Apartheid is dood, lank leef rassisme

Staatspresident van Suid-Afrika FW de Klerk op 22 Desember 1993 in Kaapstad tydens die laaste apartheidsparlementsitting. (Foto: Rodger BOSCH / AFP)

In 2024 is ons reeds in die 30ste jaar van veronderstelde demokrasie in Suid-Afrika. Gereeld word verwys na die eerste verkiesing van 27 April 1994 as die begin van die demokratiese Suid-Afrika.

Ons demokrasie behoort teen hierdie tyd reeds stewig gevestig te wees, as daar na die spesifieke voorwaardes gekyk word waaraan voldoen moet word voordat enige demokrasie as gekonsolideerd of gevestig beskou kan word. Dit is:

  • ʼn Vrye en sterk burgerlike samelewing.
  • ʼn Outonome “politieke samelewing” met genoegsame “samelewingsbeheer” oor die strukture van die staat.
  • Alle politieke akteurs is onderworpe aan die oppergesag van die reg wat burgerlike vryhede beskerm.
  • ʼn Deursigtige, verantwoordelike en funksionerende staatsadministrasie.
  • ʼn Gevestigde en geïnstitusionaliseerde ekonomie waarin ʼn mark-ekonomie en die privaatbesit van produksie-faktore prominent figureer.

As daar na dié vereistes gekyk word, is daar gevaartekens aan die een kant maar ook nuwe hoop en optimisme aan die ander kant. Dit is egter nie die eerste keer wat ons die gevare van demokrasie beleef nie.

1990

Vir wit Suid-Afrikaners begin die verhaal van die nuwe Suid-Afrika reeds enkele jare voor die eerste demokratiese verkiesing. Ons moet die verhaal gaan haal by die geskiedenis rondom FW de Klerk se 2 Februarie 1990-toespraak en die staatkundige hervorminge wat plaasgevind het en waarin apartheid stelselmatig afgetakel is deur die wit regering en aanvaar is deur die wit bevolking.

Oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk tydens vredesamesprekings op 6 Augustus 1990 (Bron: AlJazeera)

Ons moet dit wat ons vandag sien en ervaar, evalueer teen die verlede en veral die 1980’s. Apartheid en die toepassing daarvan is toe reeds bevraagteken en moet ons kortliks die agtergrond skets.

  • ʼn Toenemende besef dat die apartheidstelsel met onreg en onmenslikheid gepaard gegaan het.
  • Daar was internasionale druk wat deur sanksies en isolasie teweeggebring is.
  • Apartheid sowel as die koste aan die omseiling van sanksies was ekonomies onvolhoubaar vir die NP-regering.
  • Die toepassing van die tuislandbeleid het die teenoorgestelde effek tot gevolg het met ʼn groter swart demografie in die wit gebiede en verstedeliking wat toegeneem het.
  • Die ANC se toenemend internasionale invloed en ondersteuning en die morele hoë grond wat hulle daardeur beklee het.
  • Binnelandse opstande en terreur en toenemende onstabiliteit om die land onregeerbaar te maak.
  • ʼn Duur grensoorlog wat in Suidwes-Afrika gevoer is met gepaardgaande lewensverlies.
  • Al meer druk vanuit wit en Afrikanergeledere, waaronder uit kerk en Afrikanerinstansies, om politieke oplossings vir swartmense te vind.

Die onstabiele staatkundige omgewing en die internasionale vensters van geleentheid – naamlik die val van kommunisme en die Berlynse muur – het die NP-Regering en FW de Klerk genoop om die staatkundige hervormings aan te kondig op 2 Februarie 1990. Dit het die weg gebaan vir onderhandelinge wat moes volg.

Alhoewel daar aanvanklik groot steun was vir De Klerk se hervormings, het dit in die tydperk daarna geblyk dat kiesers se onsekerheid en gepaardgaande politieke weerstand by die stembus bevestig word.

Op 22 Mei 1991 het die Konserwatiewe Party (KP) die Ladybrand-setel in die Vrystaat teenoor die NP gewen met 6 276 stemme teenoor 5 018. ʼn Paar maande later op 28 November 1991 is die NP verder geskok met die uitslag van ʼn tussenverkiesing in Virginia. Weer het die KP ʼn setel van die NP verower met ʼn meerderheid van 3 166 stemme.

Met die afsterwe van Louis le Grange en die vakature wat gelaat is, was die Potchefstroomse tussenverkiesing op 19 Februarie 1992 die volgende groot toets vir die NP. Die NP was platgeslaan toe die KP hierdie setel by hom afneem met ʼn meerderheid van 2 140 stemme. Die pil was nog bitterder deurdat die NP dié setel in 1948 gewen het, en net ʼn paar jaar tevore met die algemene verkiesing van 1989, nog ʼn gesonde meerderheid van 1 580 stemme gehad het.

Mense woon ‘n vergadering voor die referendum op 13 Maart 1992 by. (Foto: AFP)

Net ʼn paar uur na die groot nederlaag op 20 Februarie 1992, kondig De Klerk die referendum aan. ʼn Ongekende mobiliseringsveldtog het gevolg. Dit was ʼn besliste strategiese skuif om stukrag te gee aan die hervormingsproses, sonder om by die stembus getoets te word.

Die referendum

Die vraag in die referendum op 17 Maart 1992 was: “Steun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ʼn nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”

85,08% van die sowat 3 296 800 geregistreerde kiesers het op die dag gestem. Die uitslag het vriend en vyand verras. Altesame 68,6% van die 2 804 947 wit kiesers wat gaan stem het, het ja gestem. Prof. Hermann Giliomee skryf in sy boek Die laaste Afrikaner-leiers:

“Die gevolg was ʼn reuse-oorwinning vir die ja-stem, met 69% van die stemme uit ʼn stempersentasie van 85%. Na raming het 62% van die Afrikaners en 70% van die Engelssprekende kiesers ja gestem.”

Die uitslag het nuwe momentum aan onderhandelinge gegee, die 1993-oorgangsgrondwet is geskryf en het gelei tot wet 108 van 1996 – die finale Grondwet van Suid-Afrika.

Op 27 April 1994, presies 1 545 dae na De Klerk se toespraak, vind Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing plaas. ʼn Verdere 14 dae na 27 April 1994 en Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing het die wêreld asem opgehou toe president Nelson Mandela ingehuldig is.

Nelson Mandela word op 10 Mei 1994 ingehuldig as president van Suid-Afrika. (Foto: dailymaverick.co.za)

By die Uniegebou in Pretoria sê Mandela onder andere in ʼn toespraak wat spreek van versoening tot die hele bevolking:

“Ons het oorwin in die poging om hoop in die harte van miljoene van ons mense te plant. Ons onderneem deur ʼn verbond dat ons ʼn samelewing sal bou waarin alle Suid-Afrikaners, swart en wit, hulle koppe omhoog kan hou, sonder enige vrees in hul harte, verseker van hul onvervreembare reg op menswaardigheid – ʼn reënboognasie wat vrede het met homself en die wêreld. Ons moet dus as ʼn verenigde volk optree, vir nasionale versoening, vir nasiebou, vir die geboorte van ʼn nuwe wêreld.”

Ten einde sê hy dan. “Daar sal nooit, nooit, nooit weer in hierdie pragtige land onderdrukking van een deur ʼn ander wees en wat die vernedering moet ervaar van ʼn land wat die muishond in die oë van die wêreld is nie”.

Die Grondwet

Het die woorde van Mandela ʼn valse gerusstelling by die wit bevolking geskep? Nee – want in die aanhef tot die Grondwet van 1996 lees ons ook die volgende:

Ons, die mense van Suid-Afrika,

Erken die ongeregtighede van ons verlede;

Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het

Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en

Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.

Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde-

Die verdeeldheid van die verlede te heel en ʼn samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;

Die grondslag te lê vir ʼn demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;

Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en ʼn Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ʼn soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Mag God ons mense beskerm.

Nelson Mandela onderteken die nuwe 1996-grondwet terwyl die ANC se hoofonderhandelaar, Cyril Ramaphosa toekyk op 10 Desember 1996. (Foto: ADIL BRADLOW / AFP)

Hierop volg die grondwetlike bepalings in hoofstuk 1 artikel 1 wat die volgende waardes vooropstel: menswaardigheid, nie-rassigheid en nie-seksisme, die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.

Dit blyk egter dat Afrikaners reeds in die finale fase van onderhandelinge die ontnugtering begin ervaar het van ʼn nuwe bedeling waarin hulle gemarginaliseer gaan word. Sommige Afrikanerorganisasies het reeds vroeg ʼn konstruktiewe benadering begin volg met die verhouding van die nuwe regering, maar ook dit het geblyk nie suksesvol te wees nie.

Reeds in 1996 skryf die Afrikanerbond in die dokument “Draer van ʼn ideaal”:

Die konstruktiewe houding wat die AB, onder die voorsitterskap van Tom de Beer, teenoor die ontwikkeling van ʼn nuwe denkraamwerk en ʼn nuwe staatkundige bedeling ingeneem het, was in werklikheid, soos meermale in sy geskiedenis oor ander sake gebeur het, die gemiddelde man op straat ver vooruit. Dit het veral vir Afrikaners gegeld.

Daarom het die UR in Maart 1996 kennis geneem daarvan dat die meeste Afrikaners die nuwe bedeling sedert 1994, en veral in die jongste aantal maande, met veel groter skok ervaar het as wat geantisipeer is.

Die verwagting dat die beginsels waarop die nuwe Grondwet gebaseer is vir Afrikaners veral ten opsigte van taal- en kultuurregte sekuriteit sou bied, is nie bewaarheid nie.

Daarom oordeel die AB dat hy in die nuwe bedeling ʼn nog veel groter rol as voorheen sal moet speel om die Afrikaner tot selfhelp en selfversorging te motiveer. Dit is veral onderwys, ekonomiese bemagtiging, leierskap, maatskaplike versorging en die behoud van waardes wat tans sy besondere aandag geniet.”

Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika

In die tydperk moes bestaande organisasies hulle werkswyses aanpas en het nuwe organisasies tot stand gekom. Die nuwe organisasies het met groot sukses die georganiseerde kultuur en erfenisbelewenis van die Afrikanerlandskap verander. Daarom moes Afrikaners ook die aanpassing maak, van nature was Afrikaners nie gemaklik met aktivisme nie. Afrikaners demonstreer en agiteer nie en word ook nie maklik gemobiliseer in ʼn massa nie.

Mandela se standbeeld voor die Uniegebou in Pretoria (Argieffoto)

Wat wel begin gebeur het, is dat die omgewing se veronderstelde negatiewe effek as gevolg van transformasie, uiteindelik ʼn positiewe nalatenskap gehad het. Afrikaners het transformasie begin beleef in die ekonomie, die gemeenskap, die onderwys, en vele terreine. Binne die geografiese verspreiding van Afrikaners regoor die lengte en die breedte van Suid-Afrika het die verdeling ʼn ander tipe eenheid tot gevolg gehad.

Afrikaners het regte en geleenthede vanuit die Grondwet aangewend tot ontwikkeling en bevordering van ʼn eie identiteit, waardes en die bewaring en versorging van eie kultuurgoedere en -skeppinge. Dit het Afrikaners bemagtig om nie geleidelik in ʼn smeltkroes ingetrek of geassimileer te word nie. Hierdie vorm van selfbeskikking of outonomie kon net binne ʼn demokratiese bestel en met demokratiese tegnieke vir effektiewe deelname aan die interne stelsels verseker word.

Jan Bosman van die Afrikanerbond. (Foto: Verskaf)

Die suksesvolle oorlewing en ontwikkeling van ʼn identiteit het ook teen ʼn prys gekom. Afrikaners is beskuldig daarvan dat bevoorregting geperpetueer word, ons weerhou onsself van die ons medeburgers en hulle probleme en ons onttrek ons samewerking aan die bou van ʼn nuwe Suid-Afrika.

Ons is vas oortuig dat die regte van Afrikaners ten beste gedien kan word deur te weier om swak bestuur, magsmisbruik en afwykings van die basiese grondwetlike beginsels waaroor ooreengekom is, te aanvaar; en deur strategies en kreatief te dink en te doen, sodat die Afrikaner se bydrae as konstruktief en positief beleef word.

ʼn Nuwe rasbedeling

Die politiek-staatkundige omgewing het egter nie makliker geword vir Afrikaners nie.

Sedert Uniewording in 1910 en met die toepassing van apartheid het Suid-Afrika 313 wette, regulasies, beleide en uitsprake van hoër howe gehad wat beleid moes rig. In die nie-rassige, demokratiese samelewing is daar volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se ras indeks (SAIRR, 2023:1) tot op 24 Oktober 2023, 116 wette met betrekking tot ras aangeneem deur die Parlement en is 141 stukke wetgewing nog in gebruik.

Ons mag dus in teorie ʼn demokrasie hê maar een stelsel van wit minderheidsmagsdominasie is vervang met ʼn stelsel van swart meerderheidsmagdominasie wat deur raswetgewing in stand gehou word. Nuwe apartheid en nuwe diskriminerende rassisme is in die naam van transformasie gevestig.

Lesse uit die verlede

Watter lesse is daar vir Afrikaners te leer uit die verlede en sien ons vandag 30 jaar na veronderstelde demokrasie enigsins hoop?

31-mei

Hierdie foto is geneem op 31 Mei 1961 op Kerkplein om 12:00, oomblikke nadat Suid-Afrika formeel ‘n Republiek geword het. (Foto: FAK/Afrikanergeskiedenis.co.za)

Ons moet leer uit die lesse van die verlede want dit gaan ons toekoms bepaal. Ons moet erken foute is gemaak:

  • Ons 1961-republiek het teen ʼn prys gekom. Ons wou Afrikaner-nasionalisme bevorder binne ʼn Afrikaner-republiek en daaruit is apartheid gebore. Ons het ander se regte begin wegneem om onsself te beskerm, ons het onmenslik opgetree in ʼn poging om Afrikaner-eenheid te bevorder, maar die prys was te groot.
  • Afrikaners het die gerief gehad om ons eie belange aan die staat uit te kontrakteer en die staat en die NP-regering het as die versorger, die bewaker en die bevorderaar van Afrikanerbelange begin optree. Ons het as’t ware ons eie belange aan die staat oorhandig.

Afrikaners

Die gebeure van 1990 en 1994 het Afrikaners onverhoeds en onvoorbereid betrap. Ons moes skielik anders begin dink en het die 30 jaar sedert 1994 ons op ʼn ander wyse gelouter en getemper. Daarom vereis 2024 van ons om anders te dink en op te tree.

  • Afrikaners se taal en kultuur is inheems aan Afrika. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem. Afrikaners is onlosmaaklik deel van die kontinent en ons reg tot bestaan is op die wyse bevestig. Dit is nie in die hande van of afhanklik van die nukke of grille van populiste en politici wat veg vir eie oorlewing nie.
  • Afrikaners het vir jare gewroeg oor ons skuld aan die verlede. Ons verval te maklik in ʼn staat van angs as ons ons steur aan diegene wat ons wil wegjaag en die blaam van Jan van Riebeeck en 1652 gebruik om hulle eie tekortkominge weg te steek. Na 30 jaar kan ons ons koppe optel. Ons hoef niks van niemand te smeek nie en nog minder hoef ons weer verskoning te maak.
  • Die blaam van apartheid is verby. Niemand het vandag meer die reg om Afrikaners te blameer nie. Ons moet dit verwerk soos water van ʼn eend se rug af.
  • Afrikaners het ʼn bron van stabiliteit vir die samelewing geword in ʼn onstabiele samelewing. In die agtergrond van meeste politieke gesprekke is dit die onderliggende tema.
  • Afrikaners is hier om te bly. Ons het nie ʼn tweede paspoort nie. Van die Kaap tot Messina lê die spoor van Afrikaners se pionierswerk waarin ons opgebou en geskep het.
  • Afrikaners se kundigheid is vandag nog steeds beskikbaar tot voordeel van die land – ons het dit nie weggeneem nie, die hand van saamwerk en hulp is afgewys.
  • Afrikanereenheid is ʼn vals droom. Dit sal nooit bereik word nie. Afrikaners het wel die kuns aangeleer van aansluitende samewerking en die ervaring tussen verskillende organisasies die laaste paar jaar, is ʼn praktiese demonstrasie hiervan.
  • Afrikaners het ʼn nuwe selfstandigheid aangeleer en aanpassing in omstandighede en daardeur is ʼn nuwe entrepreneuriese ingesteldheid ontwikkel.
  • Afrikaners dien nie slegs eie belang nie. Die vaardighede in ons geledere word aangewend tot almal se voordeel (Slaggate word vir almal herstel en sekuriteit is tot voordeel van almal).
  • Afrikaners het geloofwaardige bemagtigers geword van mense om hulle, nie net Afrikaners nie.

Danie de Jager se beeldhouwerk “Quo Vadis?” by die Voortrekkermonument vra die vraag “Waarheen nou, Afrikaners?” met die fokus op Afrikaners se toekoms. (Foto: Vryheidstigting Webblad)

Vandag bevind Afrikaners hulself steeds, soos in die verlede, in verskillende politieke partye met wyd uiteenlopende ideologiese oortuigings. Dit sluit nietemin nie uit dat Afrikaners vanuit verskillende agtergronde openhartig met mekaar kan en moet praat oor ʼn kollektiewe staatkundige toekoms indien dit vir hulle belangrik is nie. Afrikaners moet leer uit die lesse van die verlede. Dit verg ʼn balans in optrede oor sake wat Afrikaner-spesifiek is en sake wat elke Suid-Afrikaanse burger, ook Afrikaners, raak.

Die demokratiese bedeling wat onderhandel is, het hoop gegee aan miljoene Suid-Afrikaners dertig jaar gelede en moes ʼn bedeling skep gevestig op vaste waardes.

Vir sommige het dit ʼn dolle en frenetiese bevordering van eiebelang en selfverryking geword. Vir Afrikaners het dit ʼn onbetwisbare geleentheid geword van selfgelding, identiteitbevestiging, selfontwikkeling en het dit ʼn bestel geword waarin Afrikaners hulleself uitleef ten spyte van omstandighede en waarin ons gemeenskappe versterk en ontwikkel word.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die uitslag van daai referendum lyk of dit gekook was.

Grassie ·

Dit is ‘n tipiese Broederbondweergawe van die gebeure wat tot ons land se ondergang lei. Daardie referendum was ‘n kooksel uit ‘n liberalis se denke. Kyk na die vraag waaroor die Afrikaners ja of nee moes stem. Dit is ‘n baie dubbesinnige stelling As die vraag die waarheid was sou die uitslag anders gewees het. Dit moes gelui het “kan ons maar tou opgooi en die land sonder slag of stoot aan die ander bewoners oorgee.” De Klerk het ‘n verdere stemming beloof voor die finale besluit. Hy het egter beséf dat die Afrikaners intussen deur sy planne gesien het en dat die uitslag moontlik anders sou wees en hy het sy woord gebreek. Ons weet almal dat ‘n verandering in die land onafwendbaar was maar totale oorgawe wat tot ons land en volk se ondergang sou lei was nie vir ons, die sg, “verkramptes” aanvaarbaar nie. Nou word mooi broodjies gebak om gewetens te sus.

Republikein in die Wes Kaap ·

Grassie, De Klerk was te bang om ‘n vroeë verkiesing uit te roep waar kiesers politici kon takel met die kwessies wat jy noem. Die NP sou verloor het. Die referendum was ‘n wishy-washy bekooksel.

George ·

“reeds 30jaar” probeer om onder die ou regering te leef vir 40+ jaar. Dit gaan nog baie langer vat om ons op gelyke grond te kry.

skurweberg ·

Wie van ons was daar? Die droefheid van pappa’s, manna’s,oupa’s en ouma’s wat jong seuns en kleinkinders verloor het was aan die orde. De Klerk moes al hierdie dinge aanhoor, belief en verwerk. ‘n moeilik taak. Vrede maak was vir hom die enigste opsie. “Ons visie vir die toekoms moet NOU sterkte wees as ons geheue van die verlede”. Kan roeping ook naief wees?

Richard ·

Die wat so gal braak oor die referendum, moet maar stilbly. Dis maklik om te kla oor die “liberale linkses” en dat alles “gekook” was. Die land sou net eenvoudig nie kon voortgaan op die ou trant nie. Die grootste grap van die “nee” stemmers is dat hulle nie met ‘n alternatief vorendag kon kom nie.
Diep binne weet hulle ook as die “nee” stem geseëvier het en Treurnicht president geword het. (onthou FW sou bedank het) sou ons in anargie gedompel gewees het. Onthou Kommunisme het geval, en die VSA, Brittanje en ander groot moondhede het geen nut in ons gehad met die beveg van Kommunisme nie.
Demografie het teen ons getel, nerens in die land was ons die meerderheid nie, en sou nooit die massas “in toom” gehou het nie.

Frank ·

Ek stem saam skurweberg en as daar nog mense is wat knaend die verlede wil oproep moet hulle by die EFF aansluit, meesters daarin om op die verlede te hammer ipv op en vir die toekoms te bou

Amelia ·

Frank verduidelik vir my watter toekoms Hoeveel jong mans (kinders) gesterf op grens soveel vermink nee ons het oorleef met sanksies en sou steeds Ons was van die bestes in weermag skole Die r was meer werd as n dollar maar waar staan ons nou Ja die verlede is verby maar nie die res (toekoms) ook in sien geen toekoms vir alvir jong mense nie behalwe die kriminele

Richard ·

Nee Amelia, ons sou nie oorleef het nie. Suid Afrika was ‘n nuttige idioot vir die Weste teen Kommunisme. Daarom was ons met sanksie en al nog steeds beskerm teen ‘n volle “embargo” teen ons. Na die val van Kommunisme was daar geen rede vir die weste om ons te beskerm teen algehele sanksies nie.
Ja ons weermag was tops, maar hoe lank sou hulle kon uithou? Het jy geweet die verpligte inname van dienspligtige het afgeneem jaar na jaar? Ons bevolking aanwas (wittes) was al toe aan die afneem, wat beteken ons het al hoe minder mannekrag gehad, met die Swart bevolking wat by die miljoene aanwas. So vertel jy my hoe sou ons dit kon volhou?
Ek is ook ontnugter met die ANC/regering. en ondersteun hulle glad nie, maar om te probeer vasklou aan wat kon?

Delia ·

Amelia, daar is altyd hoop vir die toekoms. Maar as ons ouer mense nie ons gesprekke verander en hoop spreek nie, gaan ons jongmense verseker ook nie hoop het nie. Luister bietjie hoe praat baie Blankes. Alles is net negatief. Ons moet ook maar bietjie ons houding verander. As n mens nie wil bly en saamwerk vorentoe nie, emigreer dan liewers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.