis ’n verstandige gevolgtrekking was wat Afrikaners uit hulle ervaring met ander groepe in Suid-Afrika afgelei het, kan hiervolgens geensins aanvaar word nie.

• Soos in alle utopiese denke verwerp die morele utopis die rol van die sogenaamde ‘goeie oordeel’ in die wêreld van die politiek. In die plek van die goeie oordeel tree eerder die groot plan, die rewolusionêre projek en in die besonder die moralistiese kruistog.

Maar wat is die ‘goeie oordeel’? Volgens die konserwatiewe tradisie word elke historiese konteks deur sy eie unieke uitdagings gekenmerk. Die goeie oordeel tree daar na vore wanneer ons telkens vra hoe ons universele beginsels met die unieke aard van elke spesifieke historiese konteks bemiddel kan word.

Byvoorbeeld, die beginsel van geregtigheid. In en deur die goeie oordeel word ons in staat gestel om aan te dui wat die universele beginsel van geregtigheid binne elke spesifieke historiese konteks beteken. Geregtigheid kan byvoorbeeld binne die konteks van ons skole na twee radikaal teenoorstaande dinge verwys. Vir sommige sal geregtigheid geskied wanneer almal toegang tot hulle skole van eie keuse kry. Vir andere daarenteen is geregtigheid moontlik wanneer ons tale en kulture op skoolvlak erken word. Hoe dus gemaak? Volgens konserwatiewe denkers het ons nie ’n resep vir hierdie twee uiteenlopende vertolkings van geregtigheid nie. Hoe ons hier en nou inhoud daaraan gee, sal van ons goeie oordeel afhang.

Ondersteuners van ’n morele utopie stel egter nie belang om ’n universele beginsel soos geregtigheid met die spesifieke historiese konteks te bemiddel nie. Utopiese denkers is eerder daartoe geneig om hulle beginsels op die historiese konteks af te dwing. Volgens Robert Nisbet is die moderne nasiebou-projekte (met sy ongenaakbare sin vir eenvormigheid) juis ’n goeie voorbeeld hiervan. Nasie-state kenmerk hulle daarin dat hulle dikwels uit hoofde van sentralistiese tendense met die veelheid van gemeenskappe en hulle sogenaamde tussen-instellings wegdoen.

Enkele kritiese opmerkings

Ons het nie die tyd om al die probleme verbonde aan die utopiese benadering te hanteer nie. Buiten wat reeds genoem is, kan ook kortliks na die volgende verwys word:

Eerstens, die probleem van skuld word vereenvoudig as dit slegs vanuit ’n moralistiese raamwerk benader word. As ’n mens daarteenoor – soos met die konserwatiewe benadering – ook die verwikkelde politieke omstandighede in ag neem, is die vraag waar die skuld lê en hoe dit opgelos kan word, veel ingewikkelder.

Tweedens, moreel-utopiese denke word deur ’n sistemiese skynheiligheid gekenmerk. Terwyl hulle dikwels gemeenskappe van verdrukking, benoudheid en onbeskaafdheid beskuldig, lê hulleself verdrukkende en gewelddadige strukture op alles en almal neer. Michael Polanyi, bekende konserwatiewe denker, beskuldig die morele utopisme daarom ook tereg van “morele omkering.” Hy beskryf laasgenoemde in sy boek, Knowing and Being, as volg: “This is moral inversion: a condition in which high moral purposes operates only as the hidden force of an openly declared inhumanity” (1969:16).

Derdens, die links-liberale beroep op individuele regte word deur ’n onoorbrugbare kontradiksie gekenmerk. Anders as wat linkse liberale te kenne gee, naamlik dat individuele regte vryheid in die hand werk, kan dit ironies genoeg tot presies die teendeel aanleiding gee. Waarom?

Die antwoord daarop hou verband met die feit dat die beroep op regte in naam van vryheid ironies genoeg tot groter vorme van afhanklikheid jeens die staat aanleiding gee. Hoe meer individue regte opgeëis word, des te groter word die staatstrukture om daaraan uitvoering te gee. So slaan vryheid om in sy teendeel, naamlik ’n sagte vorm van tirannie.

Vierdens, in weerwil van hulle belofte dat ’n vreedsame utopie sal aanbreek, gaan morele utopieë dikwels met gewelddadige gevolge gepaard.

Hoekom?

Carel Schmitt, nog ’n toonaangewende konserwatiewe denker, is daarvoor bekend dat hy die wese van die politieke met die spanningslyn tussen vriende en vyande geïdentifiseer het. Die politieke, het Schmitt gesê, tree daar na vore waar ons met die verdeling tussen vriende en vyande te doen het.

Nou, Schmitt was maar te bewus van die gevare wat in die politiek skuil. Volgens hom is die verdeling tussen vriende en vyande immers die mees intensiewe verhouding waarby ons as mense betrokke kan wees. Oorlog is die altyd dreigende moontlikheid van die politiek. Schmitt was egter nie oorlogsugtig nie. Daarom het hy ook hewige kritiek uitgespreek teen enige poging om die verskil tussen vriende en vyande in morele kategorieë te vertaal. Laasgenoemde gebeur wanneer dit met die verskil tussen die goeie en die bose geïdentifiseer word. En indien dit inderdaad gebeur, skep ons die voorwaardes vir geweld.

Volgens Schmitt is dit juis wat in die utopiese denke gebeur. Morele utopiste vertaal telkens die politieke verdelingslyn tussen vriende en vyande in morele terme as ’n verdeling tussen goeie en bose magte. Maar daarmee verkry die politieke ’n dodelike karakter, omdat daar nou aan die een party ’n rasionaal verskaf word om ’n kruistog teen die ander party – nou die ‘bose’ – te voer en hom uit te wis. Stalin, Mao Zedong en Pol Pot se slagtings is tipiese voorbeelde hiervan.

Nou, dit is sekerlik nie billik om ’n links-liberale moralisme sonder meer met hierdie slagters in verband te bring nie. Die vraag is egter of die geweld wat hulle pleeg nie net ’n meer subtiele geweld as die van Stalin en sy kamerade verteenwoordig nie. Hulle is immers geneig om ’n ganse kultuur (in hierdie geval ons Klassieke erfenis en die Christelik-Westerse kultuur) as boos te bestempel. Kan dit anders as gewelddadig ervaar word?

Laastens, daar kan met goeie gronde beweer word dat die links-liberale antwoord op apartheid misluk het. Die wese van sy mislukking hou verband met ’n gebrekkige politieke wil om in antwoord op apartheid die veelheid van gemeenskappe en hulle instellings in beskerming te neem.

Die talle krisisse waarvoor Suid-Afrika vandag te staan gekom het (armoede, strukturele induiestorting, gebrekkige opvoeding, misdaad, ensovoorts) hou direk verband met die feit dat gemeenskappe verbrokkel omdat hulle instellings (soos die gesinstrukture) verbrokkel. Hierdie krisisse moet op die brood van die links-liberale ideologie geskryf word. Dit gaan nie opgelos word solank as wat ons volhard om by wyse van ’n links-liberale denkraamwerk op die apartheidsverlede te antwoord nie.

Die konserwatiewe tradisie

In aansluiting by die uiteensetting hierbo verwys ek na slegs twee riglyne vir ’n konserwatiewe hantering van die skuldvraag.

Eerstens, in die hart van die konserwatiewe benadering staan die gemeenskapsgedagte en in die besonder die noodsaak om die instellings van kulture en gemeenskappe te herstel.

Apartheid is deur ’n tragies-ironiese feit gekenmerk. Apartheid wou in terme van sy bedoelings ruimte vir die verskillende kultuur-gemeenskappe skep. Maar dit is ook vanweë apartheidsmaatreëls soos trekarbeid, instromingsbeheer en paswette dat dieselfde gemeenskappe ten diepste ontwrig is. Ons sal slegs anderkant die foute van die apartheidsjare kan tree as die politiek van herstel op hierdie strukture gefokus word.

’n Moontlike teenargument, naamlik dat ons hier met ’n verskuilde voorspraak vir apartheid te doen het omdat die veelheid van gemeenskappe soos in apartheid as uitgangspunt geneem word, gaan eenvoudig nie op nie. Apartheid het in weerwil van sy foute raakgesien dat die grootste uitdaging van die Suid-Afrikaanse werklikheid daaruit bestaan om die veelheid van gemeenskappe te erken. Niks in ons ervaring het dit nog weerspreek nie. Die feit dat apartheid misluk het, is daarom ook nie ’n genoegsame rede waarom hierdie wesenlike insig geïgnoreer moet word nie. Om die waarheid te sê, teen die agtergrond van die heersende links-liberale mislukking is dit gebiedend noodsaaklik dat hierdie insig nogmaals vierkantig in die oë gestaar word. Hierin lê nie ’n pleidooi vir apartheid nie, maar vir ’n politiek anderkant die teenswoordige doodloopstraat.

Tweedens, in die hart van die konserwatiewe antwoord op apartheid en die probleem van skuld staan ’n ou politieke begrip, naamlik die begrip ‘floreer.’ Om omstandighede na te strewe waarin gemeenskappe kan ‘floreer’ is volgens die konserwatiewe benadering dié doel van die politieke lewe. Wat word daarmee bedoel?

Volgens die konserwatiewe tradisie floreer jy nie wanneer jou lewe rondom jouself en jou belange as ’n onverbonde individu draai nie; of wanneer jy op die rug van ’n slagoffermentaliteit jouself van die staat afhanklik stel nie; of wanneer jy uit wraakgierigheid telkens sondebokke vir jou toestand blameer nie; of wanneer jy uit moreel-utopiese oorwegings die veelheid van gemeenskappe in ’n grys eendersheid opneem nie.

Nee, volgens die konserwatiewe tradisie floreer jy wanneer jy op ’n voortreflike wyse aan die sake van jou gemeenskap deelneem. Anders gestel, jy floreer wanneer jy op ’n voortreflike wyse die gemeenskaplike goed najaag.

Hier lê ons groot uitdaging. Om op ’n voortreflike wyse hul gemeenskaplike goed na te jaag, vooronderstel dat gemeenskappe oor die nodige instellings (skole, universiteite, teaters, vakbonde, ensovoorts) beskik waarbinne dit kan gebeur. Die huidige Suid-Afrika weet egter nie wat ‘floreer’ in hierdie sin van die woord beteken nie. My indruk is egter dat Afrikaners dit toenemend besef. En dit is bemoedigend.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae