Artikel oor die nuwe NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid

Die prys van vryheid, lui ‘n ou politieke stelreël, is ewigdurende waaksaamheid van die burgers. Juis om ons demokratiese vryhede teen inperking deur die owerheid te beskerm, het Suid-Afrika ‘n verskeidenheid burgerlike organisasies wat as ‘waghonde’ optree. Nou maak ‘n nuwe een, wat hom op kulturele vryheid toespits, sy buiging.

Vir die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid beteken waaksaamheid veel meer as om alarm te maak wanneer daar bedreigings is. As ideesentrum is sy hooftake om ‘n konstruktiewe bydrae tot politieke denke en debat oor kulturele vryheid te maak en om met werkbare planne vir die beskerming en uitbouing van dié vryheid vorendag te kom.

Anders as politieke en ekonomiese vryheid, is kulturele vryheid vir Suid-Afrikaners ‘n grootliks onbekende begrip. Die mees gesaghebbende formulering daarvan verskyn in die Human Development Report 2004: Cultural Liberty in Today’s Diverse World, saamgestel deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP). In die verslag word kulturele vryheid omskryf as mense se vryheid om hul identiteite te kies en uit te leef sonder om as gevolg daarvan benadeel te word in ander keuses wat vir hulle belangrik is, soos onderwys, indiensneming en taalbenutting. Kulturele vryheid, sê die UNDP, is ‘n belangrike element van menslike vryheid en is onlosmaaklik aan universele menseregte gekoppel.

Die begrip van ‘kultuur’ wat hier ter sprake is, stem ooreen met die definisie daarvan in UNESCO se Universele Deklarasie oor Kulturele Diversiteit (2002): dis die stel onderskeibare spirituele, materiële, intellektuele en emosionele eienskappe van ‘n samelewing of ‘n sosiale groep en behels naas kuns en literatuur ook lewensstyle, wyses van saamleef, waardestelsels, tradisies en oortuigings.

Waarom is kulturele vryheid deesdae belangrik? Die UNDP-verslag verwys na die wêreldwye opkoms van ‘identiteitspolitiek’. Dit word gedryf deur verontregting (vorige onderdrukking van kulturele indentiteite), globalisering (‘n vrees vir die verswelging van plaaslike kulture) en demokratisering (wat groepe groter politieke ruimte vir agitasie bied).

Tog beleef gemeenskappe in talle lande steeds kulturele uitsluiting’, soos die Human Development Report 2004 dit noem. Dit gebeur wanneer die waardes, instellings en lewenswyses van kultuurgroepe nie erken of gerespekteer word nie en daar op grond van kulturele identiteit teen hulle gediskrimineer word. Kulturele uitsluiting kan twee vorms aanneem. Lewenswyse-uitsluiting behels o.m. beperkinge op groepe se beoefening van hul taal, kultuur en godsdiens. Deelname-uitsluiting beteken diskriminasie teen ‘n groep t.o.v. politieke, ekonomiese en sosiale geleenthede.

Om identiteitspolitiek te akkommodeer en kulturele uitsluiting te voorkom of uit te skakel, bepleit die UNDP kulturele vryheid in alle heterogene samelewings. Die verslag bevat ‘n bloudruk hiervoor, gebaseer op multikulturele beleide op verskeie terreine.

Met die stigting van die Sentrum vir Kulturele Vryheid word nie te kenne gegee dat ons gemeenskappe geen kulturele vryheid geniet nie – net so min as wat beweer kan word dat Suid-Afrikaners geen politieke of ekonomiese vryheid het nie. En tog het ons dinksentrums wat hulle bemoei met die beskerming en bevordering van konstitusionele demokrasie, menseregte en ekonomiese vryheid.

Maar terug by kulturele vryheid. Sonder om die begrip enigsins te gebruik, gee ons grondwet erkenning aan kulturele vryheid. Dink maar aan die bepalings oor amptelike tale (artikel 6), tale in onderwys (29), taal en kultuur (30), kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (31), die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (185) en selfbeskikking (235).

Gemeet aan internasionale standaarde, is hierdie gemeenskapsregte bra beperk en die toepassing daarvan ondermyn dikwels groepe se kulturele vryheid. Vandaar dat veral Afrikaners kan getuig van kulturele uitsluiting sedert 1994.

Kulturele vryheid is egter nie net Afrikaners beskore nie, ewe min as wat dit vir Afrikaners verpligtend is. Lede van alle gemeenskappe (in grondwet-taal) wat ‘n behoefte daaraan het, kan hulle vir kulturele vryheid beywer en vrywillig daarmee vereenselwig.

Maar eers moet die konsep van kulturele vryheid deel gemaak word van die samelewing se ideëdiskoers. Daardie debat word sedert 1994 oorheers deur die ANC se alles-omvattende konsep van ‘transformasie’, waarin min of geen ruimte vir kulturele verskeidenheid gelaat word. Die Sentrum vir Kulturele Vryheid wil, aan die hand van die UNDP-verslag van 2004, die idee van kulturele vryheid verder ontwikkel en populariseer.

Dis ook noodsaaklik om ‘n noukeurige bestekopname van die werklike stand van kulturele vryheid in die land te maak. In die Afrikaanse leefwêreld – die Sentrum se hooffokus – is daar aan die batekant die opwindende opbloei in die kunste; aan die lastekant beleef ons die kreeftegang van Afrikaans in die owerheidsektor, skole en universiteite.

Hoe gaan die NP van Wyk Louw Sentrum sulke uitdagings hanteer? Die kreatiewe benutting van bestaande politieke geleenthede vir kulturele uitlewing en die vindingryke skepping van nuwes, sal belangriker wees as die reaktiewe bekamping van bedreigings vir kulturele vryheid.

Gerig deur die VN se verslag asook internasionale konvensies oor minderheidsregte en die beste praktyke van demokratiese heterogene samelewings, sal die Sentrum voorstelle vir die praktiese beskerming en uitbouing van kulturele vryheid formuleer.

Al het die Sentrum sy oorspong in die Afrikanergemeenskap, dien hy ‘n saak wat nie tot hierdie groep beperk is nie. Kulturele vryheid is ‘n universele aspirasie en die uitlewing daarvan kan volledig met internasionale standaarde van menseregte en demokrasie versoen word. Boonop strook kulturele vryheid met die waardes onderliggend aan die Suid-Afrikaanse grondwet, te wete demokrasie, menseregte, maatskaplike geregtigheid en ‘n oop samelewing.

Deur die erkenning en uitlewing van daardie vryheid kan Suid-Afrikaners gestalte gee aan Van Wyk Louw se oproep tot voortbestaan in geregtigheid – vir sowel die meerderheid as minderhede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n emeritusprofessor in politiek aan die Universiteit van Johannesburg.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mike ·

Wat presies is kulturele vryheid buiten bv. afrikaanse onderwys, afrikaanse kerke, afrikaanse taalgemeenskappe, enige ander afrikaanse instellings? Ek verstaan nie heeltemal die idee agter die stigting van die sentrum vir kulturele vryheid nie.

As afrikaners soos die skrywer tereg daarop wys, kulturele vryheid geniet, wat is die eintlikke doel van die stigting van so sentrum dan? My persoonlikke opinie is dat kulturele vryheid verder gaan as net bv. ‘n afrikaanse skool of ‘n afrikaanse universiteit. Kulturele vryheid behels ook wie in daardie klasse die kinders opvoed, of wie in daardie hospitaal die pasiënte versorg, net om twee voorbeelde te noem.

Johanwig ·

Dit is goed en wel dat kultuur definieer word. Die praktiese toepassing daarvan in ‘n nasiestaat bly egter problematies. Dit bly dus net ‘n aspirasie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.