Armoede is verskriklik

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Ek sien hulle elke dag as ek werk toe ry. Hulle staan langs die pad, steek hul hande op as jy verbyry, reg om met die geringste aanduiding in jou kar te spring om enige werk te doen. Sommige het blou oorpakke aan, enkeles het ʼn verfroller om te wys hulle wil werk en kan werk. Jy ry verby, en jy wonder. Hierdie manne het gesinne, kinders waarvoor hulle moet sorg. Dit moet hel wees om elke dag saam met (teen?) talle ander te sukkel om ʼn harde dagwerk te kry wat beswaarlik genoeg betaal vir die taxi en ʼn bord kos vir vanaand. Net om môre weer die hele proses te herhaal.

ʼn Voortdurende stryd om oorlewing.

Mense wat al een maal werkloos was, sal weet hoe dit voel as jou huismense jou só kyk en jy kyk weg, want jy weet ook nie. En hiérdie mense is élke dag werkloos. Dit terwyl hulle voorspoed rondom hulle sien, so naby en tog so ver. Die goeie lewe, waarvan hulle nooit deel sal wees nie. Werklose armes wat wíl werk, maar nie werk kan kry nie – seker die naarste gesig om te sien.

By my kantoor aangekom, lag die ekonomiese handboeke vir my. Die boeke met werkbare vryemarkresepte waarin ek glo, het nie kitsoplossings vir die probleme van Alfred, Jacob en Dawid nie. Dis hoekom die sosialistiese kitsresepte van welsyn vir almal so aanloklik lyk, al weet ek dit kan nie werk nie. Ek vermoed dit lyk vir Alfred-hulle ook beter, al is ek nie seker of húlle weet dit kan nie werk nie.

As ék brandarm en werkloos was, sou ʼn ANC-slagspreuk soos “ Welsyn vir almal” seker ook beter geklink het as Solidariteit se werkspreuk van “Opleiding vir almal”. En “Stem vir ʼn lewe” klink ook makliker as “Werk vir ʼn lewe”. Al gaan hulle ook Woensdag weer stem vir ʼn party wat veroorsaak het dat hulle moedeloos-werkloos daar staan en werk soek, by ʼn minderheid mense wat moedeloos probeer stem vir ʼn stelsel wat hul kanse op werk sal verbeter.

Maar hulle stem vir dié wat sulke maklike en onoortrefbare beloftes maak. Dis moeiliker om te verduidelik hoe voorspoed geskep word as om by ʼn sokkerstadion maklike beloftes te maak. Sosialiste se beloftes kan nie oortref word nie.

Maar sosialisme is altyd gewild in arm lande waar dit nie kan werk nie, en onnodig in ryk lande waar dit kan werk.

Die amptelike werkloosheidsyfer sluit net mense in wat nog werk soek. Die moedeloses word ingereken by die “vergrote” werkloosheidsyfer, wat veel hoër is. Foto: Facebook

Twee nasies

Die meeste wit mense ken nie wérklike, desperate, wakkerlê- en hongerpynarmoede nie. Dit verdwyn saam met dié wat daar langs die pad staan na die swart woonbuurt toe. Dis die hout wat Malema met sy beloftes aan die brand wil steek. Opposisiepartye sal hom nooit kan oortref met “belowe” nie.

Die minimumloon bly altyd die minimumloon. Dit is nou maar so dat die meeste wette diegene benadeel wat eintlik daargestel is om te bevoordeel. Natuurlik is daar gelukkig baie mense wat veel meer as die minimum vir hul arm werksmense doen, al sal die minister van arbeid dit seker nooit glo of verstaan nie. Maar as ek die huishulpe saans met die deftige klere wat hulle op skuld by Edcon koop, taxi toe sien loop, wil ek nie eens daaraan dink dat hulle nog die gelukkiges is wat vanaand darem kos het nie.

Dan verstaan ek hoekom mense Mbeki se twee nasies-teorie geglo het, waarvolgens een wit en ryk is, en een swart en arm. Dis een van daai lekker teorieë waarmee jy alles kan verduidelik en alles kan verdedig.

Mariette van de Werken vertroos n inwoner (Foto: Helpende Hand)

Help almal

Behalwe dat dit nie waar is nie. Want daar is ook al hoe meer arm wit mense, al weet die ANC en die meeste ryk wit mense dit nie, omdat hulle dit nie wíl weet nie. Want dan moet mens iets daaraan doen, en dís darem te vreeslik. Wie wil nou iets dááraan doen? Die meeste wit mense verstaan nie eens swart armoede nie, en ken nie bruin armoede nie. Hoe moet hulle nou wít armoede begryp?

Dis seker hoekom die Solidariteit Helpende Hand al deur ʼn hoge kerkleier en politici vermaan is omdat ons die nood van wit arm mense uitlig. Dis dan rassisties. Armoede is mos kleurloos, behalwe as jy wit is, lyk my.

Mense help selfs paddas wat bedreig word, maar ons mag nie kinders, ou mense en gestremde persone probeer help as hulle wit is nie. Asof arm Afrikaanse dogtertjies nie ook koud kry as hulle nie warm klere het nie. Asof wit oumense nie honger word as hulle nie kos het nie. Asof arm wit gestremde persone nie ook simpatieke mediese sorg nodig kry nie.

Ja, die statistieke is reg dat wit werkloosheid veel laer as swart werkloosheid is. Maar die verskynsel van wit werkende arm mense is veel erger.

Wit mense wil nie erken dat hulle werkloos is nie, hulle maak ʼn plan, want hulle het gelukkig goeie opleiding gehad. Maar baie van hierdie werkende wit mense is arm, want hulle is “onder in diens geneem” om die arbeidsekonome se beskrywing te gebruik. Onderindiensname is waar mense onder hul vlak van opleiding aangewend word, en baie minder kry as wat hulle toekom. Sulke mense het nie ʼn standhoudende inkomste met medies en pensioen nie. Die geldjie kom maar af en toe in – soms meer af as toe.

Die punt is dat ons nie dink arm wit mense moet uitsluitlik gehelp word nie, maar bloot dat hulle óók gehelp moet word. Dit gaan dus nie oor die uitsluiting van een groep nie, maar oor die insluiting van almal!

Laat ek dit ook duidelik maak: Vir ons gaan dit nie oor mense wat nie wíl werk nie, dit gaan oor diegene wat nie kán werk of nie werk kry nie.

Armoede is verskriklik, maak nie saak watter ras die arm mens is nie. Maar dit lyk asof sekere ryk wit mense ’n bietjie van wit armoede vergeet het, met die lekker verskoning dat hulle mos nie rassisties is nie.

Los maar die rassepolitiek as dit by armoede kom, en werk eerder aan oplossings.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

JP ·

Ek wens almal kon so pragmaties soos die skrywer wees. Daar is ‘n groot verskil tussen rassisme en ras-realisme.

Andrea ·

Flip, jy mag maar skryf! Jy vat die sosiale kwessies in hierdie land vas in n paar goeddeurdenkte paragrawe. Jou skrywe gee woorde aan ons ongevorme gedagtes. En ek weet daar word reeds soveel aan die brandende kwessies gedoen word deur julle. Dankie vir jou (Solidariteit se) wysheid, insig en daadwerklike hantering van soveel probleme in hierdie land.

jaco ·

Gee daardie arm wit mense net los tydelike werk en gaan kyk dan agterna hoeveel van die loon wat jy hulle betaal het, word uitgemors op drank en sigarette, wat totaal onnodig is. Ek suig die opmerking nie uit my duim nie. Ek praat van ondervind op ondervinding op ondervinding.

Carel ·

Ek gee graag en help graag maar is al te veel deur leuns en stories ingedoen dan is die veiligheid om iemand te help ook nog n faktor
Die skelms en luiaards verwoes alles vir die wat werklik eerlik swaar kry

John ·

Waar is die kassie vir die goue sterretjies? Nee. Wat is Flip se salaris pj? Of gaan Pieter Mulder nou by Flip oorneem en laasgenoemde welsynsdominee word? Die unies se fat cats dring aan op groter salarisse en die kartonmense sit sonder werk. Hoeveel tyd word deur mense met werk gespandeer om in strate rond te hol en sake te beskadig, terwyl armes wens hul kan ‘n dag se goeie werk verrig. Die ryk Afrikaners kan nie ‘n besigheid durf begin nie, want die unie is dadelik jou baas. Hierdie selfde ooms het JA gestem vir DeKM-afslaers se roekelose uitverkoping en dit is die gevolg… Wie baat nou?

Boesman ·

Vakbonde is ‘n groot oorsaak van arbeidsprobleme in die land, en die stand van die ekonomie. Dit help nie om nou oor armoede te kla nie, dis te laat. Dit sluit Solidariteit in. Wat jy saai sal jy maai.

Hendrik UAE ·

Man,As ek ook so ver in die gutters af is en op neergesien word deur almal wat het, sal ek ook my geldjie uitgee op goedkoop sigarette en spirits net om darem vir ‘n ruk te vergeet van alles en dalk hopelik nie more weer op te staan nie. Verdomp ek was ook lank sonder werk en sal dit nie weer kan deurgaan nie. Dankie vir die skrywer se wek roep en ek sal aangaan om vir die ou by die robot R10 te gee al is dit vir n dop en ‘n aand se vergeet!

Piet ·

Hendrik, jy het n hart van goud. Ek sit nou al meer as sewe maande sonder werk, my tweede aflegging binne 4 jaar, en ek weet nie watter kant toe nie. My CV is oral in, maar my witvel en ouderdom tel teen my. Ek gee ook vir mense wat bedel so ietsie, ek gee nie om waarvoor hulle dit aanwend nie, solank dit vir n kort rukkie troos kan bring.

Rooi Jan ·

Dankie Flip vir jou gebalanseerde woorde. Mag ek vra julle het insae tot die syfers waaruit die Gini koëffisiënt bereken word. En ek sien weer eergister n artikel op CNN waar SA dan nou kwansuis die hoogste Gini koëffisiënt ter wêreld het. As ek dit reg verstaan dan is dit die verhouding tussen ryk en arm. Maar as jou arm gedeelte van die bevolking aangewas het teen 200% of meer sedert 94 en jou “ryk” gedeelte het staties gebly of gekrimp hoe beïnvloed dit die verhouding. En dit is mos nie die “ryk” mense se skuld dat die arm mense toegeneem het van miskien 5 of 6 miljoen na 20 miljoen plus nie? Kan julle bietjie vir ons bietjie navorsing doen en publiseer wat spesifiek dit uitlig? MAW dinge het vererger maar nie omdat “ryk” mense ryker geword het eerder omdat die armes omtrent verdubbel elke 10 jaar.

Anita ·

Elke woord is waar, oor die kleur grens is die armmoede daagliks sigbaar, alleenlik is hulp nie so maklik te vind vir Wit armmoede nie, en die welgestelde blankes knyp oe toe en kyk anderpad i.p.v. saamstaan…. steeds roep ek vir ‘n Kubbutz sisteem, aangesien ek daarop gewerk het in Isreal en dit is die oplossing, waar is die blanke miljoeners? die doodskleed het geen sakke nie.

Wildeboer ·

Baie goeie oplossing Anita. Ek hoop die mense in beheer luister na jou.

Pieter du plessis ·

Ek stem saam maar kom dit by verkiesing tyd staan hulle bankvas agter die party wat die oorsaak is van hulle ellende.

Boer-in-die-Wind ·

Baie goeie stuk. Spesifiek die punte van:
– Ontkenning van wit armoede.
– Onder indiens name.

Hoopvol ·

En dan is daar ander wat, na hulle hul werk by ‘n korporate instansie verloor het om plek te maak. Dit het vir ‘n tyd met innovasie en die gewoeker met talente goed gegaan, die geld raak toe minder, want die innovasie het kapitaal nodig, boonop was dit ‘n nisproduk, en toe boer die rentekoerse agteruit en pryse om jou styg, en later het jy nie meer raad nie en nou is jy te bang om te roer, want in die proses het jy oor die afgelope vyftien jaar nie jonger geraak nie. Nou lewe jy om te oorleef en droom jou droom in trurat.

Hoopvol ·

En sukkel om een tree na die ander die res van die dag aan te pak.

Jerry ·

Soos Deon tereg opmerk, n uitstekende en slim skrywe. Die skrywe tref die gevoel van gewone mense, maar sal nie veel verder as dit tref nie, omrede die kern van ryk redelik ongevoelloos is. Ryk mense het nie arm mense of die skrywer nodig nie. Dit is die skrywer en arm mense wat die ryk mense nodig het en daarom sal dit nie help om op n gevoel te speel wat nie daar is nie. Jy moet met die hoed in die hand na die rykes gaan vir hulp net soos die minderheidsgroepe hoed in die hand na die magtige regeerders op n stadium sal moet gaan!

Toontjie ·

Jerry, ek soek jou kommentaar graag in artikels tussen ander s’n uit. Waardeer jou perspektief en realisme.

Rooi Jan ·

Dankie Flip vir jou gebalanseerde woorde. Mag ek vra julle het insae tot die syfers waaruit die Gini koëffisiënt bereken word. En ek sien weer eergister n artikel op CNN waar SA dan nou kwansuis die hoogste Gini koëffisiënt ter wêreld het. As ek dit reg verstaan dan is dit die verhouding tussen ryk en arm. Maar as jou arm gedeelte van die bevolking aangewas het teen 200% of meer sedert 94 en jou “ryk” gedeelte het staties gebly of gekrimp hoe beïnvloed dit die verhouding. En dit is mos nie die “ryk” mense se skuld dat die arm mense toegeneem het van miskien 5 of 6 miljoen na 20 miljoen plus nie? Kan julle bietjie vir ons bietjie navorsing doen en publiseer wat spesifiek dit uitlig? MAW dinge het vererger maar nie omdat “ryk” mense ryker geword het eerder omdat die armes omtrent verdubbel elke 10 jaar.

Ai ·

My Ma-hulle moes kaalvoet skool toe loop en in die winter het hulle dikwels hulle voete in warm koei-mis gedruk om ‘n bietjie verligting van die koue te kry. Ons generasie het ook met armoede groot geword. Met kerse en ‘n puttoilet buite, wat jy altyd so bang was om te gebruik, want netnou val jy in. By die skool het ons voorgegee ons is nie honger nie, daarom bring ons nie kos saam skool toe nie. En as ons kos aangebied is, het ons baie dankie, maar nee dankie gesê, want ons het nog steeds ons trots gehad, al was ons arm. My kinders het nou die arbeidsmag betree en ek is dankbaar dat hulle wel werke het, maar met die diskriminasie teen die blankes, voel ek die hartseer en pyn van die werkloses.

Jou hele mensheid ly daaronder. Nie alle blankes was ryk nie, daar is blankes wat nog nooit die geleentheid gehad het om uit die put van armoede te klim nie. So moet asb net nooit veralgemeen nie.

Ek is dankbaar vir wat Solidariteit en Helpende Hande vir die armblankes doen en ek ondersteun hulle ten volle.

Hans Richardt ·

Flip, jy het dit so reg oor armoede en werkloses. Toe ek nog in Benoni gebly het, het ek bygedra vir kospakkies projek by Benoryn kerk, wat klein gemeente is met groot harte. Tog is dit maklik as jy kry sonder werk. So, asof dit plig van naaste is wat nie regtig respek verdien nie en waarvoor jy nooit dankie hoef te sê nie.?
In Orania waar ek nou bly, is ook baie armoede, maar met verskil. Hier is arm mense besig om elke dag fisies hard te werk om hul uit hul armoede te kry.
Armoede het siklus soos hamsters in wiel. Hul hardloop in rondte, van geslag na geslag. As jy nie uit siklus van armoede wiel val of self uitklim nie, breek jy nooit die siklus nie. Natuurlik is die harde pad van vaardighede met harde werk kry, onaantreklik teenoor niksdoen en kry vir niksdoen nie. Tog “skuld” die samelewing niemand iets nie. Die immigrante werk, al is dit vir minimum vergoeding, hul doen selfs meer as 1 werk daagliks. Dalk is SA werkkultuur probleem, soos wat WEF reeds in verslag uitgewys het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.