Apartheid, nazisme en die Duitse kanselier se vraag

Helmut-Schmidt-deur-wikimedia-commons

Helmut Schmidt, voormalige Duitse kanselier. Foto: Wikimedia Commons.

Daar is deesdae gereeld vergelykings tussen Nazi-Duitsland en Apartheid Suid-Afrika. Die beste antwoord hierop is lankal gegee deur die liberale skrywer Alan Paton, in sy Hoernlé-gedenklesing in 1985: “If you liken SA to Nazi Germany, that is a prostitution of language.

Ek wil byvoeg, dis ʼn bespotting van die dood van miljoene mense in die Tweede Wêreldoorlog se konsentrasiekampe en slagvelde (totaal: sowat 70 miljoen sterfgevalle in die oorlog). Lees gerus ook dr. Anthea Jeffrey se People’s War, en besluit self of die ANC-in-Struggle vergelyk kan word met die magtelose Joodse slagoffers van nazisme.

Nazisme kan veel eerder vergelyk word met kommunisme, soos wat die Black Book of Communism uitgewys het. Terwyl nazisme wêreldwyd en deur Afrikaners verag word, is die onverkose Kommunistiese Party in SA in die voorste bestuursitplekke van ons regering! Daar moet eerder ʼn veldtog gevoer word teen die kommunistiese struggle-kultuur op talle kampusse in die land wat soveel swart studente se lewenskanse vernietig, as teen die Afrikaans op universiteite.

Dit is so dat apartheid teen 1990 ʼn onderdrukkende, ongeregverdigde en onvolhoubare bestel geword het, ongeag hoe dit oorspronklik bedoel is. Dis hoekom dit deur Afrikaners self afgeskaf is. Die proses het wel lank geduur, omdat die politieke beweegruimte uiters beperk was weens die ANC se koppeling aan die Sowjetunie en die ANC se sosialistiese beleid. Maar uiteindelik is dit wel afgeskaf.

Daarteenoor moes daar eers miljoene mense sterf en Hitler selfmoord pleeg voor nazisme vernietig is. Die verdrukkende kommunisme het voortgeduur totdat dit self ingeplof het onder die gewig van meer as 80 miljoen dooies, behalwe in lande soos SA waar die bling-weergawe steeds gewild is.

Duitse kanselier se vraag

Die kritiek op die gevolge van die nuwe bedeling moenie gesien word as ʼn ontkenning van die feit dat die vorige bedeling onhoudbaar was nie. Maar die groot vraag was waarmee dit vervang moes word. Mense wat voor die 1994-verkiesing enige kritiek op die komende sentralistiese bedeling gelewer het, is deur sekere media op die brandstapels van die openbare mening verbrand en in die politieke wildernis verdryf. Daarom moet hulle nie net rekenskap gee van hulle aanvanklike steun aan apartheid nie, maar ook aan hulle feitlik blinde steun aan ʼn bedeling wat nou net die omgekeerde weergawe daarvan word.

In 1977 het die VSA se destydse visepresident, Walter Mondale, in ʼn gesprek met die (linkse) Duitse kanselier Helmut Schmidt, daarop klem gelê dat apartheid spoedeisend afgeskaf moet word. Kanselier Schmidt se teenvraag som die nuwe Suid-Afrikaanse dilemma goed op: “And replace it with what?

Die kern van die probleem is dat die grondwetlike ooreenkoms wat in 1994 aangegaan is, nou ʼn bepalende rol speel in die nasionale kernvraagstuk van staatsverval. Die mag van mense soos Jacob Zuma en talle van die probleme wat ons land nou op sy knieë dwing, spruit ongelukkig uit ʼn bedeling wat in die plek van apartheid gestel is. Dit het mag gesentraliseer, die presidentsamp met ongekende magte beklee, sosialisme onder die dekmantel van sosiaal-ekonomiese regte in ons Grondwet verskans (art 26 en 27), boonop met totaal onvoldoende beskerming vir sake soos Afrikaans, kulturele vryheid en eiendomsreg.

Hoewel die Grondwet wel afgewaterde voorsiening maak vir die beskerming van individue wat aan taal-, kulturele- of godsdienstige groepe behoort, word dit in die praktyk deur die regering geïgnoreer of deurlopend ondermyn. So word ons bedelingsprobleem vererger deur ʼn regeringsprobleem.

Gaping tussen teorie en praktyk

Daar is talle voorbeelde hiervan:

  • Hoewel die Grondwet voorsiening maak vir 11 amptelike tale, word Engels die landstaal wat deur die staat bevoordeel word;
  • Ten spyte van die Grondwet se bepaling oor gelykheid, vertolk die regering se transformasie-ideologie gelykheid as rasseverteenwoordigendheid;
  • Die meeste grondwetlike instellings wat demokrasie moes bevorder, is in die praktyk deur die regering gekoöpteer;
  • Eiendomsreg word al meer bedreig, ten spyte van die grondwetlike verskansing daarvan;
  • ’n Sosialistiese welsynstelsel word onder die vaandel van sosiaal-ekonomiese menseregte bevorder;
  • Gereelde aanvalle op die media, die howe en opposisiepartye ondermyn hierdie instellings se voortgesette onafhanklikheid; en

Ten slotte het daar feitlik niks gekom van die grondwetlike ruimtes vir en beskerming van taal- en kultuurgroepe nie, en beplan die regering om die openbare skole in praktyk te nasionaliseer deur demokratiese ouerbeheerliggame se magte verder te beperk.

Onvolhoubaar

Die toenemende krisisse in die land is alles tekens dat die huidige bedeling onvolhoubaar is. Dit sluit aan by navorsing van die Economist en die Universiteit van Chicago dat die lewensduur van grondwette in die wêreld minder as 20 jaar is – die leeftyd van een “politieke geslag”. Met al sy probleme is dit nie goeie nuus nie, omdat dit met ʼn swakker een vervang kan word.

Daarom behoort die fokus te wees op die beskerming van die bestaande grondwetlike en politieke ruimtes en die oppergesag van die reg, terwyl daar terselfdertyd na ʼn beter bedeling en ʼn opvolgskikking wat die bestaande leemtes aanraak, gestreef word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bestuursuitnemendheid Bosvark

Flip, dankie vir hierdie goeie oorsigartikel. Uiters belangrik dat Suid-Afrikaners met mekaar sieninge deel.
Net ‘n dom mens en ‘n dom volk en ‘n dom nasie leer nie uit sy foute van die verlede nie. ‘n Eienskap van bestuursuitnemendheid is dat gereeld ‘n bestekopname gemaak word van die werking van die besigheid en dat areas vir verbetering geidentifiseer word. Projekte moet dan in werking gestel word om hierdie areas vir verbetering aan te spreek. Dieselfde geld vir enige grondwet. Suid-Afrika benodig ‘n kultuur van voortdurende verbetering op alle lewensterreine. Dit behoort in die ouerhuise te begin.

Johan

Interessante en insiggewende artikel. Ons lewe in ‘n tyd waar die ANC apartheid (steeds) wil voorhou as hierdie afskuwelike “monster” – daarom dat hulle dit gelykstel aan Nazisme. Dit is natuurlik deel van hulle nuwe narratief om aandag weg te trek van die feit dat hulle tragies misluk het om SA as land werklik vorentoe te neem. Die ANC was nog altyd meesters om (vals) propaganda te versprei en tans steun sekere media-groepe hulle steeds om dit reg te kry. Meeste mense het reeds aanvaar Nazisme was verkeerd. Apartheid was verkeerd. Doen nou iets en werk vorentoe. Geskiedenis is tans… Lees meer »

JC

Uitstekend. Dankie Flip. VERPLIGTE LEESSTOF!
Mens kan niks byvoeg nie.
Afrikaans leef!

Eish

Mag ons die geleentheid gegun word om n bydrae te kan lewer en wat aanvaar sal word, wat die huidige situasie verbeter. Tans ervaar ons omgekeerde apartheid, net sonder wetgewing, maar toegepas deur die regering en sy masjienerie in ons daaglikse lewe.

Vaalseun

Dankie, Flip. Ek verstaan nie mooi hoekom jy sê dat apartheid teen 1990 ‘n “onderdrukkende, ongeregverdigde en onvolhoubare bestel geword” het nie. Teen 1990 wàs daar nie meer ‘n statutêr gedrewe apartheidsbeleid nie. Formele, verkose swart verteenwoordiging in die rade en parlement sou wel eers in 1994 gekom het, en die nuwe grondwet twee jaar later. Stem jy saam?