Argentinië herhaal foute van die verlede

Pres. Alberto Fernández waai vir ondersteuners voor ‘n groot foto van sy visepresident Cristina Kirchner. Foto: (AP Photo/Daniel Jayo)

Argentinië het in die pas afgelope presidents- en parlementsverkiesing weens ’n slegte hede gestem vir ’n terugkeer na ’n nóg slegter verlede.

Ná vier jaar onder die regering van die liberaal-konserwatiewe president Mauricio Macri het die meerderheid gestem vir die terugkeer na die links-populistiese Peroniste.

Die nuwe president is Alberto Fernandez en sy visepresident is Cristina Kirchner, wat voor Macri president was. Fernandez het met 48% gewen, teen Macri met 40%. Daar was ook verskeie kandidate van kleiner partye wat die res van die stemme gekry het. Fernandez is ’n beroepspolitikus en het veldtogte vir vorige presidente gelei en is met ’n toppos as ’n soort kabinetsvoorsitter beloon, maar het later oor politieke verskille met Kirchner bedank en haar gekritiseer. Om te wen, het hy egter haar bekendheid nodig gehad.

Argentinië se politieke stelsel is redelik naby aan die een van die VSA: die president word direk deur die burgers verkies en het sterk uitvoerende gesag. Daar is ’n parlement (kongres) wat uit twee huise bestaan, die huis van verteenwoordigers waar die kiesafdelings se verteenwoordigers sit, en die senaat, wat die provinsies verteenwoordig. Die land is ook federaal gestruktureer, met heelwat magte wat in die provinsies gesetel is. Argentinië het ook in praktyk ’n tweepartystelsel, maar dit is gewoonlik breë alliansies wat voor die verkiesing rondom ’n kandidaat gebou word en veral ná neerlae weer uitmekaarbreek en herskommel word.

Macri se party is die sentrum-regse beweging Juntos por Cambio (Saam vir Verandering), wat met die vorige verkiesing in 2015 gestig is en dit uiteindelik kon regkry om almal wat teen die Peroniste gekant was, te verenig. Fernandez is die kandidaat van die links-populistiese Todos (Almal) Beweging, waarvan die Peronisteparty die grootste deel uitmaak.

Foto: (AP Photo/Natacha Pisarenko)

In Argentinië gaan die meeste verkiesings, ook die onlangse een, oor die ekonomie, want die land is berug vir ekonomiese onstuimighede. In ’n mate geld dieselfde vir die hele Suid-Amerika. Omdat die meerderheid mense eerder arm is, het die linkses gewoonlik ’n voorsprong. Dan regeer hulle egter vir talle jare so swak dat mense hulle tot liberale en konserwatiewe partye wend wat die gemors moet opruim. Omdat dit saamgaan met hoër belasting, snoei van subsidies en besteding – om die skuldvlakke te verlaag en vertroue by die internasionale markte terug te wen – wend mense hulle met die volgende verkiesing weer na die linkses, wat allerhande beloftes maak.

Macri het dit vier jaar gelede uiteindelik reggekry om die magtige Peroniste met sy breë alliansie te verslaan ná lang jare van die Kirchner-dinastie. Nestor Kirchner het van 2003 tot 2007 regeer en het toe vir sy vrou, wat van 2007 tot 2015 regeer het, opsy gestaan.

Terwyl Nestor Kirchner nog ’n redelik gebalanseerde beleid gevolg het, en in tye van ekonomiese voorspoed geregeer het, het Cristina Kirchner met staatlike inmenging, regulering en onbeheersde spandering die land amper geruïneer. Sy het egter groot getalle mense, veral die armer deel, met haar welsyntoelaes, charisma, voorkoms en opruiende toesprake aan haar gebind en haar as hedendaagse Evita Perón daargestel, nogal met ’n mate van sukses. Sy was nie net op ekonomiese gebied links nie, maar ook wat maatskaplik kwessies betref, en die homoseksuele agenda en soortgelyke kwessies is deur haar bevorder. Internasionaal was sy vriende met Kuba en Venezuela en vyandig teenoor die VSA. Sy het haar ook skuldig gemaak aan korrupsie. Ná twee termyne moes sy uittree, maar het haar gewig ingegooi by die Peroniste se kandidaat Daniel Scioli, wat egter deur Macri verslaan is.

Foto: (AP Photo/Natacha Pisarenko)

Macri het ’n enorme taak gehad om Kirchner se gemors op te ruim en om weer internasionale vertroue te herstel, maar sy tyd was te min en die struikelblokke te veel om die wa deur die drif te trek. Die verswakkende wêreldekonomie het ook nie gehelp nie. Die burokrasie was ná al die lang jare van die Peroniste deurspek met Kirchner-aanhangers en Macri het ook geen parlementêre meerderheid gehad om sy hervormings konsekwent deur te voer nie. Nou soek die mense weer die heil in die welsynstaat. Dit is soos ’n alkoholis wat nie die rehabilitasieproses wil deurmaak nie en weer terugkeer na die bottel toe.

Die groot vraag is of Fernandez, wat meer gematigd is, in beheer is en dalk ’n balans tussen markekonomie en welsynstaat kan handhaaf. Of is dit Kirchner, wat vir inmenging in die ekonomie en sosialisme staan? Alhoewel sy net visepresident is, het sy reeds die houding van ’n koningin wie se reg dit is om Argentinië te regeer. Wat dié keer wel anders is, is dat die geld eenvoudig op is en die Peroniste nie meer soos in die verlede die staat se spaargeld kan verkwansel om hul ondersteuners tevrede te hou nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Charles ·

Uitstekend, dankie Sebastiaan! (dis klaarblyklik Bolsonaro vs die linkse gespuis in Suid-Amerika)

Gerhardt O ·

Ek voel Zimbabwe klop Argentinie in hierdie opsig. Hulle het sopas prysbeheer ingestel.

Werner Ernst ·

Dis nou regtig jammer dat die argentyne die posisie van die linkses in die wereld politiek versterk. Aan die ander kant moet ons die kennis oor wat daar gebeur gebruik. Ons sien dat al weet mense die linkse politiek is sleg vir ‘n land, steun hulle dit steeds. Dus moet Afrikaners nie glo dat die meerderheid hier sal insien dat sosialisme ekonomiese selfmoord is nie. Ons moet ons eerder so ver moontlik losmaak van hierdie bestel en selfstandiger lewe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.