Apartheid, FW en die ANC: Vier mites aan die kaak gestel

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

Die FW de Klerk Stigting is in 1999 gestig om die Grondwet en sy waardes te bevorder en te beskerm, en om die oorgang na demokrasie in die vroeë negentigs te gedenk.

Die Stigting hou daarom jaarliks ’n konferensie rondom 2 Februarie om oudpresident FW de Klerk se geskiedkundige toespraak op daardie dag in 1990 te gedenk – toe die oorgang formeel begin is met die aankondiging dat politieke partye ontban en politieke gevangenes (waarvan Nelson Mandela die mees prominente was) vrygelaat gaan word. Hierdie konferensie is vanjaar op Vrydag 31 Januarie in Kaapstad gehou, dertig jaar ná hierdie dramatiese toespraak.

Soos gewoonlik, is die konferensie goed bygewoon deur byna 200 persone uit ʼn wye verskeidenheid agtergronde, en met veral meer jongmense as tien jaar gelede. Die sprekers het ook ʼn diversiteit van menings weerspieël. Die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, dr. Martin Schäfer, het oor 2 Februarie 1990 uit ʼn Duitse perspektief gepraat. Moeletsi Mbeki, bekende politieke kommentator, het na 2 Februarie se betekenis dertig jaar daarna gekyk terwyl Gwen Ngwenya, beleidshoof van die DA, vorentoe gekyk het en hoe om die (nierassige) visie van die Grondwet te laat waar word.

Ek het as oudhoof van die administrasie van die onderhandelinge oor die lesse uit Kodesa en die veelparty-onderhandelings gepraat en oudpres. De Klerk het ten slotte oor die verlede, hede en toekoms van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie gepraat.

Die verskillende toesprake sal eersdaags op die Stigting se webwerf beskikbaar wees en die doel van hierdie artikel is nie om dit op te som of te herhaal nie, maar eerder aan te dui dat vier bekende mites tydens die konferensie aan die kaak gestel is.

‘De Klerk het die volk uitverkoop’

Die eerste mite (wat nogal sterk deur verregses aan die lewe gehou word), is dat De Klerk willens en wetens die “volk” uitverkoop het, ʼn verraaier was (en is) en ten minste onverantwoordelik opgetree het. Baie van hulle haak trouens (nou amper veertig jaar gelede) by die referendum van 1982 vas – toe blankes gevra is om “ja” of “nee” vir politieke hervorminge te stem. Volgens hierdie mite kon die Nasionale Party (en spesifiek die wit bevolking) nog vir baie jare die status quo van apartheid behou het – veral omdat die Suid-Afrikaanse Weermag sonder gelyke in Suider-Afrika was. Die perspektief van die Duitse ambassadeur, dr. Schäfer, het duidelik gewys dat die internasionale gemeenskap De Klerk se dapperheid, maar ook sy begrip van historiese ontwikkelinge (en dan veral die val van die Oos-blok en die Berlynse muur) hoog aangeslaan het. Suid-Afrika se vriende in die Weste sou die land as gevolg van sy rassebeleid nie veel langer kon ondersteun nie.

ʼn Onderhandelde skikking wat alle Suid-Afrikaners ingesluit het, was die enigste uitweg. Mbeki het dit uit ʼn swart perspektief beaam. De Klerk het weer beklemtoon dat, alhoewel dit teoreties moontlik was om vir ʼn tyd lank nog al die politieke mag in wit hande te hou, dit tot verdere grootskaalse geweld en betogings sou gelei het, wat op die lang duur nie deur militêre mag onderdruk sou kon word nie. Sy standpunt was dat dit tot ʼn situasie sou lei soortgelyk as waarin Sirië vandag is, waar die land letterlik uitmekaar skeur.

De Klerk het ook uitgewys dat die besluit om die politieke oorgang te begin, ʼn kombinasie van politieke, ekonomiese en morele motiverings gehad het. Veral oor die laaste het die verregses (wat hulleself nogal Christene noem) geen antwoord nie. Hul probleem is nie De Klerk nie, maar hul weersin in demokrasie en geregtigheid.

‘Daar was geen ander keuse’

Die tweede mite (wat ironies genoeg deur die linkerkant van die politieke spektrum aan die lewe gehou word) is dat De Klerk geen ander keuse gehad het as om aan die ANC “oor te gee” nie. Volgens hierdie mite was die Nasionale Party-regering op hul knieë en MK op die grense, reg om Pretoria seëvierend binne te marsjeer. Veral Mbeki met sy ANC-agtergrond het hierdie mite die nek ingeslaan. Daar was, benewens ʼn paar oorgrens-skermutselings en binnelandse bomaanvalle, geen noemenswaardige “gewapende stryd” nie. Die waarheid is dat die soeke na ʼn oplossing vir die Suid-Afrikaanse probleem ’n dooiepunt bereik het. Die ANC het nie werklik beheer gehad oor binnelandse opstand en geweld nie, en die NP-regering kon nie uit die politieke en ekonomiese moeras waarin die land homself bevind het, kom nie.

Ek het in my inset oor die onderhandelingsproses daarop gewys dat De Klerk se inisiatief op 2 Februarie selfs die ANC-leierskap onkant gevang het. Dit was (soos hierbo gesê) ten minste teoreties vir De Klerk moontlik om vir tien jaar apartheid met mag en geweld in stand te hou. Maar dan sou die bloed dik gevloei en enige volhoubare oplossing nog moeiliker geword het. Die feëverhaal van militêre en politieke dominansie wat sommige ANC-leiers deesdae aan hul volgelinge opdis, is baie ver van die waarheid en die werklikheid af.

Kommerwekkend is dat hierdie narratief deur ʼn jeug met geen historiese bewussyn nie, geglo word.

‘Die ANC het gewen’

dr-theuns-eloff

Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting. Foto: Theuns Eloff/Facebook.

Die derde mite, wat deur beide regses en linkses aan die lewe gehou word, is dat die ANC die onderhandelings “gewen” het (volgens die ANC en EFF) en dat Cyril Ramaphosa vir Roelf Meyer “ore aangesit” het (volgens die verregses).

Volgens hierdie mite was die onderhandelinge ʼn eensydige affêre waarin die ANC alles gekry het wat hy wou gehad het en die ander partye met die stert tussen die bene weggesluip het. Die grootste produk van die onderhandelinge, die Grondwet, is die beste teenargument teen hierdie mite. Ek het uitgewys dat die onderhandelingsproses lank en moeisaam was, beginnende met die vredesproses aan die begin van 1991 en eindigende met die aanvaarding van die tussentydse Grondwet aan die einde van 1993 – ’n proses wat byna drie jaar geduur het.

Ek het verder beskryf hoedat die onderhandelings uit ’n reeks kompromieë deur beide groot partye bestaan het. Baie hiervan is in die sogenaamde 34 grondwetlike beginsels opgeneem, wat in die tussentydse Grondwet van 1993 ingesluit is en wat in die finale Grondwet van 1996 ingesluit moes gewees het.

Baie van hierdie beginsels is van die grondwetlike bepalings wat dele van die ANC vandag wil wysig of aanpas. Die logiese vraag is hoekom die ANC as hy “alles gewen” het, dan die huidige Grondwet sou wou wysig of ondermyn.

Die waarheid is dat nie een party die onderhandelingsproses gewen het nie, maar dat (soos in alle bona fide-onderhandelingsprosesse) alle kante kompromieë gemaak het om by ʼn aanvaarde en aanvaarbare Grondwet uit te kom. Die feit dat die ANC, veral deur sy ideologie van rassetransformasie, sekere grondbeginsels van die Grondwet ondermyn en selfs ontkrag, kan die onderhandelingsproses nie daarvoor geblameer word nie. Dat hierdie ideologie ook ons hoogste hof binnegedring het (soos wat uit die ontkragting van art. 29(2) oor die reg op keuse van onderrigtaal in die Gelyke Kanse-uitspraak blyk), kan redelikerwys ook nie voor die kop van De Klerk of die onderhandelingsproses gegooi word nie. Dit is duidelik die werk van ʼn party wat die Grondwet ideologies manipuleer en direk wil wysig omdat hulle nie met die uitkomste tevrede is nie. Dit is ’n party wat ooglopend Suid-Afrika se historiese nasionale akkoord van 1993 verbreek.

‘ANC glo steeds in nierassigheid’

Die vierde en laaste mite wat aan die kaak gestel is, is een wat deur die ANC aan die lewe gehou word – en deur baie goedgelowige Suid-Afrikaners geglo word. Hiervolgens glo die ANC steeds aan die basiese grondwetlike waarde van nierassigheid, en streef hulle dit ook deur wetgewing en regulasies na. Gwen Ngwenya het oortuigend aangetoon dat die ANC deur die ideologie van rassetransformasie besig is om Suid-Afrika weer eens te verrassig – en ras net so belangrik as tydens apartheid te maak.

Die waarheid is dat die ANC (en die meeste howe) ras as ’n volmag of plaasvervanger vir benadeling gebruik. Dit lei daartoe dat ryk swart mense bloot op grond van hul ras bevoordeel word en dat arm bruin of wit mense bloot op grond van hul ras benadeel word.

Dit is ’n feit dat ’n sekere soort gelykheid (een van uitkomste) nierassigheid as die belangrikste grondwetlike waarde vir Suid-Afrika vervang het. Die ideologiese rassekwota van 80-9-9-2 is die manier waarop hierdie verrassiging daagliks plaasvind. De Klerk het in sy sterkste uitspraak die afgelope dekade aan die einde van sy toespraak ʼn beroep op die ANC gedoen om terug te keer na die pad van nierassigheid en versoening. As hulle dit doen, sal hulle vind dat die meerderheid Suid-Afrikaners daar vir hulle wag.

Saamgevat: Dertig jaar ná 2 Februarie 1990 is daar vir Suid-Afrikaners steeds stof tot dankbaarheid – ons het ’n grondwetlike demokrasie en ’n goeie Grondwet. Maar met die rigting wat die ANC met Jacob Zuma ingeslaan het (en waarvan die party nog nie afgewyk het nie) is daar meer stof tot nadenke. Daar is rede vir kommer oor veral die ondermyning van die Grondwet en die verrassiging van ons hele samelewing. Om hierdie en ander afwykings van die Grondwet teen te staan, moet alle regdenkende Suid-Afrikaners saamstaan en vorentoe kyk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

marius ·

Welkom om met die staatsrede tussen die rooi geklede regdenkendes te gaan sit . Almal van hulle . Die land sal dit ongelooflik respekteer .

JCR ·

Sal iemand van die stigting se. fw deklerk Bly die boere veraaier. hy Het gedink die np sou wen, wat ‘n grap.

Awie ·

Hoe Eloff dit ookal probeer regverdig, feit bly staan-FW het 2 Feb 1990 uit sy eie besluit om die wit volk uit te verkoop. Om dit te probeer regverdig met oorlogspraatjies “soos Sirië” ens. verander nie die gevolge van sy besluit nie- plaasmoorde, geweldsmisdaad wat in elk geval na 100 duisende se lewensverlies, wit en swart gelei het, agteruitgang van staatsinstellings, stede, munisipaliteite, Eskom, SAL, SAUK se status quo om maar net ‘n paar te noem is ook waarteen die “regses” gewaarsku het. So waar is die “checks” & “balances” nou? As daar oorlog sou wees sou dit nie die bloedvergieting wees tot nou 26 jr later en dit sou van korte duur wees met ‘n die SAW van 90’s.

Therese ·

Die skrywer vra waarom die ANC die huidige Grondwet wil verander …
Die rede is eenvoudig: die staatskas is leeg geplunder, dus bly slegs grond en eiendom oor om die ANC aan bewind te hou ala Zimbabwe.

Ongeag al die verduidelikings is dit ‘n feit dat dit ‘n reuse-flater van die NP was om voortydig uit die Regering van Nasionale Eenheid te stap, juis toe die ANC streng riglyne en subtiele leiding nodig gehad het.
Hermann Giliomee se idee van ” buitelandse bemiddeling” kon ook met groot vrug ingespan word tydens hiérdie fase waar St. Mandela allerande streke uitgehaal het.

Maar ja, hopeloos te laat vir trane en verwyte help ook nie.

Gert ·

Die skryfsel praat van die 1982 referendum. Dit was in 1992. Verder, ons kan maar net na die werklikheid om ons kyk om te besef hoe fataal die ja-stem was. Dié eens pragtige land is nou ‘n stinkende ashoop.

Awie ·

Die grootste mite is die reënboognasie. Hoekom het veral duisende witmense na ’94 dan die land verlaat en dit het nog nie geeindig nie?

Cherokee ·

Soos Gert ook uitwys, dit was nie 1982 nie maar 1992. En nou daag ek Eloff om uit te wys watter van Dr Albert Hertzog en Oom Jaap Marais se voorspellings nie waar geword het nie. Hulle het gewaarsku presies wat voorlê. Die kiesersvolk was gewaarsku. Hul nuutste toesprake noem niks meer van wigte en teenwigte nie.

Sarel ·

Ek lees deur kommentare en ongelukkig is daar mense wat vasgeval het in die verlede en weier om verder te kyk. Altyd die glas Halfleeg sien . Wat u nie besef nie is dat dit die taktiek van die vyand en kommunisme is. Breek ‘n.volk se Gees en jy brerk die volk. Jammer maar deur ons negatiewe houding, stryery onder mekaar en soms word selfs kragwoorde ingespan om my stelling te bevestig. Hie verwag ons God moet ons bystaan terwyl ons as volk Hom verloën. Nie Mnr De Klerk of die ANC is vrrantwoordelik vir ons vrnietiging nie, ons doen dit sommer self.

Vriendelike Frikkie ·

Die rede hoekom die sg. negatiewes die glas “halfleeg” sien is omdat daai glas vol was toe ons begin het. Hy is nie halfleeg nie, hy is nog net nat binne in. As ons begin het met min en nou gefloreer het was die glas halfvol. Sien alles in perspektief.

Wessel ·

Dit is meer belangrik om helder denkend te wees, as om met oogklappe “positief” te wees en elke strooi halmpie van “positiwiteit” aan te gryp.

Mieke ·

Ja. Vir seker speel kommunisme ‘n groot rol hier. Maar ek dink ‘n groot deel van die probleem is korrupsie, geldgierigheid, goddelosheid, asook swak morele waardes, aborsie, geen sensuur van flieks en leesstof, onvergifnis, arrogansie, moorde, bo-normale bevolkingsaanwas, ens., onbevoegde bestuursaanstellings en gemaksug. Om maar ‘n paar dinge op te noem. Ons hoef nie hierdie swakhede te aanvaar as ‘n “gevolg van apartheid” nie of as ANC beleid nie. Hierdie elemente is doodeenvoudig boosaardig en ons het dmv ons niksvermoedende en oningeligte “ja” stem presies die anti-chris in ons samelewing toegelaat. Natuurlik speel ons nou baie mooi in die hande van kommunisme in. Hoog tyd dat ons as Afrikaner nasie en Christene saamstaan en terugveg vir dit wat reg is.

Helizna ·

Lees gerus Mike Smith se Pandora boek. Wat hierbo staan is maar net fopspene.

Kokkie ·

Die spreekwoord sê: ‘ wie se brood ‘n mens eet, dié se woord ‘n mens spreek’. Duideliker as wat Theuns dit in hierdie vergoeilikingspoging van hom doen, kan niemand die spreekwoord verduidelik nie. Terloops die konferensie vanjaar is deur ’meer jongmense as tien jaar gelede’ bygewoon. Hoeveel was daar tien jaar gelede en hoeveel was daar vanjaar? Die ‘Sirië’ – situasie en die ‘bloed wat dik’ in die strate sou gevloei het: maak dit saak waar die bloed vloei? ..of tel die bloed van boere en hulle gesinne deur plaasmoordenaars (of selfs van Marike de Klerk) nie in hierdie kategorie nie. Wat het geword van FW se belofte om na die referendum terug te kom na die kiesers toe? En wanneer laas het iemand FW weer hoor verwys na sy triomfantelike ‘wigte en teenwigte’? Ja, en Cyril het kringe rondom Dawie, Roelf, Leon en FW gehardloop. Selfs Dawie het erken dat hulle terugskouend sekere dinge anders sou gedoen het……..seker soos wat die ‘verregses’ hulle destyds gemaan het om te doen.

Kokkie ·

En ek dink dis uiters gewaand van Theuns om te besluit wie hulleself christene mag noem. As jy destyds die NP ondersteun het, kon jy aanspraak maak op christenwees. As jy van die NP verskil het, was jy melaats en vir die hel bestem. Wat word nou van jou waar die eers magtige NP in die niet verdwyn het? FW de Klerk en sy agterryers, Dawie de Villiers, Roelf Meyer en Leon Wessels sal in die die Suid-Afrikaanse geskiedenis opgeteken staan as die ruggraatloses wat hierdie pragtige land en die blankes op ‘n skinkbord oorhandig het aan onbekwame oorheersers wat die land totaal en al verwoes het, korrupsie, diefstal, staatskaping , ondergang en vernietiging in die naam van demokrasie. Viva, FW, viva! Sodat jy jou handewerk sal kan aanskou.

Christo ·

I am afraid Mr. Eloff, but you sound like a revisionist, or your memory might be going. The simple truth is that Mr. De Klerk and his ilk never got a mandate from their voters for what they ended up doing. History does not lie, finish en klaar. You can check the facts.

Secondly, we do not learn it from the “verregses” that FW and Roelf capitulated. We read it in Van Zyl Slabbert, in Zuma’s own biography, in Giliomee (if I am not mistaken), in Harry Booyens and in Bosma. Or why do so many tell the story that CR went out from the signing to laugh with his comrades? Or that FW said to Roelf “Oh my God, what have you done?”. And why did Alfred Nzo say: “They gave us a country, we gave them a few cabinet posts”? And where in the world does a solitary individual (RM) get the right to sign on behalf of millions? Nobody wants Apartheid back, but please don’t mess with our brains. Have a nice day!

JCR ·

Al wat vir my logies is vir iemand om sy land so te veraai is dat fw en sy trawante omgekoop was deur die anc.

Wessel ·

Die grootste mite is dat SA ‘n wonderlike Grondwet het. As dit so was sou die “gevolge” nie ook dit weerspeel nie?

Wessel ·

In die huidige tydperk in SA, is organisasies soos die FW de Klerk stigting nie meer relevant nie. Hulle bied geen praktiese toekoms visie nie, behalwe om the”glo” aan die Grondwet.

Marianna ·

Die land lewe op beloftes, korrupsie, verskonings en beskuldigings. As die witman nie gaan besef dat volgens die ANC daar eintlik nie ‘n plek in SA vir hom in die toekoms is as in die plakkerskamp nie, is hy net so naief soos die in die plakkerskampe wat die regering se beloftes voor elke verkiesing sluk.

Chris ·

Ons kan nou maar onder mekaar verwyte slinger en beskuldigings maak, maar die harde werkilkheid spreek vanself. Die onderhandelaars is met ‘n slap riem gevang. Dit was voor die hand liggend wat die uiteinde van die magsoordrag sou wees. Wat sonder SA uit dat dit nie sou gebeur wat tans in die land aan die gang is nie. Die nee stemmers kan ook maar skree. Hulle het die vermoë om die ja stemmers vir alles die skuld te gee. Ek vra net, wat se planne het hulle gehad. Wat sou hulle gedoen het. Wat doen hulle tans? Ons ondermyn onsself deur ons te laat mislei deur die sg profete van verandering en die teenstanders daarvan. Al raad wat ek het is doen jou werk, as jy een het, vlieg onder die radar en maak vir jouself ‘n lewe.. Hou op om in die verlede te lewe en daaroor te wroeg. Die witte het nie meer ‘n land met die voorregte wat hy gehad het nie. Moenie toegee om in die put van onvergenoegdheid te verval nie.

Michael ·

Dat apartheid nie reg was nie stem ek saam die ondeurdagte manier wat de klerk net alles oorgegee het en die minderhede aan hulle eie lot oorgelaat het sal ek nooit verstaan en waar is ons verdag in n vierde wêreld piesang republiek met geen toekoms of hoop.Ek hoop de klerk en sy makkers voel tevrede in hulle veilige buurte terwyl hulle baie praat en min doen ,sien julle 2 februarie 2021 as daar nog iets oor is.

Kokkie ·

Theuns en FW: gaan lees Flip Buys van Solidariteit se bydrae in vandag se
MM onder die titel : ’ Dertig jaar ná onderhandelinge’. Dan kom probeer julle weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.