Apartheid was net die een kant van die munt

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Gister, 27 April, was dit presies 27 jaar gelede sedert Suid-Afrika sy eerste algemene verkiesing met algemene stemreg vir één gemeenskaplike regering beleef het. Dit was die einde van apartheid.

Interessant genoeg, die 27 jaar sedertdien was ook dieselfde tydperk dat Nelson Mandela in die tronk deurgebring het.

Ek het die laaste jare en maande intensief navorsing gedoen vir ’n boek oor die ANC/SAKP in ballingskap. Die voorlopige titel is Terreur en Bevryding, wat die dubbelslagtigheid van die alliansie se stryd teen apartheid goed weergee.

Lesers moet my nou maar verskoon: Ek is – meestal – nie iemand wat dinge swart-wit bekyk nie. Al probeer ek ook, ek sien te dikwels eerder verskillende skakerings van grys.

Dit geld ook vir apartheid en die ANC/SAKP se stryd teen die beleid. Dis ’n kwessie van “aan die een kant …”, en terselfdertyd “aan die ander kant …”

Dus: Aan die een kant was apartheid en rassediskriminasie moreel verkeerd. Die regering het met die teorie van gebiedsegregasie (die tuislande waar die swart mense vry en soewerein onafhanklik sou wees) ’n morele sousie oor wit baasskap gegooi, maar kon die essensie van die saak nie bedek nie.

Die tuislande was ekonomies en andersins nooit lewensvatbaar nie. Dis vererger deur die feit dat dr. Hendrik Verwoerd nooit meer as ’n fraksie wou goedkeur van die miljoene wat die Tomlinson-kommissie van 1954 vir die ontwikkeling van die gebiede nodig geag het nie.

Daarby sou selfs daardie miljoene nie die wa deur die drif gesleep het nie. Verreweg die meeste swart mense het in die “wit” gebiede gewoon en het geen begeerte gehad om na die tuislande te verhuis nie.

Terugkykende moet ’n mens inderdaad konstateer dat die etniese roereier in Suid-Afrika reeds in 1948 só vermeng was dat apartheid tóé reeds in die praktyk onmoontlik was.

Aan die ander kant is ’n morele veroordeling darem alte maklik – en bowendien is dit nie my taak as historikus nie. Die Afrikaners se rassehouding (kom ons erken maar dat dit “rassisties” was) is in mindere of meerdere mate deur miljoene ander wit mense oor die ganse aardbol gedeel.

Daarby kom nog dat die Afrikaners in ’n dubbele eksistensiële angs geleef het. Ten eerste het die imperialistiese Engelse kulturele, politieke en ekonomiese aanslag gedreig om die Afrikaners se identiteit te verswelg, en ten tweede was hulle bang vir die enorme swart getalle-oorwig.

Dit maak apartheid, suiwer moreel gesien, nie rég nie, maar wel begrýplik.

Dit is die een kant van die munt. Daar is ook ’n ander kant.

In hul stryd teen apartheid het swart mense gereageer teen die alledaagse diskriminasie en vernederings wat hulle moes ondergaan, soos twee persoonlike staaltjies illustreer (daar is ongetwyfeld miljoene ander):

In sy geheime outobiografie wat hy op Robbeneiland geskryf het (dis eers ’n paar jaar gelede op die internet gepubliseer), vertel Nelson Mandela dat hy in die jare vyftig met sy motor naby Kroonstad teen ’n wit seun gebots het. ’n Polisieman was gou op die toneel, en sy eerste woorde was waarskynlik tipies van wat duisende swart mense van wit polisiebeamptes gehoor het: “Kaffer, jy sal k*k vandag!”

Nog ’n voorbeeld. In hul biografie van Chris Hani vertel Janet Smith en Beauregard Tromp dat toe ’n jong swarte, Radilori Moumakwe (19) in die vroeër sestigerjare as ANC-lid in Moskou vir militêre opleiding vir MK aankom, het ’n (wit) Rus hom met ’n handdruk begroet. Moumakwe het verskrik teruggedeins. Hy is geleer dat ’n swart mens nooit aan ’n wit mens mog raak nie, omdat dit die wit mens sou besoedel.

Dus het die ANC/SAKP die saak van swart menswaardigheid en menseregte op hom geneem. Toe dit blyk dat geweldloosheid nie werk nie, is begin met ’n streng beperkte sabotasieveldtog.

Die probleem met geweld, al begin dit ook hoe beskeie, is dat dit byna altyd mettertyd eskaleer. Sonder om op besonderhede in te gaan, dit het in die jare tagtig uitgeloop op iets wat byna op ’n onbeheerde terreurveldtog neergekom het.

Mense soos Oliver Tambo, leier van die ANC, het soms probeer rem trap, maar as jy ’n klip gooi, het jy geen beheer meer daaroor so gou dit jou hand verlaat nie. Dit het ontwikkel tot bekende voorvalle soos die Kerkstraat-bom, die aanslag op Magoo’s Bar en talle ander, waarin die bloed van onskuldige burgerlike verbygangers vergiet is.

Natuurlik, dit was ’n reaksie op die bloed van onskuldige swart mense wat soms onnodig deur die polisie en veiligheidsmagte se aksies gevloei het. Maar die ervaring leer dat dit sterk en besliste leierskap verg om só ’n wedersydse eskalasie stop te sit.

In die ANC se geval is die probleem vererger deurdat sy leiding grotendeels deur lede van die SAKP oorheers is. Dis nie ver van die waarheid nie om te sê dat die leiding van die ANC teen die jare tagtig vir minstens 90% uit geharde kommuniste bestaan het.

En daardie mense was nie uit op ’n brawe liberale veelparty-demokrasie soos ons hom in die Weste ken nie. Hul doel was ’n Marxisties-Leninistiese “diktatuur van die proletariaat” (en in die praktyk kan jy die toevoeging “van die proletariaat” gerus maar skrap).

Ja, die ANC/SAKP het geveg teen ’n beleid wat, streng gesproke, immoreel was. Maar kom ons sê dit sonder omhaal van woorde: Hulle wou dit vervang met ’n beleid wat vele male meer immoreel was.

Hul rekord in ballingskap is bowendien besoedel met grootskaalse menseregtevergrype teen andersdenkendes in eie kring, magsmisbruik en korrupsie. Dáárvan het die regering se onderhandelaars waarskynlik nie genoeg begryp nie.

Teen 1990-’94 het die regering werklik geen ander keuse gehad as om met die ANC/SAKP te onderhandel en apartheid af te skaf nie. Maar agterna is dit duidelik dat hulle die alliansie se aard en interne werking nie voldoende begryp het nie.

Dat daar gekies is vir ’n liberale veelpartydemokrasie met ’n grondwet wat die nuwe regering se magte behoorlik omskryf en beperk, was reg. Maar die regering het die omvang van onbekwaamheid, magswellus en korrupsie in die kamp van die ANC/SAKP onderskat.

Maar goed, ons sit nou eenmaal met die gebakte pere. ’n Sprankie daglig het met pres. Cyril Ramaphosa se oorlog teen korrupsie in eie kring aan die horison verskyn.

Maar vergewe my as ek maar sinies na die beweging kyk. Dalk lê die redding voor, maar of Ramaphosa dit sal bring …? Ons kan net hoop.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hendrik ·

Apartheid is al van alle kante bekyk en geanaliseer maar dit verander niks aan wat tans besig is om te gebeur in die land. Gewone landsburger, soos ek, is al regtig moeg vir enige artikel ooor apartheid. In konsep wat ek sien wat gebeur in die land en wat so ook gebeur na al die kolonale state soos Lesotho, Swasiland, Zimbabwe en ander state noord, het ek geen keuse om in my veiligheids enklawe te bly en dit te onwikkel nie. Ek en ongeveer 4500 mense het die keuse gemaak en begin nou die vrugte pluk anders as die ander wat in dorpe bly met partykeer geen water of krag. ‘n Hofsaak gewen deur Afriforum is belangrik maar die vryhede van die landsburgers word beperk deur die opbeholpendheid van die mense in beheer.

Anton ·

Terwyl ons nou akademies en grys is: Is daar ‘n verskil tussen rassisties en ras-gebaseerde?

CA ·

Apartheid het witmense bevoordeel veral gedurende die sg “30 Goue jare” na die 2de Wêreld-oorlog. Ek sou graag wou sien dat historici en ekonome probeer bepaal tot watter mate die tydelike suksesse van apartheid te danke was aan die wêreldwye ekonomiese oplewing na 1945: goedkoop, volop energie; hemelhoë ekonomiese groeikoerse. Dit is ook interessant dat die “begin van die einde” vir apartheid saamgeval het met die oliekrisis van die 70’s en die daaropvolgende wêreldwye ekonomiese onsekerhede. Overgesetsynde: my ouers het ekonomiese voordeel getrek uit die onderdrukking van swartmense, maar hulle het terselfdertyd waarskynlik verdere voordeel getrek uit die unieke ekonomiese situasie van eksponensiële ekonomiese groei in die weste – ongekende vooruitgang vir Afrikaners wat dikwels maar armsalig grootgeword het (my oupa het maar Std 2 gehad, moes skape oppas, maar my pa en sy broer het albei universiteitsgrade, en het ekonomies geblom van die 50’s tot 80’s).

Jack ·

Ek betwis nie dat omstandighede in die eerste 30 jaar van NP regering ekonomiese groei en algehele opheffing, nie net van Afrikaners nie maar alle groepe in die RSA, vergemaklik het nie. Maar ek sal jou wed dat as die ANC in 1948 of self tien jaar later aan bewind sou gekom het sou van ekonomiese pheffing niks gekom het nie. Ons sou ‘n kommunistiese vassalstaat van die Sowjet Unie geword het met baie baie groter ellende vit almal in hierdie land, wit, swart en tussen in. Verder grief dit my dat mense wat van beter behoort te weet neerhalend praat van hulle voorouers se armsaligheid en gebrek aan geleerdheid. Wereldwyd was om standighede na WW1 maar moeilik maar vir die Afrikaners het sy moeilikhede veel eerder begin. Ja, my ouers het nie eers matriek gemaak nie, ek self het tersiere opleiding ontvang danksy NP regeringsprogramme wat dit moontlik gemaak het en my nageslag het dortorsgrade. Dis nie iets om oor skaam te wees nie. Onthou dit was Verwoerd wat staatsondersteunde onderwys

Jack ·

ingestel het. Die geleenthede vir opheffing was daar maar dit is versmaai vir politieke gewin.

Jack ·

Dit is vreeslik maklik om in jou ivoortoring te sit en moraliseer oor wat nou alles veroordelenswaardig is van apartheid, maar as jy sedert 1806 telkens in ‘n oorlewensstryd gedompel is deur ander volke wat jou nie ‘n staanplekkie in die son gun nie, dan maak jy planne om jou voortbestaan te verseker. Apartheid was so ‘n plan. Die sogenaamde “onderdrukking” word heeltemal met anekdotes oordryf, daar was geen stelselmatige planne vir onderdrukking nie trouens, swartes ly tans meer onder die ANC as wat hulle na bewering onder die NP gely het. Die swartman was nog altyd sy eie grootste vyand. Ons blankes moet ophou verskoning vra oor apartheid. Die Engelse het nooit verskoning gevra oor konsentrasie kampe nie en die ANC sal nooit oor AA en BBBEE nie. Kyk maar na Ramaposa se flou verskonings vandag voor Zondo.

annie ·

Apartheid is so ‘n lekker slaanding… Boeke en boeke is vol gesanik en knieè al blou gestaan om die ‘ander’ te beìndruk met ‘n diepe gevoel van weèmoed en opregte nederigheid oor… natuurlike gebeure wanneer mense van verskillende kulture wat indruis teen eie geloof en gebruike ontmoet. Afrika was totaal onderontwikkeld voor Westerlinge dit bearbei het en nou lyk almal soos Britte en praat soos Britte en eet soos Britte en nou is alles mooi en nou is die ontwikkelingsfase korrup? Alle rasse is gelyk maar net die swart ras is sondeloos. Net hulle gaan eendag hemeltoe.

Jozua ·

Beste Dr Scholtz, baie dankie vir u artikel wat ons komplekse geskiedenis uitwys – verseker dikwels meer skakerings van grys as bloot oorvereenvoudige swart-wit denke. Ek het al dikwels oor die volgende twee vrae gedink en wonder of u dalk in toekomstige artikels u perspektief daarop sal gee:
1. N.P. van Wyk Louw het met sy “voortbestaan in geregtigheid” ‘n belangrike maatstaf daargestel. Wat sou ons as Afrikaners anders kon gedoen het gedurende die tye waar ons aan bewind was om in geregtigheid ‘n meer volhoubare toekoms te skep? Hierdie soort van nabetragting is nie om derms uit te ryg nie, maar om te leer.
2. Gegewe die ANC se geskiedenis en hul ideologiese onderbou, hoe kan ons as Afrikaners vir ons vorentoe ‘n meer volhoubare en veerkragtige toekoms skep in geregtigheid? Veral ook in die lig van ons geskiedenis?
Groete,
Jozua

Petrus Albertus ·

Goeiedag Jozua, dankie vir jou vrae, ek sou ook baie graag die antwoord hierop wou hoor. ‘n Paar gedagtes rondom jou vrae: ek dink wat die geregtigheid onder die vorige bedeling defnitief sou bevorder het sou wees indien die Afrikaner NP regering ernstig daaroor was om Verwoerd se idee van ‘n Suid-Afrikaanse statebond uit te bou met die ou tuislande as volwaardige politieke entiteite wat oor hulself regeer het. Verder sou dit baie gehelp het indien daar werkspermitte aan hele gesinne toegestaan is en nie net aan enkelinge nie om die negatiewe effek van die trekarbeiderstelsel teen te werk. Laastens indien swartmense op ‘n verlengde huurstelsel – 99 jaar – eiendom in wit Suid-Afrika kon ‘besit” en indien swart woonbuurtes ook volgens stamverband ingerig is en daardie inwoners dan hul stem in die tuisland kon uitbring en in daardie woonbuurt en ook ‘n munisipale stem kon hê, sou dit eintlik Verwoerd se bedoeling tot sy volle reg laat kom het.
Ek vervolg hieronder…

Petrus Albertus ·

Wat die nuwe Suid-Afrika aanbetref lê die antwoord, myns insiens, in die pad waarop ons reeds begin reis het saam met Afriforum en Solidariteit nl. ‘n gedesentraliseerde regering waar gemeenskappe soveel moontlik selfbestuur het met ‘n klein verteenwoordigende federale regering. Hierdie gemeenskappe sal dan die ou Nederlandse beginsel van “verzuiling” toepas waar die regstelsel ‘n raamwerk is waarbinne gemeenskappe in die breedste moontlike sin hulle eie sake kan reël, ek verwys hier nie net na geografiese gemeenskappe nie maar ook spesifiek na kultuurgemeenskappe. Onderwys en Opleiding word dus ook gemeenskapsgebasseerd – daar sal geen “staatskole” wees nie en slegs ‘n gestandardiseerde, sentrale eksamen geskryf word vir Universiteitstoelating. Alle skole is dus privaat. Indien ‘n buurgemeenskap dan nie verantwoordelikheid vir hul eie ontwikkeling neem nie, is dit werklik nie my probleem nie – en sal ek ook nie duld dat ek daarvoor verwyt word nie.

Vrijburger ·

Ag tog, flip tog, dieselfde holrug ou perd.

Of wag, ek weet, onderdekking bemarking vir die boek wat kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.